Friday, May 14, 2010

1975

Ek was 5 jaar oud, en my boetie was drie. Ons het vir die naweek weggegaan iewers heen; ek kan nie onthou waarnatoe nie. My pa was nie saam met ons nie.

Ons was terug by die huis. Ons het by die trappe opgeklim na die voordeur toe. Ons het by die huis ingestap en iets het vir my anders gelyk. Die Hi-fi was weg. Hoekom ek dit tot vandag toe onthou, weet ek nie. Ek het vir my ma gevra wat van die Hi-Fi geword het.

Sy het vir my iets verduidelik van dat sy en my pa geskei het. Hy gaan nie meer hier by ons bly nie, maar hy sal kom kuier nou en dan.

Niks het dus vir my verander nie, want hy was in elk geval nooit daar nie. Behalwe vir die feit dat hy opgehou het om nou en dan te kom kuier - daai deel was nie heeltemal waar nie.

Ons het opgehou duits praat en hom nie weer gesien nie.

Iets binne my wou altyd 'n pa gehad het. Ek was klein, maar ek was hard, en my ma verkeer onder die indruk dat ons dit maklik hanteer het. My maatjies het almal pa's gehad. Hier en daar was daar ook verdwaalde siele uit gebroke huise, maar hulle was nog minder lus om daaroor te praat. Meeste van hulle was moeilikheid makers - die moeilike kinders.

Toe ek tien jaar oud word het ek 'n nuwe pa gekry. 'n Wonderlike man wat vir my baie beteken. Dis egter moeilik om tien jaar van jou lewe in te haal asof dit nie gebeur het nie.

Ek was sterk, al was ek klein, en ek het groot geword.

Die dag toe my vrou my vertel dat sy swanger is, was vir my 'n groot uitdaging. Nie omdat ek nie van kinders hou nie, maar omdat ek bang was dat ek so sleg pa soos my eie sou wees. Hoe moet ek weet om kinders groot te maak? Gaan ek ook weghardloop en dit los vir 'n ander man om later te kom doen?

Die dag toe ek daai klein seuntjie die eerste keer vashou, het ek geweet ek is nie so nie. Maar dit maak dit moeiliker om te verstaan. Hoe kan enige iemand sy eie kinders weggooi en ignoreer, en maak asof hy hulle nie ken nie? Hoe kan jy nie wil weet hoe dit met jou eie kinders gaan nie? Hoe kan jy nie belangstel in hulle nie? Hoe vergeet mens jou eie kind se verjaardag?

Daar was baie ander vaderfigure in my lewe - mense wat my rigting gegee het toe ek dit nodig gehad het. Maar hy was nie daar nie.

My seun word groot, en elke keer as ek sien hoe hy opkyk na my, maak dit op vir dit wat ek nie gehad het nie. Mag hy nooit daardie verwerping ervaar nie. Die vloek is gebreek.

1 comment:

Huisvrou said...

Dit is en bly rof...en wat my betref, verkeerd. Maar wat jy sĂȘ is waar - dis eers as jyself daar staan dat jy kan probeer verstaan - en nog minder verstaan.