Saturday, April 3, 2010

Osona – Deel 2

Dit het nag geword. En dit het weer dag geword. Maar dit het eers amptelik dag geword lank na ons al wakkergemaak is. Ek het die vorige aand aan die slaap geraak nadat ons die bungalow mooi blinkgemaak het. Vanoggend is ons eerste inspeksie, sien.

Ons was voorbereid vir die ding. Ons het die plek mooi uitgevee, al die modder en gemors is weg, en alles is blink. Ons gaan hierdie korporaal vandag impress. Dis nie die gewone klomp rowers wat hierde jaar ingeklaar het nie.

Die Luitenant kom daar in, kyk so na die beddens, en hy kry so suur uitdrukking op sy gesig. Hy stap verby badkamer toe. Hy kom uit. “Die vloer is dan nie eers ge-polish nie?” Skreeu hy, “Watse soort rowers is julle?”

Ek het nog nooit voorheen in my lewe gehoor van so iets dat ‘n plein concrete vloer gepolish word nie? Dis mos nie ‘n teëlvloer nie man? Waarvan praat hy? Waar moet ek so baie polish kry? Ons almal het so standaard pakkie ingepak met bietjie vloerpolish, skoenpolitoer en so aan. Maar ek het ge-cater vir my eie behoeftes, nie vir die hele army sin nie. En jy sal nie glo hoeveel ouens het niks saamgebring nie. Dan wil hulle leen. Parasites.

Hy klim toe daar in die civvy-kamer in. Dis nou die plek waar jy jou civvy-tas moet bêre. Jy het jou groot staalkas langs jou bed, en ‘n trommel, maar moenie dink jy bêre enige persoonlike items daar in nie. Daar is regulasies vir alles – lappietjie hier in die hoek, tandeborsel daar, T-shirt op ‘n sekere manier gevou reg in die middel, onderbroek daar. Geen, maar geen, persoonlike items nie. Niks soos daar in die flieks waar die ouens “lockers” het met fotos van kaal meisies en dit nie. Nie in hierdie basis nie, my maat. Geen privaatheid.

Dis seker die ding wat my die meeste ge-irriteer het van die Army. Jy het geen identiteit oorgehad nie, geen privaatheid nie. Jy is letterlik nommer so-en-so, en jy word net op jou van uitgeroep, want jou naam beteken niks hier rond nie. Almal is Botha, van der Merwe, of so, maar geen Pieters of Kosies in die plek nie. Behalwe as jou van klink soos Krottenwusternmeyerling of iets, dan word jy sommer Duitser genoem.

Luitenant kyk deur die civvykamer. Die tasse staan dan nie eens op aandag as hy inkom nie? Sommer so ingegooi asof dit net ‘n bêreplek is. Niks is netjies bymekaar nie. Hy maak sommer van die tasse oop. Die klere in die tasse is dan nie netjies gevou nie, en daars allerhande goed wat onwettig is volgens hom?

Daai man is kwaad. Hierdie useless jongmense van vandag, hoe het hulle deur Matriek gekom? Het geen maniere of higiëne aangeleer nie. Hy besluit dis nou sulke tyd, tyd om ons oor te gee aan die genade van die groot man wat langs hom staan. Die korporaal.

Korporaal doen al die vuilwerk, sien. Hy is genadeloos. Wat die luitenant deur die res van die dag gedoen het, kon ek nooit uit-figure nie. Dis net korporaal voor en korporaal agter. Ek besef dadelik dis my misie en visie vir die weermag – ek moet ‘n luitenant word, hierdie korporaal-storie lyk soos ekstra werk.
Korporaal wys ons hoe om te stryk, hoe om ons boots te polish en – belangrikste van alles – hoe om jou bed op te maak soos ‘n beskaafde mens. Alles word net een keer gewys. En jy beter verstaan, want dis nag as hy weer hier kom en dis nie reg gedoen nie.

Daar is mos die storie van die troep wat wagstaan by die hek. Die korporaal kom daar aan en skreeu op hom, hy wil weet of die Brigadier nog nie hier aangekom het nie. Elke vyf minute kom vra hy weer of Brigadier nog nie hier deur die hek is nie. Brigadier kom later daar aan. Troepie salueer pragtag en sê vir hom: “Brigadier, jy moet oppas, daai korporaal soek jou al heel oggend lank, en hy is in ‘n slegte bui vandag!”

Daai bed word opgemaak soos jy jou dit nie kan verbeel nie – jy moes daar gewees het om dit te verstaan. Jy vou die hoekies so terug, dit maak vandag nog glad nie sin vir my nie. Ons mag nie op die grond slaap en die bed so los nie – dis teen die reëls, en blykbaar gaan die Human Rights manne ons tronk toe vat as ons op die grond slaap. Nie dat die korporaal regtig bekommerd is oor ons welvaart nie…

Ons leer baie nuwe woorde hier in die Army – nie almal is vloekwoorde nie. Een van die woorde is “korvee-take”, ek is nie seker of ek dit reg spel nie. Dis ‘n groepversamelings-woord wat gebruik word om enige vieslike taak mee te beskryf. Gras uittrek, grassny, asdrom uitgooi, kar was – as dit vuil werk is, dan is die kans goed dis deel van die korvee-take.

Ons is nog nie heel reg om te begin dril nie. Ons leer mos nou eers hier in Basiestyd hoe mens dril. Intussen wag ons vir die res van die inname, en ons “korveetake” dat die biesies bewe. Daardie paradegrond het baie onkruid en sigaretstompies, en hulle moet weg. Chicken-parade, elke klippie groter as 3mm moet verwyder word.

Daar word slote gegrou en gehark en tekere gegaan. Daar is ‘n groot rugbyveld daarbuite wat moet reggemaak word. Sulke lang waterpype wat heeltyd geskuif moet word.

Hier ontmoet ek toe ook ‘n nuwe karakter. Sy snor laat enige stafsersant bloos. Hy is so lang maergat mannetjie met ‘n hoë stemmetjie. Hulle noem hom Sammajoor Staaldraad. Seker die mislikste wese wat ek nog ooit geken het. Niemand weet wat sy regte naam is nie, hy is Samajoor Staaldraad en jy beter nie daai naam voor hom noem nie, want dan is jy vir seker op die lys van gesneuweldes.

Daar agter moet ons die Besoekerspark opgradeer. Maar daar is nie besoekers nie. Dis basiestyd, jy sien, geen civvy word naby die plek toegelaat nie.

As ‘n korporaal op jou skreeu, dan beter jy vinnig reageer. Jy sê: “Ja, korporaal!” en jy spring op aandag. Moenie salueer nie, dis net vir die ouens met die range bo-op die skouers – die offisiere. En die korporaal haat daai ouens, want hulle kan hom rond-shunt en hy moet die troepe besig hou heeldag. Daar is toe so een Duitser, hy was nie gewoond in sy huis om “ja, pa” of ”nee, ma” te sê nie, hulle is mos bietjie anders as die Boere wat dit betref. Hy verstaan nie die “Ja, korporaal!” ding so mooi nie. Korporaal roep vir Duitser en Duitser antwoord nie dadelik nie, hy sê net “jawohl” of iets. Daai korporaal is kwaad, hoor. Daai man staan die hele res van die dag op aandag op die paradegrond en skreeu oor en oor: “Jaaaaaaa, korporaal!”, tot hy heel hees is. As jy vir hom lag, dan is dit Plesierkop vir jou.

Plesierkop.

Daar is nou ‘n naam wat memories opwek. Dit was ‘n koppietjie daar agter die Plaas, jy moes by die hoofhek uitgaan, verby die wag wat vir die Brigadier wag, en dan hol jy daar in die boendoes in. Korporaal kan jou sien, moenie dink jy kan gippo onder ‘n boom nie.

Ek het daai paadjie gereeld uitgedraf, en het later besluit ek gaan tel hoeveel keer ek daar op is. Meer as honderd keer, ek belowe. Ek het merkies op my staalkas gemaak in die bungalow, soos daai ouens maak as hulle in die tronk die dae tel.

Etenstyd was ‘n nagmerrie. Ons moes aantree, en as jy nie tussen die eerste tien ouens was nie, het jy koue kos gekry. Jou bord was ‘n varkpan. Dis nou so staalplaat met duike in. Jy moet jou kos so vinnig as moontlik afwurg en dan hoop jy kry nog warm water om die varkpan mee te was. Ons het vinnig geleer dat ‘n bietjie sand altyd help om die vetterigheid van daai varkpan af te was met koue water.

image Ek het hierdie foto op die internet opgespoor. Ek het destyds nie so ver vooruit gedink om fotos van varkpanne te neem nie. Hulle was in elk geval baie streng oor kameras daardie tyd. Hierdie ou het sy varkpan op die internet verkoop vir R110, kan jy glo?

Hier is nog ‘n varkpan wat ek op ons Facebook groep opgespoor het:

varkpan2

Saam met dit kry jy ‘n blikbeker sonder ‘n handvatsel. Die blikbeker het in een van daai ronde gate ingepas. Daar was teetyd iewers in die oggend, en weer teetyd in die middag. Jy drink vuurwarm tee met daai blikbeker wat geen handvatsel het nie, en jy draai hom so vinnig met jou vingers in die rondte sodat hy nie jou hand te veel brand nie.

Die ander deel van jou eetgerei was jou pikstel. Dit was nou jou mes, vurk en lepel, en hulle al drie het so inmekaar in gedruk in sulke gleuwe in.

Die volgende oggend tydens inspeksie word jou blikbeker, jou pikstel en jou varkpan saam met hordes ander implemente mooi netjies op jou bed uitgestal. Die korperaal beloer daai varkpan vir enige tekens van vetterigheid. Die pikstel se gleuwe was ook altyd ‘n gewilde loerplek vir die korporaal.

Die army wil nie he jy moet siek word nie, vertel hy vir ons.

inspeksie2 (Hierdie is ook nie een van my fotos nie; ons het nie staaldakke gehad nie en ons het in ‘n bungalow gebly saam met 20 ander rowers, met ‘n staalkas en jou trommel wat langs jou bed gestaan het. Die foto is net om bietjie atmosfeer te skep.)

Die bed se rant moes vierkantig “square” wees, en jy het dit gedoen deur skeerroom aan die kombers te smeer en hom dan te stryk met ‘n strykyster. Daar was baie ander tricks ook, soos om ‘n tandeborsel te gebruik om die twee lyne op die bed mooi regdeur reguit te kam.

Die Army kyk na sy troepe, en dis hoekom die troepe so hard moet werk om die plek silwerskoon te hou…

Lees verder

No comments: