Midwest trip – dag 2&3
Ons wou die oggend vroeg wegtrek uit Sandstone. Toe ons egter by die deur uitloer, toe lyk dit soos die Visrivier in vloed hier rondom ons. Dit reën toe al van 2 uur die oggend af, en dit lyk nie asof dit wil ophou nie.
Ons sou deurry na Wiluna, maar die paaie soontoe was almal gesluit weens die reën. Dis nou na ons gids eers al wat ‘n mens is gebel het daar in Geraldton en vir almal gevra het om na die satelliet-fotos te kyk op die internet, en toe praat hy met die Shire kantoor en die mense van Roads en wie weet wat nog almal. Hulle vertel my hierdie tipe weer kom nie gereeld hier voor nie.
Ons besluit toe ons ry na Mount Magnet, en van daar verder na die volgende plek toe.
Dit reën dat die stof staan.
Toe ons in Mt Magnet aankom, toe loop die rivier deur die driffie in die pad. Daar is ‘n groot meetplaat wat wys hoe diep die rivier loop, en hy hardloop hier by 0.3m. Die ou wat saam met my ry is te bang om deur die stroompie te ry – hy wil die ompad vat. Ons het elke jaar daar in Windhoek deur sulke riviere gery oppad huistoe - 300mm is mos niks nie man? Ek kan dit met ‘n fiets doen.
Ek moet nou wel noem dat ons in ‘n Holden bakkie gery het. Dis so ‘n plat kar wat lyk soos die Holden sedan wat net ‘n bak bygekry het – nou is hy ewe ‘n “ute”. Hy skraap sy pens deur elke driffie en oor elke sypaadjie. Maar ek is seker selfs die ding sal deur die stroompie kan gaan.
Die ander ou ry met ‘n Land Cruiser bakkie en hy het darem net-net genoeg moed om te glo hy sal dit kan maak met ‘n 4x4 Land Cruiser wat ‘n snorkelpyp het wat soos ‘n skoorsteen hier langs sy dak uitsteek. Ons kyk hoe hy deurry – sy wiele word skaars nat, die water raak nie eens aan sy aste nie. Maar die man wat ons bakkie bestuur wil nie dit wag nie – ons moet langpad ry.
Toe ons uiteindelik anderkant kom, toe het die hele dorp al begin vergader hier by die stroompie. Dit laat my so dink aan Windhoek. Elke jaar het ons daar in Avis by die driffie gaan staan om te sien wie weet hoe om in water te ry en watter dom ou gaan in die rivier afspoel. Ons kinders het gewoonlik in die water rondgespeel terwyl die grootmense probeer om deur die water te kom. Dit was elke jaar ‘n groot spektakel.
Hier is so groep mense wat deur die area toer. Hulle ry sulke ou vintage karre en noem dit die “Variety Bash”. Hulle samel geld in vir een of ander charity, en dan ry hulle so van dorp tot dorp met hulle ou tjorre. Die een kar is vol lifesavers, en die manne is nou vreeslik bly want hulle kan lewensredding oefen terwyl die water hier deurvloei.
Interessant, toe ek bietjie oplees hieroor, toe sien ek Dick Smith se naam weer voorkom:
The Bash legend began with businessman, explorer and philanthropist Dick Smith in June 1985, when he organised to take a few mates for a drive in the outback in old cars and at the same time raise money for charity.
Since then, the annual Variety Bash has become Australia’s most successful charity motoring event and is the focal point of fund raising efforts by many hundreds of Variety supporters Australia wide.
Ons is nou oppad na Meekatharra. Die mense hier praat sommer van “Meeka”. Vir my klink dit soos “Meerkat hare”.
Van Mt Magnet af ry jy deur Cue om by Meeka uit te kom. Hier rond is die afstande net soos daar in Duitswes – dis ten minste 150km tussen twee dorpe. Dis amper soos tussen Mariental en Keetmans. Die pad hier in Cue se omgewing lyk weereens verskriklik baie na ‘n pad iewers tussen Otjiwarongo en Otavi – ek moet elke oomblik weer my oë knip net om seker te maak waar ek is. Ek hoop my fotos gaan julle oortuig, maar wraggies, hierdie plek lyk soos daai land waar ek vandaan kom.
Meeka se motel was ten minste ‘n ordentlike een, en ek het nie my stort met iemand anders gedeel nie.
Die volgende oggend het dit nog steeds so liggies gereën. Die man wat saam met ons rondry, wat al 6 jaar in hierdie omgewing werk, sê dis die tweede keer in daai 6 jaar dat hy sulke weer hier sien.
Ons het nog werk in Meeka se omgewing gedoen, en toe deurgery na Cue waar ons almal in die ander perd se Land Cruiser moes klim om by die site uit te kom. Mensig, maar die wêreld lyk bekend. Ek voel sommer lus en maak vuur en sit en braai hier in die veld. (Cue spreek jy uit soos “leeu”)
Cue se watertenks sit op ‘n koppie, en as jy daar bo staan sien jy ligjare ver. Teen hierdie tyd het my kamera se batterye die gees gegee, en kon ek nie fotos neem nie. Regtig mooi wêreld die – dis nou as jy hou van my tipe wêreld. Hier bo is ‘n barbeque ook, een van daais wat met kole werk – ek moet dalk een naweek deurry en hier kom braai. Dis net so 630 km van Perth af.
Ek het vir my bietjie “beef jerky” gekoop hier in Cue se winkeltjie. Nogal nie ‘n slegte biltong nie.
Ons het weer teruggery en ek sit nou hier in Mt Magnet se hondehok. Die plek se naam is “Miners Rest” – die naam gee jou ‘n goeie idee. Elke ou het sy eie kamer met ‘n sitkamertjie en ‘n kombuis en alles. Jy moet maar by die winkel gaan kos koop en dan vir jouself kos maak – hier is nie fancy goed soos restaurante nie.
Die local TV kanale het sulke lekka lam advertensies – dis nie dieselfde kanale wat jy in Perth kry nie. Hier is die gewone ABC en SBS (gaaaaaap…) en dan is daar WIN en GWN – Golden West Network of so iets, so mengsel van ander kanale met ‘n local character. Op die ander kanaal het ‘n ou nou net $10,000.00 gewen in ‘n game show.
SBS is so kanaal waar hulle oorsese programme wys van allerhande plekke af. Daar is Duits, Italiaans en Japsnees/sjineus, maar niks Afrikaans nie. Vanaand het hulle sulke vaal programme op – ek kyk gewoonlik nooit die simple kanaal nie. Die Duitse program lyk asof hy in 1982 gemaak is. Die hero in die storie het ‘n wolfhond, en hy is ‘n Duitser met sulke lelike lippe. Die goed word in Duits gewys, met die engelse woorde onder-aan die screen.
Die volgende program was iets uit Noorweë of een van daai lande. Die hoofkarakter is ‘n polisievrou met die naam Amanda Pihl. Haar naam was genoeg om my te laat skrik, maar daar is niks op die ander kanale om te kyk nie. Ek wonder wie sit nou en kyk die SBS channel elke dag?
Hier is nou nie veel anders om te doen as om TV te kyk nie. Ek sit en tik op my laptop, maar ek is afgesny van die world wide web af.
Terloops, jy kan vergeet om enige ander netwerk as Telstra op te vang in die platteland. Vergeet maar van Three en al daai ander fancy selfoon-netwerke – Telstra is die enigste een wat jou landwyd coverage gee.
Ek sit en kyk nou WIN, en ‘n arme dom blonde meisiekind moet nou raai hoeveel spanne daar in die Rugby league kompetisie is. Blykbaar is dit 16 – ek het ook nie geweet nie. En hier wen nog ‘n perd $20,000. Ek moet op een van die shows kom.
Ek moet sê ek het hierdie trippie so ver verskriklik geniet. Dis lekker om uit die stad uit te kom. Ek is nou nie eintlik ‘n man vir die stad nie. Maar Mt Magnet is ook nou nie heeltemal my idee van ‘n dorp nie.
Nou gaan ek eers kos kook in my Miners rest kombuis – praat later weer.
No comments:
Post a Comment