Dit was tyd om grens toe te gaan. Ons moes by Osona opdaag na die pasnaweek, en van daar is ons op 'n Kwêvoël gelaai wat Grootfontein toe gery het.
Toe ons in Grootfontein aankom, word ons in die deurgangskamp ingeboek. Die plek is sif, man. Die toilette se uitlaat loop in so kanaal uit. As jy daar sit en jou ding doen, dan sien jy hoe dryf jou buurman se "goeters" hier in die kanaal onder jou verby.
Niemand weet wie ons is, en hoekom ons hier is nie. Oral waar ons rapporteer, weet niemand van ons nie. Ons moet maar wag tot iemand iets besluit. In "hindsight" was dit eintlik die ideale tyd om te AWOL – hulle sou my nooit gekry het nie, sou nie eens geweet het ek is weg nie.
Baie van ons het van Osona af tot hier bymekaar gebly. Van hier af moes ons verdeel, Rundu toe, Opuwo toe, Oshakati/Ondangwa toe. Dit was die sentrale punt vanwaar ons in die Operasionele gebied ingevat is.
Ons hang in die dorp rond, vreeslik grootmeneer met ons range. Ons het die Gebiedsmag se rangkentekens gedra, diamante op die skouer, nie sterre soos die Suid Afrikaners nie. Daar was so vliek iewers in die dorp, ons het daar gaan movies kyk, en probeer kyk hoe lyk Grootfontein se meisies.
Ons loop met uniform aan in die dorp rond, niks om te doen nie. Die MP's kom op ons af, en vra klomp snaakse vrae. (Militêre Polisie) Hulle is Suid-Afrikaners - onderkorporaals, en wil ons sommer arresteer. Hulle ken nie ons rangkentekens nie, en raak sommer harregat met ons. Die MP vra rangnommers, ons gee die nommers. Al ons nommers het ge-eindig met SCE, terwyl die Suid Afrikaners se nommers met BG ge-eindig het, vir die blankes. Die ou wil weet hoekom eindig ons nommers dan nou met SCE, en nie met BG nie. Die een suidwester sê vir hom "lyk ek vir jou soos 'n baster, of wat?" - by ons was die B vir "Baster", nie vir "Blanke" nie.
Ek dink die C was by ons vir Caucasian of iets. Nie dat dit vandag in die reënboognasie 'n verskil maak nie – behalwe as jy job soek of 'n tender invul of SASOL aandele wil koop.
Sommer dadelik kom ek agter daar is "ons" en "hulle" tussen die Suidwesters en die Suid-Afrikaners.
Dit was tipies van die mentaliteit waarmee Suid-Afrikaanse soldate partykeer hier aangekom het. Alles uit hulle eie perspektief, met geen agtergrondkennis van wie in die land bly, en wat hulle doen nie. Ons is sommer second-hand, want ons dra diamante, en nie sterre nie.
Na 'n week se ge-rondsittery en bakleiery met die MP's, kry ek 'n vlug na Ondangwa saam met my comrades. 'n Flossie – eerste keer in my lewe dat ek vlieg.
Ons kom in Ondangwa aan – nog meer chaos. Ons sit en wag vir die vlug na Opuwo. Ek sien hoe 'n bloeiende ou vol verbande en druppe op 'n stretcher verbykom en op 'n vliegtuig gelaai word – gewond net hier buite iewers in die bos. Nous die Army nie meer sports nie.
Ons word op 'n Dek gelaai Opuwo toe. Dek is die afkorting vir Dekota – daai ou vliegtuie wat al van die 2de wereldoorlog af saam met die lugmag kom.
Hy vlieg heeltyd boomtophoogte – stamp soos 'n kar op 'n grondpad. Hier rondom my word net katte geskiet. Ek land in Opuwo op 'n Saterdag. Ek word voorgestel aan so paar manne – dis tyd vir toebroodjies. Hier op die plek is daar nie middagete nie, daar is "brunch" en aandete. En middagtyd word daar siesta gehou. Ek word ingeboek in die offisiere kwartiere saam met my Genie pel, Alewyn.
My ou skoolpel, Roelof, en hy was saam op Genieskool, en nou is ek en hy groot pelle, mens sou sweer ons ken mekaar jare lank, of is familie of iets. Ons loer daar in die kaste rond – sien 'n botteltjie wat gemerk is "min dae smarties". Loer daar in. Dis Malaria pille.
Ons moes daai sleg bitter pille drink of ons wou of nie. Malaria is geen grap nie, en jy SAL daai goed drink. Een outjie het later malaria gekry – hy was lekker siek. Toe verduidelik hulle eers vir ons: die pille keer nie dat jy malaria kry nie, hy onderdruk net die simptome sodat jy nie heeltemal vrek nie.
Lees verder
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment