Showing posts with label Army. Show all posts
Showing posts with label Army. Show all posts

Thursday, August 11, 2011

Grensstories – Deel 7: Min dae

Die lewe op die grens was nie altyd stof, snot, koeëls en hare nie. Ons het lekker tye ook gehad daar in Opuwo.

Ons het nooit middagete of ontbyt gehad nie – ons het ‘n “brunch” gehad. Oor middagete tyd het ons siesta gehou – so lekker ou uurtjie se rus. Die majoor moes ons gereeld daar uit die kamers kom jaag as die uurtjie bietjie te lank geraak het.

So entjie in die pad af was daar ‘n lekka ou winkel met die naam van Nawa Stores. By Nawa Stores het jy alles gekry – ketels, komberse, koffie en enige ander ding waaraan jy kon dink. Ek het ‘n kombers daar gekoop wat ek nou nog het, en ‘n rooi ketel en ‘n lekka ou bierbeker met ‘n prentjie van ‘n Himba tannie op, met die woorde “Opuwo - Topless town” daarop gegraveer.

Die Himba mêmes het mos so topless rondgeloop. Daar was manne wat hulle vergryp het aan die half geklede dames, maar daai rooi klei waarmee hulle hulle lywe besmeer het meeste selfrespekterende manne weggehou van hulle af. Jy ruik hom nog lank voor jy hom sien. Himbas bad een keer in hulle lewe – dis nou die dag voor hulle trou. Hulle hele lyf word van kleins af met daai klei besmeer, selfs die hare word ge-ghries met die goete. Dis amper soos knoffel – dit hou al wat ‘n muskiet en ‘n gogga is, ver weg van jou af, en meeste mense ook. As ons hulle ‘n lift op die buffels gegee het, dan was die buffels se seats rooi van daai goed. En die stank vat dae om te verdwyn.

Mens het later die reuk gewoond geraak en dit amper nie eens agtergekom nie.

Alfa basis was so entjie buite die dorp. Een van ons pelle was ewe die “bevelvoerder” van alfa basis. Een naweek het ons bietjie daar gaan kuier en ‘n paar bottels Captain Morgan Spiced Gold gaan leeg maak. Ons besluit later die nag ons wil kyk of die wagte wakker is. Ons stap met ‘n R4 na die wagkamertjie toe, en trek skote in die lug in. Daai arme wag skrik sy melk suur, en amper skiet hy die hel uit ons uit. Ons was teen die tyd bietjie warm van die rum, en gelukkig het die wag nie raakgeskiet nie.

Dis nou maar die tipe van ding wat ‘n dienspligtige doen om homself besig te hou.

Ons het ‘n lekker ou swembad gehad by die offisiere kwartiere. Die ding was nie soos vandag se fancy swembaddens nie, dit was net met baksteen en sement gebou. Ons het besluit ons wil kyk wat maak ‘n detonator as hy in die swembad afgaan. Dit was vet pret. Die grond rondom die swembad vibreer wild, en later sien ons vreeslike nuwe krake oral begin uitslaan. Toe Majoor Grensvegter later die krake sien, weet niemand waar dit vandaan kom nie.

Ons het nogal TV gehad oppie grens. Maar die TV vang nie eens sneeu op nie – daai dae was daar nog net een kanaal in Suidwes, en hy het nie veel verder Noord as Grootfontein gegaan nie. Langs ons TV was ‘n video masjien. Een maal ‘n maand het ons ‘n pak vars videos gekry van Windhoek af. Nodeloos om te sê dat ons party videos ‘n hele paar keer gekyk het – veral ene met die naam van “Fatal Attraction”...as jy hoor die manne brul en skreeu daar in die TV kamer dan weet jy wat kyk hulle...

Ek onthou nou nog dat ek die fliek “Planes, trains and automobiles” die eerste keer daar op die grens gesien het, en ek het my vrek gelag. Dis nou nog een van my favourites, en elke keer as ek dit kyk onthou ek die TV kamer in Opuwo.

Die onttrekking van die grens af het dinge vreeslik deurmekaar gegooi. Die rumours was sterk dat ons gaan uitklaar en huistoe gaan, en daarmee saam het die naafgat houding al hoe vinniger voorgekom onder ons manne.

Ons het nie eens 40 days gevier nie, want alles het te vinnig gebeur.

Een dag het daar ‘n klomp mannetjies opgedaag in wit karre en blou hoede. Party van hulle het blou berets gedra, ander het sulke blou tulbande gedra. Hulle was van Maleisië af. Ons het die manne maar snaaks aangekyk, veral toe hulle aandring op ‘n “prayer room” wat na Mekka kyk. Hierdie manne was nou die mense van die UN/VVO, bekend as UNTAG.

Tydens die 1 April inval wou hierdie manne ewe met ‘n Buffel na die SWAPO’s toe ry, met ‘n wit vlag op. Ons het hulle vriendelik aangeraai dat dit dalk nie so blink plan is nie. Hierdie perde het nie ‘n clue gehad van oorlog maak nie – hulle het hulle vergaap aan al ons toerusting en veral die Buffels en Caspirs het hulle vreeslik geïnteresseer.

Op hierdie stadium was dit al baie duidelik dat ons amper klaar is met diensplig – ons suidwesters, in elk geval.

Gepraat van 1 April, hier is nog ‘n lekker storie: Daar was ‘n ou wat saam met my JL’s gedoen het, maar wat op ‘n stadium afgegooi was van die kursus want hy het ge-AWOL. Hy kon dus nie rang kry nie. Toe ek by 102Bn opdaag, toe is hy een van ons kokke. Hy was vreeslik lus om te gaan veg, maar hulle wou hom in die kombuis hou – hy mag nie gaan skiet nie.

Een dag tydens die 1 April invalle, toe spring hy agter op ‘n Buffel wat uitry na ‘n kontak toe. Hy beland in die middel van ‘n kontak en skiet vir die vales. Hy skiet nog so lekker, toe jaag ‘n Koevoet Caspir hier reg voor hulle in – reg deur die middel van ‘n kontak situasie, sonder om boe of ba te sê oor die radio. Die perd is kwaad – die Koevoete het al die terrs uitgehaal nog voor hy een kon plattrek. Hy het later vir ons kom vertel hoe lekker dit was om in ‘n kontak te wees – mal blikskottel.

Dinge het na die 1 April inval weer bedaar, en die onttrekking was weer voor op die agenda.

Dit was nie lank nie, toe tree ons paar Suidwesters aan met ons siwwietasse en klim op ‘n Kwêvoël. Die Suid Afrikaanse troepe moet nog agterbly, en ons klaar uit. Hulle moes nog hulle volle tweede jaar klaarmaak in SA, en ons het net eenvoudig huistoe gegaan.

Ons het agter op die Kwêvoël gery al die pad van Opuwo tot in Kamanjab, waar ons by die winkel gestop het. Laat daardie aand het ons in Otjiwarongo gekom – natgereën. Ons het in die menasie geslaap, met ‘n lekkende dak wat ons nog natter gemaak het. Dit was alles die moeite werd – ons was oppad huis toe.

Die Kwêvoël het my in die straat reg voor ons huis afgelaai. Ek het daar afgeklim met my balsak en my siwwietas, en ‘n groot glimlag op my gesig.

Ek het my goed gevat en opgestap na die huis toe.

En dit was my laaste dag in die Army. Ongelooflik hoe dit alles net so geëindig het.

So paar weke later het ons almal ‘n tjek van R3000 gekry – uitklaar geld. Nou moes ons almal skielik gaan werk soek en ‘n nuwe lewe begin.

En dit was dit. Sonder ‘n dankie of ‘n parade of ‘n speech. Alles verby. Ons vir jou, Suid Afrika.

Monday, August 8, 2011

Grensstories - Deel 6: April Fool's Day 1989

1 April 1989, meer as 20 jaar terug - ek het nog daar in Opuwo gesit. Ons was in die middel van die grootste logistieke operasie wat die SA Weermag nog ooit aangepak het - die onttrekking uit die operasionele gebied.

Die ooreenkoms was as volg: SA moes sy magte terugtrek tot suid van die 16de breedtegraad, en die 50000 Kubane moes onttrek uit Angola - en daar word nie meer geskiet op mekaar nie.

Helfte van ons toerusting was al in Oshivelo. Al ons VHD troepe, wat Himbas was, het al reeds uitgeklaar, en het al met hulle gatlappies in die bosse gesit by hulle families. Die oorlog was verby.

En toe kom die nuus - Swapo het ons weer ingeval. Links en regs breek daar kontakte uit, veral in die Wamboland area, en die bloed vloei weer vrylik.

Ons het meeste van ons wapens al terug gestuur Oshivelo toe. Al wat ons nog gehad het, was hierdie aaklige groen gewere wat ons teruggevat het van die PB's af. Hulle het hom die G3 genoem.

Meeste van hulle was lank in die hande van PB's (Plaaslike Bevolking), en is nooit skoongemaak of ge-olie nie. Die PB's het dit by hulle gedra terwyl hulle bokwagters was, en het so nou en dan 'n terr geklap as een dit durf waag het om oor die grens te kom.

Die Himbas het nie baie tyd vir die Swapos gehad nie. Ek onthou vele kere wat daar 'n verslag deurgekom het van himbas wat 'n Swapo met knopkieries doodgeslaan het net na die arme vuilgoed deur die rivier gekom het.

Die G3 in my hande het gesukkel om te span. Ek het hom geskuur en gevryf en ge-olie totdat ek soort-van tevrede was. Daardie aand gaan slaap ons in die offisiere kwartiere. Sonder om 'n oog toe te maak.

Dis die bangste wat ek ooit was tydens die hele oorlog. Ek het geweet ons is kis - moer toe. As hierdie Swapos, Oos-Duitsers, Russe en Kubane vandag ernstig is, dan is die oorlog vir eens en vir altyd verby, want ons het klaar oorgegee. As dit nie vir Koevoet was nie, was ons vir seker daarmee heen.

Wat die politici agter die skerms gedoen het, weet ek nie. Maar iets het hulle die keer reg gedoen, en uiteindelik het die klomp Swapo honde teruggetrek, en kon die vredes-onderhandelinge en die verkiesings voortgaan.

Daar is een beeld wat ek nooit uit my geheue sal kan verloor nie. Die VHD troepe is teruggeroep om weer te kom baklei teen die Swapo hienas. Meeste van hulle was, soos ek gesê het, al by die huis met hulle gatlappies aan. Hulle uniforms, boots, gewere, ammunisie en varkpanne is alles teruggegee aan die Weermag, en helfte daarvan is al oppad Oshivelo toe.

Twee ure na daar 'n beroep gemaak is op hulle om terug te kom, toe staan amper die hele 102 bataljon se VHD troepe aangetree vir aksie. Buffel op buffel ry by die hek uit oppad na die kontak areas toe, met die swart troepe wat hulle gewere in die lug hou en met passie skreeu soos hulle by ons verbyry. Een van die mees trotse oomblikke wat ek ooit in my lewe gehad het.

Rillings gaan nou nog in my ruggraat af as ek daaraan dink.

Lees vir oulaas verder

Grensstories - Deel 4

Die onttrekking - begin van 1989

Ons het altyd in die oggende vergaderings gehad wat die offisiere moes bywoon. Dan vertel die Kommandant van al die bewegings en kontakte en hoogs geheime dinge wat aan die broei is. Hier op 'n stadium begin daar rumours rondloop van onderhandelinge met Swapo, en dat ons huis toe gaan voor die einde van die jaar. Die kommandant sê egter niks van die dinge nie - en ons is slim genoeg om nie te vra nie.

Ek het die stories maar afgelag – waar het jy nou al gehoor dat ons regering met Swapo om 'n tafel sal sit, en dat 'n dienspligtige voor sy twee jaar verby is al huis toe gaan? Dis tog malligheid.

Soos die tyd aanloop, het die rumours al hoe sterker geword, totdat die Kommandant tydens een van die vergaderings ook begin praat het oor die stories. Een van die vereistes was dat die Kubane (al 50000 van hulle) moes onttrek uit Angola, en dat die SA Weermag moes onttrek tot Suid van die 16de breedtegraad, wherever that is.

Volgens Wikipedia:

It was not until 1988 that Cuba, Angola, and South Africa came to an agreement which was mediated by US Assistant Secretary of State Chester Crocker. A series of meetings starting in London and culminating in Geneva, resulted in a ceasefire agreement, with the consent of SWAPO, and was set to begin on August 8, 1988. A final meeting in Brazzaville, Congo set April 1, 1989 as "D-Day" when the implementation of United Nations Security Council Resolution 435 would begin. The New York Accords between Cuba, Angola and South Africa were formally signed at UN headquarters in New York on December 22, 1988.[3], thereby effectively ending the South African Border War.

Ek weet nie so mooi van die cease-fire nie. Ek was daar, en ek weet vir 'n feit dat daar kontakte was gedurende daai tydperk. Ons deel by Kaokoland was redelik stil, maar in Wamboland was daar daagliks nog kontakte. Ons was geensins bewus van enige vermindering in kontakte of 'n sogenaamde skietstilstand nie. Miskien het ek net vergeet, maar dis soos ek dit onthou...

Mense hier in Australië glo my nie as ek hulle vertel dat die Swapo-helde eintlik 50000 Kubane aan die anderkant van die grens gehad het nie, en dat daar nog Oos-Duitsers en Russe ook betrokke was nie. Blerrie fools. Hulle kan nie glo so klein handjievol mense het opgestaan teen al wat 'n blerrie Kommunis en anargis was nie. Dit terwyl die res van die wêreld agteroor sit en Top Gun movies kyk en dink dis al waaroor die Koue Oorlog gegaan het.

Die onderhandelinge het egter nou begin realiseer, en die boodskap het uiteindelik deurgedring dat ons gaan onttrek van die grens af.

Die grootste logistieke operasie in die geskiedenis van die SA Weermag was besig om te begin.

Ons hoor toe ook dat ons moet ammunisie begin vernietig. Dis te veel PT om die goed Oshivelo toe te stuur, en ons moet vernietig wat ons kan. Ons dra elke dag daai magasyn leeg na die skietbaan toe. Ons skiet RPG7's en detoneer landmyne; ons gooi handgranate, skiet duisende rondtes AK, R1 en R4 patrone uit. Geweergranate, snotneuse, claymore myne, rookgranate, whitephos - alles wat ons in die hande kry word op die mees dramatiese wyses gebruik of misbruik. Ek het nou nog een van daai WP tags wat aan die whitephos vas was.

Ons het boorgatladings gemaak en gekyk wat is die diepste gat wat ons kan skiet. Toe ons daarvoor moeg raak, toe blaas ons 'n ou karwrak op dat daar van hom net rims oor is.

Ons skiet die enigste boom op die skietbaan om met 'n groot anti-tenk landmyn. Die Kommandant was bitter kwaad or sy enigste boom:

Die boom wat gesneuwel het
Die manne reg vir aksie op die skietbaan -
Daai groot ronde goed wat ons so om ons nekke soos juwele vertoon, is anti-tenk landmyne
Alewyn met 'n RPG-7
Een van ons duisende ontploffings. 'n Hele klomp TNT blokke het hier gesneuwel.
Die boom voor ons hom beetgekry het - kyk al daai lekka ammo wat hier by ons voete le
Hier een dag bel my ma en sy vertel my daars 'n pakkie op die Dek en ek moet sorg dat ek by die lughawe is as die ding land, want die goed kan sleg word en ek moet sorg dat niemand my pakkie in die hande kry nie. Ek kom daar aan, en toe ek weer kyk, toe klim my broer en sy pel van die vliegtuig af. Ek is skoon verbaas. Ek het huis toe gebel eenkeer, en met hom gepraat, en toe sê ek vir hom dis lekker hier oppie grens, hy moet kom kuier. Toe doen hy dit wragtag. Hy was in Matriek daai jaar.

My pa was mos 'n PF, hy het die vlug gereël. Hoe hulle my ma oortuig het om dit te doen, weet ek nie. Ek loop Kommandant toe, vra hom of my broer maar hier by my in die kamer kan kom bly vir 'n week. Hy sê dis alles reg so.

In die aande dan help braai die twee skool-laaities vleis, en in die dag hang hulle rond tussen die army goeters. Ek reël later vir hulle 'n trip daar op die Buffels uit na een van die buite-basisse toe. Kan jy glo. Hulle twee is op Buffels in die Operasionele gebied – twee skoolkinders. Hulle het hulle gate uit geniet, het gaan skiet op die skietbaan en al wat 'n ding is.


My broer en sy maatjie Paul by 'n buffel

Hulle was in die Operasionele gebied 'n week of twee voor die 1 April inval. Net 'n suidwester wat so mal ding sal doen, ne? Hulle is toe later weer met die Dek huistoe, met groot-oog stories wat hulle vir al die ander matrieks gaan vertel het oor die lewe oppie Grens...

Met die tyd het dinge hulle verloop geneem, en toe leer ons 'n nuwe woord. Eers was dit "Resolution 435" - die ding was soos 'n algemene vloekwoord al vir 'n hele paar jaar gebruik, en hy begin nou werklikheid word. Maar die nuwe woord is UNTAG - United Nations Transition Assistance Group. Dis die ouens wat kamstig die vredevolle verkiesings kom monitor het. Wat hulle eintlik kom doen het, was om seker te maak die terroriste wen die verkiesing.

UNTAG het bestaan uit 4650 troepe van allerhande lande regoor die wêreld. Die ouens wat by 102 Bn kom intrek het, was van Maleisië af. Hulle het army uniforms gedra, met blou UN tulbande op hulle koppe. Hulle het met hulle UN stickers op hulle karretjies rondgery, en het nie die vaagste idee gehad van wat oorlog is, en hoe 'n kontak situasie lyk nie.

Die klomp was almal moslems, en het aangedring op 'n "prayer room" in die offisierskwartiere.

In die begin het ons mekaar maar uitgekyk. Ons het hulle nie vertrou nie, en hulle het ons nie vertrou nie. Soos die tyd aanloop, het ons begin kuier met die klomp, tot ons later in die aande poker games met hulle gehad het. Ons het later geleer dat 'n paar Afrikaanse woorde eintlik uit Maleisië kom, soos "piesang". Hulle noem hom net so - piesang. Kan jy glo.

Die helde se wit perde
Hier staan ek saam met die Maleisiese kaptein - ewe met sy blou hoedjie. Ons het almal erg probeer om 'n blou hoedjie te bribe uit een van hulle uit, maar hulle was onder streng orders om nie die goed vir ons te gee nie.

Die UNTAG karre het almal 'n wit UNTAG nommerplaat gehad. Die goed was soos selfone in Afrika - almal wou een he, en almal het probeer om ene te steel. Die manne het erg deurgeloop onder nommerplaat-diefstal. Daar is nog een of twee kroeë in Nambobbejania wat nog van die goed
teen hulle mure het.

Die onttrekking van die weermag het al hoe meer 'n realiteit begin word. Ons het almal geweet ons gaan een van die dae huis toe.

Eendag sal ek verder skryf oor die 1 April inval, en my finale dae in die ou army.


Lees verder

Grensstories - Deel 3: "Sue the Screw"

Daar oppie Grens destyds het ek mos daar op Opuwo, in Kaokoland, die landsgrense bewaak. 102Bn se hoofkwartiere was in Opuwo, en dan was daar so paar buite-basisse rondom die plek.

Net na ons daar aangeland het, het ons al gehoor van hierdie interessante tannie. Haar naam was "Sue the Screw". Sy het die naam gekry omdat sy so mooi jonk en pragtag was, en gereeld kerk toe gegaan het en met 'n stel tools gewerk het. (Glo jy dit?!)

Ons almal weet hoekom sy daai naam gehad het - sy het gespyker vir Volk en Vaderland - die troepe se moraal is hoog gehou daar in die Bos. Menige manne het met groot lof kom getuig van hoe sy moraal opgebou is, en hoe hy daarna uitsien om weer bietjie moraal te gaan opbou in Sue se slaapkamer.

Tot vandag toe weet ek nie wat haar van was nie. Sy was vreeslik wild, en ek het weggehol soos 'n skaap van 'n wolf af. Ook maar goed, want teen daai tyd het sekere virusse al in die wêreld begin rondloop, en ek sal nie verbaas wees as haar algemene immuniteit teen verkoues en dinge later jare 'n bietjie verswak het nie. As jy weet wat ek bedoel.

In elk geval, ek score eendag 'n lift huis toe met die Dek. Dis nou die Dekota - daai ding wat al in die Tweede wêreld oorlog begin vlieg het, en wat al wat 'n Fokker is verbygesteek het in diensjare. Van die goed het iets soos 50 jaar oud geword. In elk geval, die ding vlieg elke week Windhoek toe vir die "rum-run". Waar daai term vandaan gekom het weet ek ook nie lekker nie, maar dis wat hulle dit genoem het.

Ek is toe die dag op die Dek, en wie klim saam met my in? Einste Sue. Ek verstik amper in my eie asem so skrik ek. Sy sit hier skuins langes my. Die ding het nie seats gehad soos 'n gewone vliegtuig nie - hy het sulke lang banke gehad teen die ruite, in die lengte af.

Soos almal nou al weet, het ons in die operasionele gebied mos net boomtop-hoogte gevlieg. Die rede daarvoor was om die radar te vermy - jy vlieg onder die radar. En daai Dek hop soos 'n plaasbakkie op 'n slegte grondpad - sy agterent maak sulke draaie, en hy spring op en af soos 'n wilde boklam. Dis te lekker - ek geniet die vliegery.

Sien, my familie was nou nie eintlik die tipe wat "frequent flyer miles" opgebou het nie. Die eerste keer in my lewe wat ek gevlieg het, was in die Army, en elke keer was dit vir my net te wonderlik.

Ek sit en skud lekker hier in die Dek, toe hoor ek 'n lawaai hier langs my. Dis ons geliefde meisie van Kaokoland - sy klink nie lekker nie. Sy vloek kliphard, en prewel iets van "I want to die", of so iets.

Ek begin wonder nou oor die ding, want ou Sue is mos al 'n ou ervare vlug-passasier - sy ken al die pilots (nogal redelik intiem), en kan enige vlug organise soos sy lus kry. Sy moet mos nou al gewoond wees aan die vlieëry? Sy het so bietjie van 'n klankie op haar - het gisteraand lekker gekuier, en die hangover sit nog stewig op haar wenkbroue uitgegriffel.

Ek sien hier kom moeilikheid - ek skuif bietjie verder weg van Sue af.


Dit was 'n goeie besluit. Sue het kort daarna 'n sakkie gegryp en die "technicolour yawn" op hom uitge-oefen. Dit was 'n baie traumatiese ervaring vir ons almal. Daar is niks so aaklig soos daai kotsreuk wat hang in 'n vliegtuig wat soos 'n hanswors rondspring nie.

Toe ons uiteindelik in Windhoek land, en ons klim af, toe ruik sy nog so lekker na herkoude alkohol en breakfast.

Die episode was genoeg om my te dissiplineer om nooit die versoeking van die "morele ondersteuning " in Sue se kamer te gaan soek nie. Nie dat sy dit sou agterkom nie - daar was genoeg besoekers om haar besig te hou.

Ek wonder wat sy met haarself aangevang het toe die Weermag onttrek het? Sy moes haar seker dood verveel het?


Lees verder

Grensstories - Deel 2

Hier oppie grens was ook interresante karakters gewees. Daar was ‘n kleurling luitenant, hy was ‘n PF, en was ‘n vol luitenant gewees. Ons was mos eintlik “tweede luitenante” – een diamant/ster. Dan kry jy ‘n vol luitenant, wat twee sterre/diamante het, en dan kaptein, met drie diamante.

In elk geval, die ou was so skeef soos ‘n blerrie Marsmannetjie op steroids. Hyt al daai Nataniel-moves gehad. So oulike stemmetjie ook gehad. Ek hoor later hys nou ‘n koffie-moffie op Air Namibia se vliegtuie – trek sulke lekka leerbroekies aan en dan karjakker hy daar in Londen se onderwêreld rond as hulle daar land. Hy was ons personeel offisier.

Ek kry die titel van Militêre regsoffisier, 102Battaljon. MRO. Met al my jare se regskennis en ervaring is ek op 19-jarige ouderdom net die regte ou vir die job. Ek sit in ‘n kantoor heeldag en kla ouens aan wat AWOL. Daar was baie sulke ouens. 102 Bn was hoofsaaklik uit VHD troepe saamgestel – Votlydse HulpDiens Eenheid. Dis locals. Himbas wat uit die bos uit gekom het en hulle gatlappies ingeruil het vir ‘n boshoed, ‘n geweer en ‘n stel boots.

Ek moes al die papierwerk doen. Die Kaptein van die betrokke eenheid was altyd die Regter in enige saak, en ek was soos ‘n staatsaanklaer gewees. Al probleem met die stelsel was dat die Kaptein ook die ou was wat die ou by my kom aangee het, en dan gesê het ek moet hom aankla. Dan doen hy die verhoor. Die man is skuldig nog voor ek boe of ba gesê het. Partykeer het die troepe ook iemand probeer aankla. Die Korporaal het hom gevloek, en so aan. Daai sake het redelik na een kant toe gegaan.

Ons is opgecheck deur regsmanne in Oshakati en in Windhoek. Hulle het al die dokumentasie na die tyd deur gegaan, en 90% van die kere het hulle besluit dat die verhoor nie reg verloop het nie. Die klomp was sulke regte liberale studente-tipe wat die army heeltyd probeer ondermyn het. Maar jy kan sien hoekom, nê…

Eendag kom Kaptein oWarra-warra in my kantoor aan. Niemand met wie ek nog kontak het kan sy regte naam onthou nie, al die troepe en offisiere het hom so genoem. “Warra-warra” in Herero beteken iets soos “lekka deurmekoekies”. Hy bring daar ‘n troep aan – die ou het gedrink, of ge-AWOL of iets dergliks. Hy maak die deur toe agter ons. Dis nou net ons drie in die kantoor. Die ou moet sy confession teken daar voor my. Die man weier. Warra-warra begin neuk daai ou dat die velle waai. Hy slaat vir hom bo-oor my tafel, daai man huil later. Hy teken sy confession – terwyl die bloed by sy bek uitloop.

So het die regstelsel in die Army gewerk. As ek hierdie Amerikaanse flieks kyk van regsake in die weermag, dan kan ek net lag. By ons was daar so namaaksel van ‘n regstelsel, maar dit was maar net om die wetlike aspekte te bevredig.

Die offiserslewe is lekker, maar selfs ‘n offisier het werk om te doen. Elke ou kry sy beurt om Offisier aan diens te wees. Dan loer jy deur die nag of die wagte wakker bly, en gaan kyk wat maak die seiners daar in die radiokamer. Een van jou baie gedetaileerde instruksies was dat jy moet ogie hou oor die troepe wat eet in die menasie. Dis nou daai VHD troepe. Een van jou duidelike instruksies was dat jy moet sorg dat die mense nie met hulle hande eet nie. Hy moet ‘n mes en ‘n vurk gebruik. Dit klink dalk snaaks, maar ons moes wragtag dit doen, en elke keer het jy manne gekry wat kanse vat.

Ek het later hierdie seiner-stories uitgekyk. Hulle sit daar by die hopper-radios en wag vir iets om te gebeur. As daar nerens kontakte is nie, dan gaan dit maar vaal in die radiokamer. Ek kry ‘n blink plan. Een van my pelle is op 101 Battaljon, in Ondangwa. Ek roep daar vir Lima Tango Balt, en 5 minute later is hy op die lug. Ons praat land en sand hier op die hoogs geheime hopper radios – te lekker.

Die hoppers het heeltyd frekwensie verander sodat die vyand nie die boodskappe kon luister nie. Dit was daai dae high-tech. Jyt so kode gehad wat jy instel, en elke dag het die kode verander. Die kode bepaal die hops wat gemaak word.

Ons het ons eie swembad gehad by die offisiere se kwartiere. Dan maak die kombuis vir ons sulke groot trommels vol vleis reg, dan braai ons die hele naweek langs daai swembad.

Ons het so mal Majoor gehad – hy was in charge van al die offisiere. Hy het so nou en dan daar deurgestap en inspeksie gehou in ons kamers. Ons badkamer het sulke aaklige torre in die nag gelok as die ligte aan was. Die goed vrek, en dan stink hulle verskriklik. Dan moet ons eers weer badkamer skoonmaak.

Ons het pelle met die logistieke offisier geword, en hyt gereeld goed uit die kombuis uit aangedra. Aanmaak milk-shake, en boksies melk het in hope onder ons beddens gestaan. As die majoor kom inspeksie hou, moet jy daai goed wegsteek, anders is dit nag vir jou.



Ons Gim in ons kamer.

Hier staan ek met my mooi leerbelt wat die offisiere gedra het.


Otto - ek dink sy van was Otto - kyk die lekka snorretjie

Ons kamer het klomp voorraad gehou

Ou-Kersaand was ek gelukkig genoeg om offisier aan diens te wees. Te lekker. Daai aand is die Koevoete in die dorp, hulle suip lekker en tel girls op, en jag met ‘n CASPIR in ‘n elektriese paal vas. Die paal se kabels sny die een girl se kop mors af tydens die ongeluk. Hulle reël medics en goed, en tot vandag toe het niemand hulle aangekla of die saak verder ondersoek nie. Met koevoet het jy nie gesukkel nie.

Hulle het eendag daar in die dorp links en regs geskiet, toe lê die dowwerts die plek vol. (Dis nou ‘n ploftoestel wat nie afgegaan het nie.) Toe gaan ek saam met die Genie-manne om die ding onskadelik te maak. Die kinders speel in die dorp, dan tel hulle ‘n snotneus se kop sommer op en speel met hom. Ons het selfs tydens opleiding al geleer jy moet baie versigtig met daai ding se punt werk – hy is sensitief en jy “speel” nie met hom nie.

Hierdie was toe ook ‘n snotneus se punt wat daar in die grond lê. Daar was so engelse stormpionier wat die ding moes onskadelik stel. Die mal ding plak sommer PE4 so op die ding, hardhandig en druk die detonator in – die res van ons sien wat hy doen en slaan dekking. Blerrie mal ding, hyt ons amper almal weggestuur moerlandspan toe. Party ouens was net plein wild.

Een van die jobs wat ek gehad het was om pos te sensor. Ek het so stempeltjie gehad waarop staan SENSORED/GESENSOR, en dan moet ek teken daar. Al die troepe se pos wat uitgaan, moet gelees word en gecheck word. Hier mag nie geheime uitlek hier van die Grens af nie.

Ek het later ‘n reëling gehad met die Genie Korporaal dat sy troepe se goed nie gelees sal word nie. Hulle belowe hulle sal net mooi goedjies skryf, en dan sal ek nie hulle love letters oopmaak nie – ek stempel net en stuur aan vir die Dek om weg te vat Windhoek toe.

So nou en dan doen ek spot-checks – my rang is op die lyn hierso, as ek uitgevang word dat ek nie regtig sensor nie, is ek die ou wat aangekla word en deur Warra-Warra ge-oortuig word om confessions te teken. Ek maak eenkeer ‘n brief oop. Dis so baster troep wat vir sy girlfriend daar in Rehoboth skryf. Hy vertel haar eers dat die stories wat sy hoor nie waar is nie, sy moenie alles glo wat almal vertel oor hom nie. So nou en dan gebruik hy die woord “bitch” en “slet” en so aan teenoor haar, maar wies ek nou om te sê hoe hy moet praat met sy vroumens?

Dis later af in die brief wat ek sien hiers moeilikheid. Hy skryf: “Moenie worry nie, ek sal nie dat die vark-goed my briewe lees nie” Dit was die laaste wat ek nie briewe oopmaak nie – niemand praat so en kom daarmee weg nie. Ek wonder waars daai sleg troep vandag?

Ons het altyd sulke lekker bakke vleis gekry oor naweke. Ons kan nie helfte van die vleis opeet nie, dan braai ons die hele week lank, elke aand. En ons het ‘n swembad ook gehad. Lekker in die Army, sê ek jou.

Nuwejaar 1988-89. Sal hom nooit vergeet nie. Die oggend was ons skietbaan toe, ons skiet dat die biesies bewe. Die mal stormpionier skiet hier langs my, reg by my kop verby. Hy was blerrie mal. My ore suis daai dag so dat ek absoluut niks kan hoor nie. Alles suis net so. Ek skreeu op almal, want ek kan niks hoor nie. Tot vandag toe het ek ‘n suising in my ore, ek het omtrent 12% gehoorverlies in my regteroor, en my linkeroor is nie veel beter nie. Oor stupid wees en nie oorpluisies dra nie. Dis een dag in my lewe wat ek graag sal wil oorhê en anders doen.

Toe ons terugkom by die basis, toes dit tyd om Plato toe te gaan. Ons klim op Warra-warra se bakkie, en neuk daar teen die passe op. Ons het bottels vol sjampanje, en blikkies Coke. Ek drink die blikkie Coke uit, en van daar af vul ek hom met sjampanje. Ek het later uitgewerk, ek het omtrent 2 bottels sjampanje op ‘n leë maag uitgesuip daai dag.

Ek kan redelik onthou tot op ‘n stadium, en van daar af is alles ‘n waas. Ek onthou ons het begin jolig raak daarbo, en toes dit later tyd om terug te ry. Ek sit agter op WarraWarra se bakkie en klap met my hand na die wiel hier onder. Iewers oppad onder toe het ek afgeneuk van die bakkie af, en weer teruggeklim. Toe ons onder kom, is ek so dronk soos ‘n tor. Ek het op ‘n stadium in die swembad geval, en amper versuip, en toe die Kommandant vra of ek oraait is, toe vloek ek hom lekker. Ek is mos nou doof ook nog, en skreeu op hom want ek kan nie hoor nie.

Dit hoor ek alles die volgende dag – kan niks onthou van dit nie. Onthou net die swembad. Ek het gekots dat die biesies bewe. Volgende oggend toe ek wakker word, het ek myself belowe ek word nooit weer so dronk nie.

Die manne op die plato - ek sit onder regs.
(Dis bottels sjampanje wat daai manne so in hulle monde druk...)

Lees verder

Grensstories - Deel 1

Dit was tyd om grens toe te gaan. Ons moes by Osona opdaag na die pasnaweek, en van daar is ons op 'n Kwêvoël gelaai wat Grootfontein toe gery het.

Toe ons in Grootfontein aankom, word ons in die deurgangskamp ingeboek. Die plek is sif, man. Die toilette se uitlaat loop in so kanaal uit. As jy daar sit en jou ding doen, dan sien jy hoe dryf jou buurman se "goeters" hier in die kanaal onder jou verby.

Niemand weet wie ons is, en hoekom ons hier is nie. Oral waar ons rapporteer, weet niemand van ons nie. Ons moet maar wag tot iemand iets besluit. In "hindsight" was dit eintlik die ideale tyd om te AWOL – hulle sou my nooit gekry het nie, sou nie eens geweet het ek is weg nie.

Baie van ons het van Osona af tot hier bymekaar gebly. Van hier af moes ons verdeel, Rundu toe, Opuwo toe, Oshakati/Ondangwa toe. Dit was die sentrale punt vanwaar ons in die Operasionele gebied ingevat is.

Ons hang in die dorp rond, vreeslik grootmeneer met ons range. Ons het die Gebiedsmag se rangkentekens gedra, diamante op die skouer, nie sterre soos die Suid Afrikaners nie. Daar was so vliek iewers in die dorp, ons het daar gaan movies kyk, en probeer kyk hoe lyk Grootfontein se meisies.

Ons loop met uniform aan in die dorp rond, niks om te doen nie. Die MP's kom op ons af, en vra klomp snaakse vrae. (Militêre Polisie) Hulle is Suid-Afrikaners - onderkorporaals, en wil ons sommer arresteer. Hulle ken nie ons rangkentekens nie, en raak sommer harregat met ons. Die MP vra rangnommers, ons gee die nommers. Al ons nommers het ge-eindig met SCE, terwyl die Suid Afrikaners se nommers met BG ge-eindig het, vir die blankes. Die ou wil weet hoekom eindig ons nommers dan nou met SCE, en nie met BG nie. Die een suidwester sê vir hom "lyk ek vir jou soos 'n baster, of wat?" - by ons was die B vir "Baster", nie vir "Blanke" nie.

Ek dink die C was by ons vir Caucasian of iets. Nie dat dit vandag in die reënboognasie 'n verskil maak nie – behalwe as jy job soek of 'n tender invul of SASOL aandele wil koop.

Sommer dadelik kom ek agter daar is "ons" en "hulle" tussen die Suidwesters en die Suid-Afrikaners.

Dit was tipies van die mentaliteit waarmee Suid-Afrikaanse soldate partykeer hier aangekom het. Alles uit hulle eie perspektief, met geen agtergrondkennis van wie in die land bly, en wat hulle doen nie. Ons is sommer second-hand, want ons dra diamante, en nie sterre nie.

Na 'n week se ge-rondsittery en bakleiery met die MP's, kry ek 'n vlug na Ondangwa saam met my comrades. 'n Flossie – eerste keer in my lewe dat ek vlieg.

Ons kom in Ondangwa aan – nog meer chaos. Ons sit en wag vir die vlug na Opuwo. Ek sien hoe 'n bloeiende ou vol verbande en druppe op 'n stretcher verbykom en op 'n vliegtuig gelaai word – gewond net hier buite iewers in die bos. Nous die Army nie meer sports nie.

Ons word op 'n Dek gelaai Opuwo toe. Dek is die afkorting vir Dekota – daai ou vliegtuie wat al van die 2de wereldoorlog af saam met die lugmag kom.

Hy vlieg heeltyd boomtophoogte – stamp soos 'n kar op 'n grondpad. Hier rondom my word net katte geskiet. Ek land in Opuwo op 'n Saterdag. Ek word voorgestel aan so paar manne – dis tyd vir toebroodjies. Hier op die plek is daar nie middagete nie, daar is "brunch" en aandete. En middagtyd word daar siesta gehou. Ek word ingeboek in die offisiere kwartiere saam met my Genie pel, Alewyn.

My ou skoolpel, Roelof, en hy was saam op Genieskool, en nou is ek en hy groot pelle, mens sou sweer ons ken mekaar jare lank, of is familie of iets. Ons loer daar in die kaste rond – sien 'n botteltjie wat gemerk is "min dae smarties". Loer daar in. Dis Malaria pille.

Ons moes daai sleg bitter pille drink of ons wou of nie. Malaria is geen grap nie, en jy SAL daai goed drink. Een outjie het later malaria gekry – hy was lekker siek. Toe verduidelik hulle eers vir ons: die pille keer nie dat jy malaria kry nie, hy onderdruk net die simptome sodat jy nie heeltemal vrek nie.

Lees verder

Friday, April 30, 2010

Osona Deel 8 - ‘n man dra ‘n rang

Die einde van die jaar het aangebreek, en ons was op die punt om rang te kry. 'n Paar ouens het so deur die jaar uitgeval, want hulle het ge-awol of toetse gepluk, en hulle was uit. Ek onthou een baster-outjie, ons almal het gedink hy gaan offisier word, hy was 'n skerp outjie. Een aand oor 'n naweek, toe raak hy gesuip en pluk 'n mes uit. En daar gaat hy - af van die kursus af na 9 maande se hel. Onderkorporaal is die verste wat hy gekom het. Mens sou dink die skills met die mes sou kon gebruik word daar oppie Grens, maar nou ja, 'n offisier is mos nie 'n hooligan nie.
Daar was so 'n klomp ou perde saam met ons – ouens wat eers gaan swot het en toe army gedoen het. Hulle was baie wys, en het altyd antwoorde vir alles gehad. Die een ou het so glas oog gehad. James Tromp, dink ek was sy naam. Ek het altyd met hom moeilkheid gesoek, dan begin jaag hy my daar oor die paradegrond. Hy skop-skop en klap so aanmekaar na my toe – kon my nooit kry nie. Ek het altyd grappies gemaak en getorring aan ouens tot hy kwaad raak. Hy kon vloek soos 'n matroos nie kan nie.
Eendag het die ou manne weer gekla en gemoan oor hoe ons behandel word. Die klagtes kom toe by Kaptein Enslin uit. Hy roep toe almal bymekaar. Hy sê vandag is 'n ope dag – jy kan kla en moan, sê wat pla jou. Dis tyd dat dinge hier regkom, want hy't gehoor ons is ongelukkig. Die troepe is maar stil – dit klink te goed om waar te wees. Hy moedig ons aan - julle moet praat, dis nou julle kans om hierdie bose dinge onder ons aandag te bring. Hierdie weermag sorg mos mooi vir sy troepe.
So stadig-aan praat iemand hier oor kos, en oor passe wat te min is en korveetake wat te veel is, en so tel die manne spoed op. Die Kaptein vat notes in so boekie. Die manne raak al hoe meer vrymoedig en pak uit, veral hierdie ou manne wat al grade het, en alles weet. Die Kaptein is baie bemoedigend - luister na alles, vat notes. Aan die einde van die sessie, toe sê Kaptein dis nou sy beurt om net ietsie te sê.
Hy begin daar, vat daai notes, dan haal hy een-vir-een aan, dan sê hy: "Onderkoporaal Koekemoer, jy sê so-en-so…"; en dan skreeu hy "maar ek sê nou vir jou so-en-so.." Hy skel ons daar uit oor hoe sleg ons is. Al die ouens wat gepraat het, moet voor kom aantree. Ons moet kyk wies hulle. En as ons klaar gekyk het, kry vir jou deel van die Bosbus – daar gaat jy. Dis net stof en hare, hulle neuk ons van 'n kant af op. Die grootbekke doen nie saam nie – hulle moet kyk hoe ons opgeneuk word, en dan moet hulle maar hulle man staan later in die bungalow as die res klaar is met die Bosbus.
So was dit in die army…
Daar was een aand wat ons een of ander party gehou het in besoekerspark. Die manne kuier hard, en raak al hoe dronker. Een ou is so dronk, die manne piepie in 'n leeg-gedrinkte bierbottel, en maak hom heel vol. Hy drink daai hele bottel warm piepie uit sonder om dit agter te kom. Ek het dit met my eie oë gesien, anders sou ek ook nie die storie geglo het nie.
Hier staan ek in Besoekerspark op 'n Sondag toe die familie kom kuier het:
scan0051
Jy sal sien dat ek 'n rang op my arm dra. Ek was teen hierdie tyd nou al 'n onderkoporaal gewees. Die SWAGM se range het anders as die SAW sin gelyk. Ons het reguit strepe gehad in plaas van V's, en ons offisiere het diamante gedra in plaas van kasteeltjies en sterretjies.
qscan0038
Ons het nooit KO's geword nie – was almal onderkorporaal tot die laaste week voor rangparade. (Kandidaat-offisier, vir die oningeligtes) Die aand voor die tyd het ons sulke wit plastiek crap op ons skouers gedruk om soos KO's te lyk.
Ek het dit toe darem gemaak – al die harde werk was die moeite werd, want ek gaan offisier word, en as ek eendag kampe moet doen gaan niemand my rondneuk nie.
My pa was mos 'n PF gewees. Hy was die leier van die Gebiedsmag orkes, 'n Sammajoor nogal. Sy orkes het bestaan uit swart lede, meestal Kapriviane. Hy het daai rou inboorlinge geleer musieknote lees en instrumente speel. Hulle het altyd die hele land vol gegaan, oral waar daar 'n groot parade is moet die orkes speel.
SWA Gebiedsmag orkes
Ek onthou ook ons kon altyd verniet na die Windhoek skou toe gaan, want my pa se orkes het daar gespeel. Die weermag het die hele skou heeltemal oorheers daai dae. As jy inkom by die voorkant, het daar altyd Buffels en Caspirs en goeters gestaan vir die publiek om te kom kyk.
Op die sportveld het die weermag altyd sulke shows gehou. Dan is daar 'n terr, hy skiet lekker met 'n AK, en dan kom die weermag se honde en vreet hom op. Hulle het sulke skyn-aanvalle gedoen ook, die publiek het dit baie geniet. Hulle skiet rook en goeters, en dan land die parabats op die veld en skiet die snot en hare uit so vuil klomp terrs uit. Daai terrs hardloop later weg, en almal lag te lekker vir die dom goed. Die spesmagte kom met hulle perde en motorfietse en doen tricks, en dan kom snuffel die honde die plofstof hier tussen die gehoor uit.
image
Die orkes was dan ook altyd daar, en die trompoppies. Voor het 'n Kapriviaan geloop, wat daai stok so in die rondte laat draai het. Hy gooi die ding in die lug en vang hom en doen tricks. Dis nou alles terwyl daar gemarsjeer word op maat van die orkes se musiek. Daai Suidweslied weergalm daar deur die skougronde. Hulle het op 'n stadium die "Clap-Clap Song" gespeel, tot my pa se ontsteltenis. Die mense wou die song hoor, maar hy dink nie dis goeie musiek nie.
My pa het altyd reg agter die ou met die stok gemarsjeer – die res van de orkes in drie geledere agter hom. Die ou wys mos met die stok links of regs, of hy gooi die ding so swierlik rond in die lug. Eendag toe laat val die man daai stok uit sy hand uit. Hy buk om dit op te tel, so in die marsjeer in. My pa skop hom reg onder sy agterent, hy gee so lekker sprong vorentoe, gryp sy stok, en almal is weer in gelid. Hy het lekker gelag oor die storie na die tyd.
Omdat ons rangparade 'n groot okkasie was, is die weermag orkes toe ook daar. Die eerste keer, vandat ek army toe is, dat ek en my pa saam parade doen. Aan die einde van die parade kan jy jou nuwe rang uit jou sak uit haal, en hom op jou skouer sit. My pa het na my toe gekom, eers een kant opgesit en my 'n halwe saluut gegee. Toe sit hy die ander kant op, kom weer op aandag en gee my 'n vol saluut, met al sy medaljes wat so blink in die son. Hy het klomp medaljes van die Tweede Wêreldoorlog gehad, al my pelle op skool was altyd beindruk as hy met vol uniform iewers opgedaag het. Dit was 'n groot dag in my lewe – iets wat ek nooit sal vergeet nie.
My Pa salueer my weer 'n keer - by die huis, spesiaal vir die kamera.Ou Phillip Hite en ek het nou skielik dieselfde rang gehad, en toe ek daar wegstap kom groet hy my met die hand. Ek noem hom nou sommer Flippie. Kan jy nou meer.
Ek het teen hierdie tyd reeds geweet ek is oppad na 'n plek met die naam van Opuwo -102Battaljon. Daar in Kaokoland, in die westelike gedeelte van die operasionele area.
Daar was so tydjie voor dit 'n paneel vol brigadiers en generaals wat ons elkeen ge-interview het. Hulle vra jou allerhande vrae oor wie jy is, waantoe jy wil gaan, en wie is Sam Nujoma. Ek is reg om vir Sam te gaan blaas – ek wil grens toe gaan. Ek vra om grens toe te gaan – hulle sê dis reg.
Teen hierdie tyd was ons almal so trigger-happy, ons kan nie wag om terrs te gaan neervel by die honderde nie. Die army het ons goed grootgemaak.
Op 19-jarige ouderdom is ek 'n offisier in een van die berugste weermagte in die wereld...

Lees verder

Sunday, April 25, 2010

Osona Deel 7 - Tentdorp en Walvisbaai


Die tentdorp en Walvisbaai

Ons is gereeld geskuif van een peleton na 'n ander - amper soos Oom Sam se kabinetskommelings elke tweede maand. Dan skuif jy sommer in 'n ander bungalow ook in. Hier op 'n stadium beland ek toe in die Tentdorp.

Tentdorp is wild, jong. Hier is jy afgesny van die res. Jy moet bungalow toe loop met al jou goedjies om te gaan stort en stryk en al daai dinge – amper soos by 'n karavaanpark. Inspeksietyd dan mag daar nie 'n stoffie in daai tent wees nie, en die sandsakke moet ge-square wees.

Die voordeel van die Tentdorp was dat die korporaals te lui was om soontoe te loop. Ons het 'n hele paar inspeksies en bosbusse uitgemis, want die korporaal stap baie by die bungalow in en dans hy in 'n sleg mood , en dan tjop daai manne af. Maar hy vergeet van ons.

Daar was eintlik 'n lekker atmosfeer hier in Tentdorp. Behalwe dat dit vrek koud was. Saam met my was twee perde wat heeldag na Ge Korsten se musiek geluister het. Daai tape het heeltyd gespeel. Hulle was my ouderdom, maar praat heeltyd van hulle vrouens. Ek kom later agter hulle praat eintlik van die girlfriends. Hulle twee kom al van laerskool af saam en is soos twee pasgetroudes - altyd bymekaar, vertel stories en lag vir hulle eie grappies. Niemand is deel van hulle kliek nie. Hulle was altyd vriendelik, maar tog baie weird. (Watter normale 18-jarige troep luister na Ge Korsten?)

Saam met ons was 'n swart ou, Tiekie. Sy regte naam was Tuupukwere, maar niemand kon dit uitspreek nie. Hy was 'n ou grensvegter, maar het eendag 'n kolonel geslaan wat hom gevloek het. Toe verloor hy sy rang en hy moet terugkom vir JL's om rang te kry. Van julle is seker verbaas oor die swart ou in ons tent, ne? Sien, hier in Suidwes was integrasie al lankal deel van die lewe, dit was nie iets wat Oom Sam begin het na onafhanklikheid nie. Ons het dieselfde badkamers en toilette gedeel, alles. Al verskil was dat die blankes die meerderheid was in sulke situasies.

Ou Tiekie het in die aande Bos-stories vertel daar in die tent – oor sy ervaringe op die grens met die terrs. Ek dink daars min Boere wat so baie terrs doodgemaak het soos hierdie VHD manne. (Vrywillige Hulpdiens Korps) Hulle was rof en onbeskof, en het nie genade vir 'n SWAPO gehad nie.

Terwyl die bungalow-manne vloere polish en opstaan vir die korporaal, het ons lekker in die aande na Tiekie se stories gesit en luister. As ek reg onthou, het hy later daar by die Blou Bollie gewerk - my skoonsussie het my eendag vertel; hy onthou my nog.

Daar was verskeie fases van die opleiding. Ek kan nie alles onthou nie. Ek weet net ons het baie klasgedraf, en toetse geskryf. Hierdie Army was nie net 'n klomp maniakke wat met vuis in die lug en AK47 oor die skouer die wêreld warmgemaak het nie – ons was well-educated gentlemen gewees. Soort van.

Op 'n stadium doen ons PelBev fase. Dit staan vir "Peleton Bevelvoerder" Fase. Jy moet leer hoe om 'n hele peleton in die veld te hanteer, nie net een seksie meer nie. Hulle laai ons in Kwêvoëls en Samils en ry ons see toe. Ek belowe: vakansie by die see, op die Army se rekening, verblyf en etes ingesluit.

Kwêvoël

Ons het lekker see toe gegaan in die Army – daar by Walvisbaai in die woestyn. Ons het deur Karibib en Usakos gery, by Swakop ingekom, daai pad langs die see af gevat Rooikop toe. Al wat ons van die see gesien het, was dit wat ons uit die Kwêvoël se agterkant kon sien. Verder het ons net in die woestyn gekuier. Nie dat enige van ons daai tyd van die jaar 'n begeerte gehad het om die koue Benguela seestroom aan te durf nie – dis die middel van die winter.

Ek het na daai duine gekyk langs die pad, en ge-onthou hoe een donkerkop suidwes-meisiekind my hart gebreek het hier op die duine, net nou-die-dag in Desember.

Dit was vrek koud. Ons moet ons ingrawe in die sand, en daar slaap met 'n slaapsak en 'n "space blanket" om my warm te hou. Die "space blanket" was nie 'n army issue nie, my ma-hulle het die ding vir my gekoop op 'n stadium. Jy sweet later jouself sopnat onder daai stuk tin-foil - ongelooflik.

Die space blanket was 'n stuk tin-foil wat jou warm gehou het. Dit klink baie hi-tech, maar dis eintlik maar al wat dit is. Die spesifieke ene wat ek gehad het, was baie dun, en jy moes mooi werk om te keer dat hy nie skeur nie. Die ding het baie soos hierdie ene gelyk:

Ons het baie lekker ge-eet hierso. Ons staan in so lang ry daar in die duine, en as jy uiteindelik voor kom, dan is daar vir jou 'n halwe brood en so groot pot koue koffie. Elke dag, vir twee weke lank. Niks om op die brood te smeer nie. Partykeer is daar koue sop, net vir die afwisselling. Toe ons aan die einde van die opleiding terug ry Windhoek toe, toe ontdek ons dat die kombuis-Samil al die tyd gepak was met die lekkerste konfyt, stroop en allerhande lekker dinge. Ons het niks daarvan gesien tydens daai twee weke nie. Seker maar die offisiere sin gewees…

Ons moet in hierdie Namib se woestynsand peleton-aanvalle doen. Die luitenant en korporaal staan hier op die duin en beloer alles. Daar is nerens waar jy kan gippo nie – geen bossie naby vir myle nie. Alles in die ope, elke fout word raakgesien. Ons moet hardloop in daai sand met full kit terwyl ons 'n "mock" aanval doen. Daai dash-down-crawl-observe-sights-fire drill wat baie ouens jou seker al van vertel het. Jy hardloop in die dik sand, en moet neervoeter asof jou lewe daarvan afhang. Daar het ek gesien hoe spring Luitenant Phillip Hite met sy hele gewig bo-op 'n ou se rug met sy boots, omdat die ou nie vinnig genoeg neerval nie. Ek noem sommer sy naam vir almal om te lees, want hy was 'n mislike blikskottel. Hy was vir 'n lang tyd my luitenant.

Hy laat my dink aan "Lieutenant Dan" wat in Forest Gump speel. Selfde arrogante houding gehad, sigaret altyd so skeef in sy bek gehad, altyd sarkasites. En hyt ons gemoor.

Ons het 'n nagaanval gedoen saam met die artillerie en pantser ouens. Dit was 'n fees vir die oog. Jy het iets soos een-en-'n-half minute gehad om al jou ammunisie uit te skiet voordat die flares uit is. As hulle nog ammunisie op jou kry na die tyd, is dit nag vir jou. Ek het die snotneus beman. Dit was lekker om so saam met die groot kanonne 'n aanval te doen. Alles is verlig – daai woestyn lyk soos 'n Krismisboom.

Ons is na twee weke weer terug Osona toe.

Lees verder

Wednesday, April 21, 2010

Osona Deel 6 - JL's en Peleton wapens



JL’s:

Ons is klaar met Basiese opleiding. Dis nou tyd vir JL’s (Junior Leiers), en ek is deel van die elite. Dis nou die manne wat vir die res van die jaar ook nog gaan rondhol soos afkop hoenners hier op Osona. Baie ouens waai Suid-Afrika toe – Pantser, Geniekorps, Artillerie - party probeer parabats word. Ek bly maar hier en doen die Infanterie-ding.

Ons leer oor die doel van die infanteriste: Infanterie is die enigste eenheid van die weermag wat besette grondgebied kan behou. Dit word in ons ingedril van dag een af. Lyk nie asof dit gehelp het nie – die grondgebied is later deur die Big Boys met die suits net so weggegee, en die Infanterie het lock, stock en barrel daar padgegee en teruggeneuk deur Oshivelo hek. Mooi man. Eintlik is ‘n infanteris net canon-fodder en cheap labour, maar dit seg hulle nooit vir ons nie.

Woensdae was sportparade. Die "sportmanne" gaan Windhoek toe. Ek was nie so wonderlike sportman nie, en kwalifiseer nie vir aksie daar buite nie. Die hele middag is die sportiewe manne weg, en die res van ons doen korveetake. So met die tyd dan verdwyn party siele net; almal kry ‘n bos daar by besoekerspark waar hy bietjie sluimer. Ek sorg dat my “timing” reg is – hier teen die tyd wat die korporaal op diens weer ernstig raak, dan is ek daar besig met korveetake saam met die laaste 10 ouens wat oor is. Die Korporaal soek daai ander ouens – hulle Bosbus lekker verder terwyl ons kan gaan rus in die bungalow.

Later kom hier ‘n ding in – ons moet Samilwagte hê, die Samil kan nie so onbewaak al die pad Windhoek toe ry nie. Dis mos baie gevaarlik hier op die pad tussen Windhoek en Okahandja, terrs agter elke bos. Man, dis nou die ding daai –as jy Samilwag is dan klim jy saam met die sportmanne op, en daar in Windhoek hang jy by die huis rond tot dit tyd is om terug te kom. Te lekker. Jy sleep 'n geweer saam , maar jy het nie eens ammunisie nie.

Op ‘n stadium moes ons Woensdae deurry na die Suidwes stadion toe – ons sny die gras met sulke masjiene wat hom in sooie uithaal, en laai daai rolle gras op die Samil’s. Dan plant ons dit anderkant vir ons nuwe rugby-veld by 1 SWAMIL skool. Ek reël met my pa – hy kom haal my, dan eet en stort ek lekker by die huis terwyl die manne gras werk. My pa was ‘n Sammajoor, sien. Hy sê net vir daai korporaal hy soek daai ou, en almal is happy.

Peleton wapens fase:

Ons loop klasse daar onder die bome. Luitenant veskyn ‘n slag op die scene – hy moet nou en dan klasse aanbied. Ons leer al die teorie van kaartlees, seksie-aanvalle en wapens. Seksie-aanvalle is nou niks met “sexy” te doen nie – ‘n seksie is ‘n groep van 10 troepe. Drie seksies maak ‘n peleton.

Ons skiet met alles wat snellers het. R4, AK47, RPG7, geweer-granate, snotneus (my persoonlike gunsteling. Hier by jou klink hy soos ‘n windbuks, maar daar waar daai snotneus val, daar maak hy ‘n helse BOOM)




Ek sal nooit daai RPG7 vergeet nie. Daai ding raas verskriklik. Elke troep kry kans om met een te laat waai. Hulle het hope vol van die goed wat by dooie terrs afgevat is. Ons skiet daai hope daar op die skietbaan uit. Een perd skiet na die skietwal toe. Daai ding het mos ‘n punt wat vuurwarm koper laat smelt, en dan brand hy fisies ‘n gat deur die metaalwand van die voertuig wat hy penetreer. Hy maak ‘n dun slurpie wat daar deurwurg deur daai gat – daar binne is dit net snot en hare as hy deur die staalwand gaan. Totale verwoesting.

Although most Westerners call rocket-propelled grenades "RPGs," the abbreviation actually comes from the Russian phrase for "hand-held anti-tank grenade-launcher": Ruchnoi Protivotankovye Granatamyot.

Wat vir my altyd interresant was van ‘n RPG-7, is dat mens verwag die ding moet jou agtertoe stamp, soos die re-coil van ‘n geweer mos maar maak. Veral omdat dit so massiewe ding is, verwag jy hy moet jou rondgooi. Maar hy doen presies die teenoorgestelde. Hy trek jou vorentoe. Nogal verrassend as jy dit nie verwag nie, jy kompenseer heel verkeerde kant toe.

Die spesifieke ene het die man daar laat lostrek op die skietwal. Hy skiet reg teen daai wal vas – so 100m voor ons, maak so rooi kolletjie wat bokspring die wêreld vol – en hy kom terug in ons rigting teen die spoed van wit lig. Almal slaan dekking, daai ding slaan hier met ‘n helse BANG voor in die staf se Landrover se rooster vas, en brand ‘n gat so groot soos 'n duif daarin. Die korporaal het net so paar treë van die ding af gestaan - hy was amper bokveld toe.

Ek het my lamgeskrik. Amper sneuwel ek hier tydens opleiding. Wat sal hulle nou aan my ma verduidelik oor wat gebeur het? Kry ek ‘n medalje “in memoriam”, of wat?

Die staf raak nou slim - hy wys vir ons die RPG7 kan jy maar vêr in die lug in skiet, jy hoef nie teen walle vas te skiet hier reg voor jou nie. Na 900m moet hy homself detoneer – die ding is so ontwerp. As jy hom dus in die lug inskiet, dan trek hy nie verder as 900m nie, dan “self-detonate” die ding - om te keer dat hy nie land op verkeerde plek nie.


As with similar weapons, the grenade protrudes from the launch tubes. It is 40-105 millimeters in diameter and weighs between 2.5 and 4.5 kilograms. It is propelled by a gunpowder booster charge at 115 meters per second, which creates a cloud of light grey-blue smoke. The rocket motor ignites after 10 meters and sustains flight out to 500 meters at a maximum velocity of 295 meters per second. The grenade is stabilized by two sets of fins that deploy in-flight: one large set on the stabilizer pipe to maintain direction and a smaller front set to induce rotation. The grenade can fly up to 1100 meters; the fuse sets the maximum range, usually 920 meters.
Dis nou die teorie. Onthou net dat dit 'n klomp Russe is wat die ding ontwerp het.

Hy trek los en mik daar in die wolke in. Daai projektiel trek te pragtag deur die lug – wil nie “self-detonate” nie. Hy land daar kilometers verder weg op die boer langsaan se grond. Die plaas slaan brand – groot marakkas, ons moet gaan brandslaan daar met ons hemde.

Dis ook iets wat ons gereeld gedoen het. Jy moet gaan brandslaan, en al tool wat jy het is jou army hemp wat die regering mos voor betaal het. Eendag het die vlamme vreeslik wild om my gestaan in daai veld, ek was amper 'n stukkie carboon footprint op my eie. (Weereens draai ek by die dood om, alhoewel daar nie 'n terr in sig was nie...)

Ons raak nou aggro - ons gooi handgranate. Eers laat val ek die simpel ding toe korporaal hom vir my aangee. Hy vervloek my vreeslik. Ek tel hom versigtig op. Trek daai pennetjie uit. Ek gooi daai pennetjie dat hy daar trek, en sit met die granaat in my hand. Kyk die ding so – tel tot by drie en gooi hom vinnig oor die muur. Korporaal dink nie dis snaaks nie en hy jaag my so paar keer teen Plesierkop uit daai dag.

(Ek lieg dalk so bietjie hieroor- maar dit kleur die storie in, man! Ek het die granaat regtig laat val, maar darem nie die pennetjie gegooi nie. Daar was egter ouens met wie dit gebeur het. Blykbaar is ‘n korporaal eendag dood toe dit gebeur en hy homself op die ding gewerp het om die ander ou te beskerm)

Ons oefen seksie-aanvalle, maar ons mag nie regte ammunisie nou al gebruik nie. Jy moet raas, jy skreeu “tatatatata”, en as jy nie genoeg skiet nie, dan is jy in die moeilikheid.

Ons skiet mortiere en leer van ladings. Sulke pakkies wat jy opsit om hom bietjie te boost. Ons steel die pakkies en maak lekker marrakas daar in die bungalow met die goed.

Daars rookgranate en traangas. Hoe leer ‘n troep wat die effek van traangas op die vyand is? Jy jaag ‘n uit-asem troep deur die traangas. Dan weet hy hoe goed dit werk. Die traangas werk goed, stem ons almal saam na die tyd.

Ons is nou op ‘n kursus – ons skryf sommer toets ook hier in die Bos. En dis nag as jy pluk. Die swaard van mislukking hang ook hier oor jou kop – as jy te vrot doen, kry jy nie rang aan die einde van die jaar nie. Almal werk hard vir daai rang, en ons weet: nie almal maak dit tot die einde van die jaar nie. Jou motivering in Basies was maar net om saam met die groep aan te ploeter – met JL’s moet jy jouself baie dissiplineer, want daai wortel hang voor jou neus.

Ons almal kry ‘n beurt om Baas vir die dag te wees. Jy dril die peleton, jy tree hulle aan vir inspeksie, alles. En alles wat foutgaan is jou skuld. Jy leer vinnig oor leierskap – dis nie net baas-speel nie, dis belangrik om jou peleton in ag te neem. Alles op die grens gaan oor goeie leierskap. Ons evalueer mekaar – daai ou gaan ‘n korporaal word, die ou lyk soos “loot” materiaal.

Elke ou hoop maar hy is nog oraait.

Lees verder

Monday, April 12, 2010

Osona Deel 5 - bosbus en Vasvyt

Dit was sulke tyd – Bosbus tyd

Ons almal hol so in 'n ry, agter die ou voor jou aan. Neuk hier in die bos in. As jy dink hiers 'n plek om te gippo, dan spring 'n ding met 'n rang hier voor jou in en jaag jou verder. Dis net stof en hare waar jy kyk. Skielik moet ons stop – tyd vir PT – push-ups, sit-ups, dra-jou-maatjie.

Dra-jou-maatjie was lekker – eks lekker klein, en as 'n groot ou langs my staan, dan sê hy dis fine, hy dra my. As ons moet maatjies omruil, dan bly dra hy my - hy worry nie, want daars geen manier wat ek hom kan dra nie en hy score, want hy dra ligter as die ander manne.

Die Bosbus gaan lank aan, jong. Dis 'n deurmekaarspul, al die troepe hol rond, al die range skreeu op almal – jou eie luitenant en korporaal is nie heeltyd by sy eie peleton se mense nie. Skielik kliek die ding by my - daars geen manier wat hulle gaan weet as ek verdwyn het nie – hulle moet my net nie vang nie, dis al.

Ek kry rigting daar in die bosse in tot ek weet eks veilig – "duck" daar en "leopard-crawl" soos 'n regte Grensvegter – weg van die aksie af. Die trick is om op die regte oomblik weer in die groep in te val.

Almal is vuil – die overall is bemors, bootse lyk asof hulle nog nooit gepolitoer was nie. Oor 'n uur is inspeksie, dan moet alles weer reg wees en blink. Dis hoe 'n bosbus gewerk het.

--------------

In die begin het ons net gedraf met bootse en overall aan. Later toe kom die webbing by, en nog later die geweer ook. Daai blerrie R4 is ongemaklik, man, jy moet hom skoon hou, maar jy moet heeldag hol met die ding. Hyt so lekker handvatseltjie waaraan jy hom kan dra, maar daars geen manier wat jy dit mag gebruik nie. Kan jy dit glo?

Ek was altyd tussen die eerste 5 ouens toe ons sonder die ekstra gewig gehardloop het, maar toe die geweer en webbing bykom, begin ek swaartrek. Eks nou deel van die agterosse.

Daai geweer is nou jou vrou. Korporaal sê die eerste dag toe ons hom kry dat jy jou geweer nooit, ooit vir iemand anders gee nie. Hy vra vir Pietie "gee gou hier daai ding laat ek julle wys" – Pietie gee die geweer, daai korporaal ontplof hoor. Hyt dan gesê moenie die dekselse ding vir iemand anders gee nie! Nie eens vir die korporaal nie!

Ons leer hoe om die ding uitmekaar te haal en toe-oë weer aanmekaar te sit. En jy mag nooit daai ding na iemand anders toe rig nie. Nooit. Behalwe as dit 'n terr is, natuurlik.

Ons moet begin wagstaan. Het mos nou gewere en alles. Jy slaap in die wagkamertjie tot dit jou beurt is. Al goeie ding van wagstaan is die feit dat jy voor die ander ouens kos kry. Maar saam met dit gaan wagparade. Wagparade is 'n komplekse klomp simpel bewegings wat iemand uitgedink het om almal mee te frustreer. Niemand kan ooit wagparade reg doen nie, en dan's dit eers weer Plesierkop.

Daar was sulke wagbeurte – die lekkerste een is tussen 02h00 en 04h00. Baie lekker, veral in die winter.

Hier aan die einde van Basiese opleiding het ons begin regmaak vir Vasbyt. Elke Saterdag oggend dan sê hulle ons moet aantree na ons met die korvee-take klaargemaak het, en dan pak jy jou hele webbing, geweer – full kit. Een maal waterbottel maak jy baie vol. Dan stap ons daar by die basis se hek uit – lekka Okahandja toe, tot by die brug. Soontoe en terug is so 25km - goeie ou bietjie oefening net om die bene te rek op 'n Saterdag oggend.

Moenie dink jy gaan wegkom met gippo tricks nie. Een van die rangdraendes en sy pelle staan en wag by die draaipunt. Hy het 'n wit kryt en merk elke ou soos hy by die draaipunt verbykom. As jy sonder daai krytmerk weer in die basis aankom, is dit nag vir jou. Jy weet nooit watter merk hulle gaan maak nie – rooi kryt, wit kryt – iets anders? Soos die eerste ouens begin terugkom, vind jy gou uit wat is die merk. As dit een van die kryte is wat jy in jou rugsak het, dan merk jy jouself en draai om. Maar wee jou as jou korporaal die dag skerp genoeg was om spesifiek vir jou te wag – hulle weet wie's die gippo-gatte.

Die staf het dit geniet om met die Garry rond te ry en troepe uit te kyk wat gippo. ('n Garry was die naam vir so kortgat army Land Rover.) Jy weet nooit wanneer hy waar gaan uitslaan nie. Hy ken al die shortcuts – elke trick in die boek. Watse soort mens moet jy wees om op 'n Saterdag-oggend met 'n kortgat landrover rond te ry op soek na troepe wat gippo? Pateties man. Van hierdie PF's het wraggies geen lewe gehad nie. Ek wonder wat het hulle gedoen toe die weermag ontbind het? Onderwysers geword?

Vasbyt breek aan. Dis die laaste ding wat ons doen voordat ons ons heel eerste pas-naweek kry. Ses weke is ons al weg van Volk en Vaderland af. 6 Weke, en eks 'n heel ander mens, my arme Mamma gaan nie die kind ken nie. Na Vasbyt is ons klaar met basies, en die gelukkiges onder ons gaan JL's doen – Junior Leier opleiding. Dis nou 'n "extension" van Basies, jy doen Basies aanmekaar vir die res van die jaar, terwyl die ander skuttters reg maak om kokke en drywers te word, of dalk grens toe te gaan. Maar as jy klaarmaak aan die einde van die jaar - dan kry jy dalk rang. Jy word 'n onder-offisier (korporaal), of 'n offisier (Luitenant), afhangende van hoe dit gaan met jou JL's.

Ons tree op 'n hoop aan vir Vasbyt. Skriflesing en gebed. Groot parade, groot speeches – laaang gebede. Jyt gebed nodig voor jy die ding aanpak. Majoor Wit Tier praat met ons. Hy was so wille ou wat ons altyd as "here" aangespreek het – vreeslik beskaafd. Hy't altyd grens-stories vertel van hoe hy saam met Boesmans terrs gesoek het en sulke goete.

Wit Tier sê vir ons hiers nou net een probleempie. Hier's ouens wat goed soos lekkertjies en soet goedjies ingepak het, en die goed is mos soos steroids – dit gee jou baie energie. Dus gaan sulke ouens 'n voorsprong bo die ander ouens hê, en dis nie regverdig nie. Pak uit al sulke onwettige items – doen dit nou, moenie dat ons jou later uitvang met die goed nie.

Daar gaan al my vitamien-lekkertjies en goete. Jy het net ratpacks en water – dis al.

Ons is in groepe opgedeel – jy moet kaartlees en rigting soek en jy't goed wat moet saamgedra word. Aan die einde van dag een weet ek nie meer watter rigting nie – ek neuk net agter die ander ouens aan. Heerlikheid, jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop heel dag lank. En dan loop jy weer. En dan net nog so entjie. Ons kom stik donker nag daar by die eerste checkpoint aan – ons het vir die laaste vier ure in die donker bosse rondgeloop – dis donker, ons neuk in gate in en teen heinings vas – die dorings haak stukke vleis uit my lyf uit. Ons begin mekaar blameer oor die kaartlesery wat 'n gemors is.

Die ouens wat eerste daar gekom het, het al lekker vuur gemaak, gevreet, boots uitgetrek en na die skade gekyk – hulle snooze al.

So gaan dit vir drie dae aan – wat 'n gemors. Eks later so keelvol ek weet nie watter kant toe nie. Ek loop stadig – moeg man, dan kom die staf met die Landy agter my en jaag my dat ek vinniger moet loop. Mislike ou vark. So nou en dan daag 'n waterlorrie op – dan is jy te bly dat jy weer daai bottel kan vol maak.

Toe ons uiteindelik by Osona inkom, na vier dae se marteling, was ek so dankbaar ek kan my lag nie hou nie. Daar's sulke lang tafels gedek vir ons - elke ou kry een bier en een Pepsi. Ons suip ons dronk aan die goed. Ons vreet asof ons nog nooit kos gehad het nie.

My voete is beide net een groot blaas. Ek is spyt ek het nie fotos geneem daarvan nie. Tydens die stappery was daar sulke medic checkpoints. In die oggend kry jy nie jou boots aan nie, want jou voete wil weghardloop van daai ding af. Dis vrek seer. Medic kom druk so lekka naald in jou voet, in daai blase in - en spuit daai rooi mercuro-chrome goeters hier oral op jou voet. My hele voet lyk soos 'n wond toe ek by Osona aankom – altwee van hulle. Die hak is een groot half-stukkende blaas, en die bal van die voet lyk net so.

Ons gaan slaap – more oggend is daar parade, en dan gaan ons huis toe! Ek kan skaars loop - my voete is af, man. Ek hinkepink daar oor na die paradegrond toe. Ou Staaldraad is kwaad, want ons stamp nie ons voete hard genoeg as ons dril nie. Blerrie monster. Hy verdien 'n koeël tussen die ore vir daai ene. Dis hierdie klein goedjies wat my brein nie kan vergeet nie - daardie kere waar iemand net totaal onredelik was en my "rooi knoppie" gedruk het.

Daai oggend is ek saam met Willie Dreyer en nog so 'n paar ander manne in 'n kar daar weg – Windhoek toe.

Ek kom uiteindelik by die huis aan – te lekker. My oupa is daar, my ma, my pa, my broer, katte, honne – almal baie bly om my te sien. Hulle voer my kos tot ek nie meer kan loop nie. Nie dat ek regtig nog kon loop nie – my voete was gaar.

Ek het twee weke na dit nog gesukkel met my voete – wonder of die pyn wat ek deesdae in my voete het, nie dalk nog van dit af kom nie? Die goed is vir ewig opgeneuk.

Pasnaweek is van Vrydag-oggend af tot Maandag aand toe. Maandag-aand was moord. Klim in die kar saam met die famdamily – ons ry daai pad terug Osona toe. Ek bid dat die eindtye sal kom, Armageddon - die nukes van Rusland af, aardbewings – enigiets, sodat ek net nie weer Osona toe hoef te gaan nie.

My gebede word nie verhoor nie – sien, dis omdat ek vroeër mos geslaap het toe ek moes gebid het. Ek groet die familie met 'n seer hart, en stap terug bungalow toe, daar na Peleton een se hoekie vir eensames.

Ons is terug by die Malhuis.

Lees verder