Saturday, August 28, 2010

My Malawi trip (1993) - Deel 4

[Kliek hier om by die begin van die storie uit te kom]

Ons roete in Malawi het mos begin daar by Lilongwe, van daar af na Salima, en van daar na Monkey Bay. Hiervandaan het ons suid getrek na Zomba toe. Die Zomba plato is ook iets besonders om te sien.

Ek moet seker eers weer vir julle ‘n prentjie teken. Zomba is in die suide van Malawi, meer na Blantyre se kant toe.


Ons het onder teen die berg gestop met die bus, en opgestap na die hotel toe.


Dit was ‘n redelike staptoggie, en toe ons bo kom, was ons baie bly om te sien dat daar ‘n fancy moderne bar en restaurant en goeters is. Ons het koue bier bestel daar van die bar af, wat ‘n swart kelner nader gedra het. Ons het sommer weer tent opgeslaan in hulle kampeerterrein en daar geslaap - niks fancy hotelle vir ons klomp nie.


Dit het ons ‘n hele Kwacha gekos om daar te kamp:





Van hier af moes ons deurdruk Blantyre toe. Ons het ‘n ou ontmoet op Harare lughawe, nog oppad na Malawi toe. Die ou het ons ook na sy huis toe genooi. Ons het toe eers by hom gebly voor ons na David Russell toe gegaan het. Die ou was ook van Suid Afrika af, en het ons genooi om saam met hom rugby te kyk. Ek kan nie onthou watter wedstryd ons gekyk het nie, maar dit was die Bokke teen iemand. Die man het kaste bier aangedra, en ons kon amper nie van hom ontslae raak nie.

Ons het in sy agterplaas kamp opgeslaan:


Hierna het ons by David Russell gaan oorbly. Dit was nou ‘n interessante ervaring. Die ou het bediendes die hele plek vol. Die chauffeur bestuur die kar. Daar is ‘n chef wat die kos maak. Dan is daar die tuinier, en die huishulp wat skoonmaak. En dan is daar nog so perd wat ‘n waiter is wat net agter ons aanloop en orders vat.

Die mense lewe lekker.

Die vrou maak nooit self kos nie. Daardie aand vat David ons uit vir ete na ‘n chinese restaurant in Blantyre. Hy sê ons moenie worry nie, hy sal bestel. Hy bestel elke item op die spyskaart. Hulle laai daai tafel van ons met iets van alles. Daar is prawns, daar is alles wat jy aan kan dink.

Onthou nou, ons is ‘n klomp studente wat met ons laaste bietjie spaargeld gesmous het om in Malawi te gaan toer - ons het nie sakke vol geld nie. Ons is gewoond aan die low-life styl van goedkoop eet. Ons staar hierdie tafel aan soos ‘n klomp wees-kinders, en ons val daar weg met mening.

Man, ons het lekker gevreet.

Die volgende oggend is die breakfast table gereed - vol kos gelaai. Die chef vra hoe wil ons ons eiers gaar hê. Ons voel soos kinders in ‘n chocolate fabriek.


Hierdie foto kom uit sy agterplaas:



Ongelukkig kom alle goeie dinge tot ‘n einde, en ons moes op ‘n stadium weer ons voete optel en verder trek. Dit was moeilik om daar pad te gee en weer die strate aan te durf.

Ons het nog ‘n entjie om te gaan - ons skuif nou Lilongwe toe. Hier gaan ons bietjie die “other side” beleef. Een van ons klomp het kontak gehad met een of ander pastoor in Lilongwe, en dis waantoe ons nou oppad is.

Verstaan nou reg -dis nie ‘n wit sendeling wat in ‘n blink huis woon in Afrika nie, dis ‘n local man.

So lyk dit langs die pad - regte Afrika foto die. Ek het die foto uit die bus uit geneem - jy kan sien hoe blink die bus se ruit in die foto.


Hier is ons by die pastoor se kerk in Lilongwe:


Hier is nou ‘n deel van die storie waar jy mooi moet aandag gee. Sien, ons het sopas in die Russell’s se paleis gebly in Blantyre. Dit was ‘n fees. En die Russell’s het uit hulle pad uit gegaan om ons te bederf en te laat gemaklik voel.

Maar hier in Lilongwe het hierdie man vir ons plek gemaak in sy huis. Die huis het net twee kamers gehad. Hy het die vrouens en kinders uit die kamer uitgeskuif sodat ons daar kan slaap, op die matrasse. Die mense het vir ons kos gemaak. Kos wat vir hulle baie duur is, en moeilik is om in die hande te kry, het hierdie mense vir ons aangebied. Hulle het iewers vleis gekry- nie ‘n alledaagse ding vir arm mense nie.



Die pastoor het iewers geleer kaart speel, en hy het aangedring dat ons kaart speel daar in die huis. Ons het maar gesukkel om die kos te eet, dis nie heeltemal ons tipe kos nie - as jy my hart hoor. Maar hulle harte was goed en ek sal dit nooit vergeet nie. Dis altyd die ironie van my Afrika-belewenisse. Die goeie, mooi dinge teenoor die wrede, onmenslike dinge aan die ander kant. Dis Afrika.

Die volgende oggend het hulle ons ook bederf met ‘n ontbyt. Die Lipton tee is baie gewild in Malawi, en daar was baie daarvan te kry.


Hier stap ons terug, weg van die huis af, oppad om ‘n lift te kry na die lughawe toe:


Langs die pad het hierdie hordes op ons afgestorm - ons was soos filmsterre, almal wou net na ons kyk en aan ons vat:

Van hier af moes ons terugvlieg na Harare, en die res van die roete het hier bietjie verander. Ek sal volgende keer daaroor skryf.

No comments: