Die volgende oggend het ons kamp opgepak en gestap na die bote se parkeerplekkie toe. Al drie bote moes eers opgeblaas word, en toe kry ons vreeslike ingewikkelde lesse oor hoe om die roei-spane vas te hou.
Die ding het drie dele – ‘n “shaft”, ‘n “paddle” en ‘n “T-grip”. Jy moet dit kan onthou en ons moes omtrent ‘n halfuur spandeer om die les te leer.
Die vorige aand het hulle al gesê ons moet ons thermal underwear aantrek en dan ons swembroeke bo-oor dit aantrek. Ek het sommer so gaan slaap met die oupa onderbroek. Ons het almal soos Vader Krismis gelyk met ons long johns wat onder ons swembroeke uitsteek.
Toe word daar aangekondig dat ons moet kom vir die “swim test”. Hierts, watse ding is dit dan nou? Hulle sê ons moet in die rivier spring sodat hulle kan seker maak ons kan regtig swem, net vir ingeval ons uit die boot uit val. Skoene en al, want daar is vreeslike skerp klippe daar onder.
Mensig ek was nie baie bly om die ding te doen nie, maar ten minste kon ek ‘n slag my lyf skoonkry en my hare was.
Die vorige dag het hulle ons ook geleer hoe om ons slaapsakke te “waterproof”. Jy druk twee heavy duty asdromsakke in jou slaapsak se sakkie, en dan druk jy die slaapsak in en knoop altwee sakke toe aan die bokant. Alles moet ge-waterproof word, en ek het begin dink ons gaan teen watervalle en rapids afvoeter teen die spoed van wit lig. Dit klink mos nou lekker. Ek het jare gelede op die Oranje rivier geroei in ‘n kano en het dit baie geniet.
Die bote beweeg egter nie veel nie - ons almal wag vir iets om te gebeur. Later besluit ek en my mede-bootryer dat ons die boot nou gaan bestyg en begin beweeg. Die rondsittery werk nie vir ons nie. Nie lank nie, toe is almal se bote skielik in die water en ons is oppad met die Deep river langs.
Dit was egter ‘n baie stiller vaart as wat ek verwag het. Tot ‘n mate eintlik bietjie vervelig. Die ander bote kry nie spoed nie, en elke keer as ek ordentlik begin roei dan verdwyn die ander bote agter ons.
In die een boot sit so dik meisiekind. Sy het so twee keer na die water toe ge-paddle, en toe moed opgegee. Sy sit en slaap met haar hoed op haar kop en die ander drie op die swaar boot moet maar lekker roei, nes hier bo in die foto – check daai een wat regs voor sit en slaap.
Mensig, as sy my kind was het ek haar sommer van die boot afgegooi dat sy kan wakker word. So lui mens het ek nog nie in my lewe gesien nie. Sy doen absoluut niks, en sy probeer nie eens soos ‘n ordentlike mens wegsteek hoe lui sy is nie.
Die rivier loop deur ‘n baie mooi area, en ons het teen middagete by Newdegate island afgeklim. Nat skoene en al. Ek was nie te gelukkig met die nat skoen storie nie, maar mens moet maar doen wat almal in die groep moet doen. ‘n Man se boude begin ook bietjie seer raak van al die gesittery op die boot se rand. Dit het begin voel asof ek ‘n pakslae gekry het.
View Outward Bound journey in a larger map
Van hier af het ons geroei na die vasteland waar ons die bote moes vasmeer. (Rooi paadjie op die kaart hier onder)
Ons het ons rugsakke gegryp, en in die bosse gaan loop nadat ek eers weer my ander skoene aangetrek het.
Ons het kamp opgeslaan in die middel van ‘n area wat my vreeslik aan die Kaap se suidkus laat dink – fynbos en al. Die staproete is in wit gemerk hier onder:
Ons het twee kangaroos by hierdie watergat gesien. Die watergat is duidelik sigbaar op Google maps se satelliet foto.
Daar is ‘n pragtige strand net so ent Suid van die kampeerplek af, en ons het eers soontoe gegaan voor ons die kos begin maak het. ‘n Lieflike plekkie.
Na 'n paar span-aktiwiteite het ons teruggegaan kamp toe.
Ons het ‘n groot dubbel-bivvy opgeslaan, en tydens hierdie lieflike reënerige nag het my slaapsak lekker nat geword. Op een of ander manier het ek self redelik droog gebly, maar my slaapsak was ‘n modderige storie toe ek die oggend wakkerword. Omdat ons die twee bivvies gelas het in die middel, het die water daar by die saamflans-punt lekker ingestroom – reg waar ek gelê het natuurlik. Gelukkig het ek geweet ons gaan in elk geval die hele dag lank nat wees want ons gaan weer roei.
Toe ek die volgende oggend wakker word, kry ek daardie bekende gevoel wat vir my sê dat ek die bombie gaan nodig kry. Baie dringend ook. Ek soek verward in ‘n paniek-aanval na my geliefde wit goud, en uiteindelik spoor ek my toiletrol op. Ten minste is hy nog droog. Ek hol toe uit na Doug toe, en ek was vreeslik bly om te sien Doug staan nog daar – niemand anders beset die bombie op die oomblik nie!
Ek hol soos Zola Budd teen die berg uit, en stop net so nou en dan vir die aaklige maagkrampe wat my bestorm. Tyd is min. Die nood is groot. Die pad na die bombie toe is vreeeeeslik lank, dit voel asof ek ‘n 12 km hike deur die bos doen.
Toe ek bo by die bombie-site uitkom, toe staan die Aap-man van Afrika daar met sy broek op sy knieë. Hy vra vreeslik om verskoning want hy het vergeet om vir Doug saam te vat toe hy bombie toe gehol het. Hy was gelukkig klaar, en oppad weg, en ek was net te bly ek hoef nie vir hom te gewag het voor ek vir Doug in die hande kon kry nie – daar sou ‘n vreeslike ding gebeur het. Ek bestyg die bombie met mening en voel sommer baie beter.
Van hier af is ons terug na die bote toe vir ons laaste stukkie roeiwerk oor die Nornalup inlet en op met die Franklin rivier.
Hierdie area was bietjie rowwer met winde wat golwe op die inlet veroorsaak. Ons het egter die wind van agter gehad nadat ons die Franklin rivier bereik het, en kon basies amper heelpad seil sonder om veel te roei. Dit het sekere mense natuurlik goed gepas ook:
Ek was bietjie verveeld en het met my fancy waterproof kamera rondgespeel en hierdie pragtige selfportret geneem:
Ons het die bote vasgemeer op ‘n plek naby die south coast highway, waar die mini-bussie ons kom oplaai het. Eers moes ons natuurlik die bote skoonmaak, opdra teen ‘n heuwel, afblaas, en op die sleepwa laai saam met ons ander bagasie.
Die bussie het ons gaan aflaai aan die ander kant van Walpole, wes van waar ons oorspronklik die vorige dag begin roei het.
Ons het weer kamp opgeslaan vir die nag, en het die volgende oggend vroeg opgestaan om ‘n ANZAC day gedenkdiens te hou. Dit was nogal iets besonders – in hierdie land word die soldate wat vir hulle land gesterf het, selfs vanaf die eerste wêreld oorlog, nog steeds ge-eer. Hulle word nie rassiste of baby killers of imperialiste genoem nie, maar helde. Soos dit hoort in enige beskaafde samelewing.
Dit het natuurlik ook later gelei tot lang army stories tussen my en die Aapman van Denmark.
Ons het nogal ewe ‘n vlag gehad en die diens is beëindig met die woorde “lest we forget”.
Hierna was dit tyd om bietjie die kompasse uit te haal en ‘n roete te volg. Ons moes ‘n koppie vind met die naam “breast hill”. Die naam is baie selfverduidelikend as jy eers die koppie gesien het:
By hierdie koppie het ons uitmekaar gegaan en die 24 hour duo aangepak. Hierdie is ‘n 24 uur tydperk waar jy en jou kind alleen saam tyd spandeer sonder enige ander mense wat naby jou kom.
Dit was by verre die beste item van die hele kursus.
Ek en Michael het ‘n wonderlike tyd gehad. Ons het ons bivvy opgeslaan, en probeer om die kos te eet wat hulle vir ons gegee het: couscous met baked beans, met geen manier om dit warm te maak nie.
Ek het vir hom army stories vertel en hy het vrae gevra totdat ons aan die slaap geraak het.
Ons moes ewe ‘n posbus bou sodat die instrukteurs vir ons boodskappe kon los as dit sou nodig wees:
Die volgende dag het ons opgestaan toe die son opkom, en omdat dit die eerste sonnige dag was vandat ons begin roei het, het ons al ons nat klere in die bome opgehang.
Dit was ‘n heerlike dag, en ons het diep gesprekke gehad.
Toe die instrukteurs vir ons kom sê dat ons moet oppak en teruggaan, was ek eintlik so half teleurgesteld. In die eerste plek wou ek nog tyd met my seun spandeer, en in die tweede plek was ek nie eintlik nou lus vir die ander mense nie.
Maar die tyd het aangestap en daar was nog baie dinge om te doen.
Van hier af het ons gestap na die volgende kampplek met die naam van “Little long point”, ‘n pragtige stukkie natuur reg op die see.
Hier het die instrukteurs ook vir ons klomp oumanne gesê dat ons die kinders die volgende dag in charge moes sit. Hulle moet alles reel en ons moet net helpende hande wees wanneer hulle vra.
Dit was ‘n moeilike dag, om die minste te se…
Ons het van hier af ‘n 8 km hike gedoen terug na die oorspronklike stuk grond waar die Base camp is. Die kinders het navigasie gedoen en het ons reg deur die middel van ‘n moeras gelei – in plaas van om om die ding te gaan, moes ons reg deur hom gaan.
Daardie aand het ons hout gaan soek en ‘n groot “bush cook” gehad. Dis nou ‘n fancy ete in die bos, waar ons lekker groot hompe vleis gekry het om in ysterpotte te roast. Ons het selfs koek gebak in die potte. Dit was ‘n heerlike aand.
Die volgende dag het ons “track maintenance” gedoen op die Bibbulman Track, ‘n ou bospaadjie wat destyds deur die Aboriginals gebruik is en wat reg deur die hele WA loop. Baie mense gebruik hierdie roete vir staptoere.
Hierna het ons die high ladder gedoen – dis nou so affêre waar jy en jou kind mekaar moet ophelp teen ‘n touleer op.
Laat die aand moes ons die rugsakke skoonmaak voor ons kon eet, en die volgende oggend was dit tyd om terug te gaan. Die tyd het so vinnig verby gevlieg – byna 9 dae is blitsvinnig verby.
Ons het ons grondseile ook geskrop en het vandaar na die rivier toe gegaan waar die bussie ons weer opgetel het. ‘n Heerlike gekookte ontbyt was reg vir ons by base camp, en warm storte het ook gewag – vir die eerste keer in 9 dae kon ek stort.
Ons was ‘n baie lekker groep mense bymekaar, en het al amper soos familie begin voel – op ‘n goeie manier bedoel ek. Dit was weer tyd om almal te groet en ons eie lewens aan te pak.
En nou is ek terug in die beton oerwoud, al tikkende hier agter my computertjie.
Daar was tye wanneer ek gewonder het wat my besiel het om Outward Bound te gaan doen. Daar was tye waar my lyf in ernstige fisiese pyn verkeer het. Daar was tye waar ek swaargekry het as gevolg van my fisiese omstandighede. Maar nou wonder ek hoekom ek teruggekom het beskawing toe.
Die bos doen net iets aan ‘n mens.
1 comment:
Lyk na groot pret daar by julle! Moet nou net nie help om die volgende generasie Aussies te sterk te maak nie- hulle is al klaar erg genoeg in die krieket en rugby!
Post a Comment