Saturday, August 28, 2010

My Malawi trip (1993) - Deel 5

[Kliek hier om by die begin van die storie uit te kom]

Voordat ons al weggetrek het uit die Kaap uit, het Jan so bietjie van ‘n worsteling gehad oor die hele ding. Sy pa was redelik siek, en hy het op ‘n stadium gewonder of hy nie maar eerder huis toe moes gaan vir die vakansie nie.

Op Lilongwe lughawe het Jan gou weer ‘n telefoonhokkie gaan soek, en hy was vir ‘n hele rukkie skoonveld. Toe hy terugkom, hoor ek dat sy pa intussen oorlede is. Ons het planne gehad om ook nog Vic Falls toe te gaan, en die Zimbabwe ruins te gaan kyk, maar skielik het Jan se prioriteite verander, en hy wou direk van Harare af terugry huis toe.

Ons het lank gesels en gekoukus, en ek het gesê ek wil steeds Vic Falls toe gaan, al moet ek alleen gaan. Louis het ‘n oom gehad met ‘n plaas naby Gweru, en hy wou by sy oom gaan kuier.

Dis toe hier waar ons paaie skei - op Harare lughawe. Jan, Dougie en Anton vat die pad terug Republiek toe, en ek en Louis klim op die pad en hike deur in Bulawayo se rigting. Dit was moeilik om te groet, maar ons was ook opgewonde oor die pad wat voorlê.

Ek en Louis het lank gesukkel om ‘n lift te kry. Dit het al so begin skemer word, toe stop so ou vrot blou Peugeot bakkie hier langs ons. Twee kleurling-perde sit daar in die kar, vreeslik vriendelik. Ons klim agterop, en hulle laat waai. Of liewer, ons kruip voort. So halfpad na Gweru het die manne vir ons coke aangebied. Ons voel so bietjie verward - die ouens lyk bietjie creepy, maar nou ja, hulle dring aan ons kan maar kry - no charge.

Ons ry agter op die bakkie in die donker nag in. Ons ry. En ons ry. So hier en daar stop ons, en dan sê die manne ons moenie worry nie, ons sal daar kom voor 12h00. Die bakkie ry baie stadig, seker net so 60km/h.

Ek het hierdie foto van die bakkie af geneem toe dit nog so effe lig was:


Hier is weer ‘n prentjie om te verduidelik:

(Click op die kaart om beter te kan sien)

Bulawayo is 439km van Harare af. Gweru is so 220km van Harare af, dus ongeveer in die middel tussen die twee. Hierdie ouens ry vrek stadig.

Hier by een of ander creepy plek besluit hulle ons gaan nou eers by hulle vriende kuier.

Ons stop hier in die middel van niks, in een of ander creepy krotbuurt in die middel van Afrika. Die mense speel lekka Bob Marley musiek, en daar kom sulke dik rookwolke by die voordeur uit. Daar is baie bier, en almal kuier lekka saam.

Ek en Louis loer die ding so, weet nie lekker wat om te maak nie. Die mense is vreeslik bly om ons te sien. Hulle bied heeltyd sigarette, zolle en bier aan, en ons “decline” baie vriendelik. Die Rasta-scene is heavy hierso. Dis net Bob Marley en al wat ‘n Rasta plakkaat is teen die mure, en almal rook hulleself in ‘n beswyming in.

Na ons vreeslik mooi en aanmekaar pleit, besluit ons twee vrinne uiteindelik dat ons nou weer verder kan ry. Ons sien hulle verdwyn elke nou en dan, en daar word een of ander “transaksie” in die donkerkamertjie vasgemaak. Ons vra liewer nie vrae nie. Solank ons net in die pad kan kom, dan is ons gelukkig. Hoe verder van hierdie nes af, hoe beter.

Toe ons uiteindelik in Gweru aankom, toe is dit al eenuur in die oggend. Louis wou hier afklim, en ek wou nog deurdruk Bulawayo toe. Louis besluit hy slaap sommer hier in die hoofstraat iewers in ‘n stegie, en ek besluit ek ry maar verder saam met die twee perde. Louis gaan sy oom bel, en hulle sal van die plaas af kom om hom te kom haal.

Ewe skielik is ek nou alleen op hierdie trip - geen siel meer met my nie, ek moet nou vir myself sorg. Aan die een kant is ek baie bly, aan die ander kant bewe my broek, en ek wonder wat besiel my om hier in die middel van Zimbabwe my eie paadjie te loop.

Die twee perde sê ek moet sommer daar voor by hulle kom sit, dis te koud om alleen daar agter te sit. Ons trek weg, ek wuif vir Louis, en daar gaat ons. Die drywer lyk so bietjie moeg, en hy begin vertel vir sy pel hoe moeg hy is. Nee wat, dink hulle, ons moet dalk eers bietjie rus voor ons verder ry. Ek kry so kriewelrige gevoel in my ruggraat, maar hier sit ek tussen die twee voor in die bakkie, wat de hel maak ek nou?

Hulle praat al hoe meer oor die ge-russery, en die een man deel toe met ons dat hy eintlik ‘n lekka ou pel het net hier in Gweru. Ons kan sommer daar by die perd gaan oorbly, en more oggend vroeg dan vat ons weer die pad. Hulle ry toe hier in ‘n township in Gweru in.

Ek weet nie teen watter tyd my brein vir my begin skreeu het dat ek moet wegkom van hierdie twee boomrokers af nie, maar teen die tyd wat dit gebeur het, was dit al te laat om opsies te probeer oorweeg. Ek wil myself net heeltyd skop omdat ek nie liewer saam met Louis daar in die gopse afgeklim het nie. Dis tien keer veiliger as met hierdie twee maniakke, besef ek nou eers.

Ek het nie fotos van die plekkie nie, want ek was te bang iemand in hierdie buurt sien in die donker ‘n witman met ‘n kamera. Dis so goed soos enige ander township in Afrika. Soweto, Katutura - jy kry die idee. Sulke klein blokhuisies wat net een kamer het.

Hulle twee is nou sommer jolig. Hulle klop aan hulle vriend se voordeur. Dit vat baie lank voordat die vriend wakkerword, en hy lyk nie baie gretig om die deur vir hulle oop te maak nie.

Ons stap in die “huis” in. Dis letterlik een vierkantige kamer met een deur. Niks anders nie.

Die ou slaap op ‘n kombers op die betonvloer, en daar langs sy kopkussing lê sy panga. My graad van bekommernis lig elke keer as ek iets nuuts waarneem. Ek is vrek moeg - ons het gevlieg, ons het agter op die bakkie gery, ons het lang ente gestap, ons het afskeid geneem van ons vriende, en ons het lank in die son gesit en wag vir ‘n lift. Ek kan nie meer helder dink nie - dis seker hoekom ek my in die situasie bevind het in die eerste plek?

Die manne sê alles is reg, ons slaap sommer hier op die vloer saam met ons pel. Ek het ‘n rugsak met al my slaapgoed, wat ek hier by my kop neersit, en my kamera-sak - die sak los ek nooit nie. Ek druk die sak sommer hier by my in die slaapsak in, ek weet nie wat dit gaan help as die manne my vermoor nie, maar ten minste weet ek hulle vat nie my kamera sonder om eers by my verby te kom nie. Die manne haal alles uit hulle kar uit - dis blykbaar nie so veilige woonbuurt hierdie nie.

Die deur word stewig gegrendel met allerhande slotte en goete, en iets word voor die deur ingeskuif. Mens kan nooit te seker wees nie, vertel hulle vir my.

Ek het niks geslaap daai nag nie. Ek lê met my kamera hier styf teen my, en ek luister hoe die manne slaap. Dit tref my ewe skielik dat geen mens gaan weet waar om my te begin soek as ek skielik hier wegraak nie. As hierdie manne my keel afsny en my lyk in die bosse gooi, wie gaan my weer kry? My eie ouers het skaars ‘n idee van waar in die wêreld ek is, en dit gaan jare vat voor hulle my bene iewers in die Zimbabwiese bos uitgrou. My lewe is totaal in hierdie mense se hande, en ek moet nou maar net bid en glo hierdie ouens is nie serial killers nie.

Die oggend het uiteindelik aangebreek. Of nog nie eintlik nie, maar ten minste is ons weer vroeg op en reg om te ry. Ons gasheer word vriendelik gegroet, en ons laai weer die Peugeot vir die laaste entjie na Bulawayo.

Ek sit weer voor by die manne. Hier op ‘n stadium vra die drywer vir die ander perd om daar ‘n ding uit die glovebox uit te haal. Hy maak daai ding oop, en ek sien net bosse dagga wat daar uitloer. Die ander ene draai ‘n lekka zol, en hy stuur hom aan vir die drywer.

Hulle bied ewe vir my ook aan. Kyk, ek is nou nie een vir daai tipe ding nie. Dis vir hippies wat Woodstock toe gaan - dagga en sigarette is nie my scene nie. Ek sê vreeslik beleefd “no thank you”, en hulle rook dat die biesies bewe.

Die ding ry vreeslik stadig.

Die twee manne praat oor alles. Hulle is kleurlinge, hulle praat engels met so regte Kaapse kleurling aksent, maar hulle praat nie ‘n woord Afrikaans nie. Ek het nooit geweet Zimbabwe het ook so bevolkingsgroep nie. Hulle vertel vir my hoe korrup is hierdie Zim regering van hulle. Die ene vertel vir my “When the whites were in charge, they also stole from the government. But they stole a twenty here, a thirty there. But these guys, they steal a million here, a million there.”

Hulle vertel my dat dit net goed gegaan het met hulle in die tyd toe daai rassis Ian Smith die land regeer het. Almal het goed gelewe daai tyd, sê hulle vir my. Nou gaan dit nie meer so lekker nie.

Ek wil nou nie te veel saamstem en beaam wat hulle sê nie, netnou praat ek my bek verby.

Die ene sê later hy ry maar stadig, want hy wil nie hê die Police moet ons stop nie. Hy verduidelik vir my - hulle is eintlik besig om bietjie besigheid te doen, dis die dat hulle so rondry die hele land vol. Hulle doen iets vir die land se ekonomie - hulle verkoop die dagga. Die “demand” is hoog, en hulle help met die “supply”. Dis nou die vrag wat hulle gisteraand ook so mooi beskerm het en uit die bakkie uit gepak het. Hulle het ook ekstra “stock” daar by ons gasheer gekoop.

“Don’t worry, if the Police stop us, we will tell them that you’re not one of us. They won’t do anything to you”, sê die boomgerookte bestuurder van die blou Peugeot bakkie vir my. Ek bid al van gisteraand af non-stop, en my gebede gaan nou oor in smeekgebede en rook-offers. Ek oorweeg al om ‘n non te word, so hard bid ek.

Ons kom uiteindelik in Bulawayo aan. Ek wonder wat gaan hierdie ouens nou met my doen? Hulle laai my by Bulawayo se treinstasie af. Ons neem ‘n foto - ek en my pelle. Tot op daai oomblik was ek nog nie seker of een van die manne dalk met my kamera en beursie gaan weghardloop nie.

Op die ou einde was die ouens eintlik vreeslik nice, en het vir my koeldrank en goed verniet gegee, en my geen kwaad aangedoen nie.

Die twee links is my pelle. Die derde ou het iewers langs die pad ook bygekom - hy het agterop gery terwyl ek voor by die Baas gesit het.

Ek en my twee Boomrook-pelle

Die twee manne het ewe hulle posadres vir my gegee, en ek het later uit Stellenbosch uit 'n afskrif van die foto vir hulle gepos. Het nooit weer van hulle gehoor nie - dankie tog. Ek was bietjie bang hulle wil eendag by my kom kamp.

Hier in Bulawayo het ek vir my ‘n treinkaartjie gekoop, en opgery met die trein na Victoria Falls toe.

Daai deel van die storie kan jy hier gaan lees...

No comments: