Daar oppie Grens destyds het ek mos daar op Opuwo, in Kaokoland, die landsgrense bewaak. 102Bn se hoofkwartiere was in Opuwo, en dan was daar so paar buite-basisse rondom die plek.
Net na ons daar aangeland het, het ons al gehoor van hierdie interessante tannie. Haar naam was "Sue the Screw". Sy het die naam gekry omdat sy so mooi jonk en pragtag was, en gereeld kerk toe gegaan het en met 'n stel tools gewerk het. (Glo jy dit?!)
Ons almal weet hoekom sy daai naam gehad het - sy het gespyker vir Volk en Vaderland - die troepe se moraal is hoog gehou daar in die Bos. Menige manne het met groot lof kom getuig van hoe sy moraal opgebou is, en hoe hy daarna uitsien om weer bietjie moraal te gaan opbou in Sue se slaapkamer.
Tot vandag toe weet ek nie wat haar van was nie. Sy was vreeslik wild, en ek het weggehol soos 'n skaap van 'n wolf af. Ook maar goed, want teen daai tyd het sekere virusse al in die wêreld begin rondloop, en ek sal nie verbaas wees as haar algemene immuniteit teen verkoues en dinge later jare 'n bietjie verswak het nie. As jy weet wat ek bedoel.
In elk geval, ek score eendag 'n lift huis toe met die Dek. Dis nou die Dekota - daai ding wat al in die Tweede wêreld oorlog begin vlieg het, en wat al wat 'n Fokker is verbygesteek het in diensjare. Van die goed het iets soos 50 jaar oud geword. In elk geval, die ding vlieg elke week Windhoek toe vir die "rum-run". Waar daai term vandaan gekom het weet ek ook nie lekker nie, maar dis wat hulle dit genoem het.
Ek is toe die dag op die Dek, en wie klim saam met my in? Einste Sue. Ek verstik amper in my eie asem so skrik ek. Sy sit hier skuins langes my. Die ding het nie seats gehad soos 'n gewone vliegtuig nie - hy het sulke lang banke gehad teen die ruite, in die lengte af.
Soos almal nou al weet, het ons in die operasionele gebied mos net boomtop-hoogte gevlieg. Die rede daarvoor was om die radar te vermy - jy vlieg onder die radar. En daai Dek hop soos 'n plaasbakkie op 'n slegte grondpad - sy agterent maak sulke draaie, en hy spring op en af soos 'n wilde boklam. Dis te lekker - ek geniet die vliegery.
Sien, my familie was nou nie eintlik die tipe wat "frequent flyer miles" opgebou het nie. Die eerste keer in my lewe wat ek gevlieg het, was in die Army, en elke keer was dit vir my net te wonderlik.
Ek sit en skud lekker hier in die Dek, toe hoor ek 'n lawaai hier langs my. Dis ons geliefde meisie van Kaokoland - sy klink nie lekker nie. Sy vloek kliphard, en prewel iets van "I want to die", of so iets.
Ek begin wonder nou oor die ding, want ou Sue is mos al 'n ou ervare vlug-passasier - sy ken al die pilots (nogal redelik intiem), en kan enige vlug organise soos sy lus kry. Sy moet mos nou al gewoond wees aan die vlieëry? Sy het so bietjie van 'n klankie op haar - het gisteraand lekker gekuier, en die hangover sit nog stewig op haar wenkbroue uitgegriffel.
Ek sien hier kom moeilikheid - ek skuif bietjie verder weg van Sue af.
Dit was 'n goeie besluit. Sue het kort daarna 'n sakkie gegryp en die "technicolour yawn" op hom uitge-oefen. Dit was 'n baie traumatiese ervaring vir ons almal. Daar is niks so aaklig soos daai kotsreuk wat hang in 'n vliegtuig wat soos 'n hanswors rondspring nie.
Toe ons uiteindelik in Windhoek land, en ons klim af, toe ruik sy nog so lekker na herkoude alkohol en breakfast.
Die episode was genoeg om my te dissiplineer om nooit die versoeking van die "morele ondersteuning " in Sue se kamer te gaan soek nie. Nie dat sy dit sou agterkom nie - daar was genoeg besoekers om haar besig te hou.
Ek wonder wat sy met haarself aangevang het toe die Weermag onttrek het? Sy moes haar seker dood verveel het?
Lees verder
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment