Dit reën so lekker ou winter-reëntjie hier. Gisteraand het dit heelnag gereën, en vanoggend toe ek uitgaan om my koerant buite te gaan optel, toe reën dit nog steeds. Na ‘n lang droeë somer is dit ‘n welkome verandering. Dis nou koud in die nag, en die warm bed klou baie vriendelik aan my broekspype as ek probeer om weg te kom van hom af in die oggende.
By die kantoor het ek so lekker hokkie in die hoek reg by die groot venster. As dit so reën buite, dan is dit lekker om te sit en kyk hoe ander mense met sambrele in die reën sukkel, terwyl ek met ‘n lekker koppie warm koffie sit en loer vir hulle van daar bo af. My vorige hokkie was in die middel van die vloer, en was baie vaal. Ek moet kan sien wat buite aangaan - die nuwe sitplek van my maak my hart bly.
Deesdae is dit al donker as ek by die huis aankom. Hulle het hier so ‘n drie-jaar lange toets-lopie gedoen met sogenaamde “daylight savings”, en gelukkig het die mense in die referendum daarteen gestem. Die plein feite is maar net dat die dag baie korter is in die winter as in die somer, en om die somerdae langer te probeer maak, is sinneloos. Daar is meer as genoeg son in WA, glo my.
As dit so reën moet jy maar geduldig wees - alles op die pad gebeur stadiger. Nadat ek die “Freeway” bemeester het in die nat weer, daag ek uiteindelik by die huis op. Die asdrom staan nog so oop soos wat die asdromlorrie hom gelos het - hy is vol water. Ek swoeg eers bietjie om hom terug te sit op sy rusplekkie. Sy magie is leeg - vir die oomblik.
Die twee groot rump steaks lê en wag nog in die yskas, en ek steek die barbie aan die brand. (Dis nou nie ‘n barbie doll waarvan ek praat nie, dis ‘n “barbeque”.) Eers word daar bietjie uie gebraai, en dan word die twee rumps on-seremonieel op ‘n vuurwarm plaat gegooi. So 2 minute aan elke kant, en af is hulle.
Lekker sappige, sagte stukke beesvleis wat ‘n mens sommer trane in jou oë gee.
Ons almal sit saam om die tafel en eet. Ons maak ‘n punt daarvan om altyd ons aandetes saam te eet. Die kos is lekker, en klein Anica praat aanmekaar, soos altyd.
Buite val die sagte reëntjie terwyl ons lekker eet. More het ek die dag af - deel van my nine day fortnight voordeel by die werk. Ek werk elke twee weke nege dae met ‘n halfuur wat ek ekstra inwerk elke dag, en kry dan die tiende dag af. Elke tweede Vrydag is ‘n welverdiende rusdaggie vir my.
Dis ‘n lekker ou lewe. Ek voel sommer lus om ‘n vuurtjie aan te steek, so lekker kry ek nou.
No comments:
Post a Comment