1 April 1989, meer as 20 jaar terug - ek het nog daar in Opuwo gesit. Ons was in die middel van die grootste logistieke operasie wat die SA Weermag nog ooit aangepak het - die onttrekking uit die operasionele gebied.
Die ooreenkoms was as volg: SA moes sy magte terugtrek tot suid van die 16de breedtegraad, en die 50000 Kubane moes onttrek uit Angola - en daar word nie meer geskiet op mekaar nie.
Helfte van ons toerusting was al in Oshivelo. Al ons VHD troepe, wat Himbas was, het al reeds uitgeklaar, en het al met hulle gatlappies in die bosse gesit by hulle families. Die oorlog was verby.
En toe kom die nuus - Swapo het ons weer ingeval. Links en regs breek daar kontakte uit, veral in die Wamboland area, en die bloed vloei weer vrylik.
Ons het meeste van ons wapens al terug gestuur Oshivelo toe. Al wat ons nog gehad het, was hierdie aaklige groen gewere wat ons teruggevat het van die PB's af. Hulle het hom die G3 genoem.
Meeste van hulle was lank in die hande van PB's (Plaaslike Bevolking), en is nooit skoongemaak of ge-olie nie. Die PB's het dit by hulle gedra terwyl hulle bokwagters was, en het so nou en dan 'n terr geklap as een dit durf waag het om oor die grens te kom.
Die Himbas het nie baie tyd vir die Swapos gehad nie. Ek onthou vele kere wat daar 'n verslag deurgekom het van himbas wat 'n Swapo met knopkieries doodgeslaan het net na die arme vuilgoed deur die rivier gekom het.
Die G3 in my hande het gesukkel om te span. Ek het hom geskuur en gevryf en ge-olie totdat ek soort-van tevrede was. Daardie aand gaan slaap ons in die offisiere kwartiere. Sonder om 'n oog toe te maak.
Dis die bangste wat ek ooit was tydens die hele oorlog. Ek het geweet ons is kis - moer toe. As hierdie Swapos, Oos-Duitsers, Russe en Kubane vandag ernstig is, dan is die oorlog vir eens en vir altyd verby, want ons het klaar oorgegee. As dit nie vir Koevoet was nie, was ons vir seker daarmee heen.
Wat die politici agter die skerms gedoen het, weet ek nie. Maar iets het hulle die keer reg gedoen, en uiteindelik het die klomp Swapo honde teruggetrek, en kon die vredes-onderhandelinge en die verkiesings voortgaan.
Daar is een beeld wat ek nooit uit my geheue sal kan verloor nie. Die VHD troepe is teruggeroep om weer te kom baklei teen die Swapo hienas. Meeste van hulle was, soos ek gesĂȘ het, al by die huis met hulle gatlappies aan. Hulle uniforms, boots, gewere, ammunisie en varkpanne is alles teruggegee aan die Weermag, en helfte daarvan is al oppad Oshivelo toe.
Twee ure na daar 'n beroep gemaak is op hulle om terug te kom, toe staan amper die hele 102 bataljon se VHD troepe aangetree vir aksie. Buffel op buffel ry by die hek uit oppad na die kontak areas toe, met die swart troepe wat hulle gewere in die lug hou en met passie skreeu soos hulle by ons verbyry. Een van die mees trotse oomblikke wat ek ooit in my lewe gehad het.
Rillings gaan nou nog in my ruggraat af as ek daaraan dink.
Lees vir oulaas verder
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment