Wednesday, April 21, 2010

Osona Deel 6 - JL's en Peleton wapens



JL’s:

Ons is klaar met Basiese opleiding. Dis nou tyd vir JL’s (Junior Leiers), en ek is deel van die elite. Dis nou die manne wat vir die res van die jaar ook nog gaan rondhol soos afkop hoenners hier op Osona. Baie ouens waai Suid-Afrika toe – Pantser, Geniekorps, Artillerie - party probeer parabats word. Ek bly maar hier en doen die Infanterie-ding.

Ons leer oor die doel van die infanteriste: Infanterie is die enigste eenheid van die weermag wat besette grondgebied kan behou. Dit word in ons ingedril van dag een af. Lyk nie asof dit gehelp het nie – die grondgebied is later deur die Big Boys met die suits net so weggegee, en die Infanterie het lock, stock en barrel daar padgegee en teruggeneuk deur Oshivelo hek. Mooi man. Eintlik is ‘n infanteris net canon-fodder en cheap labour, maar dit seg hulle nooit vir ons nie.

Woensdae was sportparade. Die "sportmanne" gaan Windhoek toe. Ek was nie so wonderlike sportman nie, en kwalifiseer nie vir aksie daar buite nie. Die hele middag is die sportiewe manne weg, en die res van ons doen korveetake. So met die tyd dan verdwyn party siele net; almal kry ‘n bos daar by besoekerspark waar hy bietjie sluimer. Ek sorg dat my “timing” reg is – hier teen die tyd wat die korporaal op diens weer ernstig raak, dan is ek daar besig met korveetake saam met die laaste 10 ouens wat oor is. Die Korporaal soek daai ander ouens – hulle Bosbus lekker verder terwyl ons kan gaan rus in die bungalow.

Later kom hier ‘n ding in – ons moet Samilwagte hê, die Samil kan nie so onbewaak al die pad Windhoek toe ry nie. Dis mos baie gevaarlik hier op die pad tussen Windhoek en Okahandja, terrs agter elke bos. Man, dis nou die ding daai –as jy Samilwag is dan klim jy saam met die sportmanne op, en daar in Windhoek hang jy by die huis rond tot dit tyd is om terug te kom. Te lekker. Jy sleep 'n geweer saam , maar jy het nie eens ammunisie nie.

Op ‘n stadium moes ons Woensdae deurry na die Suidwes stadion toe – ons sny die gras met sulke masjiene wat hom in sooie uithaal, en laai daai rolle gras op die Samil’s. Dan plant ons dit anderkant vir ons nuwe rugby-veld by 1 SWAMIL skool. Ek reël met my pa – hy kom haal my, dan eet en stort ek lekker by die huis terwyl die manne gras werk. My pa was ‘n Sammajoor, sien. Hy sê net vir daai korporaal hy soek daai ou, en almal is happy.

Peleton wapens fase:

Ons loop klasse daar onder die bome. Luitenant veskyn ‘n slag op die scene – hy moet nou en dan klasse aanbied. Ons leer al die teorie van kaartlees, seksie-aanvalle en wapens. Seksie-aanvalle is nou niks met “sexy” te doen nie – ‘n seksie is ‘n groep van 10 troepe. Drie seksies maak ‘n peleton.

Ons skiet met alles wat snellers het. R4, AK47, RPG7, geweer-granate, snotneus (my persoonlike gunsteling. Hier by jou klink hy soos ‘n windbuks, maar daar waar daai snotneus val, daar maak hy ‘n helse BOOM)




Ek sal nooit daai RPG7 vergeet nie. Daai ding raas verskriklik. Elke troep kry kans om met een te laat waai. Hulle het hope vol van die goed wat by dooie terrs afgevat is. Ons skiet daai hope daar op die skietbaan uit. Een perd skiet na die skietwal toe. Daai ding het mos ‘n punt wat vuurwarm koper laat smelt, en dan brand hy fisies ‘n gat deur die metaalwand van die voertuig wat hy penetreer. Hy maak ‘n dun slurpie wat daar deurwurg deur daai gat – daar binne is dit net snot en hare as hy deur die staalwand gaan. Totale verwoesting.

Although most Westerners call rocket-propelled grenades "RPGs," the abbreviation actually comes from the Russian phrase for "hand-held anti-tank grenade-launcher": Ruchnoi Protivotankovye Granatamyot.

Wat vir my altyd interresant was van ‘n RPG-7, is dat mens verwag die ding moet jou agtertoe stamp, soos die re-coil van ‘n geweer mos maar maak. Veral omdat dit so massiewe ding is, verwag jy hy moet jou rondgooi. Maar hy doen presies die teenoorgestelde. Hy trek jou vorentoe. Nogal verrassend as jy dit nie verwag nie, jy kompenseer heel verkeerde kant toe.

Die spesifieke ene het die man daar laat lostrek op die skietwal. Hy skiet reg teen daai wal vas – so 100m voor ons, maak so rooi kolletjie wat bokspring die wêreld vol – en hy kom terug in ons rigting teen die spoed van wit lig. Almal slaan dekking, daai ding slaan hier met ‘n helse BANG voor in die staf se Landrover se rooster vas, en brand ‘n gat so groot soos 'n duif daarin. Die korporaal het net so paar treë van die ding af gestaan - hy was amper bokveld toe.

Ek het my lamgeskrik. Amper sneuwel ek hier tydens opleiding. Wat sal hulle nou aan my ma verduidelik oor wat gebeur het? Kry ek ‘n medalje “in memoriam”, of wat?

Die staf raak nou slim - hy wys vir ons die RPG7 kan jy maar vêr in die lug in skiet, jy hoef nie teen walle vas te skiet hier reg voor jou nie. Na 900m moet hy homself detoneer – die ding is so ontwerp. As jy hom dus in die lug inskiet, dan trek hy nie verder as 900m nie, dan “self-detonate” die ding - om te keer dat hy nie land op verkeerde plek nie.


As with similar weapons, the grenade protrudes from the launch tubes. It is 40-105 millimeters in diameter and weighs between 2.5 and 4.5 kilograms. It is propelled by a gunpowder booster charge at 115 meters per second, which creates a cloud of light grey-blue smoke. The rocket motor ignites after 10 meters and sustains flight out to 500 meters at a maximum velocity of 295 meters per second. The grenade is stabilized by two sets of fins that deploy in-flight: one large set on the stabilizer pipe to maintain direction and a smaller front set to induce rotation. The grenade can fly up to 1100 meters; the fuse sets the maximum range, usually 920 meters.
Dis nou die teorie. Onthou net dat dit 'n klomp Russe is wat die ding ontwerp het.

Hy trek los en mik daar in die wolke in. Daai projektiel trek te pragtag deur die lug – wil nie “self-detonate” nie. Hy land daar kilometers verder weg op die boer langsaan se grond. Die plaas slaan brand – groot marakkas, ons moet gaan brandslaan daar met ons hemde.

Dis ook iets wat ons gereeld gedoen het. Jy moet gaan brandslaan, en al tool wat jy het is jou army hemp wat die regering mos voor betaal het. Eendag het die vlamme vreeslik wild om my gestaan in daai veld, ek was amper 'n stukkie carboon footprint op my eie. (Weereens draai ek by die dood om, alhoewel daar nie 'n terr in sig was nie...)

Ons raak nou aggro - ons gooi handgranate. Eers laat val ek die simpel ding toe korporaal hom vir my aangee. Hy vervloek my vreeslik. Ek tel hom versigtig op. Trek daai pennetjie uit. Ek gooi daai pennetjie dat hy daar trek, en sit met die granaat in my hand. Kyk die ding so – tel tot by drie en gooi hom vinnig oor die muur. Korporaal dink nie dis snaaks nie en hy jaag my so paar keer teen Plesierkop uit daai dag.

(Ek lieg dalk so bietjie hieroor- maar dit kleur die storie in, man! Ek het die granaat regtig laat val, maar darem nie die pennetjie gegooi nie. Daar was egter ouens met wie dit gebeur het. Blykbaar is ‘n korporaal eendag dood toe dit gebeur en hy homself op die ding gewerp het om die ander ou te beskerm)

Ons oefen seksie-aanvalle, maar ons mag nie regte ammunisie nou al gebruik nie. Jy moet raas, jy skreeu “tatatatata”, en as jy nie genoeg skiet nie, dan is jy in die moeilikheid.

Ons skiet mortiere en leer van ladings. Sulke pakkies wat jy opsit om hom bietjie te boost. Ons steel die pakkies en maak lekker marrakas daar in die bungalow met die goed.

Daars rookgranate en traangas. Hoe leer ‘n troep wat die effek van traangas op die vyand is? Jy jaag ‘n uit-asem troep deur die traangas. Dan weet hy hoe goed dit werk. Die traangas werk goed, stem ons almal saam na die tyd.

Ons is nou op ‘n kursus – ons skryf sommer toets ook hier in die Bos. En dis nag as jy pluk. Die swaard van mislukking hang ook hier oor jou kop – as jy te vrot doen, kry jy nie rang aan die einde van die jaar nie. Almal werk hard vir daai rang, en ons weet: nie almal maak dit tot die einde van die jaar nie. Jou motivering in Basies was maar net om saam met die groep aan te ploeter – met JL’s moet jy jouself baie dissiplineer, want daai wortel hang voor jou neus.

Ons almal kry ‘n beurt om Baas vir die dag te wees. Jy dril die peleton, jy tree hulle aan vir inspeksie, alles. En alles wat foutgaan is jou skuld. Jy leer vinnig oor leierskap – dis nie net baas-speel nie, dis belangrik om jou peleton in ag te neem. Alles op die grens gaan oor goeie leierskap. Ons evalueer mekaar – daai ou gaan ‘n korporaal word, die ou lyk soos “loot” materiaal.

Elke ou hoop maar hy is nog oraait.

Lees verder

No comments: