Sunday, April 25, 2010

Osona Deel 7 - Tentdorp en Walvisbaai


Die tentdorp en Walvisbaai

Ons is gereeld geskuif van een peleton na 'n ander - amper soos Oom Sam se kabinetskommelings elke tweede maand. Dan skuif jy sommer in 'n ander bungalow ook in. Hier op 'n stadium beland ek toe in die Tentdorp.

Tentdorp is wild, jong. Hier is jy afgesny van die res. Jy moet bungalow toe loop met al jou goedjies om te gaan stort en stryk en al daai dinge – amper soos by 'n karavaanpark. Inspeksietyd dan mag daar nie 'n stoffie in daai tent wees nie, en die sandsakke moet ge-square wees.

Die voordeel van die Tentdorp was dat die korporaals te lui was om soontoe te loop. Ons het 'n hele paar inspeksies en bosbusse uitgemis, want die korporaal stap baie by die bungalow in en dans hy in 'n sleg mood , en dan tjop daai manne af. Maar hy vergeet van ons.

Daar was eintlik 'n lekker atmosfeer hier in Tentdorp. Behalwe dat dit vrek koud was. Saam met my was twee perde wat heeldag na Ge Korsten se musiek geluister het. Daai tape het heeltyd gespeel. Hulle was my ouderdom, maar praat heeltyd van hulle vrouens. Ek kom later agter hulle praat eintlik van die girlfriends. Hulle twee kom al van laerskool af saam en is soos twee pasgetroudes - altyd bymekaar, vertel stories en lag vir hulle eie grappies. Niemand is deel van hulle kliek nie. Hulle was altyd vriendelik, maar tog baie weird. (Watter normale 18-jarige troep luister na Ge Korsten?)

Saam met ons was 'n swart ou, Tiekie. Sy regte naam was Tuupukwere, maar niemand kon dit uitspreek nie. Hy was 'n ou grensvegter, maar het eendag 'n kolonel geslaan wat hom gevloek het. Toe verloor hy sy rang en hy moet terugkom vir JL's om rang te kry. Van julle is seker verbaas oor die swart ou in ons tent, ne? Sien, hier in Suidwes was integrasie al lankal deel van die lewe, dit was nie iets wat Oom Sam begin het na onafhanklikheid nie. Ons het dieselfde badkamers en toilette gedeel, alles. Al verskil was dat die blankes die meerderheid was in sulke situasies.

Ou Tiekie het in die aande Bos-stories vertel daar in die tent – oor sy ervaringe op die grens met die terrs. Ek dink daars min Boere wat so baie terrs doodgemaak het soos hierdie VHD manne. (Vrywillige Hulpdiens Korps) Hulle was rof en onbeskof, en het nie genade vir 'n SWAPO gehad nie.

Terwyl die bungalow-manne vloere polish en opstaan vir die korporaal, het ons lekker in die aande na Tiekie se stories gesit en luister. As ek reg onthou, het hy later daar by die Blou Bollie gewerk - my skoonsussie het my eendag vertel; hy onthou my nog.

Daar was verskeie fases van die opleiding. Ek kan nie alles onthou nie. Ek weet net ons het baie klasgedraf, en toetse geskryf. Hierdie Army was nie net 'n klomp maniakke wat met vuis in die lug en AK47 oor die skouer die wêreld warmgemaak het nie – ons was well-educated gentlemen gewees. Soort van.

Op 'n stadium doen ons PelBev fase. Dit staan vir "Peleton Bevelvoerder" Fase. Jy moet leer hoe om 'n hele peleton in die veld te hanteer, nie net een seksie meer nie. Hulle laai ons in Kwêvoëls en Samils en ry ons see toe. Ek belowe: vakansie by die see, op die Army se rekening, verblyf en etes ingesluit.

Kwêvoël

Ons het lekker see toe gegaan in die Army – daar by Walvisbaai in die woestyn. Ons het deur Karibib en Usakos gery, by Swakop ingekom, daai pad langs die see af gevat Rooikop toe. Al wat ons van die see gesien het, was dit wat ons uit die Kwêvoël se agterkant kon sien. Verder het ons net in die woestyn gekuier. Nie dat enige van ons daai tyd van die jaar 'n begeerte gehad het om die koue Benguela seestroom aan te durf nie – dis die middel van die winter.

Ek het na daai duine gekyk langs die pad, en ge-onthou hoe een donkerkop suidwes-meisiekind my hart gebreek het hier op die duine, net nou-die-dag in Desember.

Dit was vrek koud. Ons moet ons ingrawe in die sand, en daar slaap met 'n slaapsak en 'n "space blanket" om my warm te hou. Die "space blanket" was nie 'n army issue nie, my ma-hulle het die ding vir my gekoop op 'n stadium. Jy sweet later jouself sopnat onder daai stuk tin-foil - ongelooflik.

Die space blanket was 'n stuk tin-foil wat jou warm gehou het. Dit klink baie hi-tech, maar dis eintlik maar al wat dit is. Die spesifieke ene wat ek gehad het, was baie dun, en jy moes mooi werk om te keer dat hy nie skeur nie. Die ding het baie soos hierdie ene gelyk:

Ons het baie lekker ge-eet hierso. Ons staan in so lang ry daar in die duine, en as jy uiteindelik voor kom, dan is daar vir jou 'n halwe brood en so groot pot koue koffie. Elke dag, vir twee weke lank. Niks om op die brood te smeer nie. Partykeer is daar koue sop, net vir die afwisselling. Toe ons aan die einde van die opleiding terug ry Windhoek toe, toe ontdek ons dat die kombuis-Samil al die tyd gepak was met die lekkerste konfyt, stroop en allerhande lekker dinge. Ons het niks daarvan gesien tydens daai twee weke nie. Seker maar die offisiere sin gewees…

Ons moet in hierdie Namib se woestynsand peleton-aanvalle doen. Die luitenant en korporaal staan hier op die duin en beloer alles. Daar is nerens waar jy kan gippo nie – geen bossie naby vir myle nie. Alles in die ope, elke fout word raakgesien. Ons moet hardloop in daai sand met full kit terwyl ons 'n "mock" aanval doen. Daai dash-down-crawl-observe-sights-fire drill wat baie ouens jou seker al van vertel het. Jy hardloop in die dik sand, en moet neervoeter asof jou lewe daarvan afhang. Daar het ek gesien hoe spring Luitenant Phillip Hite met sy hele gewig bo-op 'n ou se rug met sy boots, omdat die ou nie vinnig genoeg neerval nie. Ek noem sommer sy naam vir almal om te lees, want hy was 'n mislike blikskottel. Hy was vir 'n lang tyd my luitenant.

Hy laat my dink aan "Lieutenant Dan" wat in Forest Gump speel. Selfde arrogante houding gehad, sigaret altyd so skeef in sy bek gehad, altyd sarkasites. En hyt ons gemoor.

Ons het 'n nagaanval gedoen saam met die artillerie en pantser ouens. Dit was 'n fees vir die oog. Jy het iets soos een-en-'n-half minute gehad om al jou ammunisie uit te skiet voordat die flares uit is. As hulle nog ammunisie op jou kry na die tyd, is dit nag vir jou. Ek het die snotneus beman. Dit was lekker om so saam met die groot kanonne 'n aanval te doen. Alles is verlig – daai woestyn lyk soos 'n Krismisboom.

Ons is na twee weke weer terug Osona toe.

Lees verder

No comments: