Die einde van die jaar het aangebreek, en ons was op die punt om rang te kry. 'n Paar ouens het so deur die jaar uitgeval, want hulle het ge-awol of toetse gepluk, en hulle was uit. Ek onthou een baster-outjie, ons almal het gedink hy gaan offisier word, hy was 'n skerp outjie. Een aand oor 'n naweek, toe raak hy gesuip en pluk 'n mes uit. En daar gaat hy - af van die kursus af na 9 maande se hel. Onderkorporaal is die verste wat hy gekom het. Mens sou dink die skills met die mes sou kon gebruik word daar oppie Grens, maar nou ja, 'n offisier is mos nie 'n hooligan nie.
Daar was so 'n klomp ou perde saam met ons – ouens wat eers gaan swot het en toe army gedoen het. Hulle was baie wys, en het altyd antwoorde vir alles gehad. Die een ou het so glas oog gehad. James Tromp, dink ek was sy naam. Ek het altyd met hom moeilkheid gesoek, dan begin jaag hy my daar oor die paradegrond. Hy skop-skop en klap so aanmekaar na my toe – kon my nooit kry nie. Ek het altyd grappies gemaak en getorring aan ouens tot hy kwaad raak. Hy kon vloek soos 'n matroos nie kan nie.
Eendag het die ou manne weer gekla en gemoan oor hoe ons behandel word. Die klagtes kom toe by Kaptein Enslin uit. Hy roep toe almal bymekaar. Hy sê vandag is 'n ope dag – jy kan kla en moan, sê wat pla jou. Dis tyd dat dinge hier regkom, want hy't gehoor ons is ongelukkig. Die troepe is maar stil – dit klink te goed om waar te wees. Hy moedig ons aan - julle moet praat, dis nou julle kans om hierdie bose dinge onder ons aandag te bring. Hierdie weermag sorg mos mooi vir sy troepe.
So stadig-aan praat iemand hier oor kos, en oor passe wat te min is en korveetake wat te veel is, en so tel die manne spoed op. Die Kaptein vat notes in so boekie. Die manne raak al hoe meer vrymoedig en pak uit, veral hierdie ou manne wat al grade het, en alles weet. Die Kaptein is baie bemoedigend - luister na alles, vat notes. Aan die einde van die sessie, toe sê Kaptein dis nou sy beurt om net ietsie te sê.
Hy begin daar, vat daai notes, dan haal hy een-vir-een aan, dan sê hy: "Onderkoporaal Koekemoer, jy sê so-en-so…"; en dan skreeu hy "maar ek sê nou vir jou so-en-so.." Hy skel ons daar uit oor hoe sleg ons is. Al die ouens wat gepraat het, moet voor kom aantree. Ons moet kyk wies hulle. En as ons klaar gekyk het, kry vir jou deel van die Bosbus – daar gaat jy. Dis net stof en hare, hulle neuk ons van 'n kant af op. Die grootbekke doen nie saam nie – hulle moet kyk hoe ons opgeneuk word, en dan moet hulle maar hulle man staan later in die bungalow as die res klaar is met die Bosbus.
So was dit in die army…
Daar was een aand wat ons een of ander party gehou het in besoekerspark. Die manne kuier hard, en raak al hoe dronker. Een ou is so dronk, die manne piepie in 'n leeg-gedrinkte bierbottel, en maak hom heel vol. Hy drink daai hele bottel warm piepie uit sonder om dit agter te kom. Ek het dit met my eie oë gesien, anders sou ek ook nie die storie geglo het nie.
Hier staan ek in Besoekerspark op 'n Sondag toe die familie kom kuier het:
Jy sal sien dat ek 'n rang op my arm dra. Ek was teen hierdie tyd nou al 'n onderkoporaal gewees. Die SWAGM se range het anders as die SAW sin gelyk. Ons het reguit strepe gehad in plaas van V's, en ons offisiere het diamante gedra in plaas van kasteeltjies en sterretjies.
Ons het nooit KO's geword nie – was almal onderkorporaal tot die laaste week voor rangparade. (Kandidaat-offisier, vir die oningeligtes) Die aand voor die tyd het ons sulke wit plastiek crap op ons skouers gedruk om soos KO's te lyk.
Ek het dit toe darem gemaak – al die harde werk was die moeite werd, want ek gaan offisier word, en as ek eendag kampe moet doen gaan niemand my rondneuk nie. My pa was mos 'n PF gewees. Hy was die leier van die Gebiedsmag orkes, 'n Sammajoor nogal. Sy orkes het bestaan uit swart lede, meestal Kapriviane. Hy het daai rou inboorlinge geleer musieknote lees en instrumente speel. Hulle het altyd die hele land vol gegaan, oral waar daar 'n groot parade is moet die orkes speel.
Ek onthou ook ons kon altyd verniet na die Windhoek skou toe gaan, want my pa se orkes het daar gespeel. Die weermag het die hele skou heeltemal oorheers daai dae. As jy inkom by die voorkant, het daar altyd Buffels en Caspirs en goeters gestaan vir die publiek om te kom kyk.
Op die sportveld het die weermag altyd sulke shows gehou. Dan is daar 'n terr, hy skiet lekker met 'n AK, en dan kom die weermag se honde en vreet hom op. Hulle het sulke skyn-aanvalle gedoen ook, die publiek het dit baie geniet. Hulle skiet rook en goeters, en dan land die parabats op die veld en skiet die snot en hare uit so vuil klomp terrs uit. Daai terrs hardloop later weg, en almal lag te lekker vir die dom goed. Die spesmagte kom met hulle perde en motorfietse en doen tricks, en dan kom snuffel die honde die plofstof hier tussen die gehoor uit.
Die orkes was dan ook altyd daar, en die trompoppies. Voor het 'n Kapriviaan geloop, wat daai stok so in die rondte laat draai het. Hy gooi die ding in die lug en vang hom en doen tricks. Dis nou alles terwyl daar gemarsjeer word op maat van die orkes se musiek. Daai Suidweslied weergalm daar deur die skougronde. Hulle het op 'n stadium die "Clap-Clap Song" gespeel, tot my pa se ontsteltenis. Die mense wou die song hoor, maar hy dink nie dis goeie musiek nie.
My pa het altyd reg agter die ou met die stok gemarsjeer – die res van de orkes in drie geledere agter hom. Die ou wys mos met die stok links of regs, of hy gooi die ding so swierlik rond in die lug. Eendag toe laat val die man daai stok uit sy hand uit. Hy buk om dit op te tel, so in die marsjeer in. My pa skop hom reg onder sy agterent, hy gee so lekker sprong vorentoe, gryp sy stok, en almal is weer in gelid. Hy het lekker gelag oor die storie na die tyd.
Omdat ons rangparade 'n groot okkasie was, is die weermag orkes toe ook daar. Die eerste keer, vandat ek army toe is, dat ek en my pa saam parade doen. Aan die einde van die parade kan jy jou nuwe rang uit jou sak uit haal, en hom op jou skouer sit. My pa het na my toe gekom, eers een kant opgesit en my 'n halwe saluut gegee. Toe sit hy die ander kant op, kom weer op aandag en gee my 'n vol saluut, met al sy medaljes wat so blink in die son. Hy het klomp medaljes van die Tweede Wêreldoorlog gehad, al my pelle op skool was altyd beindruk as hy met vol uniform iewers opgedaag het. Dit was 'n groot dag in my lewe – iets wat ek nooit sal vergeet nie.
Ou Phillip Hite en ek het nou skielik dieselfde rang gehad, en toe ek daar wegstap kom groet hy my met die hand. Ek noem hom nou sommer Flippie. Kan jy nou meer.
Ek het teen hierdie tyd reeds geweet ek is oppad na 'n plek met die naam van Opuwo -102Battaljon. Daar in Kaokoland, in die westelike gedeelte van die operasionele area.
Daar was so tydjie voor dit 'n paneel vol brigadiers en generaals wat ons elkeen ge-interview het. Hulle vra jou allerhande vrae oor wie jy is, waantoe jy wil gaan, en wie is Sam Nujoma. Ek is reg om vir Sam te gaan blaas – ek wil grens toe gaan. Ek vra om grens toe te gaan – hulle sê dis reg.
Teen hierdie tyd was ons almal so trigger-happy, ons kan nie wag om terrs te gaan neervel by die honderde nie. Die army het ons goed grootgemaak.
Op 19-jarige ouderdom is ek 'n offisier in een van die berugste weermagte in die wereld...
Lees verder
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment