Sunday, May 16, 2010

Huisvrou van die Namib

Ek sit mos nou hier by die huis en huisvrou speel. My vrou is daar in Aapland, op 'n Afrika safari, terwyl ek hier sit en kinders grootmaak - stoksielallleen op 'n Saterdagaand.

Ek het nou vandag en more verlof ingesit, want ek moet darem ook voel hoe dit voel om 'n huisvrou te wees.

Hulle sê mos mans kan nie "multitasking" doen nie. Kom ek vertel jou bietjie van multitasking. Ek kyk 'n movie op TV met die klank lekker hard aan; ek maak vloere skoon, ek maak die kombuis skoon, ek het klere in die wasmasjien, en ek het 'n lekker lamb roast wat daar in die Weber lê en gaar word.

Die kombuis blink, en ek het die barbeque buite ook sommer 'n slag gewas. Die sitkamerbanke se kussings is vir die eerste keer hierdie jaar afgehaal en ek het onder hulle gestofsuig. Ek kyk movie, ek drink koffie, alles so terwyl die kos kook en die huis skoongemaak word.

My jongste meisiekind het by 'n maatjie gekuier, en toe sy terugkom toe huil sy en daar spring die grootste stuk snot uit haar neus uit wat ek nog ooit in my lewe gesien het. Die tannie wat haar afgelaai het skrik nog groter as ek, en daar gaat sy. Ek hol badkamer toe en vee daai meter-lange stuk ghwel met 'n halwe rol toiletpapier van haar gesig af.

Ek dink dis tyd dat my vrou begin werk sodat ek voltyds huisvrou kan word. Dis kinderspeletjies die.

No comments: