Monday, August 8, 2011

Grensstories - Deel 2

Hier oppie grens was ook interresante karakters gewees. Daar was ‘n kleurling luitenant, hy was ‘n PF, en was ‘n vol luitenant gewees. Ons was mos eintlik “tweede luitenante” – een diamant/ster. Dan kry jy ‘n vol luitenant, wat twee sterre/diamante het, en dan kaptein, met drie diamante.

In elk geval, die ou was so skeef soos ‘n blerrie Marsmannetjie op steroids. Hyt al daai Nataniel-moves gehad. So oulike stemmetjie ook gehad. Ek hoor later hys nou ‘n koffie-moffie op Air Namibia se vliegtuie – trek sulke lekka leerbroekies aan en dan karjakker hy daar in Londen se onderwêreld rond as hulle daar land. Hy was ons personeel offisier.

Ek kry die titel van Militêre regsoffisier, 102Battaljon. MRO. Met al my jare se regskennis en ervaring is ek op 19-jarige ouderdom net die regte ou vir die job. Ek sit in ‘n kantoor heeldag en kla ouens aan wat AWOL. Daar was baie sulke ouens. 102 Bn was hoofsaaklik uit VHD troepe saamgestel – Votlydse HulpDiens Eenheid. Dis locals. Himbas wat uit die bos uit gekom het en hulle gatlappies ingeruil het vir ‘n boshoed, ‘n geweer en ‘n stel boots.

Ek moes al die papierwerk doen. Die Kaptein van die betrokke eenheid was altyd die Regter in enige saak, en ek was soos ‘n staatsaanklaer gewees. Al probleem met die stelsel was dat die Kaptein ook die ou was wat die ou by my kom aangee het, en dan gesê het ek moet hom aankla. Dan doen hy die verhoor. Die man is skuldig nog voor ek boe of ba gesê het. Partykeer het die troepe ook iemand probeer aankla. Die Korporaal het hom gevloek, en so aan. Daai sake het redelik na een kant toe gegaan.

Ons is opgecheck deur regsmanne in Oshakati en in Windhoek. Hulle het al die dokumentasie na die tyd deur gegaan, en 90% van die kere het hulle besluit dat die verhoor nie reg verloop het nie. Die klomp was sulke regte liberale studente-tipe wat die army heeltyd probeer ondermyn het. Maar jy kan sien hoekom, nê…

Eendag kom Kaptein oWarra-warra in my kantoor aan. Niemand met wie ek nog kontak het kan sy regte naam onthou nie, al die troepe en offisiere het hom so genoem. “Warra-warra” in Herero beteken iets soos “lekka deurmekoekies”. Hy bring daar ‘n troep aan – die ou het gedrink, of ge-AWOL of iets dergliks. Hy maak die deur toe agter ons. Dis nou net ons drie in die kantoor. Die ou moet sy confession teken daar voor my. Die man weier. Warra-warra begin neuk daai ou dat die velle waai. Hy slaat vir hom bo-oor my tafel, daai man huil later. Hy teken sy confession – terwyl die bloed by sy bek uitloop.

So het die regstelsel in die Army gewerk. As ek hierdie Amerikaanse flieks kyk van regsake in die weermag, dan kan ek net lag. By ons was daar so namaaksel van ‘n regstelsel, maar dit was maar net om die wetlike aspekte te bevredig.

Die offiserslewe is lekker, maar selfs ‘n offisier het werk om te doen. Elke ou kry sy beurt om Offisier aan diens te wees. Dan loer jy deur die nag of die wagte wakker bly, en gaan kyk wat maak die seiners daar in die radiokamer. Een van jou baie gedetaileerde instruksies was dat jy moet ogie hou oor die troepe wat eet in die menasie. Dis nou daai VHD troepe. Een van jou duidelike instruksies was dat jy moet sorg dat die mense nie met hulle hande eet nie. Hy moet ‘n mes en ‘n vurk gebruik. Dit klink dalk snaaks, maar ons moes wragtag dit doen, en elke keer het jy manne gekry wat kanse vat.

Ek het later hierdie seiner-stories uitgekyk. Hulle sit daar by die hopper-radios en wag vir iets om te gebeur. As daar nerens kontakte is nie, dan gaan dit maar vaal in die radiokamer. Ek kry ‘n blink plan. Een van my pelle is op 101 Battaljon, in Ondangwa. Ek roep daar vir Lima Tango Balt, en 5 minute later is hy op die lug. Ons praat land en sand hier op die hoogs geheime hopper radios – te lekker.

Die hoppers het heeltyd frekwensie verander sodat die vyand nie die boodskappe kon luister nie. Dit was daai dae high-tech. Jyt so kode gehad wat jy instel, en elke dag het die kode verander. Die kode bepaal die hops wat gemaak word.

Ons het ons eie swembad gehad by die offisiere se kwartiere. Dan maak die kombuis vir ons sulke groot trommels vol vleis reg, dan braai ons die hele naweek langs daai swembad.

Ons het so mal Majoor gehad – hy was in charge van al die offisiere. Hy het so nou en dan daar deurgestap en inspeksie gehou in ons kamers. Ons badkamer het sulke aaklige torre in die nag gelok as die ligte aan was. Die goed vrek, en dan stink hulle verskriklik. Dan moet ons eers weer badkamer skoonmaak.

Ons het pelle met die logistieke offisier geword, en hyt gereeld goed uit die kombuis uit aangedra. Aanmaak milk-shake, en boksies melk het in hope onder ons beddens gestaan. As die majoor kom inspeksie hou, moet jy daai goed wegsteek, anders is dit nag vir jou.



Ons Gim in ons kamer.

Hier staan ek met my mooi leerbelt wat die offisiere gedra het.


Otto - ek dink sy van was Otto - kyk die lekka snorretjie

Ons kamer het klomp voorraad gehou

Ou-Kersaand was ek gelukkig genoeg om offisier aan diens te wees. Te lekker. Daai aand is die Koevoete in die dorp, hulle suip lekker en tel girls op, en jag met ‘n CASPIR in ‘n elektriese paal vas. Die paal se kabels sny die een girl se kop mors af tydens die ongeluk. Hulle reël medics en goed, en tot vandag toe het niemand hulle aangekla of die saak verder ondersoek nie. Met koevoet het jy nie gesukkel nie.

Hulle het eendag daar in die dorp links en regs geskiet, toe lê die dowwerts die plek vol. (Dis nou ‘n ploftoestel wat nie afgegaan het nie.) Toe gaan ek saam met die Genie-manne om die ding onskadelik te maak. Die kinders speel in die dorp, dan tel hulle ‘n snotneus se kop sommer op en speel met hom. Ons het selfs tydens opleiding al geleer jy moet baie versigtig met daai ding se punt werk – hy is sensitief en jy “speel” nie met hom nie.

Hierdie was toe ook ‘n snotneus se punt wat daar in die grond lê. Daar was so engelse stormpionier wat die ding moes onskadelik stel. Die mal ding plak sommer PE4 so op die ding, hardhandig en druk die detonator in – die res van ons sien wat hy doen en slaan dekking. Blerrie mal ding, hyt ons amper almal weggestuur moerlandspan toe. Party ouens was net plein wild.

Een van die jobs wat ek gehad het was om pos te sensor. Ek het so stempeltjie gehad waarop staan SENSORED/GESENSOR, en dan moet ek teken daar. Al die troepe se pos wat uitgaan, moet gelees word en gecheck word. Hier mag nie geheime uitlek hier van die Grens af nie.

Ek het later ‘n reëling gehad met die Genie Korporaal dat sy troepe se goed nie gelees sal word nie. Hulle belowe hulle sal net mooi goedjies skryf, en dan sal ek nie hulle love letters oopmaak nie – ek stempel net en stuur aan vir die Dek om weg te vat Windhoek toe.

So nou en dan doen ek spot-checks – my rang is op die lyn hierso, as ek uitgevang word dat ek nie regtig sensor nie, is ek die ou wat aangekla word en deur Warra-Warra ge-oortuig word om confessions te teken. Ek maak eenkeer ‘n brief oop. Dis so baster troep wat vir sy girlfriend daar in Rehoboth skryf. Hy vertel haar eers dat die stories wat sy hoor nie waar is nie, sy moenie alles glo wat almal vertel oor hom nie. So nou en dan gebruik hy die woord “bitch” en “slet” en so aan teenoor haar, maar wies ek nou om te sê hoe hy moet praat met sy vroumens?

Dis later af in die brief wat ek sien hiers moeilikheid. Hy skryf: “Moenie worry nie, ek sal nie dat die vark-goed my briewe lees nie” Dit was die laaste wat ek nie briewe oopmaak nie – niemand praat so en kom daarmee weg nie. Ek wonder waars daai sleg troep vandag?

Ons het altyd sulke lekker bakke vleis gekry oor naweke. Ons kan nie helfte van die vleis opeet nie, dan braai ons die hele week lank, elke aand. En ons het ‘n swembad ook gehad. Lekker in die Army, sê ek jou.

Nuwejaar 1988-89. Sal hom nooit vergeet nie. Die oggend was ons skietbaan toe, ons skiet dat die biesies bewe. Die mal stormpionier skiet hier langs my, reg by my kop verby. Hy was blerrie mal. My ore suis daai dag so dat ek absoluut niks kan hoor nie. Alles suis net so. Ek skreeu op almal, want ek kan niks hoor nie. Tot vandag toe het ek ‘n suising in my ore, ek het omtrent 12% gehoorverlies in my regteroor, en my linkeroor is nie veel beter nie. Oor stupid wees en nie oorpluisies dra nie. Dis een dag in my lewe wat ek graag sal wil oorhê en anders doen.

Toe ons terugkom by die basis, toes dit tyd om Plato toe te gaan. Ons klim op Warra-warra se bakkie, en neuk daar teen die passe op. Ons het bottels vol sjampanje, en blikkies Coke. Ek drink die blikkie Coke uit, en van daar af vul ek hom met sjampanje. Ek het later uitgewerk, ek het omtrent 2 bottels sjampanje op ‘n leë maag uitgesuip daai dag.

Ek kan redelik onthou tot op ‘n stadium, en van daar af is alles ‘n waas. Ek onthou ons het begin jolig raak daarbo, en toes dit later tyd om terug te ry. Ek sit agter op WarraWarra se bakkie en klap met my hand na die wiel hier onder. Iewers oppad onder toe het ek afgeneuk van die bakkie af, en weer teruggeklim. Toe ons onder kom, is ek so dronk soos ‘n tor. Ek het op ‘n stadium in die swembad geval, en amper versuip, en toe die Kommandant vra of ek oraait is, toe vloek ek hom lekker. Ek is mos nou doof ook nog, en skreeu op hom want ek kan nie hoor nie.

Dit hoor ek alles die volgende dag – kan niks onthou van dit nie. Onthou net die swembad. Ek het gekots dat die biesies bewe. Volgende oggend toe ek wakker word, het ek myself belowe ek word nooit weer so dronk nie.

Die manne op die plato - ek sit onder regs.
(Dis bottels sjampanje wat daai manne so in hulle monde druk...)

Lees verder

No comments: