Thursday, August 11, 2011

Grensstories – Deel 7: Min dae

Die lewe op die grens was nie altyd stof, snot, koeëls en hare nie. Ons het lekker tye ook gehad daar in Opuwo.

Ons het nooit middagete of ontbyt gehad nie – ons het ‘n “brunch” gehad. Oor middagete tyd het ons siesta gehou – so lekker ou uurtjie se rus. Die majoor moes ons gereeld daar uit die kamers kom jaag as die uurtjie bietjie te lank geraak het.

So entjie in die pad af was daar ‘n lekka ou winkel met die naam van Nawa Stores. By Nawa Stores het jy alles gekry – ketels, komberse, koffie en enige ander ding waaraan jy kon dink. Ek het ‘n kombers daar gekoop wat ek nou nog het, en ‘n rooi ketel en ‘n lekka ou bierbeker met ‘n prentjie van ‘n Himba tannie op, met die woorde “Opuwo - Topless town” daarop gegraveer.

Die Himba mêmes het mos so topless rondgeloop. Daar was manne wat hulle vergryp het aan die half geklede dames, maar daai rooi klei waarmee hulle hulle lywe besmeer het meeste selfrespekterende manne weggehou van hulle af. Jy ruik hom nog lank voor jy hom sien. Himbas bad een keer in hulle lewe – dis nou die dag voor hulle trou. Hulle hele lyf word van kleins af met daai klei besmeer, selfs die hare word ge-ghries met die goete. Dis amper soos knoffel – dit hou al wat ‘n muskiet en ‘n gogga is, ver weg van jou af, en meeste mense ook. As ons hulle ‘n lift op die buffels gegee het, dan was die buffels se seats rooi van daai goed. En die stank vat dae om te verdwyn.

Mens het later die reuk gewoond geraak en dit amper nie eens agtergekom nie.

Alfa basis was so entjie buite die dorp. Een van ons pelle was ewe die “bevelvoerder” van alfa basis. Een naweek het ons bietjie daar gaan kuier en ‘n paar bottels Captain Morgan Spiced Gold gaan leeg maak. Ons besluit later die nag ons wil kyk of die wagte wakker is. Ons stap met ‘n R4 na die wagkamertjie toe, en trek skote in die lug in. Daai arme wag skrik sy melk suur, en amper skiet hy die hel uit ons uit. Ons was teen die tyd bietjie warm van die rum, en gelukkig het die wag nie raakgeskiet nie.

Dis nou maar die tipe van ding wat ‘n dienspligtige doen om homself besig te hou.

Ons het ‘n lekker ou swembad gehad by die offisiere kwartiere. Die ding was nie soos vandag se fancy swembaddens nie, dit was net met baksteen en sement gebou. Ons het besluit ons wil kyk wat maak ‘n detonator as hy in die swembad afgaan. Dit was vet pret. Die grond rondom die swembad vibreer wild, en later sien ons vreeslike nuwe krake oral begin uitslaan. Toe Majoor Grensvegter later die krake sien, weet niemand waar dit vandaan kom nie.

Ons het nogal TV gehad oppie grens. Maar die TV vang nie eens sneeu op nie – daai dae was daar nog net een kanaal in Suidwes, en hy het nie veel verder Noord as Grootfontein gegaan nie. Langs ons TV was ‘n video masjien. Een maal ‘n maand het ons ‘n pak vars videos gekry van Windhoek af. Nodeloos om te sê dat ons party videos ‘n hele paar keer gekyk het – veral ene met die naam van “Fatal Attraction”...as jy hoor die manne brul en skreeu daar in die TV kamer dan weet jy wat kyk hulle...

Ek onthou nou nog dat ek die fliek “Planes, trains and automobiles” die eerste keer daar op die grens gesien het, en ek het my vrek gelag. Dis nou nog een van my favourites, en elke keer as ek dit kyk onthou ek die TV kamer in Opuwo.

Die onttrekking van die grens af het dinge vreeslik deurmekaar gegooi. Die rumours was sterk dat ons gaan uitklaar en huistoe gaan, en daarmee saam het die naafgat houding al hoe vinniger voorgekom onder ons manne.

Ons het nie eens 40 days gevier nie, want alles het te vinnig gebeur.

Een dag het daar ‘n klomp mannetjies opgedaag in wit karre en blou hoede. Party van hulle het blou berets gedra, ander het sulke blou tulbande gedra. Hulle was van Maleisië af. Ons het die manne maar snaaks aangekyk, veral toe hulle aandring op ‘n “prayer room” wat na Mekka kyk. Hierdie manne was nou die mense van die UN/VVO, bekend as UNTAG.

Tydens die 1 April inval wou hierdie manne ewe met ‘n Buffel na die SWAPO’s toe ry, met ‘n wit vlag op. Ons het hulle vriendelik aangeraai dat dit dalk nie so blink plan is nie. Hierdie perde het nie ‘n clue gehad van oorlog maak nie – hulle het hulle vergaap aan al ons toerusting en veral die Buffels en Caspirs het hulle vreeslik geïnteresseer.

Op hierdie stadium was dit al baie duidelik dat ons amper klaar is met diensplig – ons suidwesters, in elk geval.

Gepraat van 1 April, hier is nog ‘n lekker storie: Daar was ‘n ou wat saam met my JL’s gedoen het, maar wat op ‘n stadium afgegooi was van die kursus want hy het ge-AWOL. Hy kon dus nie rang kry nie. Toe ek by 102Bn opdaag, toe is hy een van ons kokke. Hy was vreeslik lus om te gaan veg, maar hulle wou hom in die kombuis hou – hy mag nie gaan skiet nie.

Een dag tydens die 1 April invalle, toe spring hy agter op ‘n Buffel wat uitry na ‘n kontak toe. Hy beland in die middel van ‘n kontak en skiet vir die vales. Hy skiet nog so lekker, toe jaag ‘n Koevoet Caspir hier reg voor hulle in – reg deur die middel van ‘n kontak situasie, sonder om boe of ba te sê oor die radio. Die perd is kwaad – die Koevoete het al die terrs uitgehaal nog voor hy een kon plattrek. Hy het later vir ons kom vertel hoe lekker dit was om in ‘n kontak te wees – mal blikskottel.

Dinge het na die 1 April inval weer bedaar, en die onttrekking was weer voor op die agenda.

Dit was nie lank nie, toe tree ons paar Suidwesters aan met ons siwwietasse en klim op ‘n Kwêvoël. Die Suid Afrikaanse troepe moet nog agterbly, en ons klaar uit. Hulle moes nog hulle volle tweede jaar klaarmaak in SA, en ons het net eenvoudig huistoe gegaan.

Ons het agter op die Kwêvoël gery al die pad van Opuwo tot in Kamanjab, waar ons by die winkel gestop het. Laat daardie aand het ons in Otjiwarongo gekom – natgereën. Ons het in die menasie geslaap, met ‘n lekkende dak wat ons nog natter gemaak het. Dit was alles die moeite werd – ons was oppad huis toe.

Die Kwêvoël het my in die straat reg voor ons huis afgelaai. Ek het daar afgeklim met my balsak en my siwwietas, en ‘n groot glimlag op my gesig.

Ek het my goed gevat en opgestap na die huis toe.

En dit was my laaste dag in die Army. Ongelooflik hoe dit alles net so geëindig het.

So paar weke later het ons almal ‘n tjek van R3000 gekry – uitklaar geld. Nou moes ons almal skielik gaan werk soek en ‘n nuwe lewe begin.

En dit was dit. Sonder ‘n dankie of ‘n parade of ‘n speech. Alles verby. Ons vir jou, Suid Afrika.

1 comment:

Unknown said...

Dankie vir die Grensstories... In daardie tyd was ek nog in die engeltjiefabriek. Ek het toe in die 2e laaste dienspliggroep aangemeld. Toe was die sports verby, en het die townships gebrand...