Sunday, April 4, 2010

Osona Deel 4

Ons het elke aand stiltetyd gehou in die bungalow. Die beuel word geblaas. Kan nie lekker onthou hoe laat dit was nie, maar daar was 15 gewyde minute gewees, en wee jou as jy in daai tyd gevang word dat jy klere stryk of boots polish. Jy sit op jou trommel en lees jou Bybel – en bid. Die volgende oggend 4 uur word jy wakker – jy kom agter jy bid nog steeds, jou vloer is nog nie ge-polish nie, en jy moet nou nog stryk ook.

Ek was baie ernstig oor my godsdiens, en dit het my vreeslik gepla, die ding. Sien, die korporaal vloek jou in jou “ma se donkie se blou-bloed agterend” in, en dan moet jy “f*kken stiltetyd” gaan hou. Of Sondae moet jy aantree vir die “f*kken kappelaan”. En ons bid elke dag op daai paradegrond. Net na die gebed begin die vloekery weer.

Hierdie was vir my ‘n lelike ding – ons het gekom om die antichris te beveg, maar ek voel al hoe meer dis die antichris wat my so rondneuk elke dag. Hulle bid, en as hulle “amen” sê dan hoor jy die Here se naam in ‘n ander vorm as wat hy nou net gebruik is – nie heeltemal so (skyn)heilig soos Hy nou-net aangespreek is nie.
Dit raak al hoe moeiliker vir my in die aande om te bid. Ek is moeg, man – as ek my oë toemaak, dan slaap ek. Ouens wat op skool CSV-kringleiers was, is so wild soos ‘n bosvark hierso – hulle suip, hulle vloek, hulle vertel vuil grappe en buite-egtelike stories. Ek begin twyfel oor my saligheid.

Daar was ‘n ou in my peleton – hy was eers ‘n brandweerman voor hy army toe gekom het. Ouens wat direk na skool wou brandweer toe gaan, het uitstel gekry van diensplig, en hoef toe eers jare later in te klaar. Maar een of ander tyd kom jou beurt, en 7 jaar na skool toe is dit Brandweerman se beurt. Hy’s al getroud, baie lief vir sy vrou, nie lus vir hierdie jong mannetjies wat hom rondneuk nie. Hy was ’n tawwe ou, maar weet jy, daar was aande wat daai man snot en trane gehuil het daar langs my in die bungalow. Hy verlang sy vrou. Hy wil nie rondhardloop in ‘n overall heeldag nie. Hy is ‘n grootmens, hyt al ‘n salaris verdien, en het ‘n huis en ‘n kar gehad.

Die ironiese hartseer deel van die storie is dat hy later sy vrou geskei het na hy uit die army uitgeklaar het. Dinge was net nooit weer dieselfde tussen hulle nie.

Eendag kom daar so lelike mannetjie aan op die paradeveld – ons sien hier is moeilikheid, selfs die korporaals en die luitenante hol as hierdie ou nader staan – hulle is vrek bang man. Hy het so rooi web-belt aan en ‘n sammajoor rang op sy arm. Maar nie sommer net ‘n sammajoor soos ou Staaldraad nie. Hierdie ou is die RSM. Regiment sersant-majoor.

Man, ek sê jou, vergeet van brigadiers en generaals, daai ouens is sissies. Hierdie ou is die Baas van die army. Ons almal behoort aan hom, en hy regeer. Hy spring op daai luitenant tydens die parade – hy het nie ‘n mooi omkeer gemaak nie – hy jaag sommer daai luitenant daar teen die koppe uit. Korporaal sweet hier voor ons – hierdie troepe beter hulle kant bring vandag.

So nou en dan verskyn daai monster uit die bloute op die basis – dan is almal bang en die korporaals belowe: ons is dood as daar ‘n vinger na sy peleton gewys kan word vandag.

Die rumours van die Bosbus-ding begin al hoe meer rondloop. Dis ‘n nare ding, so ‘n Bosbus.

Een dag toe is dit sulke tyd, sien. Bosbus tyd. Al wat ‘n rang is, is die hele wêreld vol. Die hele kompanie word aangetree.

Kommandant en Kaptein moan en kla; die troepe is nie netjies nie, geen ruggraat nie, hulle dril slapgat en het nie respek vir gesag nie.

Ons almal staan op parade in vrees en bewing – ons het ‘n gevoel gehad iets ernstigs is op pad, erger as wat ons tot vandag toe beleef het. Erger as enige iets wat daai SWAPO’s in ons rigting kan gooi…

Lees verder

No comments: