Saturday, August 28, 2010

My Malawi trip (1993) - Deel 3

[Kliek hier om by die begin van die storie uit te kom]

Monkey bay is een van daai plekke wat jy op kalenders en advertensies van die paradys sien. Dis regtig ‘n mooi plek. Dit lyk soos Hawaii of iets in daai lyn.

Ek het nie veel stories om te vertel nie, maar hier is ‘n klomp fotos wat ek daai tyd geneem het:


Ons het op ‘n stadium krieket gespeel saam met (weereens) ‘n klomp Aussies. Ons het ook ander Suid Afrikaners hier ontmoet, kan regtig nie onthou wie hulle was nie.





Jan, Anton en Louis het hulle duik-kursusse voltooi net voor ons weg is uit die Kaap uit. Hulle was baie opgewonde om bietjie in die meer te gaan duik. Ons het ‘n motorboot gekry wat die duikers uitvat, en die motorboot het ons almal op ‘n eilandjie afgelaai. Ons wou hier slaap, en die volgende oggend moes die ouens ons weer kom haal.

Dis so eilandjie in die Malawi meer - geen ander mense daar nie, net ons. Daar doer ver anderkant is Mosambiek, maar dis te ver vir die gorillas en freedom fighters om ons te kom uithaal. Hoop ons.

Dit was lekker daar op die eiland.


Al probleem was dat niemand die volgende oggend opgedaag het om ons te kom oplaai nie. Hier sit ons, op ‘n eiland, met ‘n paar dae se blikkieskos in ons rugsakke, en so paar stukkies biltong in die sak. Die son looi ons lekker hier in die middel van die winter.


Iewers later deur die dag sien ons ‘n motorboot wat rondjaag op die meer, en ons wuif en roep vir die vales. Dis hier waar ons een van die interessantste mense ontmoet het in my lewe: David Russell en sy vrou Gay. Hulle woon vandag nog daar in Blantyre, Malawi.

Hulle het ons almal op hulle boot gelaai, en ons teruggevat binneland toe. David is een van daai mense wat ryk word in die middel van Afrika se ellendes. Hy is skatryk, en ek dink in Malawi se kringe is hy baie bekend. Hy het ‘n koningslewe daar in die hartjie van Afrika. Hy het ons almal genooi om by hulle te kom kuier as ons in Blantyre aankom, en ons het dit toe ook later gedoen - ek sal later hieroor vertel.


Hier is ons op die Russell's se boot


Weer terug op die vasteland

Vir eers was ons oppad na die Zomba plato. Jy kan die volgende deel van die storie hier lees.

No comments: