Tuesday, April 6, 2010

Toer na Singapoer

Die tyd het uiteindelik aangebreek. Ons vlieg landuit sodat ons in die land kan bly. Moenie eers vra nie – dis ‘n ingewikkelde storie.

Die kort en die lank van die storie is dat ons nou vir tien dae in Singapore gaan oorbly – ons eerste “oorsese vakansie”.

Ons het al kaartjies Singapore toe geboek in Januarie, net na ons gehoor het ons permanent residence visa vir Australia is ge-“pre-grant”.

Ons het die vlug bespreek met Tiger airways, een van daai cheap airlines wat geld spaar deur niks onderhoud op die vliegtuig te doen nie, en deur die petroltenk net so half vol te maak en lug uit die wiele uit te haal sodat die ding ligter is.

Dis nou nie heeltemal so erg nie, maar as jy eers in die ding sit, dan verstaan jy hoekom hy so goedkoop is. My oupa het altyd gesê: “goedkoop is duurkoop”.

Die prys wat jy betaal, is in gemak. Glo my, ‘n 5 uur lange vlug kan baie ongemaklik raak. Dis amper so erg soos om agter in ‘n ou Army Kwevoël te sit al die pad van Opuwo tot in Windhoek.

Ons was heel betyds om in te boek vir die vlug by Perth se lughawe. ‘n Hele 2 en ‘n half uur vroeg.

Ons het ons tasse ingeboek nadat my vrou besef het sy het haar baadjie by die huis vergeet. Ons moes eers 20h30 begin om te “board”, en het by die Red Rooster gaan sit om ietsie te eet.

IMG_6155 IMG_6158

Ons is later deur doeane met al hulle gesnuffel en ge-bodysearch – ek is ewe ge”frisk” deur ‘n male customs official wat baie vriendelik was – dalk ‘n bietjie te vriendelik na my sin…

My vrou se bagasie is deur een van daai dwelm masjiene ge-beloer om te kyk of sy nie dagga smokkel nie – verbeel jou, my vrou sal nie eens gom snuif nie, wat nog van onwettige dwelms.

Uiteindelik is ons daar deur die Gestapo se lyne, en ons tree aan by Gate 5 waar Tiger airline se mense moet inboek. Die TV screen sê ons moet inboek, maar daar is nie kind of kraai agter daai lessenaar nie. Ons sien ook geen vliegtuig met ‘n groot tier op nie.

So ‘n halwe eeu later daag hulle op, en ons sien ‘n vliegtuigie nader trek – hy lyk baie kleiner as sy maatjies van Quantas wat ook hier rond staan.

IMG_6164

Eers moet al die mense met sitplek nommers 20 to 30 inboek – hulle sit agter, en hulle moet eerste inklim. Ek raak skoon benoud – netnou val die vliegtuig agteroor met al die obese mense wat agter inklim.

Ek het al baie met kleiner charter vliegtuie gevlieg, en hulle het altyd gewaarsku ons moet van voor af volmaak – nie van agter af nie, want anders sit die vliegtuig met sy neus wat doer in die lug kyk soos ‘n space shuttle op ‘n lanseerbaan.

In elk geval, na die klomp uiteindelik in is, en die vliegtuig nog regop staan, is dit ons beurt. Teen hierdie tyd is die kinders al lekker moeilik.

IMG_6162 IMG_6163 Dis uiteindelik ons beurt om in te klim. Maar dit sukkel. Ek was nog nooit vreeslik groot nie, maar daai sitplekkie laat my soos ‘n reus voel. Hierdie vliegtuig is ontwerp vir bitter klein bonsai mensies wat iewers in die Ooste bly – hoe enige normale mens in die ding moet sit, weet ek nie.

Dis mos nou goedkoop ook, dus is daar niks soos kombersies en warm lappies om jou gesiggie mee af te vee nie. Die koskarretjie pas net-net in daai smal gangetjie tussen die stoele in, en jy kan nie jou voet in die paadjie sit nie, want anders ry hulle bo-oor jou. En niks in daai kostrollie is verniet nie. Ek word sommer $3.50 gecharge vir ‘n blikkie Sprite. Ek gee vir die man ‘n A$20 noot, en hy bring vir my $18 in Singapore dollars terug. Ek weet nou nog nie in watter geld-eenheid die $3.50 nou eintlik was nie.

Ons vlug styg op net na tienuur in die aand. Dis mos nou voordelig, want ons kan slaap tot ons 3 uur in die oggend daar anderkant land. Het ek gedink.

Slaap is nie so eenvoudig nie. Ek skuif my linkerknie dat hy by my regterwang verbydruk, en druk my linkerarm hier skuins onder my regtervoet in, maar niks wil werk nie. Alles pyn – as ek my lyf draai, wil niks inpas nie. Ek het nie eintlik aan die slaap geraak nie; ek het bloot net later van die pyn beswyk – net so halfuur voor ons geland het.

IMG_6167 IMG_6166

Toe ons uiteindelik moet uitklim uit ons sitplekke, was ek bang ek gaan nie kan beweeg nie. Ons het tonne handbagasie gehad wat ek oral oor my gedrapeer het. Ek kan nie my laptop en my kamera in ander mense se toesig los nie – nou dra ek swaar.

Ons kom uiteindelik na ‘n lang nagmars by die doeane uit. Die Oompie kyk na my vyf groen Afrika paspoorte met so frons. Hy loer op die rekenaar, druk knoppies, en frons weer. Hy roep ‘n ander antie ook nader. Sy is heen en weer; dan die kant toe en dan daai kant toe.

Sy vra later vir my: “which country is this Namibia part of?”

Hoe antwoord mens dit nou? Dis veronderstel om ‘n onafhanklike land te wees, het ek gedog. Ek sê vir haar “it’s in Africa”, en ek wys vir haar die prentjie voor in die paspoort wat ‘n kaart wys van Afrika met so blerts in die linkerkant onder waar Namibia blykbaar is.

“Ohhhh” sê sy vir my.

Toemaar tannie, dis nie die eerste keer wat dit met my gebeur nie. Selfs in Lesotho wou die mense my nie glo dat daar so ‘n land bestaan nie. Hulle het op ‘n kaart gaan kyk om seker te maak.

Ons is uiteindelik daar deur. Dis nou al amper vieruur in die oggend, en my oë lyk soos ‘n drug user sin.

Ek sien daar is ‘n geld-smokkel winkeltjie wat oop is – kan jy glo, vieruur in die oggend is daar ‘n foreign exchange winkel oop in die plek. Die strate is so besig buite, jy sou dink dis dag. Ek het al gewoond geraak daaraan dat hier in Wes Australia daar niks beweeg na nege uur in die aand nie, behalwe die hoons wat burnouts doen in die strate.

Ek kry ‘n oompie met ‘n taxi wat vyf mense kan vat. Die ding lyk eintlik vreeslik bekend – so bietjie soos taxis wat ek al daar in Afrika gesien het. So Hi-ace bussie affere. Die drywer het ook ‘n sweterige reukie wat baie bekend is. Hy vat ons toe al die pad na ons fancy verblyf toe, na ek vir hom moet beduie waar hy moet ry. Al wat ek weet is wat ek op Google maps gesien het.

Ons kry uiteindelik al ons tasse in ons kamertjie in. Die plekkie is benoud klein. Ons het baie goedkoop probeer regkom, en nou sit ons in ‘n family room in ‘n backpackers lodge.

IMG_6170 IMG_6169

Die slaap was egter baie soet, en ek was reg vir die nuwe dag vanoggend. Ons het gaan rondloop op soek na MRT buskaarte en ‘n SIM kaart vir my selfoon sodat ons ons vriende kan bel wat hier iewers bly.

Die SIM kaart moet jy by die poskantoor kry. Ek het na ‘n wyle die poskantoor opgespoor en gevra vir ‘n SIM kaart. Die Oom soek toe my paspoort. Ek gee dit vir hom, en die gefronsery begin weer van voor af.

Na ‘n halfuur het hy dinge reggekry, en vertel ewe vir my: “we’ve never seen white people from Namibia”.

Join the club, mate.

IMG_6194

Ons het ‘n vriendelik “geel M” raaksgesien en daar middagete ge-eet:

IMG_6190 ‘n Ou omie wat by McDonalds werk, het die foto geneem. Hy was vreeslik vriendelik, en het baie moeite gedoen om aan my te verduidelik dat McDonalds ‘n baie kindervriendelike plek is. Dis die eerste McDonalds werknemer wat ek ontmoet wat so patrioties is teenoor sy werkgewer.

Ons het in ‘n verskeidenheid van shopping malls ingegaan, want hulle is almal lugverkoel. Daar buite is dit bedompig warm, en jy sweet soos ‘n bosvark wat nou-net ‘n haas gejaag het.

Die vrouens het skoene gesoek.

IMG_6186 Terwyl ek vir hulle wag het ek ‘n snaakse ding gesien. Hier is honderde buddhiste winkels. Dis amper soos die markplekke in Afrika – elke ou verkoop dieselfde gemors as die ou langs hom. Elke tweede winkel is vol klein buddha beeldjies. Vet Buddhas, nog vetter Buddhas, blink goue Buddhas, swart Buddhas. Die plek vrot van die goed.

IMG_6188

En toe sien ek hierdie tannietjie wat in een van die snaakse winkeltjies ingaan. Sy trek haar skoene uit en sit dit voor by die deur neer. Daar staan ‘n ronde tafel met so klein paleis-koepel afferingkie wat bo-op hom staan, en klein beeldjies wat in vier windrigtings rondom die ding staan.

Sy sit haar hande bymekaar, soos jy maak as jy bid, en dan bewe haar handjies so snaaks, en dan buig sy vooroor dat haar kop amper die tafel stukkend slaan. Sy doen dit reg rondom die tafel voor elke beeldjie – drie keer om die tafel. Ek wou dit afneem, maar ek wil nie onbeskof wees of een of ander heilige reël oortree nie.

Snaakse goed wat jy hier sien. Hier is ook ontsettend baie mense met krom beenstrukture en rue wat krom en skeef is – hulle loop so heel skeef gebuig die hele wêreld vol.

Die stad is baie netjies, en die mense is baie vriendelik. Almal wil my klein meisiekind se wangetjies heeltyd knyp. Mens voel nerens bedreig nie, al is dit ‘n besige stad.

Dis al vir eers. Hier is nog ‘n paar fotos van die stad:

IMG_6196 IMG_6172 IMG_6176 IMG_6191 IMG_6193

No comments: