Sunday, April 4, 2010

Osona Deel 3

Basiestyd

Hier tydens daardie eerste dae op Osona was dinge nog lekker deurmekaar. Niemand weet eintlik lekker wat is waar en wie is wie nie. Ek weet wie my luitenant en my korporaal is, en ek het die staf en Sammajoor Staaldraad ontmoet.

Ons werk - staan en hark en grawe en stoot kruiwaens - ‘n mens sou dink dis ‘n landbouskool die. Ons begin so nou en dan aantree, en dan moet ons “oë links” en “makeer die pas” en in gelid staan. Ons word vinnig geleer dat ons eintlik baie gelukkig is om hier te kan wees, jy sien. So gelukkig dat ons moet begin sing as ons draf. En jy mag nêrens heen stap nie, ‘n rower mag nie stilstaan of soos ‘n slak beweeg nie, hy moet hol oral waar hy gaan. As iemand jou sien stap, dan is Plesierkop jou voorland. Later is die reël bietjie verslap – jy mag stap, maar dan dril jy met jou arm mooi reguit en jy doen die links-regs ding; niks gelopery soos ‘n siwwie nie.

Ons sing die Suidwes-lied tot dit by ons ore uitkom. “Hard wie kameldornholz ist unsern land…”, so draf-draf, heel dag lank. Ek kry sommer trane in die oge as ek daaraan dink. Hier aan die begin van 2008, met die rugby-game tussen die Bulle en die Leeus op die Suidwes stadion (Hage Gaingob soos hy vandag bekend staan), aan die einde van die wedstryd toe is daai skare so opgewerk, hulle trek daar los met die Suidweslied. Ek sing uit volle bors saam – my laaitie vra my wat se lied is dit dan nou wat ek daar sing? Hulle ken dit nie eens meer nie.

Hoe was daai ander ene: “nooit hoef jou kinders, wat trou is te vra?...” Wat happened to all that, mate? Die kinders vra, en ek het nie antwoorde nie.

Terug in die laat eighties: Heeldag lank dra jy daardie simpel weermag overall. Jy lyk soos ‘n krimineel. Boshoed, boots en overall. Met die webbelt wat so om die overall hang vir geen goeie rede nie. Dit lyk soos BA Barracus se pakkie wat hy altyd aangehad het, net sonder die goud om die nek. Daai boshoed mag jy nie verkeerdom aanhê nie. Vir die oningeligtes, daai ding het duidelik ‘n voorkant, ‘n linkerkant , ‘n regterkant en ‘n agterkant. Hy mag nie een graad in verkeerde rigting wys nie. En hoe weet jy waar is die agterkant? Daar is so naat wat afloop, hulle noem hom die “virgin”. Regtig, ek probeer nie banaal wees of iets nie, dis wat hulle hom genoem het. En wee jou as daai virgin aan die verkeerde kant sit. Dan is Plesierkop ‘n grap, dis sommer nou Nollie se roete.

Nollie was een van die stafs daar rond. Hy het so ingewikkelde roete uitgewerk, en Plesierkop was net so deeltjie van hom. Maar die fout met die roete was dat jy baie maklik kon verdwyn daar agter die koppies in die lang gras. Tot vandag toe weet ek nie regtig hoe Nollie se roete geloop het nie, ek het hom elke keer op ‘n ander manier gehardloop. Ek was te bly as ek Nollie se roete moes hardloop, dan foeter ek daar in die koppe in, en ek is weg vir ‘n uur. Daai korporaal het nie ‘n clue waar jy is nie.

Ons mag nie die boshoed nat maak as ons water drink by die kraan nie. Dis ‘n trick wat die ou manne uitgedink het – jy maak die hoed nat, en dan pass jy vinnig uit in die warm son en jy is op light duty. Jy kry ‘n waterbottel – sorg maar dat hy vol bly, jy weet nie wanneer jy weer naby ‘n kraan kom nie. Dis toe ook al waarvoor die web-belt is – om die waterbottel aan jou lyf vas te bind.

Ons begin al hoe meer fisiese oefening doen, en jy hoor aanmekaar die korporaals praat so ondermekaar oor die troepe wat begin regmaak vir ‘n “bosbus”. Jy wonder wat is die bosbus dan nou, is dit al weer ‘n storie omdat ons met busse hier aangeland het?

Ons bungalows is in twee gedeel. Een peleton die kant, ander een daai kant. So muur in die middel wat nie tot heel bo gaan nie. Jy hoor al die vloekwoorde wat die korporaal langsaan gil, en hulle hoor weer as dit ons beurt is. As iemand met ‘n rang instap in die bungalow in, dan skreeu die ou naaste aan die deur: “Staan op!”, en almal laat los wat hulle mee besig is en staan op aandag – selfs die ouens wat op die toilet sit spring op.

Die toilette was ‘n lekker wegkruipplek en rookplek vir die gippo-gatte. Dit was nie lank voor korporaal geweet het nie, en daar is ‘n nuwe reël: jy sluit nooit daai toilet se deur nie, maak nie saak waarmee jy daar binne besig is nie. Daai man stap net in en ruk die deur oop. As hy jou vang dat jy sit en skelm chocolates vreet of rook of iets ergers, dan is dit nag.

Ons leer ‘n nuwe beginsel in die lewe: as een ou aanjaag, dan is dit almal se probleem. “Maatjies werk nie saam nie, Maatjies moet mekaar uitsort”, is die gesegde.

Die peleton langsaan het ‘n monster van ‘n korporaal gehad. Elke keer as ons eie korporaal Sadie ons rondjaag, dan is ons net bly dis nie daai ou nie. Daai troepe het swaargekry, hoor. En ons hoor mos wat langsaan aangaan. Sy naam was Van Rhyneveld, of so iets. Banale blikskottel, geen morele waardes gehad nie. Daar is een troep in peleton 2 - man, die man is sleg. Hy maak die lewe vir almal mislik. Hy worry oor niks, vee sy agterent af aan alles; ‘n regte moeilikheid-maker.

Die Korporaal sê toe dis nou wraggies tyd dat die maatjies mekaar uitsort, anders is die hele peleton 2 in die DB.

Maatjies besluit hulle sort hom uit. Dis tekkieparade. Ons hoor net langsaan hier is iets aan die kom, ‘n lelike ding broei uit hier langsaan. Ons loer hier bo oor die muur en kyk die ding uit. Twee rye manne, met tekkies, boots, web-belde se staalkante, enige ding. Daai perd moet daar deur daai tonnel hardloop en hulle neuk hom dat die bloed loop. Dis die web-belt met daai staalstukkies waarmee hy geslaan word dat die bloed loop; hy word geskop, party ouens kry hom jammer en slaan hom maar met ‘n kussing.

Dis net bloed, snot en vere waar jy kyk. Hy hol, uitasem, daar by die bungalow uit, in die reën in. Toe hy in die koue reënwater kom na daai martelsessie, toe “pass” hy net daar uit op die grond.
Hulle probeer hom lawe, maar die fire buckets is mos vol sand gelaai, hulle kan nie hom nog vol sand ook gooi nie. Hulle kry hom later by, vat hom terug en pamperlang hom so bietjie.

Toe kom die groot marakkas. Die man lê klagtes teen die army - hy staan op sy regte, en hiers groot moeilikheid. Kommandant en almal hang daar rond, wil weet wat gebeur het. Niemand weet nie. Die korporaal jaag die hele spul so erg rond daai nag, dat nog ‘n paar manne nie meer kan nie. So Duitse outjie sê later “koppogghaal, ich kan nicht mehr”.

Die korporaal word later ge-“court marshall”, en hy word verban uit die plek uit en teruggestuur Suid Afrika toe.

Hulle kry toe ‘n nuwe korporaal. Space Muis. Nog erger as daai vorige blikskottel. ‘n Klein mannetjie met ‘n vreeslike attitude. Selfs erger as my attitude, as dit moontlik is…

Hierdie Basies is ‘n rowwe ding. Jy hang maar daar aan, want jy wil op JL’s gaan – wil mos ‘n “Loot” word. As jy aanjaag in basies kan jy vergeet van rang kry eendag. Party ouens worry nie, hulle wil drywers en kokke word. Ek wil ‘n “loot” word.

Ek kom agter my geld raak op. Ons het ‘n kantien waar jy mag koeldrank, bier en Bar One’s koop. Daai rye is altyd vrek lank, en hy maak toe na omtrent so een uur se woekery elke aand, na ete. Hierdie mannetjie kry ‘n blink plan. Ek “skiep” ete, sorg dat ek voor in die ry staan, en koop klomp stock op. Dan gaan ek terug bungalow toe en verkoop dit teen ‘n wins. Dis 'n wen-wen situasie - die ander troepe in die peleton hoef nie in die lang ry te staan nie, en ek maak sakgeld. Ek sponsor elke aand my koelies en Bar-one uit my wins.

Ons eerste salaris was R80, waarvan R50 afgetrek is sodat ons almal gestandardiseerde Cobra vloerpolitoer, lappe, bruin skoenpolitoer en tandepasta kan aankoop by die weermag winkel.

Oulik van die weermag om aan ons ook te dink, nê? Hulle het mos altyd vir ons gesê: “moenie rondkyk nie, kyk voor jou - die Army kyk agter jou.”

Lees verder

No comments: