Monday, August 8, 2011

Grensstories - Deel 4

Die onttrekking - begin van 1989

Ons het altyd in die oggende vergaderings gehad wat die offisiere moes bywoon. Dan vertel die Kommandant van al die bewegings en kontakte en hoogs geheime dinge wat aan die broei is. Hier op 'n stadium begin daar rumours rondloop van onderhandelinge met Swapo, en dat ons huis toe gaan voor die einde van die jaar. Die kommandant sê egter niks van die dinge nie - en ons is slim genoeg om nie te vra nie.

Ek het die stories maar afgelag – waar het jy nou al gehoor dat ons regering met Swapo om 'n tafel sal sit, en dat 'n dienspligtige voor sy twee jaar verby is al huis toe gaan? Dis tog malligheid.

Soos die tyd aanloop, het die rumours al hoe sterker geword, totdat die Kommandant tydens een van die vergaderings ook begin praat het oor die stories. Een van die vereistes was dat die Kubane (al 50000 van hulle) moes onttrek uit Angola, en dat die SA Weermag moes onttrek tot Suid van die 16de breedtegraad, wherever that is.

Volgens Wikipedia:

It was not until 1988 that Cuba, Angola, and South Africa came to an agreement which was mediated by US Assistant Secretary of State Chester Crocker. A series of meetings starting in London and culminating in Geneva, resulted in a ceasefire agreement, with the consent of SWAPO, and was set to begin on August 8, 1988. A final meeting in Brazzaville, Congo set April 1, 1989 as "D-Day" when the implementation of United Nations Security Council Resolution 435 would begin. The New York Accords between Cuba, Angola and South Africa were formally signed at UN headquarters in New York on December 22, 1988.[3], thereby effectively ending the South African Border War.

Ek weet nie so mooi van die cease-fire nie. Ek was daar, en ek weet vir 'n feit dat daar kontakte was gedurende daai tydperk. Ons deel by Kaokoland was redelik stil, maar in Wamboland was daar daagliks nog kontakte. Ons was geensins bewus van enige vermindering in kontakte of 'n sogenaamde skietstilstand nie. Miskien het ek net vergeet, maar dis soos ek dit onthou...

Mense hier in Australië glo my nie as ek hulle vertel dat die Swapo-helde eintlik 50000 Kubane aan die anderkant van die grens gehad het nie, en dat daar nog Oos-Duitsers en Russe ook betrokke was nie. Blerrie fools. Hulle kan nie glo so klein handjievol mense het opgestaan teen al wat 'n blerrie Kommunis en anargis was nie. Dit terwyl die res van die wêreld agteroor sit en Top Gun movies kyk en dink dis al waaroor die Koue Oorlog gegaan het.

Die onderhandelinge het egter nou begin realiseer, en die boodskap het uiteindelik deurgedring dat ons gaan onttrek van die grens af.

Die grootste logistieke operasie in die geskiedenis van die SA Weermag was besig om te begin.

Ons hoor toe ook dat ons moet ammunisie begin vernietig. Dis te veel PT om die goed Oshivelo toe te stuur, en ons moet vernietig wat ons kan. Ons dra elke dag daai magasyn leeg na die skietbaan toe. Ons skiet RPG7's en detoneer landmyne; ons gooi handgranate, skiet duisende rondtes AK, R1 en R4 patrone uit. Geweergranate, snotneuse, claymore myne, rookgranate, whitephos - alles wat ons in die hande kry word op die mees dramatiese wyses gebruik of misbruik. Ek het nou nog een van daai WP tags wat aan die whitephos vas was.

Ons het boorgatladings gemaak en gekyk wat is die diepste gat wat ons kan skiet. Toe ons daarvoor moeg raak, toe blaas ons 'n ou karwrak op dat daar van hom net rims oor is.

Ons skiet die enigste boom op die skietbaan om met 'n groot anti-tenk landmyn. Die Kommandant was bitter kwaad or sy enigste boom:

Die boom wat gesneuwel het
Die manne reg vir aksie op die skietbaan -
Daai groot ronde goed wat ons so om ons nekke soos juwele vertoon, is anti-tenk landmyne
Alewyn met 'n RPG-7
Een van ons duisende ontploffings. 'n Hele klomp TNT blokke het hier gesneuwel.
Die boom voor ons hom beetgekry het - kyk al daai lekka ammo wat hier by ons voete le
Hier een dag bel my ma en sy vertel my daars 'n pakkie op die Dek en ek moet sorg dat ek by die lughawe is as die ding land, want die goed kan sleg word en ek moet sorg dat niemand my pakkie in die hande kry nie. Ek kom daar aan, en toe ek weer kyk, toe klim my broer en sy pel van die vliegtuig af. Ek is skoon verbaas. Ek het huis toe gebel eenkeer, en met hom gepraat, en toe sê ek vir hom dis lekker hier oppie grens, hy moet kom kuier. Toe doen hy dit wragtag. Hy was in Matriek daai jaar.

My pa was mos 'n PF, hy het die vlug gereël. Hoe hulle my ma oortuig het om dit te doen, weet ek nie. Ek loop Kommandant toe, vra hom of my broer maar hier by my in die kamer kan kom bly vir 'n week. Hy sê dis alles reg so.

In die aande dan help braai die twee skool-laaities vleis, en in die dag hang hulle rond tussen die army goeters. Ek reël later vir hulle 'n trip daar op die Buffels uit na een van die buite-basisse toe. Kan jy glo. Hulle twee is op Buffels in die Operasionele gebied – twee skoolkinders. Hulle het hulle gate uit geniet, het gaan skiet op die skietbaan en al wat 'n ding is.


My broer en sy maatjie Paul by 'n buffel

Hulle was in die Operasionele gebied 'n week of twee voor die 1 April inval. Net 'n suidwester wat so mal ding sal doen, ne? Hulle is toe later weer met die Dek huistoe, met groot-oog stories wat hulle vir al die ander matrieks gaan vertel het oor die lewe oppie Grens...

Met die tyd het dinge hulle verloop geneem, en toe leer ons 'n nuwe woord. Eers was dit "Resolution 435" - die ding was soos 'n algemene vloekwoord al vir 'n hele paar jaar gebruik, en hy begin nou werklikheid word. Maar die nuwe woord is UNTAG - United Nations Transition Assistance Group. Dis die ouens wat kamstig die vredevolle verkiesings kom monitor het. Wat hulle eintlik kom doen het, was om seker te maak die terroriste wen die verkiesing.

UNTAG het bestaan uit 4650 troepe van allerhande lande regoor die wêreld. Die ouens wat by 102 Bn kom intrek het, was van Maleisië af. Hulle het army uniforms gedra, met blou UN tulbande op hulle koppe. Hulle het met hulle UN stickers op hulle karretjies rondgery, en het nie die vaagste idee gehad van wat oorlog is, en hoe 'n kontak situasie lyk nie.

Die klomp was almal moslems, en het aangedring op 'n "prayer room" in die offisierskwartiere.

In die begin het ons mekaar maar uitgekyk. Ons het hulle nie vertrou nie, en hulle het ons nie vertrou nie. Soos die tyd aanloop, het ons begin kuier met die klomp, tot ons later in die aande poker games met hulle gehad het. Ons het later geleer dat 'n paar Afrikaanse woorde eintlik uit Maleisië kom, soos "piesang". Hulle noem hom net so - piesang. Kan jy glo.

Die helde se wit perde
Hier staan ek saam met die Maleisiese kaptein - ewe met sy blou hoedjie. Ons het almal erg probeer om 'n blou hoedjie te bribe uit een van hulle uit, maar hulle was onder streng orders om nie die goed vir ons te gee nie.

Die UNTAG karre het almal 'n wit UNTAG nommerplaat gehad. Die goed was soos selfone in Afrika - almal wou een he, en almal het probeer om ene te steel. Die manne het erg deurgeloop onder nommerplaat-diefstal. Daar is nog een of twee kroeë in Nambobbejania wat nog van die goed
teen hulle mure het.

Die onttrekking van die weermag het al hoe meer 'n realiteit begin word. Ons het almal geweet ons gaan een van die dae huis toe.

Eendag sal ek verder skryf oor die 1 April inval, en my finale dae in die ou army.


Lees verder

No comments: