Wednesday, May 19, 2010

Wat is ‘n biltongboer?

Ek moet eers verduidelik wat ek nou eintlik bedoel met die woord “Biltongboer”. Sien, hier is wragtag mense wat al jare lank my stories lees, en steeds nie besef dat ek in suidwes grootgeword het nie. Hulle weet ook nie eens dat suidwes ‘n provinsie van Suid Afrika was destyds nie.  Waar hulle was toe dit alles gebeur het, weet nugter alleen.  Die mense weet minder van ons geskiedenis as wat hierdie Aussies weet – en glo my, die Aussies het nie ‘n vae clue van enige wêreld-geskiedenis nie.

Ek weet nie hoeveel aandag sulke slaapwandelende mense gee as hulle lees nie, maar kom ek verduidelik gou die term:

Die woord Biltongboer is nie iets wat iemand gebruik omdat hy van biltong hou nie. Dis ook nie ‘n term vir iemand wat biltong plant, oes en in Ziploc sakkies sit nie. Vir die dom stadsjapies wat nie weet nie - jy kan eintlik nie regtig boer met biltong nie. Sien, die goed is nie soos mielies wat jy plant en saai en natgooi en oes en in silos bymekaar gooi nie. Biltong is gedroogde vleis wat jy maak na jy ‘n hond, kat, bees, kangaroo of gemsbok geslag het. Om ‘n springbok te slag, beteken jy moet eers die ding gaan soek, hom tussen die oë skiet, sy keel afsny en dan afslag. En dan begin jy eers met die biltong.

Sien, mens oes nie kudu biltong van die lande af nie. Net sodat julle weet.

Nou wat is ‘n Biltongboer dan nou, vra jy? ‘n Biltongboer is nie ‘n boer nie, ook nie noodwendig ‘n Boer met ‘n hoofletter nie. Maar jy sal sien ek spel Biltongboer met ‘n hoofletter B.

‘n Biltongboer is ‘n Afrikaans-sprekende inwoner van suidwes, of Namibia soos hy vandag genoem word. Die term word al jare lank gebruik, en in die ou dae was die suidwes rugby span bekend as die suidwes Biltongboere. Daar was selfs ‘n liedjie gewees, “Suidwes Biltongboere byt net vas...” Hulle het die liedjie gereeld daar op Vra-Is-Vry op die Afrikaanse diens van die SWAUK gespeel:

 

Koor:

Suidwes biltongboere byt net vas
Suidwes gaan julle doppie klink vandag
Laat die bal loop in die agterlyn
Dan is dit net (sukses) ‘n wendrie vir Suidwes

 

Die Suidwesspan is gereed
Om hul status te gaan meet
‘n Systap hier en daar
Dit maak die skare mal

Kyk nou na die span
‘n wenspan deur en deur
Met Doug Jeffrey en Andre Stoop
Wat die skare so laat raas

Koor:
Hoera! Skree Suidwes
Die telling is 50 - 6
En niemand kan nou meer
Die biltongboere keer.

Die biltongboer is ‘n bedreigde spesie, daar is nie meer veel van ons oor nie.

No comments: