Saturday, August 28, 2010

My Malawi trip (1993) - Deel 6

[Kliek hier om by die begin van die storie uit te kom]

In Bulawayo het ek gesit - stoksiel alleen, met my rugsak, my moon bag en my kamera-sak almal hier styf om my vasgemaak. Eks ‘n dapper muis - vir niks is ek tog bang nie.

Ek koop ‘n kaartjie vir die trein na Victoria Falls. Vir die wat nie weet nie: behalwe dat daar ‘n groot waterval is, wat bekend staan as Victoria Falls, is daar ook ‘n klein dorpie reg langs die valle met dieselfde naam.

Die treinreis het my teruggevat na my kinderjare toe. Toe ek standerd een was, het ons - ek, my ma, my broer en my oupa - almal met die trein gery af Kaap toe. Dit het drie dae gevat, en ek sal nooit vergeet die geluid van die treinspoor wat so klik-klak, klik-klak nie. Toe ek op hierdie trein sit in Zimbabwe, toe kom daai herinneringe weer terug.

Ek word ingeboek in ‘n sleeping car. Daar is vier beddens in die ding - twee-twee bo-op mekaar. Ek was eerste daar. Later kom nog een swart outjie daar aan. Later nog ‘n Duitser, en toe nog ‘n sjinees. Ons is so mini-UN hier bymekaar, ons kort net ‘n arabier om alles polities korrek te maak.

Ek vind toe uit die swart outjie is ‘n doeane-beampte by Vic falls, en hy ken al die tricks. Hy vertel my waar ek moet gaan en hoe ek moet maak.

Die trein is nog ‘n nalatenskap van die ou Britse regering. Die ou wit koning van Engeland, en die slegte rassis Ian Smith het die treinspore laat bou doerie tyd. En nou noem hulle dit nie meer Rhodesia Railways nie, dit behoort nou aan Mugabe. Dit word nou genoem Zimbabwe Railways. Maar alles op die trein was nog oorgeërfde eiendom. Op die trein se ruite is ‘n embleem - RR. Rhodesia Railways. Op die messe en vurke, en enige item wat ‘n embleem kan ophê, is dit dieselfde. Dis nou na 13 jaar se onafhanklikheid.

Op Bulawayo se treinstasie

Oppad na die Valle
Daar agter kan jy die wolke sien wat deur die Valle se sprei veroorsaak word.
Dit word ook genoem "The smoke that thunders"


Vic Falls het my nogal verras. Die dorpie is heel anders as die res van Zimbabwe. Dit lyk soos ‘n Suid Afrikaanse dorpie, en oral kry jy Suid Afrikaanse goed op die winkelrakke. Ek het by die kampeerterrein my tent gaan opslaan, en van daar rondgeloop soos ‘n wafferse toeris met my kamera.

Ek het in Malawi ‘n hele paar houtbakkies en goeters gekoop, wat ek so al die pad in my rugsak saamgesleep het. Daar was mandjies, bakkies, steen renosters, en wie weet wat nog. By elke plek waar jy kom, is daar iemand wat iets aan jou wil smous. As jy eers eenkeer vaagweg gelyk het asof jy in een van die goed belangstel, dan bestorm 20 van hierdie “freelance vendors” jou, en jy sukkel vir ewig om hulle van jou rug af te kry. Van hulle sal selfs ‘n kilometer lank agter jou bly aanloop, en probeer om die simpel hout “hippo” aan jou af te smeer.

So nou en dan sien jy iets wat regtig mooi gekerf is, en jy bargain daarvoor, maar die res van die tyd gooi jy maar ‘n koue skouer in hulle rigting. By Vic Falls was die manne net so erg. Hulle verpes jou met al wat ‘n ding is. Ek het hier vir my ‘n houtstoeltjie gekoop wat uit ‘n kort boomstompie uit gekerf is. Ek het hom vandag nog, ek sit my voete op hom as ek op die bank sit en TV kyk.

Ons het baie ou klere saamgevat in ons swaar tasse, en gewoonlik probeer om die ou klere te ruil vir ornamente. Jy moes egter altyd so bietjie kontant bysit, anders wil hulle nie val vir die trick nie.

Met die gekopery het ek later heel keelvol geraak vir al wat ‘n smous is, en as ‘n ou van ver af grynslag en groet met “hello, my flend”, dan raak ek al sommer kwaad, en sê “NO thank you”.

Daar in Vic Falls is ‘n vreeslike fancy krematartboom, wat volgens al wat ‘n traktaatjie en pamflet ‘n “must-see” is. Die boom is nie te ver van my kampeerplek af nie, en ek stap gou uit soontoe. Dis so kilo of twee, en ek is so bietjie verdwaald, maar ek het die algemene rigting van die ding.

Terwyl ek sterk oppad is na die Baobab toe, roep ‘n perd my van daar doer anderkant af. Hier voor my maak die pad so draai, en ek stap net al hoe vinniger om by die draai uit te kom sodat ek kan wegkom van die mannetjie af.

Hy roep “sir, buffalo, buffalo?”, en ek sê “NO, I don’t want buffalo, NO, go away!”.

Hy skreeu weer “buffalo, buffalo!”, en ek begin oorweeg al om hom met ‘n klip by te kom. Kan die mense nie nee vat vir ‘n antwoord nie? Ek sê weer “NO THANK YOU, I don’t want your Buffalo!!!”

Hy skreeu weer “NO!!! - There is buffalo, round the corner, BIG REAL BUFFALO!!”

Ek kyk mooi, en loer waarnatoe hy wys. En daar sien ek, in volle glorie, ‘n “real-life” buffel wat vir my staan en kyk, so omtrent 80 meter van my af. Ek het nie ‘n wapen by my nie, die naaste ding wat ek sal kry is ‘n klip. Ek verstar en staan doodstil in my spore. Ek begin stadig retireer, tot ek uiteindelik ver weg van hom af is.

Ek kies toe maar die ander paadjie na die fancy boom toe, na die man vir my verduidelik het waar om te gaan. Eish, amper spring daai buffalo bo-op my. Die ding staan sommer daar in die middel van nerens, en volgens die man is hy nie vriendelik nie.

Die boom self was maar ‘n bietjie van ‘n teleurstelling. Ek is seker ek het al sulke kremetartbome iewers gesien daar in my land.
Die ou simpel "Big Tree" wat amper my lewe gekos het.

Die Valle self is asemrowend. Soos ek al voorheen gesê het, is dit die moeite werd om dit te gaan sien. Veral as jy iemand is wat glo dat “Afrika in jou Bloed is”, en as die Afrika-son vir jou so belangrik is om te beleef.

Die Victoria Valle is op die grens tussen Zambia en Zimbabwe. Die Zambezi rivier vorm die grens tussen hierdie twee lande hier, en daar is ‘n brug oor die rivier wat jou oorvat na die ander land toe. Hierdie brug is nog destyds deur die Britte gebou toe die twee lande beide Britse kolonies was. Zambia was eers bekend as Noord-Rhodesië, en Zimbabwe was natuurlik bekend as Rhodesië.

Vandat die Britte uit beide lande padgegee het, het nog geen siel daaraan gedink om weer instandhouding op die ding te doen nie. Daar loop ‘n treinspoor saam met die pad oor die brug, en as daai trein daar oorkom, dan bewe die hele brug. Mense bungy mos ook van daar af deesdae. Gelukkig het daai ou Rooinekke nog destyds goed gebou om te hou.


Die Zambiese grenspos is, in eg Afrika tradisie, verteenwoordigend van hoe dinge werrek in die plek:
(Kliek op die foto en kyk na die "Minister of Immigration and Tourism" daar bo-op die dak)


Ek het ‘n hele dag hier rondgeloop tussen Zimbabwe en Zambia, en die valle bekyk uit elke rigting. Ek het gevind dat die Zambiese kant vir my die mooier gedeelte was. Ek kon egter dadelik sien Zambia is ‘n nes waar ek nie graag wil rondhang nie. In daai dae was Zimbabwe in ‘n baie beter toestand as Zambia, en die twee was glad nie vergelykbaar nie.

Vandag is dit andersom, met Zimbabwe wat nog erger verval het in tien jaar as wat Zambia in die vorige 30 jaar verval het, en Zambia wat intussen bietjie buitelandse geld spandeer het om Livingstone te verbeter. Deesdae kry jy Kentucky, pizza, en al wat ‘n ding is in Livingstone. Daai tyd was daar nog nie sprake van sulke dinge nie.

Wel, ek het nog ‘n naggie in my tent vertoef, en die volgende oggend was dit weer tyd vir my om die terugtog aan te pak. Daar was nog een ding wat ek wou sien voordat ek huistoe gaan - die bekende Zimbabwe Ruins.

Daai dae al was daar mense wat gespot het dat “Zimbabwe Ruins” eintlik die land se naam is. Glo my, daardie dae was Zimbabwe in ‘n goeie toestand. Om die waarheid te sê, ek het sterk oorweeg om eendag daar te kom bly. Ek het die land baie rustig gevind, geen rasse-spanning nie, en dinge het nog so op hulle manier ge-”werk”. Meeste mense in die land kon lees en skryf, en hulle was ‘n goeie engels magtig. Na meer as 15 jaar se onafhanklikheid, het dinge gelyk asof dit vorentoe boer.

En dit het oornag verander. Moet nooit dink dinge gaan net bly soos hulle is nie. Veral nie in Afrika nie.

Ek het ‘n lift gekry na Bulawayo met ‘n bakkie. Saam met my het nog ‘n swartman agterop die bakkie gery. Ons het lang stories gesels, en hy het my genooi om in sy huis in Bulawayo te kom oorslaap. Hier het ek weereens daai goedheid van die mense van Afrika beleef. Alhoewel die man brand-arm was, en in ‘n hok gebly het, wou hy dit met my deel, sonder om enige vergoeding daarvoor te vra. Toe ons laatnag in sy huisie kom, het hy eerstens sy bed reggemaak sodat ek daarin kon slaap. Tweedens het hy aangedring dat ek saam met hom moet eet - hy sal kosmaak.

Die man het so ou gasstoof daar in die kombuis. Daar is nie ‘n yskas nie. Hy maak die stoof se oond-deur oop, en haal die rou vleis daar uit. Soos wat hy die bak uithaal, hardloop die kakkerlakke weg. Hulle is die hele wêreld vol; binne-in die oond, bo-op, hier oral rondom die vloer skarrel die goed rond. Hy vee hulle net so van vleis af, en gooi die stukke vleis in ‘n pot, na hy een kakkerlak met die vurk vrekslaan.

Ek probeer verduidelik dat ek nie eintlik nou honger is nie, maar die ou wil baie graag gasvry wees en dring aan dat ek saam met hom moet eet. Mense, ek voel nie lekker oor die ding nie. Die man deel sy vleis met my, maar ek kan nie sulke goed eet met kakkerlakke en dinge nie. Nou hoe maak ek nou, sonder om die man te beledig?

Hy gooi water saam met die vleis in die pot, en hy sit daai gasstoof aan. Daar word geen speserye bygegooi nie, dis net daai vleis wat so in die water kook. Dit ruik soos wanneer jy vleis afkook van die bene af - of afval, of dalk nog erger as afval. Mense, ek voel naar.

Hy gooi daar ‘n paar stukke tamatie en ietsie by, en sit ‘n groot bord vol vleis op die tafel voor my neer. Ons gaan nou eet. Ek het so paar stukke van die vleis uit ordentlikheid afgewurg, maar ek kon nie daai bord klaarmaak nie. Ek het een of ander verskoning aangebied, en die res van die kos vir hom en sy kakkerlakke gelos.

Hier staan die man voor sy huisie in Bulawayo:



Van hier af het ek weer bus gery tot by die Zimbabwe Ruins. Ek het voor die tyd baie gelees oor die plek, en baie uitgesien daarna om dit te sien. Dit was vir my een van die mees teleurstellende oomblikke van my hele toer. Dis ‘n hoop klippe wat bymekaarlê, wraggies niks om oor huis toe te skryf nie.

In die ou dae, toe die witman nog Rhodesia regeer het, was daar blykbaar baie gedebatteer oor die Zim ruins. Die blankes het geglo dat die Egiptenare in die tyd van Koning Salomo hierdie murasies gebou het, want nerens in Afrika het enige swart nasie al enige so iets opgerig nie.

Die “guerillas” of freedom fighters, of terroriste, of beter bekend as “vandag se regime”, het egter aangedring dat hierdie murasies deur hulle swart voorsate gebou is. Vandag word dit as die algemene antwoord beskou en gepropageer. As jy dit wil glo, glo dit, maar ek het nog nerens in Afrika so iets gesien nie. Dit word deesdae Great Zimbabwe genoem, maar in die ou dae was dit bekend as die Zimbabwe ruins.

Ek weet nou nie van Salomo of die Egiptenare nie, maar ek moet saamstem dat mense wat vandag nog in modderhutte bly, nie groot steenpaleise sou gebou het voor enige ander beskawing hier aangekom het nie. Hoekom sou hulle weer teruggaan na “ouer tegnologie”? Aan die anderkant, ons weet almal wat hulle in Zimbabwe gebruik het voor hulle kerse in die nag gebruik het - elektrisiteit. Miskien is dit maar net nog ‘n tipiese Afrika-verhaal?

Ek het nou die dag gelees dat die eerste mense volgens DNA-toetse blykbaar hier op die Namibia-Suid-Afrika grens ontstaan het. Miskien was hierdie Great Zimbabwe die Toring van Babel? Dis dalk al wat oor is van die ding?

Hoe hierdie goed hier gekom het, bly maar nog ‘n raaisel.


Ek kon uiteindelik my finale rit vat na Beitbridge toe, en was bly om weer my voete in Suid Afrika te kon sit. Hier in Messina het ek ‘n taxi gekry wat my vir R50 al die pad Pretoria toe kan vat. So lekka Afrika taxi-minibus, met mooi mag-rims en ‘n goeie radio.

Toe ons net buite Pretoria kom, sê die drywer ek moet nou hier uitklim, want hy mag nie in die stad in ry nie. Sy taxi is intercity, en as hy in die stad mense aflaai, gaan daar weer ‘n taxi-oorlog uitbreek.

Great. Ek moet kies tussen die teerpad en ‘n taxi-war.

Uiteindelik het ek in Pretoria aangekom. Ek ken die middestad so klein bietjie, en vind darem Paul Kruger se standbeeld en so aan. Van hier af bel ek vir Louis, want ons het ooreengekom om mekaar weer hier te kry en dan saam af te ry Kaap toe.

Van alle plekke moes ek toe ‘n treinkaartjie kry na Brakpan, waar Louis my weer gekry het. Na ek deur rowwe dele van “Donker Afrika” getoer het - sekere dele sommer alleen - was die mees vrees-aanjaende deel die gedeelte tussen Pretoria en Brakpan op daai trein. Daar was allerhande growwe karakters, en ek het gewonder of my trippie nou hier, van alle plekke, gaan eindig.


Na ‘n lang lekker vakansie, was dit weer tyd om terug te gaan Stellenbosch toe, en aan te gaan met die gewone lewe van ‘n jong student. Hierdie student het ‘n hele paar goed beleef wat min ander beleef het.

Dit was nie sommer net nog ‘n vakansie nie. Ons het almal teruggekom met ‘n lekker “tan” in die middel van die winter, en ek het ‘n hele album vol fotos gehad om vir almal te wys. En ‘n klomp groot-oog stories, wat party van julle seker nie eers glo nie.

Maar dis alles waar, gedoriewaar dis waar, glo vir my - ek was daar.

Ek het laas jaar die fotos begin in-scan, en ek was skoon verbaas toe ek weer terugdink aan al die mal goed wat ek gedoen het daai tyd. Dis waar ek die idee gekry het om hieroor te skryf.

En nou, my maatjie: fluit-fluit, my storie is uit.

Eendag vertel ek vir julle van die volgende Malawi trip, net ‘n jaar later. Daardie ene het my bietjie deur Zambia ook gevat...

No comments: