Ons almal hol so in 'n ry, agter die ou voor jou aan. Neuk hier in die bos in. As jy dink hiers 'n plek om te gippo, dan spring 'n ding met 'n rang hier voor jou in en jaag jou verder. Dis net stof en hare waar jy kyk. Skielik moet ons stop – tyd vir PT – push-ups, sit-ups, dra-jou-maatjie.
Dra-jou-maatjie was lekker – eks lekker klein, en as 'n groot ou langs my staan, dan sê hy dis fine, hy dra my. As ons moet maatjies omruil, dan bly dra hy my - hy worry nie, want daars geen manier wat ek hom kan dra nie en hy score, want hy dra ligter as die ander manne.
Die Bosbus gaan lank aan, jong. Dis 'n deurmekaarspul, al die troepe hol rond, al die range skreeu op almal – jou eie luitenant en korporaal is nie heeltyd by sy eie peleton se mense nie. Skielik kliek die ding by my - daars geen manier wat hulle gaan weet as ek verdwyn het nie – hulle moet my net nie vang nie, dis al.
Ek kry rigting daar in die bosse in tot ek weet eks veilig – "duck" daar en "leopard-crawl" soos 'n regte Grensvegter – weg van die aksie af. Die trick is om op die regte oomblik weer in die groep in te val.
Almal is vuil – die overall is bemors, bootse lyk asof hulle nog nooit gepolitoer was nie. Oor 'n uur is inspeksie, dan moet alles weer reg wees en blink. Dis hoe 'n bosbus gewerk het.
--------------
In die begin het ons net gedraf met bootse en overall aan. Later toe kom die webbing by, en nog later die geweer ook. Daai blerrie R4 is ongemaklik, man, jy moet hom skoon hou, maar jy moet heeldag hol met die ding. Hyt so lekker handvatseltjie waaraan jy hom kan dra, maar daars geen manier wat jy dit mag gebruik nie. Kan jy dit glo?
Ek was altyd tussen die eerste 5 ouens toe ons sonder die ekstra gewig gehardloop het, maar toe die geweer en webbing bykom, begin ek swaartrek. Eks nou deel van die agterosse.
Daai geweer is nou jou vrou. Korporaal sê die eerste dag toe ons hom kry dat jy jou geweer nooit, ooit vir iemand anders gee nie. Hy vra vir Pietie "gee gou hier daai ding laat ek julle wys" – Pietie gee die geweer, daai korporaal ontplof hoor. Hyt dan gesê moenie die dekselse ding vir iemand anders gee nie! Nie eens vir die korporaal nie!
Ons leer hoe om die ding uitmekaar te haal en toe-oë weer aanmekaar te sit. En jy mag nooit daai ding na iemand anders toe rig nie. Nooit. Behalwe as dit 'n terr is, natuurlik.
Ons moet begin wagstaan. Het mos nou gewere en alles. Jy slaap in die wagkamertjie tot dit jou beurt is. Al goeie ding van wagstaan is die feit dat jy voor die ander ouens kos kry. Maar saam met dit gaan wagparade. Wagparade is 'n komplekse klomp simpel bewegings wat iemand uitgedink het om almal mee te frustreer. Niemand kan ooit wagparade reg doen nie, en dan's dit eers weer Plesierkop.
Daar was sulke wagbeurte – die lekkerste een is tussen 02h00 en 04h00. Baie lekker, veral in die winter.
Hier aan die einde van Basiese opleiding het ons begin regmaak vir Vasbyt. Elke Saterdag oggend dan sê hulle ons moet aantree na ons met die korvee-take klaargemaak het, en dan pak jy jou hele webbing, geweer – full kit. Een maal waterbottel maak jy baie vol. Dan stap ons daar by die basis se hek uit – lekka Okahandja toe, tot by die brug. Soontoe en terug is so 25km - goeie ou bietjie oefening net om die bene te rek op 'n Saterdag oggend.
Moenie dink jy gaan wegkom met gippo tricks nie. Een van die rangdraendes en sy pelle staan en wag by die draaipunt. Hy het 'n wit kryt en merk elke ou soos hy by die draaipunt verbykom. As jy sonder daai krytmerk weer in die basis aankom, is dit nag vir jou. Jy weet nooit watter merk hulle gaan maak nie – rooi kryt, wit kryt – iets anders? Soos die eerste ouens begin terugkom, vind jy gou uit wat is die merk. As dit een van die kryte is wat jy in jou rugsak het, dan merk jy jouself en draai om. Maar wee jou as jou korporaal die dag skerp genoeg was om spesifiek vir jou te wag – hulle weet wie's die gippo-gatte.
Die staf het dit geniet om met die Garry rond te ry en troepe uit te kyk wat gippo. ('n Garry was die naam vir so kortgat army Land Rover.) Jy weet nooit wanneer hy waar gaan uitslaan nie. Hy ken al die shortcuts – elke trick in die boek. Watse soort mens moet jy wees om op 'n Saterdag-oggend met 'n kortgat landrover rond te ry op soek na troepe wat gippo? Pateties man. Van hierdie PF's het wraggies geen lewe gehad nie. Ek wonder wat het hulle gedoen toe die weermag ontbind het? Onderwysers geword?
Vasbyt breek aan. Dis die laaste ding wat ons doen voordat ons ons heel eerste pas-naweek kry. Ses weke is ons al weg van Volk en Vaderland af. 6 Weke, en eks 'n heel ander mens, my arme Mamma gaan nie die kind ken nie. Na Vasbyt is ons klaar met basies, en die gelukkiges onder ons gaan JL's doen – Junior Leier opleiding. Dis nou 'n "extension" van Basies, jy doen Basies aanmekaar vir die res van die jaar, terwyl die ander skuttters reg maak om kokke en drywers te word, of dalk grens toe te gaan. Maar as jy klaarmaak aan die einde van die jaar - dan kry jy dalk rang. Jy word 'n onder-offisier (korporaal), of 'n offisier (Luitenant), afhangende van hoe dit gaan met jou JL's.
Ons tree op 'n hoop aan vir Vasbyt. Skriflesing en gebed. Groot parade, groot speeches – laaang gebede. Jyt gebed nodig voor jy die ding aanpak. Majoor Wit Tier praat met ons. Hy was so wille ou wat ons altyd as "here" aangespreek het – vreeslik beskaafd. Hy't altyd grens-stories vertel van hoe hy saam met Boesmans terrs gesoek het en sulke goete.
Wit Tier sê vir ons hiers nou net een probleempie. Hier's ouens wat goed soos lekkertjies en soet goedjies ingepak het, en die goed is mos soos steroids – dit gee jou baie energie. Dus gaan sulke ouens 'n voorsprong bo die ander ouens hê, en dis nie regverdig nie. Pak uit al sulke onwettige items – doen dit nou, moenie dat ons jou later uitvang met die goed nie.
Daar gaan al my vitamien-lekkertjies en goete. Jy het net ratpacks en water – dis al.
Ons is in groepe opgedeel – jy moet kaartlees en rigting soek en jy't goed wat moet saamgedra word. Aan die einde van dag een weet ek nie meer watter rigting nie – ek neuk net agter die ander ouens aan. Heerlikheid, jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop heel dag lank. En dan loop jy weer. En dan net nog so entjie. Ons kom stik donker nag daar by die eerste checkpoint aan – ons het vir die laaste vier ure in die donker bosse rondgeloop – dis donker, ons neuk in gate in en teen heinings vas – die dorings haak stukke vleis uit my lyf uit. Ons begin mekaar blameer oor die kaartlesery wat 'n gemors is.
Die ouens wat eerste daar gekom het, het al lekker vuur gemaak, gevreet, boots uitgetrek en na die skade gekyk – hulle snooze al.
So gaan dit vir drie dae aan – wat 'n gemors. Eks later so keelvol ek weet nie watter kant toe nie. Ek loop stadig – moeg man, dan kom die staf met die Landy agter my en jaag my dat ek vinniger moet loop. Mislike ou vark. So nou en dan daag 'n waterlorrie op – dan is jy te bly dat jy weer daai bottel kan vol maak.
Toe ons uiteindelik by Osona inkom, na vier dae se marteling, was ek so dankbaar ek kan my lag nie hou nie. Daar's sulke lang tafels gedek vir ons - elke ou kry een bier en een Pepsi. Ons suip ons dronk aan die goed. Ons vreet asof ons nog nooit kos gehad het nie.
My voete is beide net een groot blaas. Ek is spyt ek het nie fotos geneem daarvan nie. Tydens die stappery was daar sulke medic checkpoints. In die oggend kry jy nie jou boots aan nie, want jou voete wil weghardloop van daai ding af. Dis vrek seer. Medic kom druk so lekka naald in jou voet, in daai blase in - en spuit daai rooi mercuro-chrome goeters hier oral op jou voet. My hele voet lyk soos 'n wond toe ek by Osona aankom – altwee van hulle. Die hak is een groot half-stukkende blaas, en die bal van die voet lyk net so.
Ons gaan slaap – more oggend is daar parade, en dan gaan ons huis toe! Ek kan skaars loop - my voete is af, man. Ek hinkepink daar oor na die paradegrond toe. Ou Staaldraad is kwaad, want ons stamp nie ons voete hard genoeg as ons dril nie. Blerrie monster. Hy verdien 'n koeël tussen die ore vir daai ene. Dis hierdie klein goedjies wat my brein nie kan vergeet nie - daardie kere waar iemand net totaal onredelik was en my "rooi knoppie" gedruk het.
Daai oggend is ek saam met Willie Dreyer en nog so 'n paar ander manne in 'n kar daar weg – Windhoek toe.
Ek kom uiteindelik by die huis aan – te lekker. My oupa is daar, my ma, my pa, my broer, katte, honne – almal baie bly om my te sien. Hulle voer my kos tot ek nie meer kan loop nie. Nie dat ek regtig nog kon loop nie – my voete was gaar.
Ek het twee weke na dit nog gesukkel met my voete – wonder of die pyn wat ek deesdae in my voete het, nie dalk nog van dit af kom nie? Die goed is vir ewig opgeneuk.
Pasnaweek is van Vrydag-oggend af tot Maandag aand toe. Maandag-aand was moord. Klim in die kar saam met die famdamily – ons ry daai pad terug Osona toe. Ek bid dat die eindtye sal kom, Armageddon - die nukes van Rusland af, aardbewings – enigiets, sodat ek net nie weer Osona toe hoef te gaan nie.
My gebede word nie verhoor nie – sien, dis omdat ek vroeër mos geslaap het toe ek moes gebid het. Ek groet die familie met 'n seer hart, en stap terug bungalow toe, daar na Peleton een se hoekie vir eensames.
Ons is terug by die Malhuis.
Lees verder
No comments:
Post a Comment