Showing posts with label 1988. Show all posts
Showing posts with label 1988. Show all posts

Friday, April 30, 2010

Osona Deel 8 - ‘n man dra ‘n rang

Die einde van die jaar het aangebreek, en ons was op die punt om rang te kry. 'n Paar ouens het so deur die jaar uitgeval, want hulle het ge-awol of toetse gepluk, en hulle was uit. Ek onthou een baster-outjie, ons almal het gedink hy gaan offisier word, hy was 'n skerp outjie. Een aand oor 'n naweek, toe raak hy gesuip en pluk 'n mes uit. En daar gaat hy - af van die kursus af na 9 maande se hel. Onderkorporaal is die verste wat hy gekom het. Mens sou dink die skills met die mes sou kon gebruik word daar oppie Grens, maar nou ja, 'n offisier is mos nie 'n hooligan nie.
Daar was so 'n klomp ou perde saam met ons – ouens wat eers gaan swot het en toe army gedoen het. Hulle was baie wys, en het altyd antwoorde vir alles gehad. Die een ou het so glas oog gehad. James Tromp, dink ek was sy naam. Ek het altyd met hom moeilkheid gesoek, dan begin jaag hy my daar oor die paradegrond. Hy skop-skop en klap so aanmekaar na my toe – kon my nooit kry nie. Ek het altyd grappies gemaak en getorring aan ouens tot hy kwaad raak. Hy kon vloek soos 'n matroos nie kan nie.
Eendag het die ou manne weer gekla en gemoan oor hoe ons behandel word. Die klagtes kom toe by Kaptein Enslin uit. Hy roep toe almal bymekaar. Hy sê vandag is 'n ope dag – jy kan kla en moan, sê wat pla jou. Dis tyd dat dinge hier regkom, want hy't gehoor ons is ongelukkig. Die troepe is maar stil – dit klink te goed om waar te wees. Hy moedig ons aan - julle moet praat, dis nou julle kans om hierdie bose dinge onder ons aandag te bring. Hierdie weermag sorg mos mooi vir sy troepe.
So stadig-aan praat iemand hier oor kos, en oor passe wat te min is en korveetake wat te veel is, en so tel die manne spoed op. Die Kaptein vat notes in so boekie. Die manne raak al hoe meer vrymoedig en pak uit, veral hierdie ou manne wat al grade het, en alles weet. Die Kaptein is baie bemoedigend - luister na alles, vat notes. Aan die einde van die sessie, toe sê Kaptein dis nou sy beurt om net ietsie te sê.
Hy begin daar, vat daai notes, dan haal hy een-vir-een aan, dan sê hy: "Onderkoporaal Koekemoer, jy sê so-en-so…"; en dan skreeu hy "maar ek sê nou vir jou so-en-so.." Hy skel ons daar uit oor hoe sleg ons is. Al die ouens wat gepraat het, moet voor kom aantree. Ons moet kyk wies hulle. En as ons klaar gekyk het, kry vir jou deel van die Bosbus – daar gaat jy. Dis net stof en hare, hulle neuk ons van 'n kant af op. Die grootbekke doen nie saam nie – hulle moet kyk hoe ons opgeneuk word, en dan moet hulle maar hulle man staan later in die bungalow as die res klaar is met die Bosbus.
So was dit in die army…
Daar was een aand wat ons een of ander party gehou het in besoekerspark. Die manne kuier hard, en raak al hoe dronker. Een ou is so dronk, die manne piepie in 'n leeg-gedrinkte bierbottel, en maak hom heel vol. Hy drink daai hele bottel warm piepie uit sonder om dit agter te kom. Ek het dit met my eie oë gesien, anders sou ek ook nie die storie geglo het nie.
Hier staan ek in Besoekerspark op 'n Sondag toe die familie kom kuier het:
scan0051
Jy sal sien dat ek 'n rang op my arm dra. Ek was teen hierdie tyd nou al 'n onderkoporaal gewees. Die SWAGM se range het anders as die SAW sin gelyk. Ons het reguit strepe gehad in plaas van V's, en ons offisiere het diamante gedra in plaas van kasteeltjies en sterretjies.
qscan0038
Ons het nooit KO's geword nie – was almal onderkorporaal tot die laaste week voor rangparade. (Kandidaat-offisier, vir die oningeligtes) Die aand voor die tyd het ons sulke wit plastiek crap op ons skouers gedruk om soos KO's te lyk.
Ek het dit toe darem gemaak – al die harde werk was die moeite werd, want ek gaan offisier word, en as ek eendag kampe moet doen gaan niemand my rondneuk nie.
My pa was mos 'n PF gewees. Hy was die leier van die Gebiedsmag orkes, 'n Sammajoor nogal. Sy orkes het bestaan uit swart lede, meestal Kapriviane. Hy het daai rou inboorlinge geleer musieknote lees en instrumente speel. Hulle het altyd die hele land vol gegaan, oral waar daar 'n groot parade is moet die orkes speel.
SWA Gebiedsmag orkes
Ek onthou ook ons kon altyd verniet na die Windhoek skou toe gaan, want my pa se orkes het daar gespeel. Die weermag het die hele skou heeltemal oorheers daai dae. As jy inkom by die voorkant, het daar altyd Buffels en Caspirs en goeters gestaan vir die publiek om te kom kyk.
Op die sportveld het die weermag altyd sulke shows gehou. Dan is daar 'n terr, hy skiet lekker met 'n AK, en dan kom die weermag se honde en vreet hom op. Hulle het sulke skyn-aanvalle gedoen ook, die publiek het dit baie geniet. Hulle skiet rook en goeters, en dan land die parabats op die veld en skiet die snot en hare uit so vuil klomp terrs uit. Daai terrs hardloop later weg, en almal lag te lekker vir die dom goed. Die spesmagte kom met hulle perde en motorfietse en doen tricks, en dan kom snuffel die honde die plofstof hier tussen die gehoor uit.
image
Die orkes was dan ook altyd daar, en die trompoppies. Voor het 'n Kapriviaan geloop, wat daai stok so in die rondte laat draai het. Hy gooi die ding in die lug en vang hom en doen tricks. Dis nou alles terwyl daar gemarsjeer word op maat van die orkes se musiek. Daai Suidweslied weergalm daar deur die skougronde. Hulle het op 'n stadium die "Clap-Clap Song" gespeel, tot my pa se ontsteltenis. Die mense wou die song hoor, maar hy dink nie dis goeie musiek nie.
My pa het altyd reg agter die ou met die stok gemarsjeer – die res van de orkes in drie geledere agter hom. Die ou wys mos met die stok links of regs, of hy gooi die ding so swierlik rond in die lug. Eendag toe laat val die man daai stok uit sy hand uit. Hy buk om dit op te tel, so in die marsjeer in. My pa skop hom reg onder sy agterent, hy gee so lekker sprong vorentoe, gryp sy stok, en almal is weer in gelid. Hy het lekker gelag oor die storie na die tyd.
Omdat ons rangparade 'n groot okkasie was, is die weermag orkes toe ook daar. Die eerste keer, vandat ek army toe is, dat ek en my pa saam parade doen. Aan die einde van die parade kan jy jou nuwe rang uit jou sak uit haal, en hom op jou skouer sit. My pa het na my toe gekom, eers een kant opgesit en my 'n halwe saluut gegee. Toe sit hy die ander kant op, kom weer op aandag en gee my 'n vol saluut, met al sy medaljes wat so blink in die son. Hy het klomp medaljes van die Tweede Wêreldoorlog gehad, al my pelle op skool was altyd beindruk as hy met vol uniform iewers opgedaag het. Dit was 'n groot dag in my lewe – iets wat ek nooit sal vergeet nie.
My Pa salueer my weer 'n keer - by die huis, spesiaal vir die kamera.Ou Phillip Hite en ek het nou skielik dieselfde rang gehad, en toe ek daar wegstap kom groet hy my met die hand. Ek noem hom nou sommer Flippie. Kan jy nou meer.
Ek het teen hierdie tyd reeds geweet ek is oppad na 'n plek met die naam van Opuwo -102Battaljon. Daar in Kaokoland, in die westelike gedeelte van die operasionele area.
Daar was so tydjie voor dit 'n paneel vol brigadiers en generaals wat ons elkeen ge-interview het. Hulle vra jou allerhande vrae oor wie jy is, waantoe jy wil gaan, en wie is Sam Nujoma. Ek is reg om vir Sam te gaan blaas – ek wil grens toe gaan. Ek vra om grens toe te gaan – hulle sê dis reg.
Teen hierdie tyd was ons almal so trigger-happy, ons kan nie wag om terrs te gaan neervel by die honderde nie. Die army het ons goed grootgemaak.
Op 19-jarige ouderdom is ek 'n offisier in een van die berugste weermagte in die wereld...

Lees verder

Sunday, April 25, 2010

Osona Deel 7 - Tentdorp en Walvisbaai


Die tentdorp en Walvisbaai

Ons is gereeld geskuif van een peleton na 'n ander - amper soos Oom Sam se kabinetskommelings elke tweede maand. Dan skuif jy sommer in 'n ander bungalow ook in. Hier op 'n stadium beland ek toe in die Tentdorp.

Tentdorp is wild, jong. Hier is jy afgesny van die res. Jy moet bungalow toe loop met al jou goedjies om te gaan stort en stryk en al daai dinge – amper soos by 'n karavaanpark. Inspeksietyd dan mag daar nie 'n stoffie in daai tent wees nie, en die sandsakke moet ge-square wees.

Die voordeel van die Tentdorp was dat die korporaals te lui was om soontoe te loop. Ons het 'n hele paar inspeksies en bosbusse uitgemis, want die korporaal stap baie by die bungalow in en dans hy in 'n sleg mood , en dan tjop daai manne af. Maar hy vergeet van ons.

Daar was eintlik 'n lekker atmosfeer hier in Tentdorp. Behalwe dat dit vrek koud was. Saam met my was twee perde wat heeldag na Ge Korsten se musiek geluister het. Daai tape het heeltyd gespeel. Hulle was my ouderdom, maar praat heeltyd van hulle vrouens. Ek kom later agter hulle praat eintlik van die girlfriends. Hulle twee kom al van laerskool af saam en is soos twee pasgetroudes - altyd bymekaar, vertel stories en lag vir hulle eie grappies. Niemand is deel van hulle kliek nie. Hulle was altyd vriendelik, maar tog baie weird. (Watter normale 18-jarige troep luister na Ge Korsten?)

Saam met ons was 'n swart ou, Tiekie. Sy regte naam was Tuupukwere, maar niemand kon dit uitspreek nie. Hy was 'n ou grensvegter, maar het eendag 'n kolonel geslaan wat hom gevloek het. Toe verloor hy sy rang en hy moet terugkom vir JL's om rang te kry. Van julle is seker verbaas oor die swart ou in ons tent, ne? Sien, hier in Suidwes was integrasie al lankal deel van die lewe, dit was nie iets wat Oom Sam begin het na onafhanklikheid nie. Ons het dieselfde badkamers en toilette gedeel, alles. Al verskil was dat die blankes die meerderheid was in sulke situasies.

Ou Tiekie het in die aande Bos-stories vertel daar in die tent – oor sy ervaringe op die grens met die terrs. Ek dink daars min Boere wat so baie terrs doodgemaak het soos hierdie VHD manne. (Vrywillige Hulpdiens Korps) Hulle was rof en onbeskof, en het nie genade vir 'n SWAPO gehad nie.

Terwyl die bungalow-manne vloere polish en opstaan vir die korporaal, het ons lekker in die aande na Tiekie se stories gesit en luister. As ek reg onthou, het hy later daar by die Blou Bollie gewerk - my skoonsussie het my eendag vertel; hy onthou my nog.

Daar was verskeie fases van die opleiding. Ek kan nie alles onthou nie. Ek weet net ons het baie klasgedraf, en toetse geskryf. Hierdie Army was nie net 'n klomp maniakke wat met vuis in die lug en AK47 oor die skouer die wêreld warmgemaak het nie – ons was well-educated gentlemen gewees. Soort van.

Op 'n stadium doen ons PelBev fase. Dit staan vir "Peleton Bevelvoerder" Fase. Jy moet leer hoe om 'n hele peleton in die veld te hanteer, nie net een seksie meer nie. Hulle laai ons in Kwêvoëls en Samils en ry ons see toe. Ek belowe: vakansie by die see, op die Army se rekening, verblyf en etes ingesluit.

Kwêvoël

Ons het lekker see toe gegaan in die Army – daar by Walvisbaai in die woestyn. Ons het deur Karibib en Usakos gery, by Swakop ingekom, daai pad langs die see af gevat Rooikop toe. Al wat ons van die see gesien het, was dit wat ons uit die Kwêvoël se agterkant kon sien. Verder het ons net in die woestyn gekuier. Nie dat enige van ons daai tyd van die jaar 'n begeerte gehad het om die koue Benguela seestroom aan te durf nie – dis die middel van die winter.

Ek het na daai duine gekyk langs die pad, en ge-onthou hoe een donkerkop suidwes-meisiekind my hart gebreek het hier op die duine, net nou-die-dag in Desember.

Dit was vrek koud. Ons moet ons ingrawe in die sand, en daar slaap met 'n slaapsak en 'n "space blanket" om my warm te hou. Die "space blanket" was nie 'n army issue nie, my ma-hulle het die ding vir my gekoop op 'n stadium. Jy sweet later jouself sopnat onder daai stuk tin-foil - ongelooflik.

Die space blanket was 'n stuk tin-foil wat jou warm gehou het. Dit klink baie hi-tech, maar dis eintlik maar al wat dit is. Die spesifieke ene wat ek gehad het, was baie dun, en jy moes mooi werk om te keer dat hy nie skeur nie. Die ding het baie soos hierdie ene gelyk:

Ons het baie lekker ge-eet hierso. Ons staan in so lang ry daar in die duine, en as jy uiteindelik voor kom, dan is daar vir jou 'n halwe brood en so groot pot koue koffie. Elke dag, vir twee weke lank. Niks om op die brood te smeer nie. Partykeer is daar koue sop, net vir die afwisselling. Toe ons aan die einde van die opleiding terug ry Windhoek toe, toe ontdek ons dat die kombuis-Samil al die tyd gepak was met die lekkerste konfyt, stroop en allerhande lekker dinge. Ons het niks daarvan gesien tydens daai twee weke nie. Seker maar die offisiere sin gewees…

Ons moet in hierdie Namib se woestynsand peleton-aanvalle doen. Die luitenant en korporaal staan hier op die duin en beloer alles. Daar is nerens waar jy kan gippo nie – geen bossie naby vir myle nie. Alles in die ope, elke fout word raakgesien. Ons moet hardloop in daai sand met full kit terwyl ons 'n "mock" aanval doen. Daai dash-down-crawl-observe-sights-fire drill wat baie ouens jou seker al van vertel het. Jy hardloop in die dik sand, en moet neervoeter asof jou lewe daarvan afhang. Daar het ek gesien hoe spring Luitenant Phillip Hite met sy hele gewig bo-op 'n ou se rug met sy boots, omdat die ou nie vinnig genoeg neerval nie. Ek noem sommer sy naam vir almal om te lees, want hy was 'n mislike blikskottel. Hy was vir 'n lang tyd my luitenant.

Hy laat my dink aan "Lieutenant Dan" wat in Forest Gump speel. Selfde arrogante houding gehad, sigaret altyd so skeef in sy bek gehad, altyd sarkasites. En hyt ons gemoor.

Ons het 'n nagaanval gedoen saam met die artillerie en pantser ouens. Dit was 'n fees vir die oog. Jy het iets soos een-en-'n-half minute gehad om al jou ammunisie uit te skiet voordat die flares uit is. As hulle nog ammunisie op jou kry na die tyd, is dit nag vir jou. Ek het die snotneus beman. Dit was lekker om so saam met die groot kanonne 'n aanval te doen. Alles is verlig – daai woestyn lyk soos 'n Krismisboom.

Ons is na twee weke weer terug Osona toe.

Lees verder

Wednesday, April 21, 2010

Osona Deel 6 - JL's en Peleton wapens



JL’s:

Ons is klaar met Basiese opleiding. Dis nou tyd vir JL’s (Junior Leiers), en ek is deel van die elite. Dis nou die manne wat vir die res van die jaar ook nog gaan rondhol soos afkop hoenners hier op Osona. Baie ouens waai Suid-Afrika toe – Pantser, Geniekorps, Artillerie - party probeer parabats word. Ek bly maar hier en doen die Infanterie-ding.

Ons leer oor die doel van die infanteriste: Infanterie is die enigste eenheid van die weermag wat besette grondgebied kan behou. Dit word in ons ingedril van dag een af. Lyk nie asof dit gehelp het nie – die grondgebied is later deur die Big Boys met die suits net so weggegee, en die Infanterie het lock, stock en barrel daar padgegee en teruggeneuk deur Oshivelo hek. Mooi man. Eintlik is ‘n infanteris net canon-fodder en cheap labour, maar dit seg hulle nooit vir ons nie.

Woensdae was sportparade. Die "sportmanne" gaan Windhoek toe. Ek was nie so wonderlike sportman nie, en kwalifiseer nie vir aksie daar buite nie. Die hele middag is die sportiewe manne weg, en die res van ons doen korveetake. So met die tyd dan verdwyn party siele net; almal kry ‘n bos daar by besoekerspark waar hy bietjie sluimer. Ek sorg dat my “timing” reg is – hier teen die tyd wat die korporaal op diens weer ernstig raak, dan is ek daar besig met korveetake saam met die laaste 10 ouens wat oor is. Die Korporaal soek daai ander ouens – hulle Bosbus lekker verder terwyl ons kan gaan rus in die bungalow.

Later kom hier ‘n ding in – ons moet Samilwagte hê, die Samil kan nie so onbewaak al die pad Windhoek toe ry nie. Dis mos baie gevaarlik hier op die pad tussen Windhoek en Okahandja, terrs agter elke bos. Man, dis nou die ding daai –as jy Samilwag is dan klim jy saam met die sportmanne op, en daar in Windhoek hang jy by die huis rond tot dit tyd is om terug te kom. Te lekker. Jy sleep 'n geweer saam , maar jy het nie eens ammunisie nie.

Op ‘n stadium moes ons Woensdae deurry na die Suidwes stadion toe – ons sny die gras met sulke masjiene wat hom in sooie uithaal, en laai daai rolle gras op die Samil’s. Dan plant ons dit anderkant vir ons nuwe rugby-veld by 1 SWAMIL skool. Ek reël met my pa – hy kom haal my, dan eet en stort ek lekker by die huis terwyl die manne gras werk. My pa was ‘n Sammajoor, sien. Hy sê net vir daai korporaal hy soek daai ou, en almal is happy.

Peleton wapens fase:

Ons loop klasse daar onder die bome. Luitenant veskyn ‘n slag op die scene – hy moet nou en dan klasse aanbied. Ons leer al die teorie van kaartlees, seksie-aanvalle en wapens. Seksie-aanvalle is nou niks met “sexy” te doen nie – ‘n seksie is ‘n groep van 10 troepe. Drie seksies maak ‘n peleton.

Ons skiet met alles wat snellers het. R4, AK47, RPG7, geweer-granate, snotneus (my persoonlike gunsteling. Hier by jou klink hy soos ‘n windbuks, maar daar waar daai snotneus val, daar maak hy ‘n helse BOOM)




Ek sal nooit daai RPG7 vergeet nie. Daai ding raas verskriklik. Elke troep kry kans om met een te laat waai. Hulle het hope vol van die goed wat by dooie terrs afgevat is. Ons skiet daai hope daar op die skietbaan uit. Een perd skiet na die skietwal toe. Daai ding het mos ‘n punt wat vuurwarm koper laat smelt, en dan brand hy fisies ‘n gat deur die metaalwand van die voertuig wat hy penetreer. Hy maak ‘n dun slurpie wat daar deurwurg deur daai gat – daar binne is dit net snot en hare as hy deur die staalwand gaan. Totale verwoesting.

Although most Westerners call rocket-propelled grenades "RPGs," the abbreviation actually comes from the Russian phrase for "hand-held anti-tank grenade-launcher": Ruchnoi Protivotankovye Granatamyot.

Wat vir my altyd interresant was van ‘n RPG-7, is dat mens verwag die ding moet jou agtertoe stamp, soos die re-coil van ‘n geweer mos maar maak. Veral omdat dit so massiewe ding is, verwag jy hy moet jou rondgooi. Maar hy doen presies die teenoorgestelde. Hy trek jou vorentoe. Nogal verrassend as jy dit nie verwag nie, jy kompenseer heel verkeerde kant toe.

Die spesifieke ene het die man daar laat lostrek op die skietwal. Hy skiet reg teen daai wal vas – so 100m voor ons, maak so rooi kolletjie wat bokspring die wêreld vol – en hy kom terug in ons rigting teen die spoed van wit lig. Almal slaan dekking, daai ding slaan hier met ‘n helse BANG voor in die staf se Landrover se rooster vas, en brand ‘n gat so groot soos 'n duif daarin. Die korporaal het net so paar treë van die ding af gestaan - hy was amper bokveld toe.

Ek het my lamgeskrik. Amper sneuwel ek hier tydens opleiding. Wat sal hulle nou aan my ma verduidelik oor wat gebeur het? Kry ek ‘n medalje “in memoriam”, of wat?

Die staf raak nou slim - hy wys vir ons die RPG7 kan jy maar vêr in die lug in skiet, jy hoef nie teen walle vas te skiet hier reg voor jou nie. Na 900m moet hy homself detoneer – die ding is so ontwerp. As jy hom dus in die lug inskiet, dan trek hy nie verder as 900m nie, dan “self-detonate” die ding - om te keer dat hy nie land op verkeerde plek nie.


As with similar weapons, the grenade protrudes from the launch tubes. It is 40-105 millimeters in diameter and weighs between 2.5 and 4.5 kilograms. It is propelled by a gunpowder booster charge at 115 meters per second, which creates a cloud of light grey-blue smoke. The rocket motor ignites after 10 meters and sustains flight out to 500 meters at a maximum velocity of 295 meters per second. The grenade is stabilized by two sets of fins that deploy in-flight: one large set on the stabilizer pipe to maintain direction and a smaller front set to induce rotation. The grenade can fly up to 1100 meters; the fuse sets the maximum range, usually 920 meters.
Dis nou die teorie. Onthou net dat dit 'n klomp Russe is wat die ding ontwerp het.

Hy trek los en mik daar in die wolke in. Daai projektiel trek te pragtag deur die lug – wil nie “self-detonate” nie. Hy land daar kilometers verder weg op die boer langsaan se grond. Die plaas slaan brand – groot marakkas, ons moet gaan brandslaan daar met ons hemde.

Dis ook iets wat ons gereeld gedoen het. Jy moet gaan brandslaan, en al tool wat jy het is jou army hemp wat die regering mos voor betaal het. Eendag het die vlamme vreeslik wild om my gestaan in daai veld, ek was amper 'n stukkie carboon footprint op my eie. (Weereens draai ek by die dood om, alhoewel daar nie 'n terr in sig was nie...)

Ons raak nou aggro - ons gooi handgranate. Eers laat val ek die simpel ding toe korporaal hom vir my aangee. Hy vervloek my vreeslik. Ek tel hom versigtig op. Trek daai pennetjie uit. Ek gooi daai pennetjie dat hy daar trek, en sit met die granaat in my hand. Kyk die ding so – tel tot by drie en gooi hom vinnig oor die muur. Korporaal dink nie dis snaaks nie en hy jaag my so paar keer teen Plesierkop uit daai dag.

(Ek lieg dalk so bietjie hieroor- maar dit kleur die storie in, man! Ek het die granaat regtig laat val, maar darem nie die pennetjie gegooi nie. Daar was egter ouens met wie dit gebeur het. Blykbaar is ‘n korporaal eendag dood toe dit gebeur en hy homself op die ding gewerp het om die ander ou te beskerm)

Ons oefen seksie-aanvalle, maar ons mag nie regte ammunisie nou al gebruik nie. Jy moet raas, jy skreeu “tatatatata”, en as jy nie genoeg skiet nie, dan is jy in die moeilikheid.

Ons skiet mortiere en leer van ladings. Sulke pakkies wat jy opsit om hom bietjie te boost. Ons steel die pakkies en maak lekker marrakas daar in die bungalow met die goed.

Daars rookgranate en traangas. Hoe leer ‘n troep wat die effek van traangas op die vyand is? Jy jaag ‘n uit-asem troep deur die traangas. Dan weet hy hoe goed dit werk. Die traangas werk goed, stem ons almal saam na die tyd.

Ons is nou op ‘n kursus – ons skryf sommer toets ook hier in die Bos. En dis nag as jy pluk. Die swaard van mislukking hang ook hier oor jou kop – as jy te vrot doen, kry jy nie rang aan die einde van die jaar nie. Almal werk hard vir daai rang, en ons weet: nie almal maak dit tot die einde van die jaar nie. Jou motivering in Basies was maar net om saam met die groep aan te ploeter – met JL’s moet jy jouself baie dissiplineer, want daai wortel hang voor jou neus.

Ons almal kry ‘n beurt om Baas vir die dag te wees. Jy dril die peleton, jy tree hulle aan vir inspeksie, alles. En alles wat foutgaan is jou skuld. Jy leer vinnig oor leierskap – dis nie net baas-speel nie, dis belangrik om jou peleton in ag te neem. Alles op die grens gaan oor goeie leierskap. Ons evalueer mekaar – daai ou gaan ‘n korporaal word, die ou lyk soos “loot” materiaal.

Elke ou hoop maar hy is nog oraait.

Lees verder

Monday, April 12, 2010

Osona Deel 5 - bosbus en Vasvyt

Dit was sulke tyd – Bosbus tyd

Ons almal hol so in 'n ry, agter die ou voor jou aan. Neuk hier in die bos in. As jy dink hiers 'n plek om te gippo, dan spring 'n ding met 'n rang hier voor jou in en jaag jou verder. Dis net stof en hare waar jy kyk. Skielik moet ons stop – tyd vir PT – push-ups, sit-ups, dra-jou-maatjie.

Dra-jou-maatjie was lekker – eks lekker klein, en as 'n groot ou langs my staan, dan sê hy dis fine, hy dra my. As ons moet maatjies omruil, dan bly dra hy my - hy worry nie, want daars geen manier wat ek hom kan dra nie en hy score, want hy dra ligter as die ander manne.

Die Bosbus gaan lank aan, jong. Dis 'n deurmekaarspul, al die troepe hol rond, al die range skreeu op almal – jou eie luitenant en korporaal is nie heeltyd by sy eie peleton se mense nie. Skielik kliek die ding by my - daars geen manier wat hulle gaan weet as ek verdwyn het nie – hulle moet my net nie vang nie, dis al.

Ek kry rigting daar in die bosse in tot ek weet eks veilig – "duck" daar en "leopard-crawl" soos 'n regte Grensvegter – weg van die aksie af. Die trick is om op die regte oomblik weer in die groep in te val.

Almal is vuil – die overall is bemors, bootse lyk asof hulle nog nooit gepolitoer was nie. Oor 'n uur is inspeksie, dan moet alles weer reg wees en blink. Dis hoe 'n bosbus gewerk het.

--------------

In die begin het ons net gedraf met bootse en overall aan. Later toe kom die webbing by, en nog later die geweer ook. Daai blerrie R4 is ongemaklik, man, jy moet hom skoon hou, maar jy moet heeldag hol met die ding. Hyt so lekker handvatseltjie waaraan jy hom kan dra, maar daars geen manier wat jy dit mag gebruik nie. Kan jy dit glo?

Ek was altyd tussen die eerste 5 ouens toe ons sonder die ekstra gewig gehardloop het, maar toe die geweer en webbing bykom, begin ek swaartrek. Eks nou deel van die agterosse.

Daai geweer is nou jou vrou. Korporaal sê die eerste dag toe ons hom kry dat jy jou geweer nooit, ooit vir iemand anders gee nie. Hy vra vir Pietie "gee gou hier daai ding laat ek julle wys" – Pietie gee die geweer, daai korporaal ontplof hoor. Hyt dan gesê moenie die dekselse ding vir iemand anders gee nie! Nie eens vir die korporaal nie!

Ons leer hoe om die ding uitmekaar te haal en toe-oë weer aanmekaar te sit. En jy mag nooit daai ding na iemand anders toe rig nie. Nooit. Behalwe as dit 'n terr is, natuurlik.

Ons moet begin wagstaan. Het mos nou gewere en alles. Jy slaap in die wagkamertjie tot dit jou beurt is. Al goeie ding van wagstaan is die feit dat jy voor die ander ouens kos kry. Maar saam met dit gaan wagparade. Wagparade is 'n komplekse klomp simpel bewegings wat iemand uitgedink het om almal mee te frustreer. Niemand kan ooit wagparade reg doen nie, en dan's dit eers weer Plesierkop.

Daar was sulke wagbeurte – die lekkerste een is tussen 02h00 en 04h00. Baie lekker, veral in die winter.

Hier aan die einde van Basiese opleiding het ons begin regmaak vir Vasbyt. Elke Saterdag oggend dan sê hulle ons moet aantree na ons met die korvee-take klaargemaak het, en dan pak jy jou hele webbing, geweer – full kit. Een maal waterbottel maak jy baie vol. Dan stap ons daar by die basis se hek uit – lekka Okahandja toe, tot by die brug. Soontoe en terug is so 25km - goeie ou bietjie oefening net om die bene te rek op 'n Saterdag oggend.

Moenie dink jy gaan wegkom met gippo tricks nie. Een van die rangdraendes en sy pelle staan en wag by die draaipunt. Hy het 'n wit kryt en merk elke ou soos hy by die draaipunt verbykom. As jy sonder daai krytmerk weer in die basis aankom, is dit nag vir jou. Jy weet nooit watter merk hulle gaan maak nie – rooi kryt, wit kryt – iets anders? Soos die eerste ouens begin terugkom, vind jy gou uit wat is die merk. As dit een van die kryte is wat jy in jou rugsak het, dan merk jy jouself en draai om. Maar wee jou as jou korporaal die dag skerp genoeg was om spesifiek vir jou te wag – hulle weet wie's die gippo-gatte.

Die staf het dit geniet om met die Garry rond te ry en troepe uit te kyk wat gippo. ('n Garry was die naam vir so kortgat army Land Rover.) Jy weet nooit wanneer hy waar gaan uitslaan nie. Hy ken al die shortcuts – elke trick in die boek. Watse soort mens moet jy wees om op 'n Saterdag-oggend met 'n kortgat landrover rond te ry op soek na troepe wat gippo? Pateties man. Van hierdie PF's het wraggies geen lewe gehad nie. Ek wonder wat het hulle gedoen toe die weermag ontbind het? Onderwysers geword?

Vasbyt breek aan. Dis die laaste ding wat ons doen voordat ons ons heel eerste pas-naweek kry. Ses weke is ons al weg van Volk en Vaderland af. 6 Weke, en eks 'n heel ander mens, my arme Mamma gaan nie die kind ken nie. Na Vasbyt is ons klaar met basies, en die gelukkiges onder ons gaan JL's doen – Junior Leier opleiding. Dis nou 'n "extension" van Basies, jy doen Basies aanmekaar vir die res van die jaar, terwyl die ander skuttters reg maak om kokke en drywers te word, of dalk grens toe te gaan. Maar as jy klaarmaak aan die einde van die jaar - dan kry jy dalk rang. Jy word 'n onder-offisier (korporaal), of 'n offisier (Luitenant), afhangende van hoe dit gaan met jou JL's.

Ons tree op 'n hoop aan vir Vasbyt. Skriflesing en gebed. Groot parade, groot speeches – laaang gebede. Jyt gebed nodig voor jy die ding aanpak. Majoor Wit Tier praat met ons. Hy was so wille ou wat ons altyd as "here" aangespreek het – vreeslik beskaafd. Hy't altyd grens-stories vertel van hoe hy saam met Boesmans terrs gesoek het en sulke goete.

Wit Tier sê vir ons hiers nou net een probleempie. Hier's ouens wat goed soos lekkertjies en soet goedjies ingepak het, en die goed is mos soos steroids – dit gee jou baie energie. Dus gaan sulke ouens 'n voorsprong bo die ander ouens hê, en dis nie regverdig nie. Pak uit al sulke onwettige items – doen dit nou, moenie dat ons jou later uitvang met die goed nie.

Daar gaan al my vitamien-lekkertjies en goete. Jy het net ratpacks en water – dis al.

Ons is in groepe opgedeel – jy moet kaartlees en rigting soek en jy't goed wat moet saamgedra word. Aan die einde van dag een weet ek nie meer watter rigting nie – ek neuk net agter die ander ouens aan. Heerlikheid, jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop en jy loop heel dag lank. En dan loop jy weer. En dan net nog so entjie. Ons kom stik donker nag daar by die eerste checkpoint aan – ons het vir die laaste vier ure in die donker bosse rondgeloop – dis donker, ons neuk in gate in en teen heinings vas – die dorings haak stukke vleis uit my lyf uit. Ons begin mekaar blameer oor die kaartlesery wat 'n gemors is.

Die ouens wat eerste daar gekom het, het al lekker vuur gemaak, gevreet, boots uitgetrek en na die skade gekyk – hulle snooze al.

So gaan dit vir drie dae aan – wat 'n gemors. Eks later so keelvol ek weet nie watter kant toe nie. Ek loop stadig – moeg man, dan kom die staf met die Landy agter my en jaag my dat ek vinniger moet loop. Mislike ou vark. So nou en dan daag 'n waterlorrie op – dan is jy te bly dat jy weer daai bottel kan vol maak.

Toe ons uiteindelik by Osona inkom, na vier dae se marteling, was ek so dankbaar ek kan my lag nie hou nie. Daar's sulke lang tafels gedek vir ons - elke ou kry een bier en een Pepsi. Ons suip ons dronk aan die goed. Ons vreet asof ons nog nooit kos gehad het nie.

My voete is beide net een groot blaas. Ek is spyt ek het nie fotos geneem daarvan nie. Tydens die stappery was daar sulke medic checkpoints. In die oggend kry jy nie jou boots aan nie, want jou voete wil weghardloop van daai ding af. Dis vrek seer. Medic kom druk so lekka naald in jou voet, in daai blase in - en spuit daai rooi mercuro-chrome goeters hier oral op jou voet. My hele voet lyk soos 'n wond toe ek by Osona aankom – altwee van hulle. Die hak is een groot half-stukkende blaas, en die bal van die voet lyk net so.

Ons gaan slaap – more oggend is daar parade, en dan gaan ons huis toe! Ek kan skaars loop - my voete is af, man. Ek hinkepink daar oor na die paradegrond toe. Ou Staaldraad is kwaad, want ons stamp nie ons voete hard genoeg as ons dril nie. Blerrie monster. Hy verdien 'n koeël tussen die ore vir daai ene. Dis hierdie klein goedjies wat my brein nie kan vergeet nie - daardie kere waar iemand net totaal onredelik was en my "rooi knoppie" gedruk het.

Daai oggend is ek saam met Willie Dreyer en nog so 'n paar ander manne in 'n kar daar weg – Windhoek toe.

Ek kom uiteindelik by die huis aan – te lekker. My oupa is daar, my ma, my pa, my broer, katte, honne – almal baie bly om my te sien. Hulle voer my kos tot ek nie meer kan loop nie. Nie dat ek regtig nog kon loop nie – my voete was gaar.

Ek het twee weke na dit nog gesukkel met my voete – wonder of die pyn wat ek deesdae in my voete het, nie dalk nog van dit af kom nie? Die goed is vir ewig opgeneuk.

Pasnaweek is van Vrydag-oggend af tot Maandag aand toe. Maandag-aand was moord. Klim in die kar saam met die famdamily – ons ry daai pad terug Osona toe. Ek bid dat die eindtye sal kom, Armageddon - die nukes van Rusland af, aardbewings – enigiets, sodat ek net nie weer Osona toe hoef te gaan nie.

My gebede word nie verhoor nie – sien, dis omdat ek vroeër mos geslaap het toe ek moes gebid het. Ek groet die familie met 'n seer hart, en stap terug bungalow toe, daar na Peleton een se hoekie vir eensames.

Ons is terug by die Malhuis.

Lees verder

Sunday, April 4, 2010

Osona Deel 4

Ons het elke aand stiltetyd gehou in die bungalow. Die beuel word geblaas. Kan nie lekker onthou hoe laat dit was nie, maar daar was 15 gewyde minute gewees, en wee jou as jy in daai tyd gevang word dat jy klere stryk of boots polish. Jy sit op jou trommel en lees jou Bybel – en bid. Die volgende oggend 4 uur word jy wakker – jy kom agter jy bid nog steeds, jou vloer is nog nie ge-polish nie, en jy moet nou nog stryk ook.

Ek was baie ernstig oor my godsdiens, en dit het my vreeslik gepla, die ding. Sien, die korporaal vloek jou in jou “ma se donkie se blou-bloed agterend” in, en dan moet jy “f*kken stiltetyd” gaan hou. Of Sondae moet jy aantree vir die “f*kken kappelaan”. En ons bid elke dag op daai paradegrond. Net na die gebed begin die vloekery weer.

Hierdie was vir my ‘n lelike ding – ons het gekom om die antichris te beveg, maar ek voel al hoe meer dis die antichris wat my so rondneuk elke dag. Hulle bid, en as hulle “amen” sê dan hoor jy die Here se naam in ‘n ander vorm as wat hy nou net gebruik is – nie heeltemal so (skyn)heilig soos Hy nou-net aangespreek is nie.
Dit raak al hoe moeiliker vir my in die aande om te bid. Ek is moeg, man – as ek my oë toemaak, dan slaap ek. Ouens wat op skool CSV-kringleiers was, is so wild soos ‘n bosvark hierso – hulle suip, hulle vloek, hulle vertel vuil grappe en buite-egtelike stories. Ek begin twyfel oor my saligheid.

Daar was ‘n ou in my peleton – hy was eers ‘n brandweerman voor hy army toe gekom het. Ouens wat direk na skool wou brandweer toe gaan, het uitstel gekry van diensplig, en hoef toe eers jare later in te klaar. Maar een of ander tyd kom jou beurt, en 7 jaar na skool toe is dit Brandweerman se beurt. Hy’s al getroud, baie lief vir sy vrou, nie lus vir hierdie jong mannetjies wat hom rondneuk nie. Hy was ’n tawwe ou, maar weet jy, daar was aande wat daai man snot en trane gehuil het daar langs my in die bungalow. Hy verlang sy vrou. Hy wil nie rondhardloop in ‘n overall heeldag nie. Hy is ‘n grootmens, hyt al ‘n salaris verdien, en het ‘n huis en ‘n kar gehad.

Die ironiese hartseer deel van die storie is dat hy later sy vrou geskei het na hy uit die army uitgeklaar het. Dinge was net nooit weer dieselfde tussen hulle nie.

Eendag kom daar so lelike mannetjie aan op die paradeveld – ons sien hier is moeilikheid, selfs die korporaals en die luitenante hol as hierdie ou nader staan – hulle is vrek bang man. Hy het so rooi web-belt aan en ‘n sammajoor rang op sy arm. Maar nie sommer net ‘n sammajoor soos ou Staaldraad nie. Hierdie ou is die RSM. Regiment sersant-majoor.

Man, ek sê jou, vergeet van brigadiers en generaals, daai ouens is sissies. Hierdie ou is die Baas van die army. Ons almal behoort aan hom, en hy regeer. Hy spring op daai luitenant tydens die parade – hy het nie ‘n mooi omkeer gemaak nie – hy jaag sommer daai luitenant daar teen die koppe uit. Korporaal sweet hier voor ons – hierdie troepe beter hulle kant bring vandag.

So nou en dan verskyn daai monster uit die bloute op die basis – dan is almal bang en die korporaals belowe: ons is dood as daar ‘n vinger na sy peleton gewys kan word vandag.

Die rumours van die Bosbus-ding begin al hoe meer rondloop. Dis ‘n nare ding, so ‘n Bosbus.

Een dag toe is dit sulke tyd, sien. Bosbus tyd. Al wat ‘n rang is, is die hele wêreld vol. Die hele kompanie word aangetree.

Kommandant en Kaptein moan en kla; die troepe is nie netjies nie, geen ruggraat nie, hulle dril slapgat en het nie respek vir gesag nie.

Ons almal staan op parade in vrees en bewing – ons het ‘n gevoel gehad iets ernstigs is op pad, erger as wat ons tot vandag toe beleef het. Erger as enige iets wat daai SWAPO’s in ons rigting kan gooi…

Lees verder

Osona Deel 3

Basiestyd

Hier tydens daardie eerste dae op Osona was dinge nog lekker deurmekaar. Niemand weet eintlik lekker wat is waar en wie is wie nie. Ek weet wie my luitenant en my korporaal is, en ek het die staf en Sammajoor Staaldraad ontmoet.

Ons werk - staan en hark en grawe en stoot kruiwaens - ‘n mens sou dink dis ‘n landbouskool die. Ons begin so nou en dan aantree, en dan moet ons “oë links” en “makeer die pas” en in gelid staan. Ons word vinnig geleer dat ons eintlik baie gelukkig is om hier te kan wees, jy sien. So gelukkig dat ons moet begin sing as ons draf. En jy mag nêrens heen stap nie, ‘n rower mag nie stilstaan of soos ‘n slak beweeg nie, hy moet hol oral waar hy gaan. As iemand jou sien stap, dan is Plesierkop jou voorland. Later is die reël bietjie verslap – jy mag stap, maar dan dril jy met jou arm mooi reguit en jy doen die links-regs ding; niks gelopery soos ‘n siwwie nie.

Ons sing die Suidwes-lied tot dit by ons ore uitkom. “Hard wie kameldornholz ist unsern land…”, so draf-draf, heel dag lank. Ek kry sommer trane in die oge as ek daaraan dink. Hier aan die begin van 2008, met die rugby-game tussen die Bulle en die Leeus op die Suidwes stadion (Hage Gaingob soos hy vandag bekend staan), aan die einde van die wedstryd toe is daai skare so opgewerk, hulle trek daar los met die Suidweslied. Ek sing uit volle bors saam – my laaitie vra my wat se lied is dit dan nou wat ek daar sing? Hulle ken dit nie eens meer nie.

Hoe was daai ander ene: “nooit hoef jou kinders, wat trou is te vra?...” Wat happened to all that, mate? Die kinders vra, en ek het nie antwoorde nie.

Terug in die laat eighties: Heeldag lank dra jy daardie simpel weermag overall. Jy lyk soos ‘n krimineel. Boshoed, boots en overall. Met die webbelt wat so om die overall hang vir geen goeie rede nie. Dit lyk soos BA Barracus se pakkie wat hy altyd aangehad het, net sonder die goud om die nek. Daai boshoed mag jy nie verkeerdom aanhê nie. Vir die oningeligtes, daai ding het duidelik ‘n voorkant, ‘n linkerkant , ‘n regterkant en ‘n agterkant. Hy mag nie een graad in verkeerde rigting wys nie. En hoe weet jy waar is die agterkant? Daar is so naat wat afloop, hulle noem hom die “virgin”. Regtig, ek probeer nie banaal wees of iets nie, dis wat hulle hom genoem het. En wee jou as daai virgin aan die verkeerde kant sit. Dan is Plesierkop ‘n grap, dis sommer nou Nollie se roete.

Nollie was een van die stafs daar rond. Hy het so ingewikkelde roete uitgewerk, en Plesierkop was net so deeltjie van hom. Maar die fout met die roete was dat jy baie maklik kon verdwyn daar agter die koppies in die lang gras. Tot vandag toe weet ek nie regtig hoe Nollie se roete geloop het nie, ek het hom elke keer op ‘n ander manier gehardloop. Ek was te bly as ek Nollie se roete moes hardloop, dan foeter ek daar in die koppe in, en ek is weg vir ‘n uur. Daai korporaal het nie ‘n clue waar jy is nie.

Ons mag nie die boshoed nat maak as ons water drink by die kraan nie. Dis ‘n trick wat die ou manne uitgedink het – jy maak die hoed nat, en dan pass jy vinnig uit in die warm son en jy is op light duty. Jy kry ‘n waterbottel – sorg maar dat hy vol bly, jy weet nie wanneer jy weer naby ‘n kraan kom nie. Dis toe ook al waarvoor die web-belt is – om die waterbottel aan jou lyf vas te bind.

Ons begin al hoe meer fisiese oefening doen, en jy hoor aanmekaar die korporaals praat so ondermekaar oor die troepe wat begin regmaak vir ‘n “bosbus”. Jy wonder wat is die bosbus dan nou, is dit al weer ‘n storie omdat ons met busse hier aangeland het?

Ons bungalows is in twee gedeel. Een peleton die kant, ander een daai kant. So muur in die middel wat nie tot heel bo gaan nie. Jy hoor al die vloekwoorde wat die korporaal langsaan gil, en hulle hoor weer as dit ons beurt is. As iemand met ‘n rang instap in die bungalow in, dan skreeu die ou naaste aan die deur: “Staan op!”, en almal laat los wat hulle mee besig is en staan op aandag – selfs die ouens wat op die toilet sit spring op.

Die toilette was ‘n lekker wegkruipplek en rookplek vir die gippo-gatte. Dit was nie lank voor korporaal geweet het nie, en daar is ‘n nuwe reël: jy sluit nooit daai toilet se deur nie, maak nie saak waarmee jy daar binne besig is nie. Daai man stap net in en ruk die deur oop. As hy jou vang dat jy sit en skelm chocolates vreet of rook of iets ergers, dan is dit nag.

Ons leer ‘n nuwe beginsel in die lewe: as een ou aanjaag, dan is dit almal se probleem. “Maatjies werk nie saam nie, Maatjies moet mekaar uitsort”, is die gesegde.

Die peleton langsaan het ‘n monster van ‘n korporaal gehad. Elke keer as ons eie korporaal Sadie ons rondjaag, dan is ons net bly dis nie daai ou nie. Daai troepe het swaargekry, hoor. En ons hoor mos wat langsaan aangaan. Sy naam was Van Rhyneveld, of so iets. Banale blikskottel, geen morele waardes gehad nie. Daar is een troep in peleton 2 - man, die man is sleg. Hy maak die lewe vir almal mislik. Hy worry oor niks, vee sy agterent af aan alles; ‘n regte moeilikheid-maker.

Die Korporaal sê toe dis nou wraggies tyd dat die maatjies mekaar uitsort, anders is die hele peleton 2 in die DB.

Maatjies besluit hulle sort hom uit. Dis tekkieparade. Ons hoor net langsaan hier is iets aan die kom, ‘n lelike ding broei uit hier langsaan. Ons loer hier bo oor die muur en kyk die ding uit. Twee rye manne, met tekkies, boots, web-belde se staalkante, enige ding. Daai perd moet daar deur daai tonnel hardloop en hulle neuk hom dat die bloed loop. Dis die web-belt met daai staalstukkies waarmee hy geslaan word dat die bloed loop; hy word geskop, party ouens kry hom jammer en slaan hom maar met ‘n kussing.

Dis net bloed, snot en vere waar jy kyk. Hy hol, uitasem, daar by die bungalow uit, in die reën in. Toe hy in die koue reënwater kom na daai martelsessie, toe “pass” hy net daar uit op die grond.
Hulle probeer hom lawe, maar die fire buckets is mos vol sand gelaai, hulle kan nie hom nog vol sand ook gooi nie. Hulle kry hom later by, vat hom terug en pamperlang hom so bietjie.

Toe kom die groot marakkas. Die man lê klagtes teen die army - hy staan op sy regte, en hiers groot moeilikheid. Kommandant en almal hang daar rond, wil weet wat gebeur het. Niemand weet nie. Die korporaal jaag die hele spul so erg rond daai nag, dat nog ‘n paar manne nie meer kan nie. So Duitse outjie sê later “koppogghaal, ich kan nicht mehr”.

Die korporaal word later ge-“court marshall”, en hy word verban uit die plek uit en teruggestuur Suid Afrika toe.

Hulle kry toe ‘n nuwe korporaal. Space Muis. Nog erger as daai vorige blikskottel. ‘n Klein mannetjie met ‘n vreeslike attitude. Selfs erger as my attitude, as dit moontlik is…

Hierdie Basies is ‘n rowwe ding. Jy hang maar daar aan, want jy wil op JL’s gaan – wil mos ‘n “Loot” word. As jy aanjaag in basies kan jy vergeet van rang kry eendag. Party ouens worry nie, hulle wil drywers en kokke word. Ek wil ‘n “loot” word.

Ek kom agter my geld raak op. Ons het ‘n kantien waar jy mag koeldrank, bier en Bar One’s koop. Daai rye is altyd vrek lank, en hy maak toe na omtrent so een uur se woekery elke aand, na ete. Hierdie mannetjie kry ‘n blink plan. Ek “skiep” ete, sorg dat ek voor in die ry staan, en koop klomp stock op. Dan gaan ek terug bungalow toe en verkoop dit teen ‘n wins. Dis 'n wen-wen situasie - die ander troepe in die peleton hoef nie in die lang ry te staan nie, en ek maak sakgeld. Ek sponsor elke aand my koelies en Bar-one uit my wins.

Ons eerste salaris was R80, waarvan R50 afgetrek is sodat ons almal gestandardiseerde Cobra vloerpolitoer, lappe, bruin skoenpolitoer en tandepasta kan aankoop by die weermag winkel.

Oulik van die weermag om aan ons ook te dink, nê? Hulle het mos altyd vir ons gesê: “moenie rondkyk nie, kyk voor jou - die Army kyk agter jou.”

Lees verder

Saturday, April 3, 2010

Osona – Deel 2

Dit het nag geword. En dit het weer dag geword. Maar dit het eers amptelik dag geword lank na ons al wakkergemaak is. Ek het die vorige aand aan die slaap geraak nadat ons die bungalow mooi blinkgemaak het. Vanoggend is ons eerste inspeksie, sien.

Ons was voorbereid vir die ding. Ons het die plek mooi uitgevee, al die modder en gemors is weg, en alles is blink. Ons gaan hierdie korporaal vandag impress. Dis nie die gewone klomp rowers wat hierde jaar ingeklaar het nie.

Die Luitenant kom daar in, kyk so na die beddens, en hy kry so suur uitdrukking op sy gesig. Hy stap verby badkamer toe. Hy kom uit. “Die vloer is dan nie eers ge-polish nie?” Skreeu hy, “Watse soort rowers is julle?”

Ek het nog nooit voorheen in my lewe gehoor van so iets dat ‘n plein concrete vloer gepolish word nie? Dis mos nie ‘n teëlvloer nie man? Waarvan praat hy? Waar moet ek so baie polish kry? Ons almal het so standaard pakkie ingepak met bietjie vloerpolish, skoenpolitoer en so aan. Maar ek het ge-cater vir my eie behoeftes, nie vir die hele army sin nie. En jy sal nie glo hoeveel ouens het niks saamgebring nie. Dan wil hulle leen. Parasites.

Hy klim toe daar in die civvy-kamer in. Dis nou die plek waar jy jou civvy-tas moet bêre. Jy het jou groot staalkas langs jou bed, en ‘n trommel, maar moenie dink jy bêre enige persoonlike items daar in nie. Daar is regulasies vir alles – lappietjie hier in die hoek, tandeborsel daar, T-shirt op ‘n sekere manier gevou reg in die middel, onderbroek daar. Geen, maar geen, persoonlike items nie. Niks soos daar in die flieks waar die ouens “lockers” het met fotos van kaal meisies en dit nie. Nie in hierdie basis nie, my maat. Geen privaatheid.

Dis seker die ding wat my die meeste ge-irriteer het van die Army. Jy het geen identiteit oorgehad nie, geen privaatheid nie. Jy is letterlik nommer so-en-so, en jy word net op jou van uitgeroep, want jou naam beteken niks hier rond nie. Almal is Botha, van der Merwe, of so, maar geen Pieters of Kosies in die plek nie. Behalwe as jou van klink soos Krottenwusternmeyerling of iets, dan word jy sommer Duitser genoem.

Luitenant kyk deur die civvykamer. Die tasse staan dan nie eens op aandag as hy inkom nie? Sommer so ingegooi asof dit net ‘n bêreplek is. Niks is netjies bymekaar nie. Hy maak sommer van die tasse oop. Die klere in die tasse is dan nie netjies gevou nie, en daars allerhande goed wat onwettig is volgens hom?

Daai man is kwaad. Hierdie useless jongmense van vandag, hoe het hulle deur Matriek gekom? Het geen maniere of higiëne aangeleer nie. Hy besluit dis nou sulke tyd, tyd om ons oor te gee aan die genade van die groot man wat langs hom staan. Die korporaal.

Korporaal doen al die vuilwerk, sien. Hy is genadeloos. Wat die luitenant deur die res van die dag gedoen het, kon ek nooit uit-figure nie. Dis net korporaal voor en korporaal agter. Ek besef dadelik dis my misie en visie vir die weermag – ek moet ‘n luitenant word, hierdie korporaal-storie lyk soos ekstra werk.
Korporaal wys ons hoe om te stryk, hoe om ons boots te polish en – belangrikste van alles – hoe om jou bed op te maak soos ‘n beskaafde mens. Alles word net een keer gewys. En jy beter verstaan, want dis nag as hy weer hier kom en dis nie reg gedoen nie.

Daar is mos die storie van die troep wat wagstaan by die hek. Die korporaal kom daar aan en skreeu op hom, hy wil weet of die Brigadier nog nie hier aangekom het nie. Elke vyf minute kom vra hy weer of Brigadier nog nie hier deur die hek is nie. Brigadier kom later daar aan. Troepie salueer pragtag en sê vir hom: “Brigadier, jy moet oppas, daai korporaal soek jou al heel oggend lank, en hy is in ‘n slegte bui vandag!”

Daai bed word opgemaak soos jy jou dit nie kan verbeel nie – jy moes daar gewees het om dit te verstaan. Jy vou die hoekies so terug, dit maak vandag nog glad nie sin vir my nie. Ons mag nie op die grond slaap en die bed so los nie – dis teen die reëls, en blykbaar gaan die Human Rights manne ons tronk toe vat as ons op die grond slaap. Nie dat die korporaal regtig bekommerd is oor ons welvaart nie…

Ons leer baie nuwe woorde hier in die Army – nie almal is vloekwoorde nie. Een van die woorde is “korvee-take”, ek is nie seker of ek dit reg spel nie. Dis ‘n groepversamelings-woord wat gebruik word om enige vieslike taak mee te beskryf. Gras uittrek, grassny, asdrom uitgooi, kar was – as dit vuil werk is, dan is die kans goed dis deel van die korvee-take.

Ons is nog nie heel reg om te begin dril nie. Ons leer mos nou eers hier in Basiestyd hoe mens dril. Intussen wag ons vir die res van die inname, en ons “korveetake” dat die biesies bewe. Daardie paradegrond het baie onkruid en sigaretstompies, en hulle moet weg. Chicken-parade, elke klippie groter as 3mm moet verwyder word.

Daar word slote gegrou en gehark en tekere gegaan. Daar is ‘n groot rugbyveld daarbuite wat moet reggemaak word. Sulke lang waterpype wat heeltyd geskuif moet word.

Hier ontmoet ek toe ook ‘n nuwe karakter. Sy snor laat enige stafsersant bloos. Hy is so lang maergat mannetjie met ‘n hoë stemmetjie. Hulle noem hom Sammajoor Staaldraad. Seker die mislikste wese wat ek nog ooit geken het. Niemand weet wat sy regte naam is nie, hy is Samajoor Staaldraad en jy beter nie daai naam voor hom noem nie, want dan is jy vir seker op die lys van gesneuweldes.

Daar agter moet ons die Besoekerspark opgradeer. Maar daar is nie besoekers nie. Dis basiestyd, jy sien, geen civvy word naby die plek toegelaat nie.

As ‘n korporaal op jou skreeu, dan beter jy vinnig reageer. Jy sê: “Ja, korporaal!” en jy spring op aandag. Moenie salueer nie, dis net vir die ouens met die range bo-op die skouers – die offisiere. En die korporaal haat daai ouens, want hulle kan hom rond-shunt en hy moet die troepe besig hou heeldag. Daar is toe so een Duitser, hy was nie gewoond in sy huis om “ja, pa” of ”nee, ma” te sê nie, hulle is mos bietjie anders as die Boere wat dit betref. Hy verstaan nie die “Ja, korporaal!” ding so mooi nie. Korporaal roep vir Duitser en Duitser antwoord nie dadelik nie, hy sê net “jawohl” of iets. Daai korporaal is kwaad, hoor. Daai man staan die hele res van die dag op aandag op die paradegrond en skreeu oor en oor: “Jaaaaaaa, korporaal!”, tot hy heel hees is. As jy vir hom lag, dan is dit Plesierkop vir jou.

Plesierkop.

Daar is nou ‘n naam wat memories opwek. Dit was ‘n koppietjie daar agter die Plaas, jy moes by die hoofhek uitgaan, verby die wag wat vir die Brigadier wag, en dan hol jy daar in die boendoes in. Korporaal kan jou sien, moenie dink jy kan gippo onder ‘n boom nie.

Ek het daai paadjie gereeld uitgedraf, en het later besluit ek gaan tel hoeveel keer ek daar op is. Meer as honderd keer, ek belowe. Ek het merkies op my staalkas gemaak in die bungalow, soos daai ouens maak as hulle in die tronk die dae tel.

Etenstyd was ‘n nagmerrie. Ons moes aantree, en as jy nie tussen die eerste tien ouens was nie, het jy koue kos gekry. Jou bord was ‘n varkpan. Dis nou so staalplaat met duike in. Jy moet jou kos so vinnig as moontlik afwurg en dan hoop jy kry nog warm water om die varkpan mee te was. Ons het vinnig geleer dat ‘n bietjie sand altyd help om die vetterigheid van daai varkpan af te was met koue water.

image Ek het hierdie foto op die internet opgespoor. Ek het destyds nie so ver vooruit gedink om fotos van varkpanne te neem nie. Hulle was in elk geval baie streng oor kameras daardie tyd. Hierdie ou het sy varkpan op die internet verkoop vir R110, kan jy glo?

Hier is nog ‘n varkpan wat ek op ons Facebook groep opgespoor het:

varkpan2

Saam met dit kry jy ‘n blikbeker sonder ‘n handvatsel. Die blikbeker het in een van daai ronde gate ingepas. Daar was teetyd iewers in die oggend, en weer teetyd in die middag. Jy drink vuurwarm tee met daai blikbeker wat geen handvatsel het nie, en jy draai hom so vinnig met jou vingers in die rondte sodat hy nie jou hand te veel brand nie.

Die ander deel van jou eetgerei was jou pikstel. Dit was nou jou mes, vurk en lepel, en hulle al drie het so inmekaar in gedruk in sulke gleuwe in.

Die volgende oggend tydens inspeksie word jou blikbeker, jou pikstel en jou varkpan saam met hordes ander implemente mooi netjies op jou bed uitgestal. Die korperaal beloer daai varkpan vir enige tekens van vetterigheid. Die pikstel se gleuwe was ook altyd ‘n gewilde loerplek vir die korporaal.

Die army wil nie he jy moet siek word nie, vertel hy vir ons.

inspeksie2 (Hierdie is ook nie een van my fotos nie; ons het nie staaldakke gehad nie en ons het in ‘n bungalow gebly saam met 20 ander rowers, met ‘n staalkas en jou trommel wat langs jou bed gestaan het. Die foto is net om bietjie atmosfeer te skep.)

Die bed se rant moes vierkantig “square” wees, en jy het dit gedoen deur skeerroom aan die kombers te smeer en hom dan te stryk met ‘n strykyster. Daar was baie ander tricks ook, soos om ‘n tandeborsel te gebruik om die twee lyne op die bed mooi regdeur reguit te kam.

Die Army kyk na sy troepe, en dis hoekom die troepe so hard moet werk om die plek silwerskoon te hou…

Lees verder

Friday, April 2, 2010

My eerste dag in die Army

Ek het laas vertel van hoe hulle ons sielkundig opgestook het in Matriek om Army toe te gaan. Ons skryf toe later daai jaar ons Matriek eksamen, en toe is dit mos jaareinde - die Matrieks trek almal see toe en raak balhorig. Met "see" bedoel ek Henties of Swakop - dis mos maar wat Windhoekers bedoel as hulle see toe gaan.

Jy sal nie glo hoe daai manne uithaak nie. En nie net manne nie, die jong dames het net so uitgehaak. Ons jaag daar met Willie Dreyer se Landie op die strand, jaag die manne se vislyne af, trek doughnuts, breek die plek af. Hentiesbaai kry swaar onder die las van die jeug. Jong manne braak hulle longe uit, hulle is mos darem nie gewoond aan die gesuipery nie.

Ons ouens wat Army toe gaan, doen alles maar so met die ding in die agterkop. Jy weet nie of jy die plek weer gaan sien nie. Dalk voel jy ‘n AK47 se lood deur jou lyf. Die ander pelle gaan Varsity toe, hulle worry oor niks, en suip asof hulle lang lewens het wat voorlê. Die res van ons wonder hoeveel tyd ons nog oor het.

Daai datum kom al hoe nader. 11 Januarie 1988.

Ons hou Krismis met die familie by die huis, en Nuwejaar. Oupa, my nefie-hulle - omtrent die laaste keer wat ek kan onthou wat die hele familie so saam was. Sien, my ma en my tannie het so bietjie stry opgetel eendag, en van daar af het die familie net so nou en dan verjaarsdae saamgekom, maar nooit vir Krismis of Nuwejaar nie. My oupa is oorlede toe ek op Stellenbosch was. Hy was in baie opsigte eintlik ‘n pa vir my, en ek het emmers vol gehuil die dag toe hy weg is. Maar dis ‘n ander storie daai.

Daai aand van 10 Januarie 1988 gaan slaap ek vir oulaas daar in my bed by my ma se huis. Ek sukkel om te slaap, wonder wat het ek vergeet - wat moes ek ingepak het, het ek genoeg strykwerk ge-oefen voor die tyd? Een ding weet ek – more begin ‘n nuwe deel van my lewe, en ek sal nooit weer dieselfde wees nie. Ek het nie besef dat die hele wereld ook binnekort gaan verander nie.

Ons daag daar op by Suiderhof basis, en ek soek gou my pelle uit. Ons bondel so saam met ons siwwie tasse. Dis glad nie so erg nie – niemand skreeu op ons nie en die Groot Kokkedoor - dit was nou een of ander Generaal of Admiraal of Kopporaal of iets - hy lees uit die Bybel en hy sê ons is die room van die land, en ons het ‘n blink toekoms wat voorlê. En ons ouers moenie worry nie, die Army is nie meer soos in die ou dae nie, die seuntjies gaan nie seerkry nie. Ons voel almal baie happy en patrioties en hulle druk ons daar in busse in. Waai vir ma en pa en daar gaat ons.

Daai bus trek daar weg – geen troep of sammajoor of ding in sig nie. Net 'n army drywer wat daai bus looi. Dis heel oraait in die Army lyk dit my. Ouens jool daar op die bus, vreet chips en mors lekker. Daar agter in die bus sit ‘n paar baster outjies- hulle gooi so paar coke blikkies en goed daar op die bus se vloer neer.

(Voordat jy my van rassisme, fassisme, feminsime of kommunisme aankla by die stadsraad, laat ek net eers mooi verduidelik: As ek praat van 'n baster, dan bedoel ek 'n Rehoboth baster; dis hoe hierdie spesifieke groep mense genoem word in my land, en dis wat hulle hulleself noem. Loer dit daar in wickedpedia as jy moet.)

Een van die dinge wat anders was in die SWA Gebiedsmag, was dat daar nie apartheid was nie. Ons het saam met die basters en mense van ander rasse ingeklaar. Ons het saam in dieselfde bus gery, dieselfde storte en toilette gebruik, dieselfde lekker ou Army kos geëet, en dieselfde waterbottels partykeer met mekaar gedeel as dit nodig was. Dit was nie die wit army van die States nie. Ons het saam opleiding gekry, en saam geveg teen dieselfde vyand.

Die bus het ingetrek daar by Luiperdsvallei, net so 'n entjie Suid van Windhoek. Ons het rustig begin om ons siwwietasse te soek en die bus te ontruim. Dis moeilik om die volgende scene akkuraat te beskryf. Dis soos daai scenes in die oorlog-flieks, as die ouens daar by Normandy beach land. Alles is eers so stil, en skielik gaan daai klap oop en dis skielik een wille ding wat rondom jou aangaan. Of daai Vietnam scenes – spring uit die chopper, land, alles stil – en dan skielik begin die vierde wêreldoorlog hier rondom jou. Dit was amper soos daai. Net erger.

Ek het begin agterkom buite die bus is daar iets anders aan die gang as hier binne. Soos jy nader aan die bus se deur gekom het, het jy so gedruis in die agtergrond gehoor. Ek kom toe by daai trappie aan, om af te klim. Daar het ‘n staf-sersant gestaan, hy het jou uitgevreet nog voor jy grondvat. “Daar gaat jy! Soontoe”, en hy wys daar in een of ander rigting. Ek gryp daai tassie en hol. Ons moet almal aantree. Ons weet van aantree, het mos van standerd 5 af aangetree en gedril. Ek was mos darem in die Prestige peleton op my dae.

Daai staf kom toe daar aan met so groot vieslike snor. Daar was blykbaar ‘n reël in die Army – ‘n staf moet ‘n snor hê wat lyk soos ‘n koeksister. Nie soos Hitler sin nie, maar so lange wat jy kan twist dat hy sulke punte maak. Na so lekker skaapribbetjie dan streel jy hom so bietjie met die vet dat hy stywer kan staan.

Daai man gil daar obscenities wat ek in my lewe nog nie gehoor het nie. Ek dog eers iemand preek of bid, want die Here feature groot in die gesprek. Jislaaik, so het my ma my nie grootgemaak nie. Hy praat baie van god en van Jesus, maar nie op dieselfde manier as wat die dominee en die skoolhoof praat nie. Moeder Maria word ook sommer iewers met 'n hoerhuis in die storie ingeweef.

Ek dog ons fight teen die Antichris, en hier staan die Vuilgoed toe eintlik reg voor ons en gil op my met ‘n staf se rang op sy arm. "Hoe is dit moontlik?", wonder ek heeltyd. Dis wraggies die Duiwel homself wat gemanifesteer het hier voor my. "Waar’s my geweer, dan skiet ek hom sommer nou vrek?"

Daai man was upset, hoor. Ek het geluister so tussen die obscenities deur, en vind toe uit waaroor hy so kwaai was. Hy was so kwaai, mens sou dink hy kom van Kwaaizoeloe Natal af?

Dis daai bus, man. Eers het die ander ervare troepe (dis nou hierdie bangbroek onderkorporaals en oumanne wat gedink het hulle is rangdraende diere) ons vertel ons is sussies want ons kom met busse hier aan. Asof dit nou my skuld was, ek wou in die eerste plek nie hier wees nie.

Maar hierdie snorsersant is befoeterd oor daai bus, man. Iemand het blykbaar vreeslik gemors in die bus. Daar lê blikkies en gemors die hele bus vol, wie de hel dink ons is ons? Iemand brom hier onderlangs iets oor ‘n "blerrie baster" of ‘n ding. Daai oom het nie daarvan gehou dat iemand anders praat terwyl hy nog aan die woord is nie. "Wie was dit?" Die skuldige man is natuurlik nou tjoepstil. Snorsersantmajoorgeneraal jaag vir ons met siwwietasse en al dat die stof so staan.

Ons kom agter die storie gaan nie lekker wees nie. Gelukkig kom een of ander Grootkokkedoor daar aan en jaag die stafsersant om die hoek. Hy mag nie so met ons werk nie, ons is nog nie deur die mediese toetse nie, en sê nou hier val ‘n moffie om oor sy hart swak is of iets?

Daai staf is nou eers kwaad hoor. Hy wag daar by die saal se deur soos ons ingaan, dan sê hy: “Boeta, as jy G1K1 is dan k@& jy vandag. Ek wag vir jou. Net hier wag ek vir jou”. Ons is groot-ogig daar by daai saal in. Hopelik is nie een van ons G1K1 nie, wat dit ook al mag beteken...

Dit gaan egter net van bad to worse.

Jy moet uittrek tot jy net in jou onderbroek daar staan. Een van my beste pelle het so mooi suster gehad wat ouer as hy was. Sy het altyd so lekker met my gesels as ek daar by hulle huis kuier. Sy het intussen bietjie George toe gegaan en rang gekry, en sy is nou ‘n Army doedie. En raai waar sal sy wees die dag wat ek inklaar? In daai selfde saal op Luiperdsvallei waar ek in my onderbroek staan soos ‘n krygsgevangene. Ek is so embarrassed ek weet nie watter kant toe nie.

Ons sukkel daar deur, hulle voel die grootte van jou knaters, kyk in jou keel af, toets jou oë, meet jou lengte, weeg jou, alles. Die tandarts druk sy tools daar in my keel in, en verklaar dat ek een van die beter stelle tanne het wat hy vandag nog gesien het. Dankie tog. Dit was my laaste besoek aan ‘n tandarts – glo dit of nie. Ek is bang vir daai manne. Van die ander ouens is daar sommer vinnig deurgewerk as hulle gate of goed in die tanne gehad het.

Hulle toets alles, vra jou uit oor jou donker verlede, hoekom haat jy jou ma, ken jy die Volkslied uit jou kop uit. Daar iewers in die proses staan ek in die ry, en daar kry ek weer daai familiar “Haai shame, maatjie, weet jou ma jy is hier?” Ek draai om en ek sê vir daai ou “man, voertsek”. Toe ek mooi kyk, sien ek, o hel die ou het iets op sy skouers, 'n diamant of ‘n ding. Hy begin praat met my asof ons saam in die laerskool was, lekker pelle, en ek sê net: “ja, luitenant, nee luitenant, die hele tyd. Later sê een ou vir my: “daai ou is eintlik ‘n kaptein, jy weet”.

Ek begin wonder of ek die regte ding gedoen het met hierdie inklaar storie. Die dag begin nie goed nie, en daar is twee jaar minus een dag oor. Maar toemaar, ek probeer so swak en pateties lyk tydens hierdie mediese ondersoek, miskien klasifiseer hulle my as G5K5 en dan is ek vir ewig op light duty.

Daai ander deur waar jy uitgaan kom al hoe nader. Daai staf met die vuil snor wag daar buite, dan vra hy: “G1K1?” As jy sê “ja”, dan jaag en vloek hy vir jou dat die rook trek. Daai deur kom al nader, maar ek het nog die hoop in my hart dat ek sommer vandag uitgeklaar word, want ek is te swak en pieperig vir hierdie Army.

Ek kom by daai dokter, hy sê “G1K1”, en daar staan ek met my siwwietas en my papiere. Nous dit my beurt.

Die staf jaag my daar na ‘n ander saal toe. Dis waar ons kit is. Jy kom daar aan, dan kry jy boots wat te groot is, beret wat te groot is, boshoed wat te groot is, army overalls wat te groot is, en ‘n army onderbroek wat te klein is. Jy moet sommer nou al daai overall aantrek. En die boots. Daarna kry jy so lekker fris trommel met ‘n klomp gemors in. Een van die goed noem hulle ‘n varkpan – so plat stuk staal wat lyk asof hy so paar duike in het. Ek het ewe gewonder of dit ‘n nuwe wapen is wat die terrs nog nie van weet nie.

Hulle gooi ons weer daar op ‘n bus, hierdie keer gaan hy Noord. Ek wonder of ons nou sommer reguit grens toe gaan of wat. Ons ry en ry en ry tot amper in Okahandja, en daar draai ons regs by Auschwitz in. Ek sien so groot geel bord: “1 SWA Militêre Skool”. Ek wonder waar is nommer twee en drie. Kom baie vinnig agter dit maak nie saak nie.

Ons land daar – dit reën soos wat jy nie kan dink dit sal reën in hierdie dorre land nie. Dit reën katte en honde net waar jy kyk. Dis ‘n malhuis. Daar is orals kopperaals en luitenante wat op almal skree. Kyk, ek het ook flieks gekyk, en ek weet daar moet iemand op jou skree in die Army. Maar ek het nie geweet hulle almal skreeu gelyktydig op jou nie. Een sê links, die ander sê regs, nog een sê as jy roer dan is jy dood.

Ek word op een of ander manier in ‘n peleton ingedeel. Peleton 1 Alpha Kompanie. Ons kry ‘n bungalow om in te bly. Daars ‘n klomp ander ouens wat in die tentdorp moet gaan bly, daar is nie genoeg kamers by al die bungalows nie. Die hotel is vol.

Dit reën so hard jy kan nie hoor wat skreeu daai korporaal op jou nie.

Klomp ouens daar by die tentdorp, hulle is nat, vuil, vol modder, moeg, koud - die tente is ‘n goor plek man. Dis al donker en hulle weet nie wat aangaan om hulle nie. Daar kom ‘n man aan met ‘n onderbroek en ‘n army frokkie aan, en sy web-belt so om die lyf. Hy begin gil op daai manne, hulle vind sommer gou uit wat ‘n bosbus is.

Hy laat hulle met daai trommels buite in die reën hardloop, hulle “leopard crawl” deur die modderpoele, hulle makeer die pas en hol dat die biesies bewe. Twee, drie ure lank jag daai man hulle rond. Hy los hulle later, sê hulle beter gaan slaap en daai tent moet blink more oggend. Almal onthou sy gesig, daai vuilgoed vergeet jy nie vinnig nie.

Die volgende oggend tree almal aan. Hulle sien toe maar hier is dan ‘n bekende gesig wat hier saam met hulle aantree. Dis mos die knaap wat hulle so rondgeneuk het gisteraand? Hy was toe al die tyd wraggies ook ‘n rower wat op 11 Januarie 1988 ingeklaar het. Hy is later goed opgeneuk oor die storie. Ons het mos so gesegde gehad: "sort jou maatjies uit".

So eindig my eerste dag in die army. Ek is lekker moeg.

More oggend is inspeksie tyd.

Lees verder