Thursday, May 27, 2010

Dis ‘n lekker lewe

Dit reën so lekker ou winter-reëntjie hier. Gisteraand het dit heelnag gereën, en vanoggend toe ek uitgaan om my koerant buite te gaan optel, toe reën dit nog steeds. Na ‘n lang droeë somer is dit ‘n welkome verandering. Dis nou koud in die nag, en die warm bed klou baie vriendelik aan my broekspype as ek probeer om weg te kom van hom af in die oggende.

By die kantoor het ek so lekker hokkie in die hoek reg by die groot venster. As dit so reën buite, dan is dit lekker om te sit en kyk hoe ander mense met sambrele in die reën sukkel, terwyl ek met ‘n lekker koppie warm koffie sit en loer vir hulle van daar bo af. My vorige hokkie was in die middel van die vloer, en was baie vaal. Ek moet kan sien wat buite aangaan - die nuwe sitplek van my maak my hart bly.

Deesdae is dit al donker as ek by die huis aankom. Hulle het hier so ‘n drie-jaar lange toets-lopie gedoen met sogenaamde “daylight savings”, en gelukkig het die mense in die referendum daarteen gestem. Die plein feite is maar net dat die dag baie korter is in die winter as in die somer, en om die somerdae langer te probeer maak, is sinneloos. Daar is meer as genoeg son in WA, glo my.

As dit so reën moet jy maar geduldig wees - alles op die pad gebeur stadiger. Nadat ek die “Freeway” bemeester het in die nat weer, daag ek uiteindelik by die huis op. Die asdrom staan nog so oop soos wat die asdromlorrie hom gelos het - hy is vol water. Ek swoeg eers bietjie om hom terug te sit op sy rusplekkie. Sy magie is leeg - vir die oomblik.

Die twee groot rump steaks lê en wag nog in die yskas, en ek steek die barbie aan die brand. (Dis nou nie ‘n barbie doll waarvan ek praat nie, dis ‘n “barbeque”.) Eers word daar bietjie uie gebraai, en dan word die twee rumps on-seremonieel op ‘n vuurwarm plaat gegooi. So 2 minute aan elke kant, en af is hulle.

Lekker sappige, sagte stukke beesvleis wat ‘n mens sommer trane in jou oë gee.

Ons almal sit saam om die tafel en eet. Ons maak ‘n punt daarvan om altyd ons aandetes saam te eet. Die kos is lekker, en klein Anica praat aanmekaar, soos altyd.

Buite val die sagte reëntjie terwyl ons lekker eet. More het ek die dag af - deel van my nine day fortnight voordeel by die werk. Ek werk elke twee weke nege dae met ‘n halfuur wat ek ekstra inwerk elke dag, en kry dan die tiende dag af. Elke tweede Vrydag is ‘n welverdiende rusdaggie vir my.

Dis ‘n lekker ou lewe. Ek voel sommer lus om ‘n vuurtjie aan te steek, so lekker kry ek nou.

IMG_3115

Wednesday, May 19, 2010

Wat is ‘n biltongboer?

Ek moet eers verduidelik wat ek nou eintlik bedoel met die woord “Biltongboer”. Sien, hier is wragtag mense wat al jare lank my stories lees, en steeds nie besef dat ek in suidwes grootgeword het nie. Hulle weet ook nie eens dat suidwes ‘n provinsie van Suid Afrika was destyds nie.  Waar hulle was toe dit alles gebeur het, weet nugter alleen.  Die mense weet minder van ons geskiedenis as wat hierdie Aussies weet – en glo my, die Aussies het nie ‘n vae clue van enige wêreld-geskiedenis nie.

Ek weet nie hoeveel aandag sulke slaapwandelende mense gee as hulle lees nie, maar kom ek verduidelik gou die term:

Die woord Biltongboer is nie iets wat iemand gebruik omdat hy van biltong hou nie. Dis ook nie ‘n term vir iemand wat biltong plant, oes en in Ziploc sakkies sit nie. Vir die dom stadsjapies wat nie weet nie - jy kan eintlik nie regtig boer met biltong nie. Sien, die goed is nie soos mielies wat jy plant en saai en natgooi en oes en in silos bymekaar gooi nie. Biltong is gedroogde vleis wat jy maak na jy ‘n hond, kat, bees, kangaroo of gemsbok geslag het. Om ‘n springbok te slag, beteken jy moet eers die ding gaan soek, hom tussen die oë skiet, sy keel afsny en dan afslag. En dan begin jy eers met die biltong.

Sien, mens oes nie kudu biltong van die lande af nie. Net sodat julle weet.

Nou wat is ‘n Biltongboer dan nou, vra jy? ‘n Biltongboer is nie ‘n boer nie, ook nie noodwendig ‘n Boer met ‘n hoofletter nie. Maar jy sal sien ek spel Biltongboer met ‘n hoofletter B.

‘n Biltongboer is ‘n Afrikaans-sprekende inwoner van suidwes, of Namibia soos hy vandag genoem word. Die term word al jare lank gebruik, en in die ou dae was die suidwes rugby span bekend as die suidwes Biltongboere. Daar was selfs ‘n liedjie gewees, “Suidwes Biltongboere byt net vas...” Hulle het die liedjie gereeld daar op Vra-Is-Vry op die Afrikaanse diens van die SWAUK gespeel:

 

Koor:

Suidwes biltongboere byt net vas
Suidwes gaan julle doppie klink vandag
Laat die bal loop in die agterlyn
Dan is dit net (sukses) ‘n wendrie vir Suidwes

 

Die Suidwesspan is gereed
Om hul status te gaan meet
‘n Systap hier en daar
Dit maak die skare mal

Kyk nou na die span
‘n wenspan deur en deur
Met Doug Jeffrey en Andre Stoop
Wat die skare so laat raas

Koor:
Hoera! Skree Suidwes
Die telling is 50 - 6
En niemand kan nou meer
Die biltongboere keer.

Die biltongboer is ‘n bedreigde spesie, daar is nie meer veel van ons oor nie.

Monday, May 17, 2010

Dawid en Goliat

Toe ons destyds hier aangeland het in Perth, het ek vir my vrou ‘n sogenaamde Skype phone gekoop op die “3 Mobile” netwerk. Dis ‘n gewone selfoon, maar jy kan met hom op Skype gaan ook. Die ding het lekker gewerk, maar ten spyte van al ons moeite het min mense in Aapland die effort ingesit om ons te kontak op Skype.

Die foon self is nie van die beste nie, en ek besluit toe om my vrou se foon op te gradeer - na 18 maande se harde misbruik. Die Skype foon was op ‘n prepaid nommer, en ek kon net eenvoudig ophou recharge en die ding doodmaak.

Ek sien toe dat ek vir presies dieselfde bedrag elke maand, $29, ‘n splinternuwe foon kan kry en dieselfde hoeveelheid oproepe per maand. Die foon het ‘n wireless konneksie, dus kan hy steeds via my broadband wireless network by die huis op Skype gaan.

Ek doen toe die deal, en teken myself vas vir die $29 maandelikse kontrak.

Saam met die kontrak kom toe ook ‘n fancy klein broadband stokkie met 1G se data wat ek maandeliks kan aflaai. Ek het dit egter nog nooit gebruik nie, want ek het ‘n bitter vinnige ADSL2+ lyn by die huis met ‘n wireless network, so wat moet ek nou maak met die ding?

Ek het die hele affêre sommer so oor die internet gedoen. ‘n Paar dae later word die boks voor my huis se deur afgelaai. Hierso laai die posman sommer die selfoon in ‘n boks by jou voordeur af as jy nie daar is nie - en niemand vermoor hom eens nie?

Ek maak die boks oop, en ek sien toe daar is nog bokse binne-in die boks. Die ene het die foon in, en die ander ene het die broadband afferinkie in. En daar lê twee SIM kaarte - een vir die broadband ding en een vir die foon. Ek gryp ene en sit hom in die foon, en alles werk te pragtig.

Ek bel toe vir customer care om te hoor of ek die ou prepaid nommer kan hou. Neee-eee, sê die antie wat na ‘n halfuur se musiek die foon antwoord, dis totentaal onmoontlik en sal nooit gedoen kan word nie. Deksels, nou is ek kwaad man. As ek ‘n ander nommer by ‘n ander netwerk gehad het, dan was hulle deur die wet verplig om my nommer oor te vat. Maar nou was ek klaar op hulle netwerk, nou druk hulle my ‘n pit.

Dit was die eerste ding wat my agterent gekrap het. En jy krap nie ‘n Biltongboer se agterent meer as een keer nie.

Ek kry toe ook ewe later my eerste rekening. Ingesluit in die kostes is die aflewering - dit het ek verwag. Die rekening lyk heel reg, en ek wil net op my internet banking spring toe ek sien die staat sê

“Thanks for paying by Direct Debit.

Please ensure there are enough funds in your account to avoid dishonour and late payment fees.

Dit klink billik. Ek het die foon oor die internet met my kredietkaart betaal, dus het hulle mos klaar al my besonderhede. Reg so, I love it when a plan comes together.

Hier teen die einde van die tweede maand toe kla my vrou dat haar foon nie wil werk nie. Ek dog toe daar is maar net ‘n netwerk probleem of so iets.

En toe kom die volgende rekening.

Daar is die gewone $29 vir die maand - dis reg. Maar daar is ook die volgende:

  • Balance brought forward - $36.56 (dis nou die vorige maand se $29 plus die afleweringsfooie.)
  • Other charges and credits $10.

Total account $141.35

Ek hoef nou seker nie uit te spel hoe beneuk hierdie Biltongboer toe raak nie.

Ek beloer die rekening, en ek sien die “Other charges” is ‘n penalty for late payment.

Volgens hulle het ek nie my vorige rekening betaal nie. Maar hulle het dan gesê hulle gooi dit op my rekening, direct debit nogal?

Ek spring daar op die lyn, maar ek kry weer net Customer Care se mooi liedjies wat speel. Ek raak kwaad, die stem vertel my hulle gaan die gesprek “record for training purposes”, maar daar was nog nie ‘n gesprek nie, en al training wat hulle gaan kry is Afrikaanse vloekwoorde!

Ek besluit toe om weer op die internet te spring. Ek kry daar ‘n bladsy en ek vul my hele pedigree daar in. Wie is ek, wat is my ma se gunsteling kos, en wat is my buurman se hond se naam. Alles word sorgvuldig ingevul, en ek druk enter.

Ek kry amper onmiddellik ‘n email terug wat sê

Thank you for your email. We appreciate you taking the time to write to us. Due to the delayed nature of a written response you may experience some delay in responding to your enquiry. We would love to help you with your enquiry as soon as possible. If your enquiry is urgent, please contact 3 Care on 13 33 20

Man, ek voel so opgewonde ek kan ‘n slang oopbek soen.

Dis daai selle blerrie nommer wat ek netnou gesit en luister het. Wat help dit?

3 het hierdie fancy sisteem waar jy kan in-log en jou rekening beloer. Ek log daar in, en beloer die affêre. Ek sien sommer vinnig waar die fout lê. Een of ander aap het my kredietkaartnommer 1111111111111111 gemaak. Om een of ander rede is die betaling geweier. Dit vat nou nie ‘n rocket scientist om die ding uit te figure nie, en ek maak solank maar die nommer reg vir hulle.

Maar nou is ek bang die 141 dollas gaan op my kaart af - dis mos nou nie reg nie?

Ek wag in spanning vir die email.

Ek kry toe ‘n dag later ‘n reply:

Thank you for your email regarding your invoice, it does seem to be a consern.

On reviewing your account, we see that the direct debit was declined due to a system glitch. And we have reversed the $10 late payment fee on your account.

Our records also indicate that you have been using one USIM for mobile broadband as well as to make calls, which has caused a high bill.

We see that you have signed up for the 3CapPlus$29 24m($29min-35cFF) plan which means you have a broadband and a voice service,and each service(voice and broadband) has to used with its respected USIM.

Regarding your current invoice number 733607390,we wil apply a credit of $102.35(within 24 hrs) as a goodwill gesture rerating your invoice.

Mentioned below are the USIM details to be used with its respective mobile numbers.

Mobile number

04xxxxxxx1 (Voice service)

04xxxxxxx2 (mobile broadband service).

As mentioned above we request you to please use the correct USIM in the mobile and the modem to avoid any extra charges.

If we can assist you further, please contact us again via email or call 3 Care on 13 33 20. When replying to this email, please ensure you include your 3 mobile number and four-digit account PIN.

Jong, nou is ek sommer suur. Volgens hierdie perd het ek nou die twee SIM kaarte verkeerd gebruik, ek moes die ander ene in die foon gesit het. Maar intussen het 2 maande al verloop, en my vrou moes klaar vir almal laat weet wat haar nuwe nommer nou is. Dit op sigself is ‘n missie, want ons ken mense in Australië, Suid Afrika en Namibië, en dis geen grap om seker te maak almal het die nuwe nommer nie.

Ek het nog nie eens die simpel broadband ding uit sy boks uit gehaal nie, hoe de hel is dit nou dat ek verkeerde kaart kon gebruik het?

Ek skryf toe weer terug na die vriendelike Customer Care centre, na ek weer na ‘n lang liedjie geluister het en nie kan deurkom na ‘n regte mens toe nie.

Ek verduidelik toe dat hulle die nommers verkeerd-om het, dis andersom, en hulle moet hulle system regkry.

Hulle laat weet my toe weer dat volgens hulle is die nommers so-en-so, en ek beter my kaarte omruil.

Intussen kom die volgende rekening, met die verkeerde geld afgetrek, maar sommer weer $26.75 vir kamstige “excess broadband usage”. Nou is ek al verby kwaad - die rook trek by my ore uit man.

Gelukkig woon ek mos nou hier in die Eerste wêreld, waar die consumer baie goed beskerm word. As dit in Bobbejania was, kon ek teen die tyd al vergeet het nadat ek met Sipholozi gesukkel het en my saak gestel het - jy sal maar net moet inval by die status quo. Maar nie hier doer Onner nie, mate.

Ek stuur vir hulle ‘n dreigbrief waarin ek sê ek praat nou met die CCC en al wat ‘n ombudsman en ding is - ek ken my regte ou maat. Die CCC is die Crime Corruption Committee; of so iets - hulle kla sommer minsters aan wat te veel kleingeld uit die laai uit wegdra, hulle is nie bang vir niemand nie.

Ek gaan klim weer op Google en ek kry die regte antwoord. Hulle noem dit die Telecom Industry Ombudsman. Hierdie perde is net wat ek soek. Hulle is daar om die gepeupel soos ek te help teen hierdie groot ryk telecom companies. Man, ek hou hiervan. Dawid en Goliat was nogal altyd een van my favourite stories.

Ek spring daar op ‘n screen en vul weer my hele pedigree in. Hoeveel tande het ek , hoeveel pond baba was ek, watse kleur neushare het ek - die hele toetie. Die ding is ernstig, jy moenie hier kom speel nie, hulle laat jou allerhande ede en beloftes aflê wat vir niks skrik nie.

Uiteindelik is ek klaar met die vorm, en ek druk weer daai enter knoppie. Nou gaan die hare waai.

Ek kry toe weer ‘n email.

(Intussen stuur 3 care nog emails, en ek herhaal net elke keer weer my storie, en kry dieselfde simpel antwoord terug.)

 

Thank you for your email to the Telecommunications Industry Ombudsman (TIO) on 30 April 2010. The TIO reference number for your complaint is xx/xxx.

You have told us that you have a complaint with 3 about a billing and customer service issue with a mobile  service. You have also told us that you are disputing $26.75 in charges .

What to do about your complaint

*******************************

To continue the complaint process, please take these steps:

1. Call 3's Resolution Team on to 1300 550 099. This team is a resolution department at 3 which receives referrals from the TIO. It is a standard part of our process to give a company another opportunity to resolve a complaint directly with its customer. In our experience, most complaints are resolved through this process of direct referral. 

2. Tell 3's Resolution Team that the TIO referred you and explain your complaint. 3 has 10 working days to resolve your complaint directly with you from the date you call its resolution department. 

3. If you are disputing charges on a bill, please ask 3 to put this part of your bill on hold (be sure to explain what and how much is in dispute). 3 cannot ask you to pay these charges until your complaint is resolved, so please contact the TIO again if credit management action continues. However, please organise to pay the rest of your bills, because 3 can ask you to pay non-disputed charges.

4. Contact the TIO again about your complaint if you cannot resolve it directly with 3 after this referral - see next section for instructions. If you do not contact the TIO again, we will assume that your complaint has been resolved.

Mense, die ding raak nou langdradig. Ek bel toe die perde, maar sit vir 11 minute lank en musiek luister. Man, ek is so kwaad soos ‘n steeks renoster.

Uiteindelik antwoord ‘n antie, en ek vertel vir haar my storie. Na ‘n lang heen en weer verduideliking met baie vrae van haar kant af, sê sy vir my “wow, this is quite complicated”.

Ek is so verbaas ek sluk amper my adamsappel in.

Ek sê vir haar al wat sy moet doen is om die twee nommers om te ruil. Die broadband ene eindig met ‘n 1, en die voice nommer eindig met ‘n 2. That’s all.

“Ooooh”, sê sy, toe die liggie uiteindelik aangaan in haar dowwe kop. “We can do that, but the person who does that is not in at the moment. She’ll be in tomorrow, and then I’ll ring you back”.

Dammit - so naby, en tog so ver. Intussen begin tel die rekening seker al weer spoed op met my voice calls wat op my broadband kaart land.

Ek wag die volgende dag - niks.

‘n Week later bel ek weer die fancy nommer, en doen die gebruiklike musiekluister-ding tot iemand uiteindelik antwoord.

Die keer is dit ‘n man. Hy klink sommer asof hy weet wat aangaan - ek besef hier slaan ons dalk ‘n ses vandag. Na ‘n lang rigmarole vertel hy vir my dat die Natasha girl die hele week siek was nadat sy met my gepraat het, en dis hoekom niks gebeur het nie, en hys vreeslik jammer.

Ek het seker maar die effek op mense, want dis nie die eerste keer wat dit met my gebeur by ‘n call centre nie.

Die selfde dag nog biep die foon en vertel my dat die nommer verander het. Ek ruil die twee SIM kaarte om en siedaar - die nuwe kaart het nou die ou nommer, en ons kan nou bel met hom.

Of dit nou reg is, sal ons sien as die volgende rekening kom.

Die les hieruit? - Hou aan baklei tot jy wen, moenie moed opgee nie, moenie dat lang stukke musiek op die foonlyn jou regte van jou ontneem nie. Freedom is just a long boring phone call and ten emails away!!

Sunday, May 16, 2010

Huisvrou van die Namib

Ek sit mos nou hier by die huis en huisvrou speel. My vrou is daar in Aapland, op 'n Afrika safari, terwyl ek hier sit en kinders grootmaak - stoksielallleen op 'n Saterdagaand.

Ek het nou vandag en more verlof ingesit, want ek moet darem ook voel hoe dit voel om 'n huisvrou te wees.

Hulle sê mos mans kan nie "multitasking" doen nie. Kom ek vertel jou bietjie van multitasking. Ek kyk 'n movie op TV met die klank lekker hard aan; ek maak vloere skoon, ek maak die kombuis skoon, ek het klere in die wasmasjien, en ek het 'n lekker lamb roast wat daar in die Weber lê en gaar word.

Die kombuis blink, en ek het die barbeque buite ook sommer 'n slag gewas. Die sitkamerbanke se kussings is vir die eerste keer hierdie jaar afgehaal en ek het onder hulle gestofsuig. Ek kyk movie, ek drink koffie, alles so terwyl die kos kook en die huis skoongemaak word.

My jongste meisiekind het by 'n maatjie gekuier, en toe sy terugkom toe huil sy en daar spring die grootste stuk snot uit haar neus uit wat ek nog ooit in my lewe gesien het. Die tannie wat haar afgelaai het skrik nog groter as ek, en daar gaat sy. Ek hol badkamer toe en vee daai meter-lange stuk ghwel met 'n halwe rol toiletpapier van haar gesig af.

Ek dink dis tyd dat my vrou begin werk sodat ek voltyds huisvrou kan word. Dis kinderspeletjies die.

Friday, May 14, 2010

1975

Ek was 5 jaar oud, en my boetie was drie. Ons het vir die naweek weggegaan iewers heen; ek kan nie onthou waarnatoe nie. My pa was nie saam met ons nie.

Ons was terug by die huis. Ons het by die trappe opgeklim na die voordeur toe. Ons het by die huis ingestap en iets het vir my anders gelyk. Die Hi-fi was weg. Hoekom ek dit tot vandag toe onthou, weet ek nie. Ek het vir my ma gevra wat van die Hi-Fi geword het.

Sy het vir my iets verduidelik van dat sy en my pa geskei het. Hy gaan nie meer hier by ons bly nie, maar hy sal kom kuier nou en dan.

Niks het dus vir my verander nie, want hy was in elk geval nooit daar nie. Behalwe vir die feit dat hy opgehou het om nou en dan te kom kuier - daai deel was nie heeltemal waar nie.

Ons het opgehou duits praat en hom nie weer gesien nie.

Iets binne my wou altyd 'n pa gehad het. Ek was klein, maar ek was hard, en my ma verkeer onder die indruk dat ons dit maklik hanteer het. My maatjies het almal pa's gehad. Hier en daar was daar ook verdwaalde siele uit gebroke huise, maar hulle was nog minder lus om daaroor te praat. Meeste van hulle was moeilikheid makers - die moeilike kinders.

Toe ek tien jaar oud word het ek 'n nuwe pa gekry. 'n Wonderlike man wat vir my baie beteken. Dis egter moeilik om tien jaar van jou lewe in te haal asof dit nie gebeur het nie.

Ek was sterk, al was ek klein, en ek het groot geword.

Die dag toe my vrou my vertel dat sy swanger is, was vir my 'n groot uitdaging. Nie omdat ek nie van kinders hou nie, maar omdat ek bang was dat ek so sleg pa soos my eie sou wees. Hoe moet ek weet om kinders groot te maak? Gaan ek ook weghardloop en dit los vir 'n ander man om later te kom doen?

Die dag toe ek daai klein seuntjie die eerste keer vashou, het ek geweet ek is nie so nie. Maar dit maak dit moeiliker om te verstaan. Hoe kan enige iemand sy eie kinders weggooi en ignoreer, en maak asof hy hulle nie ken nie? Hoe kan jy nie wil weet hoe dit met jou eie kinders gaan nie? Hoe kan jy nie belangstel in hulle nie? Hoe vergeet mens jou eie kind se verjaardag?

Daar was baie ander vaderfigure in my lewe - mense wat my rigting gegee het toe ek dit nodig gehad het. Maar hy was nie daar nie.

My seun word groot, en elke keer as ek sien hoe hy opkyk na my, maak dit op vir dit wat ek nie gehad het nie. Mag hy nooit daardie verwerping ervaar nie. Die vloek is gebreek.

Thursday, May 13, 2010

Upgrades en downloads

Ek het destyds, net na ons in ons eerste huis ingetrek het hier in Perth, aansoek gedoen by Telstra vir my internet broadband konneksie.

Telstra is Australia se weergawe van Telkom. Hulle het ‘n groot monopolie aan die gang, en baie mense voel dat hulle te duur is. Daar is ook baie kompetisie in die mark.

Ek het na al die opsies gekyk, en ‘n paar was baie beter wat broadband betref. Waar dit egter begin haak het, was om ADSL2+ by my huis te kry. Meeste van die ander verskaffers het gefrons en gewonder en alles vertraag. Telstra het dadelik bevestig dat hulle dit kan doen, en het dit binne ‘n redelike vinnige tyd ge-installeer. Hulle kon ‘n goeie ADSL2+ diens verskaf sonder probleme.

Ek het ‘n internet konneksie wat ‘n maksimum spoed het van 20Mbps, hoewel dit nooit regtig daardie spoed bereik nie. Ek toets dit gereeld, en kry normaalweg tussen 5000kbps en 6000kbps na ‘n server in Los Angeles, en bietjie vinniger na Londen, en dan tussen 350kbps en 500kbps upload speed. Ek het sopas ‘n toets gedoen en 11272 kbps gekry na Londen met upload speed van 488kbps.

image

Dis goed genoeg vir my. Hierdie bandwydte is beperk tot 12G se downloads per maand, ‘n limiet wat ek nog nie een keer kon oorskry nie, selfs nie toe skoonma hier gekuier het en gereeld internet videos gekyk het nie. My hoogste verbruik vir een maand was so tussen 9 en 10G.

Intussen het ek gesien ek kan ‘n paar dollar spaar as ek my FOXTEL rekening kombineer met my Tesltra rekening. (FOXTEL is nou Australië se weergawe van DSTV.)

Toe ek my FOXTEL die eerste keer bestel het, het ek net die gewone decoder bestel. Hy kan nie record en rewind en al daai dinge nie. Die fancier ene is FOXTEL IQ, wat vir jou toelaat om een kanaal te kyk terwyl jy die ander record, en al sulke goed. Dan is daar IQ2, wat die HD service is.

Ek het nou al reeds gratis HD op my free-to-air kanale (cool - vir ‘n ingenieur is dit ‘n plesier om sulke dinge te beleef), maar ek dink nie dis die moeite werd om te betaal net om dinge in HD te kyk nie, veral nie op my ou 22duim skermpie nie.

‘n Bietjie agtergrond vir die lesers:

Australia is besig om al sy “Free-to-air” kanale oor te skakel na ‘n digitale stelsel. Free to air is die gewone televisie kanale, soos hulle in SA die SABC kanale en ETV het. Binne die volgende paar jaar gaan al die ou analoog seine afgeskakel word, en dan gaan jy net digitale TV kan ontvang. Digitale TV is beter kwaliteit, dis soos MNET maar jy betaal nie fooie nie, want dis publieke kanale.

Digitale TV het twee groepe - SD en HD. SD is standard Definition, en HD is High Definition. Moderne TV’s kan SD kanale vanself opvang, en die duur groot skerms kan HD direk ook opvang. Die ou soort gewone TV’s wat ons ken, kan nie digitale kanale opvang nie, en om dit te kan doen moet jy ‘n set-top box koop. Die ding is maar net soos ‘n MNET decoder wat die sein verwerk en omskakel na ‘n gewone TV sein. Van hulle kan HD ook opvang, maar jy verloor natuurlik die HD kwaliteit as gevolg van die omskakeling na analoog seine, behalwe as jy ‘n nuwer TV het wat ‘n HDMI kabel konneksie het.

Die pyn met hierdie free to air kanale is dat hulle jou bombardeer met advertensies. FOXTEL wys bietjie minder advertensies, maar ook nie veel minder nie.

In elk geval, ek het nou heel van die pad af gegaan met die storie. Meeste van julle sit en snork seker alreeds.

Ek sien toe dat hierdie bondel-affêre goed werk. As jy jou internet, jou FOXTEL en jou foon almal saambondel by Tesltra, dan kry jy goeie afslag. Jy kry ook net een rekening vir al drie daardie goed, wat jou betaling makliker maak. Ek het dit intussen al so saamgebondel, maar ek soek eintlik die IQ decoder wat kan record en agteruit-speel en koffie maak en al daai dinge doen.

Ek was nou vir ongeveer 40 minute op die foon met Telstra se helpdesk. Meeste van die tyd was my foon natuurlik op speakerphone en het ek na musiek geluister. Maar om ‘n baie laaaang storie kort te maak, kry ek nou FOXTEL IQ saam met 25G broadband elke maand (ipv die 12G wat ek gehad het), en ‘n beter home phone opsie wat my ekstra gratis lokale oproepe gee, en dit kos my alles saam $10 minder per maand as wat ek tot nou toe elke maand betaal het.

Hoe verstaan mens dit? Hoekom het ek dit nie al lankal gedoen nie, wonder ek?

Elke dag leer mens iets nuuts…as jy jou oë oophou, natuurlik.

Wednesday, May 12, 2010

Wille naweek met die kinners

[Ou storie - Oktober 2009]

"Dis lekker, Pappa", sê my jongste, en vee die vet van haar wang af met haar mou. Daar is kos in haar hare, en sulke vuil kolle op haar hemp. Sy lyk soos 'n weeskindjie in Katutura.

"Is daar nog ribbetjies, Pappa?", vra my oudste seun terwyl hy die laaste stuk bacon in sy mond prop.

Daar is nog, maar sluk eers daai af met 'n bietjie coke, seun.

Dis Saterdag-oggend ontbyt. Ma is weg op een of ander vrouekamp, en Pa is in charge vir die naweek.

Iewers in die huis moet daar nog skoon skottelgoed wees, maar niemand weet waar nie. Die wasbak is vol, en die skottelgoedwasser is toegepak. Dis tyd om die papierborde uit te kry. (Hoekom het ek nie lankal daaraan gedink nie?)

Die kinders het almal voor die TV aan die slaap geraak gisteraand. Dit was al manier om hulle stil te kry sodat hulle nie heelnag neul oor Ma wat weg is nie.

Hierdie kinders van my vreet mos heeltyd. Waars die dae toe ek 'n kind was - ons het drie etes per dag gehad en dit was dit. My vrou het een of ander deal aan die gang waar die kinders heeltyd aanmekaar vreet. Hulle eet darem redelik gesond, maar magtag, mens kan nie heeldag so inprop nie. Ek moet oral appelstronke en piesangskille optel, en dan eers weer raas en baklei tot iemand sy gemors skoonmaak.

Daar is darem nog genoeg ribbetjies om later weer te braai. En ek het die pizza-plek se website onder my favourites.

Ek het intussen een vreeslike hooikors opgetel, en kan amper nie deur my neus asemhaal nie.

Ek moet seker vanaand die kinders in die bad kry. En more moet hulle 'n slag skoon klere aantrek, want ma kom terug. Ek wonder of enige van hulle al tande geborsel het die naweek?

Die plek is 'n gemors - hoe is dit moontlik dat drie minderjariges so baie kan mors? Hierdie naweek leer hulle al drie hoe 'n besem en 'n mop werk.

Nou moet ek eers bietjie slaap inhaal. Ek het my vryheid geniet en laatnag action movies gesit en kyk.

Ek weet nie of ek sal kan wakkerbly deur vanaand se Curriebeker wedstryd nie. Die kinder-oppassery is harde werk...