Saturday, April 10, 2010

Die Sim Lim ervaring

Almal het my vooraf vertel van hierdie fancy electronics store in Saunapoer wat 4 verdiepings hoog is en net elektroniese toerusting verkoop. Met hierdie prentjie in my kop het ek 'n groot winkel verwag waar ek kan rustig soek vir items en besluit of ek hulle wil koop of nie.

Dink weer.

Ja, jy kan amper alles daar kry, en dis 6 verdiepings hoog. Maar dis nes hierdie Afrika straatmarkte - elke winkeltjie verkoop naastenby dieselfde gemors as die een langs hom. Dis nie een groot massiewe winkel nie, dis 5 miljoen klein winkeltjies. Met klein bedoel ek kleiner as 'n huis in Katutura. Baie kleiner as 'n 20 voet container, maar met meer goed in daai hokkie as wat jy in baie containers sal inkry. Party vloere spesialiseer meer op rekenaars, en ander weer kameras, en so aan.

Die probleem kom by die "kyk en self soek "gedeelte. As jy lyk asof jy na iets kyk, dan bestorm 'n salesman jou met beloftes van ongelooflike afslag en ekstra goed wat jy nie wil he nie.

Ons het soontoe gegaan met die idee om vir my seun 'n MP3 player te soek. Ek het per ongeluk ook die fout gemaak om belangstelling te toon in 'n groter zoom lens vir my kamera. Die verkoopsman was baie gemotiveerd, en het ewe die prys van S$495 afgebring na S$350 met ekstra goed wat ek nie wil he nie - alles binne minute. Ek wou egter nie die ding koop nie; ek wil net kyk wat kos hy. Die man is soos 'n bosluis - hy wil my nie los nie. As ek sommer nou dadelik my kredietkaart neersit, gee hy my nog afslag. Dit bevestig net my vermoede dat sy prys veels te hoog is.

Niemand sit pryse op die goed nie. Jy moet vra wat kos dit, en dan begin hulle met die slenters. Wat jy eintlik wil he is nie die ding nie, maar daai ene, en so gaan dit aan.

Ons kry later 'n MP4-player by 'n plek. Die ou wys vir my 'n dingetjie wat kan videos wys, jou wakkermaak in die oggend, en voice recordings maak. Hy het 'n FM radio in, en nog baie ander goed wat ek nie voor gevra het nie. Na 'n halfuur se demonstrasie van die kleiner model kom ons by die prys uit. Maar wag, daai is nie die een wat jy wil he nie - die goeie kwaliteit is die groter ene wat 395 kos. En omdat ek vandag sy eerste customer is kry ek helse afslag.

Toe hy uiteindelik verstaan dat ek nie so baie geld wil spandeer nie, toe vra hy hoeveel is ek dan bereid om te spandeer. Die oudste trick in die boek. Hy wys vir my 'n MP4 playertjie wat ek vir 'n skamele S$120 kan kry - what a bargain! Ek sê baie dankie, maar ek sal nog bietjie rondloer eers. Hy gryp weer sy calculator en werk uit dat die ding nou net S$90 kos. Ek groet hom en sê "see you later", en hy bring die prys af na S$70. Ek vra vir my kind wat dink hy - hy is vol smiles en wil net koop. Gelukkig het ek die voordeel dat ek voor die man in Afrikaans kan praat en dan hoor hy nie dat ek aan my seun vertel die ou is 'n sleg kroek nie.

Ons stap later daar uit, en ek gee my seun eers weer 'n morele lewensles. Moet nooit dat iemand iets aan jou verkoop net omdat hy kamstig die prys afgebring het nie.

Ons stap deur nog 200 van hierdie winkeltjies totdat ons dieselfde ding sien vir S$41.95. 'n MP4 player met 'n kleurscreen en al die dinge wat jy soek - presies dieselfde ding wat daai skurk probeer verkoop het vir drie keer die prys. Al probleem is dat hierdie ou uit voorraad gehardloop het. Ek kan sien hoekom.

Ons kry dieselfde ding by twee ander winkels vir S$50. Reguit prys, geen tierlantyntjie en beloftes nie, net reguit kwotasies van S$50. Dit klink na die regte prys. Dis gelyk aan 40 Aussie dollars, en ek weet ek sal die ding nerens in Perth vir daai prys kry nie.

Ek hou nie van hierdie bargaining stories nie - gee my 'n groot BigW of iets soortgelyks waar die pryse neergeskryf is en jy kan rondsoek waar jy wil.

Die finale prys was goed, maar ek is baie bly ek het vir niemand belowe ek koop vir hulle iets in Saunapoer nie...

No comments: