Wednesday, May 12, 2010

Wille naweek met die kinners

[Ou storie - Oktober 2009]

"Dis lekker, Pappa", sê my jongste, en vee die vet van haar wang af met haar mou. Daar is kos in haar hare, en sulke vuil kolle op haar hemp. Sy lyk soos 'n weeskindjie in Katutura.

"Is daar nog ribbetjies, Pappa?", vra my oudste seun terwyl hy die laaste stuk bacon in sy mond prop.

Daar is nog, maar sluk eers daai af met 'n bietjie coke, seun.

Dis Saterdag-oggend ontbyt. Ma is weg op een of ander vrouekamp, en Pa is in charge vir die naweek.

Iewers in die huis moet daar nog skoon skottelgoed wees, maar niemand weet waar nie. Die wasbak is vol, en die skottelgoedwasser is toegepak. Dis tyd om die papierborde uit te kry. (Hoekom het ek nie lankal daaraan gedink nie?)

Die kinders het almal voor die TV aan die slaap geraak gisteraand. Dit was al manier om hulle stil te kry sodat hulle nie heelnag neul oor Ma wat weg is nie.

Hierdie kinders van my vreet mos heeltyd. Waars die dae toe ek 'n kind was - ons het drie etes per dag gehad en dit was dit. My vrou het een of ander deal aan die gang waar die kinders heeltyd aanmekaar vreet. Hulle eet darem redelik gesond, maar magtag, mens kan nie heeldag so inprop nie. Ek moet oral appelstronke en piesangskille optel, en dan eers weer raas en baklei tot iemand sy gemors skoonmaak.

Daar is darem nog genoeg ribbetjies om later weer te braai. En ek het die pizza-plek se website onder my favourites.

Ek het intussen een vreeslike hooikors opgetel, en kan amper nie deur my neus asemhaal nie.

Ek moet seker vanaand die kinders in die bad kry. En more moet hulle 'n slag skoon klere aantrek, want ma kom terug. Ek wonder of enige van hulle al tande geborsel het die naweek?

Die plek is 'n gemors - hoe is dit moontlik dat drie minderjariges so baie kan mors? Hierdie naweek leer hulle al drie hoe 'n besem en 'n mop werk.

Nou moet ek eers bietjie slaap inhaal. Ek het my vryheid geniet en laatnag action movies gesit en kyk.

Ek weet nie of ek sal kan wakkerbly deur vanaand se Curriebeker wedstryd nie. Die kinder-oppassery is harde werk...

No comments: