Thursday, April 1, 2010

Oppad na die Army

Dit was 1987.

Dit was die era toe ons vierkantige groot brille gedra het en A-Team gekyk het. Telefone met drukknoppies (in plaas van daai ronde draai-affêre) het net uitgekom.

Ek was in Windhoek Hoërskool - een van Suidwes se beste Afrikaanse skole daai tyd. Ek was nog nie oud genoeg om te stem nie, maar die regering het klaar sy oge op my gehad.

Meneer Gous het vir ons die Geestesweerbaarheid handboek geskryf. Die boekie is oral in Suidwes in die skole gebruik om ons mee op te voed. So blouerige, groenerige boekie. Dit was een van ons vakke op hoërskool. Die onnies het vir ons mooi verduidelik - uit die Bybel uit - hoekom apartheid reg is en hoe gevaarlik die Kommunis en die antichris is.

En vandag sien ons tog bietjie waarheid in van die goed, nê. “Once a terr, always a terr”, dis mos wat ek sê. Oom Bob sê mos steeds die bolpunt-pen is nie magtiger as die AK47 nie.

Van standerd 5 af het ons hoërskool toe gegaan. Binne die eerste week in die hoërskool het hulle vir elkeen van die jong manne 'n army kortbroek, bruin beret en brown hemp uitgedeel. Elke Woensdag moes jy opdaag met jou army klere aan, en die duiwel behoed jou as jy op 'n Woensdag skool toe gaan met gewone skoolklere. In daai dae het jy nog pak gekry by die skool, en jou ouers het nie geback-chat met die onnies daaroor nie.

Ons het elke maand haar-inspeksies gehad, en pak gekry as ons hare nie kort genoeg was nie. My hare was korter op skool as wat dit later jare in die army was.

Tydens die dril periode het ons klein standerd vyfies al geleer om in drie geledere aan te tree, en om te makeeriepas en oë links.

Dis hoe ons grootgeword het.

As ons op vakansie gegaan het, het ons altyd Army konvooie op die pad raakgeloop. Rye en rye Samils en lowbeds met goeters wat onder seile weggesteek is. Jy moes maar so sukkel-sukkel verbysteek sonder om van die pad af te neuk as daar 'n kar van voor af kom. Dit was alles deel van die lewe - no worries.


Toe ek baie kleiner was, was ek al gewoond daaraan om troepe met uniform oral te sien. Die hele Windhoek was vol weermagmense. Die jaarlikse Windhoek skou was 'n skouspel van skynaanvalle, rookgranate, helikopters en vliegtuie, en die nuutste wapentuig wat uitgestal word. Ek onthou hoe die SWA-spes ouens met hulle motorfietse altyd kamstige Swapos geskiet het op die skougronde, en die honde wat die terrs gevang het en plofstof uitgesnuffel het. Dit was my droom om eendag 'n blink uniform te dra en om terrs te skiet.

Alhoewel die oorlog ver van ons af was daar bo in Wamboland, was ons baie bewus van die Weermag. En baie dankbaar dat hulle daar was om die Swapo terroriste uit die land uit te hou. Suidwesters het hulleself beskou as deel van Suid Afrika - ons was die vyfde provinsie. Ons het die Kaapse onderwys department se stelsel gevolg. Ons het Afrikaans en Duits gepraat en so bietjie Ingils tussen-in as jy baie mooi vra. Ons het die Oranje Wit en Blou vlag met trots laat wapper, en het Die Stem uit volle bors gesing. Asook die Suidweslied.


Ek het ‘n pel gehad wat iewers deurmekaar geraak het met al die skoolterme. Meneer Gous het altyd gepraat van ons “alma mater”, (dis nou die skool daai) en hy het die storie nie so lekker verstaan nie. Dan loop hy rond en sê “meneer Gous is ons almal se mater”. Nodeloos om te sê, meneer Gous het dit nie waardeer nie. In daai dae het jy nie met ‘n onnie gesukkel nie. Hulle almal het army range gehad en kon jou wettiglik opneuk van ‘n kant af. Regte klomp sammajore. Snor en al.

Teen Matriek moes ons jong manne groot besluite neem. Jy sien, daar kom so blou computer-geprinte briefie vir jou in die pos aan. Almal kry hom, niemand word oorgeslaan nie. Ek weet net van een oom wat nooit opgeroep is vir diensplig nie; hy sê hy weet self nie hoe dit gebeur het nie. Computer error. Hyt ook nooit probeer om die fout op te spoor nie…

In elk geval, jy kry daai blou briefie, en hy sê vir jou hoe laat jy waar moet wees. Hy vra nie of jy daar wil wees nie, hy nooi jou nie vriendelik uit soos met ‘n “meeting request” op Outlook nie, hy sê net kry jou agterent daar en staan op aandag. My inklaardatum was 11 Januarie 1988. Weet jy, ek onthou die datum tot vandag toe.

Ek redeneer eers bietjie met my ouers. Sien, ek gaan mos studeer, en dan kan ek later vir my land gaan veg. Ouers sê nee, as ‘n man universiteit toe gaan, dan trou hy en al sulke dinge, en dan voel die Army vir hom net nog erger as wat dit klaar is. Wees ‘n man en doen jou deel. Kry dit oor en verby, en vorentoe doen jy net so paar kampe hier en daar.

Wel, nou ja: “I did my bit” - jolly good show, old chap, and all that …

Op skool “sike” ons mekaar op oor hierdie Bos-ding. Ons gaan groot gewere en boots kry, en ons gaan terrs klap dat hulle so op hope lê as ons klaar is. En ons gaan Buffels en Kaspirs vir ‘n spin vat daar in die wit Wamboland sand. En almal van ons wil fighter pilots word, nes daai ou in Top Gun. Daai fliek het ons almal op ‘n stasie gehad - Tom Cruise was net die man. Om van die girl nie eens te praat nie. Ek hoor nou nog daai kitaar-solo hier in my agterkop.

Daai tyd was daar nog nie 'n Internet waarmee ‘n ou bietjie research kon doen en blogs lees en so aan nie. Al wat daar was, was die propaganda en die stories van mense wat jy ken, wat iemand ken wat ‘n ou ken wat in die Army is. Jy hoor van daai mal man wat ‘n troep doodgedril het op Osona, hy was gelukkig al weg toe ek daar aanland. Wat was daai monster se naam nou weer? So Engelse naam gehad.

Daar’s ‘n storie van daai terr, sy naam was Cuvelai of so iets – hyt op plase se drade geloop vir kilometers lank en die beste spoorsnyers kon daai man nie vang nie.

Daar was baie legends – kolonel Radmore, mal soos ‘n haas. Hy was ‘n plofstof tuffie, het so Brakpan-opgeboude V8 Ford of ‘n ding gehad waarmee hy jaag as hy bomme moet gaan ontlont. As hy met sy kar by Bastion uitry, dan weet daai troep wat wagstaan hy beter daai hek oopmaak of dis nag vir hom.

Maar dis die Osona stories wat ‘n jong skool-laaitie die bangste gemaak het, want dit was waarnatoe ons klomp Suidwesters oppad was. Geen genade vir jou nie, jy gaan nie vloot toe of so iets nie, jou lot is Osona. Infanterie my maat. Cannon-fodder.

1 SWA Militêre skool, Okahandja.

Hoe nader daai Matriekjaar aan ‘n einde kom, hoe meer weet jy jy is in diep moeilikheid. Dis nou deurdruk en vasbyt. O ja, dis die ander “rumour” wat rondloop. ‘n Gehate woord met die naam “Vasbyt”.

As jy nou wil horror-stories hoor oor die lewe, laat iemand jou net vertel van Osona se Vasbyt. En as jy dink jy gaan rang kry of iewers in die lewe kom, OOIT, moenie dink jy gaan dit regkry sonder dat jy Vasbyt gestap het nie. Jy sal nie eers werk kry as ‘n posman of ‘n asdrom-cleaner as jy nie Vasbyt agter jou naam het nie. Dis nou maar net so.

So besluit ek toe maar om te probeer fiks word voor die tyd. Dit het nooit veel verder gekom as ‘n besluit nie. En die tyd kom al hoe nader. So bid ek vir daai ystergordyn, min wetende dat hy nie meer lank gaan staan nie.

Een Maandag oggend hier net voor ons almal verdwyn vir ons Matriek eksamens (nog ‘n groot riller wat jou hele toekoms kan bepaal) – toe sê hulle hier moet ‘n paar manne op die verhoog kom staan. Dis die manne wat “gaan veg teen die bose magte van die Kommunis en die Antichris”. As jy my nie glo nie, dan wys ek jou ons WHS jaarboek van 1987 – daai woorde het net so daar gestaan. My maergat gevreetjie is ook daar op die foto, en jy sal my naam daar sien saam met die ander perde sin.

Ons klomp tree aan daar op die verhoog. Man, jy is bly om te sien hoe baie van jou pelle gaan saam met jou Vasbyt stap. Jy is darem nie so alleen nie.

Jy voel nou sommer grootmeneer, al die girls in die saal het gesien jy gaan grens toe om die Bose te beveg. Rambo se dinges, hier kom die WHS matrieks, ‘n wille spul. Daai kopporaals en snormajore sal moet wydstaan vir ons klomp. Ons is nie jou gewone besending rowers nie. So dink ons mos...

Lees verder

1 comment:

Unknown said...

My eerste "toer" was 1978. Was 8 maande daar. Ondangwa was ons basis gewees, maar ons het die hele Sektot 10 plat gery. Was omtrent in al die basisse gewees. Wie sal nou nie Etale se dik sand vergeet nie, oom Willie se pad, Nkongo se Portugese brode...en so kan ek aangaan.
Wat n' wonderlike land...dit kruip onder mens se vel in, en bly vir ewig daar. Het 21 geword daai tyd...en het 2 jaar terug die geleentheid gehad om vir die 1ste keer weer terug te kon gaan. Tsumeb, en toe vir 3 dae op n' "houseboat" op die Zambesi. My eerste tiervis gevang in die Kavango!
Moet sê die land het nie baie verander nie...net baie minder Army voertuie op die pad Ek is nou 53...en sal die ondervinding nooit vergeet nie.
Suidwes!