Friday, September 17, 2010

Tyd om fees te vier

Ons vier vandag twee jaar in Australië, en my verjaarsdag was ook laas week.

Ek het hierdie jaar ‘n klomp goeie geskenke gekry vir my verjaardag. My een vriend James het hier opgedaag met ‘n big-screen TV.

IMG_8674

Daar is ‘n prentjie van die Pous op net om die ding heiliger te laat lyk…

Ek het al voorheen ‘n big screen by my ander vriend Tony gekry, maar hy was een van daai meer outydse tipes wat ‘n ton weeg.  Hy staan in die kinders se speelkamer.  Dus is hierdie nou al die tweede big screen wat ek present kry vandat ons hier geland het!

IMG_8676

En my vroulief het vir my ‘n ordentlike koffiemasjien gekoop. Die ding forseer warm water teen 15 bar deur die koffie - ‘n regte egte koffiemasjien hierdie.

IMG_8675

Daai koffie is so lekker, as ek in die oggende werk toe ry dan proe ek nog daai lekker koppie koffie hier in my mond - al het ek my tande geborsel. Die hele dag lank droom ek van daai lekker koffie, en kannie wag om weer huis toe te gaan en nog enetjie te brou nie. Mense, dis ‘n lekker lewe die.

Gisteraand het ek en my mooi vroutjie gaan uiteet. Ek het ‘n plek bespreek in die stad. Dis ‘n restaurant op die 33 ste vloer van die St Martins gebou. Die hele vloer draai stadig in die rondte terwyl jy daar sit. Dit was ‘n ongelooflike ervaring. Die kos was uit die boonste rakke, alhoewel ons nou en dan moes vra wat beteken die goed op die menu - dis sulke franse woorde.

My bestelling was:

“Char grilled grass-fed beef fillet, cacciatore sausage and brie polenta, roasted Field mushroom and red onion jam and a port jus”

Die sogenaamde polenta is eintlik maar amper soos mieliepap, en alhoewel ek nog nooit ‘n groot pap-vreter was nie, was dit lekker om ‘n slag bietjie mieliepap by my kos te kry.

Die vleis was uitstekend.

My ander helfte het vis bestel:

“Fresh ocean trout, cucumber yogurt, herbed and crumbed zucchini and eggplant, chorizo, chilli confit.”

Dit was blykbaar ook besonders lekker. Die kelner praat ook met so stewige Franse aksent, dus was dit by tye moeilik om uit te vind wat ons eintlik bestel, want hy het gesukkel om dit te verduidelik.

Ons poeding was

“Chocolate moelleux with a raspberry melting heart, vanilla bean ice cream”

Mensig, dit was ‘n stukkie hemel wat aarde toe gekom het. Dis amper soos ‘n chocolate brownie wat nes ‘n muffin lyk. As jy hom oopmaak, dan peul die warm sjokolade sous uit sy magie uit. Heerlik.

17092010(008)

Die hele petalje het my amper $200 uit die sak gejaag, as jy die $11 parkeerplek in die basement bytel. Dis teen vandag se koers amper R1400 vir twee mense. Ek weet nie wat dit deesdae kos om in Suid Afrika uit te eet nie, maar dit klink vir my stewig. (Maar dit was elke sent werd, glo my!)

Ons is nou presies twee jaar al hier in Perth. Kan nie glo hoe die tyd vlieg nie. Vanmiddag vlieg my oudste na Canberra en Sydney vir ‘n skooltoer - ek is so lus om saam te gaan, ek kan my lag nie hou nie. Maar ek sal maar hier by die huis moet bly en die vroumense oppas!

No comments: