Ons bure het ‘n groot swaai gehad. Oom Buurman was ‘n loodgieter, maar nie sommer enige ou plumber nie - hy was ‘n duitser. ‘n Duitse loodgieter doen dinge ordentlik, en hy het ‘n goeie reputasie gehad. Hy het elke Saterdag in sy garage gewerk, en sy radio kliphard gespeel sodat hy die rugby kan volg. Dit was nog voor ons TV gehad het. En toe ons in Windhoek TV kry in 1981, het hy geweier om een in sy huis aan te hou.
Ek onthou nog hoe hy altyd rugby geluister het op die radio, so tussen die sweisery en werkery deur. Hy het aangehou daarmee tot ek na matriek uit die huis uit is.
Die swaai het hy self aanmekaargeslaan - hoe dan anders? Dit was die hoogste swaai wat ek in my lewe nog gesien het. Daai kettings was kilometers lank. Dit het baie energie gevat om die swaai aan die gang te kry en om hoog met hom te swaai. Die ding kon so hoog swaai dat ek skoon bang geraak het.
Ons het gereeld langsaan gespeel by die bure se dogter. Sy was ‘n jaar ouer as ek, en haar ouer suster en broer was baie ouer as ons. Ons het gereeld “pa, ma en kind” gespeel - ek is die pa, sy is die ma, en my boetie is die kind. Niks leliks nie - baie onskuldig. Ons het selfs “dokter-dokter” gespeel sonder dat dit ooit in iets viesliks ontaard het. Ons was goeie maatjies gewees, veral oor die vakansie tye. Omdat ons in die uithoeke van Windhoek gebly het, daar in Avis, was daar nie veel ander maatjies om mee te speel nie. (Daai tyd was Avis soos nog ‘n klein plattelandse dorpie buite Windhoek, so ver was dit van alles af.)
Ek moes kies tussen haar of die mal duitsers aan die ander kant. My ma-hulle wou nie he ons moet met hulle speel nie - hulle vloek te veel, en die kinders vloek en slaan sommer die ma as hulle nie hul sin kry nie.
Sy het gereeld geswaai op die ding. Die swaai het mens altyd so rustig gemaak, as jy daar hoog bo alleen was.
Elke nou en dan het ek ook ‘n beurt op die swaai gekry. Dan swaai ek so hoog as ek kan tot ek bang raak. As die kettings oppad ondertoe so bietjie slap raak aan die bokant, dan skrik jy jou hele middagete sommer weg.
Haar pa het altyd met so Volkswagen kombi bakkie gery. Eendag toe koop hy een van daai nuwe Kombi Fleetline bakkies. ‘n Gele, met so ronde neus met ‘n V wat afkom.
Ons staan bo by die huis se trappe, en gil van die trappe af: “Ryk omie, ryk omie!!” Ek weet nie hoekom ons dit gedoen het nie, maar dit was vir ons baie snaaks om iemand met ‘n nuwe kar te sien. Toe my ma ons hoor, toe word ons ingeroep, en die houtlepel word hard neergelê op ons agterente.
Ek het bietjie gaan opsoek oor die Fleetline, en het dit gekry:
In 1975 the VW Fleetline was released in South Africa as a budget alternative to the German models. It was only in production for a year and was manufactured in Brazil, comprised of parts from both older and newer versions of the transporter. Fleetlines came in three options: panel van, 15-Window Kombi and wide-body single cab pickup/bakkie.
Hy het nie die Fleetline lank gehad nie, toe koop hy ‘n ander geel kombi bakkie, ene wat ek dink hy vandag nog het. Al sy pype en goed het hy agter op die tralies gehad.
Later jare het die meisiekind ‘n tiener geword en heel mislik geraak. Haar kamer se mure was vol posters van punks en rock stars, en sy het begin pop musiek luister en in snaakse goed begin belangstel. Ons het opgehou saamspeel, en ek het van toe af ver weggebly van haar kamer af.
Ek het later jare heel kontak verloor met haar. Sy het met harige bikers en goete begin rondhang op hoërskool, en van daar af het dinge net vererger.
Ek wonder of sy nou terugverlang na daai onskuldige tye, toe sy nog nie probeer het om ‘n wille grootmens te wees nie.
1 comment:
Lekker gelag vir die storie, maar daar is maar 'n stukkie hartseer ook daarin - hoe die tyd verby snel en hoe mense en dinge verander. As jy jonk is wil jy net groot word, en dan skielik een dag besef jy dat jy vas klou aan daardie herinneringe vir al wat werd is! Het dit baie geniet om hierdie te lees! Ek dink dis tyd dat ek my ondervingsings van my kinderdae ook begin neerle...
Post a Comment