Ek het gister 'n seminaar in die stad bygewoon. Die normale prosedure as jy in gaan na die CBD, is om eerder publieke transport te vat, want parkeerplek is 'n nagmerrie, en as jy parkeerplek kry kos dit 'n plaas se geld. Daar is 'n paar opsies - die trein, en dan busse waar nodig, of 'n taxi.
As ek uit my eie sak moet betaal, sal ek nooit 'n taxi vat nie. Die goed is vrek duur. Ons maatskappy is egter heel gewillig om vir die trip te betaal, en dus gaan ons met die taxi stad toe.
Ek klim in 'n taxi saam met twee kollegas. Ek sit agter in die taxi, en beloer hierdie taxi drywer van ons. Die perd kan dalk 55 wees, maar aan die ander kant is hy dalk 22. Sy hare is lank, hang tot op sy skouers, maar hy ken nie van hare kam en sjampoe nie. So tussen die vuil swart hare is sulke grys hare ook. Sy oë hang so halfmas soos 'n slang sin, en hy praat glad nie.
Die hele taxi is 'n vullishoop. Hy het die ding maande laas skoongemaak. Sy radio speel vir ons bietjie agtergrondmusiek. Dis so vieslike elektroniese lawaai wat hoort by 'n rave party. Daar speel sulke aaklige elektroniese drommetjies, vinnige tyd met sulke ander geraas wat vir ewig aanhou. Dit klink soos 'n vliegtuig wat val en op die aanloopbaan skreeu dat die vonke spat. Ek kan nie die musiek hanteer nie - dit voel vir my jy moet baie dronk of "high" wees om enigsins hierna te kan luister.
Ek raak seker maar oud, maar wraggies dis te veel vir my man. Ek klim amper by die kar uit toe hy by 'n verkeerslig stop. Die man ry soos 'n maniak. Sy naam is Roberto of so iets - hy moet van Europa af wees, 'n spanjool of 'n ding.
Die ander manne het weer 'n ou gehad van Afghanistan. Die perd wat voor in geklim het, vra ewe vir die ou van waar af hy kom, en die ou antwoord "Afghanistan". In plaas van om iets verder te sê, bly die passasier tjoepstil. Die stilte raak baie ongemaklik, en die ouens agter in begin praat maar eerder. Dit eindig toe in 'n gesprek waar die taxi drywer amper sy passasiers aanrand. Hy vertel net hoe sleg die aussies is en hoe immoreel hulle is, en dat as iemand sy dogter sou vry in Afghanistan, dan sou hy die volgende dag sonder sy kop gewees het.
Die een perd kap ewe hier van agter af - "if you don't like it, leave!". Hulle eindig amper binne-in 'n lorrie, want die mal drywer se bloed begin kook erg.
Toe hulle my later die storie vertel, lag ek lekker. Ek sê vir hulle my volgende vraag na daai eerste vraag sou gewees het : "So, did you come by boat?" Die manne rol soos hulle lag - hulle ken nie hierdie Boere maniere nie.
No comments:
Post a Comment