Daar is sekere goed wat meeste ouens altyd laat terugdink aan die Army. Een van hulle is die reuk van diesel vroeg in die oggend.
Maar daar is ander goed wat ook elke nou en dan opspring, en my heeltemal uitboul. Dit verbaas my hoe sekere goed my vandag nog dadelik kan terugvat na die loopgrawe van Oshiri Kari, of die lui-lekker dae op die grens.
Ek staan vandag voor 'n printer. Die papier wat daar uitspoeg, ruik net soos die papier wat uit 'n warm fotostaat masjien uitklim. En skielik staan ek in Opuwo, meer as 20 jaar gelede.
Die kommandant se vrou het skoolgegee daar in Opuwo. Een oggend tree die Kommandant my aan - hy het 'n spesiale sending vir my. Hoogs geheim, hy het 'n offisier nodig om hierdie belangrike job te doen.
Mev Kommandant het skoolboeke wat ge-fotostateer moet word. Honderde bladsye. En ek is net die man om die job uit te voer.
Oë links, rig op die regterflank - daar gaat jy.
Ek staan voor hierdie fancy wit masjien in die kantoor. Dis die eerste keer in my lewe dat ek 'n fotostaat masjien raakloop. Daai dae het ons in die skole nog afrolmasjiene gehad, en die laaste wat ek gesien het, was toe ou Hendrik daar by my ma se skool die afrol masjien ge-operate het. Hy het daai blou wasvelle mooi opgestel, en die slingertjies gedraai en honderde vraestelle en omsendbriewe afgerol.
Om die waarheid te sê, ons het self 'n afrolmasjien gehad daar op die grens. Ek het ewe nogal op wasvelle getik met 'n tikmasjien. Na omtrent tien pogings was die wasvelle reg vir grootmaat produksie. Man, dit voel soos honderd jaar terug as ek dink aan die goed wat vandag al heel vergete is.
Deesdae moet ons almal mos self tik. In die ou dae het hulle tik-poele gehad by die werk, waar die anties met die lang naels en hoë hakke gesit en tik het. Nou tik almal self.
Om terug te kom na my storie: ek staan voor hierdie wit masjien met die mooi knoppe. Man, ek voel sommer baie belangrik, want nie sommer enige hierjy word vertrou met die fancy moderne masjien nie. Ek beloer al die knoppies, lees ewe die operation manual. Ek sien die ding is baie slim - hy kan selfs goeters kleiner maak en groter maak, en dwars en oor en weer en alles wat jy aan kan dink.
Ek staan voor daai masjien vir twee volle dae lank. Die eerste uur was groot pret, maar daarna was dit vinnig besig om een van die mees traumatiese ervarings van my tyd op die grens te word.
Bladsy na bladsy word gefotostateer. Hopies en hopies word aanmekaar gekram. Toe ek so halfpad deur al die fotostaat-werk is, toe storm die majoor daar in die kantoortjie in. Hierdie majoor was niemand se speelmaat nie - hy was een van daai gevreesde karakters waaroor grootoog stories vertel word langs die vuur. Jy weet mos, daai tipe manne het terrs met kaal hande vrek gemaak en op sulke hope gepak en aan die brand gesteek sodat die tjoppers hom in die nag kan sien daar doer diep-binne-in Angola. En dan het hy elkeen se kleintoontjie afgesny en die bene in 'n kraaltjie geryg wat om sy stewige middel hang onder sy klere. Jy kry die prentjie ne?
Die majoor was ons offisiere se baas. Of "supervisor", sal ons mos vandag sê. Ons het nie met hom gesukkel nie, en as hy iets sê of vra; dan sê ons net baie vinnig "ja, Majoor". Tussen hom en die RSM het hulle die basis in 'n wurggreep gehad wat enige Nazi konsentrasiekamp-fürher sou bang maak.
Majoor kom in met donderweer in sy oë. "Wat maak jy!!???", wil hy weet. Ek verduidelik vir hom dat die Kommandant vir my gesê het om dit te doen. Hy trek daar weg met allerhande reëls en regulasies oor die skool wat sy eie fotostate moet maak, en die army is nie 'n charity nie, en so aan. Ek sê maar net "ja majoor, nee majoor."
Nou moet julle civvies wat hier lees mooi verstaan - die Kommandant het eintlik 'n hoër rang as hierdie perd wat homself 'n majoor noem. Maar hierdie majoor voel 'n veer - hy is eintlik die Baas hier rond. Hy het wraggies daar by die Kommandant se kantoor ingestorm en hom die Leviete voorgelees oor sy budget.
Asof die Army 'n budget gehad het? Hoeveel kos dit om 'n terr vrek te maak? Deel die totale budget deur die hoeveelheid terrs, en daar is jou budget. Skiet net meer terrs en die budget is weer gebalanseerd.
En tot vandag toe nog - elke keer as ek warm fotostaat-papier ruik, dan is dit onwillekeurig waaraan ek dink. Die Majoor wat die Kommandant aanvat oor die fotostaat-masjien, en ek wat staan met hope en hope skoolboeke, en daai reuk van warm fotostaat-papier wat in my hande en klere ingetrek het.
Lees verder
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment