Sunday, May 1, 2011

Outward Bound: Deel 1

Jare gelede op skool het ons ‘n ding gehad wat hulle “Veldskool” genoem het. Ons het dit een keer gedoen in die laer skool, en weer in die hoërskool in standerd 7. Dit was amper soos Army, net erger.

Ons moes nagmarse stap met vreeslike groot swaar rugsakke, en moes slange doodmaak in die middel van die woestyn daar naby Lüderitz iewers. Ons moes kaarte lees en kompasse stel, en moes ons blikkieskos in die woestyn opspoor deur te navigeer na die gegewe posisie toe.

Dit was nie ‘n baie lekker ervaring vir my nie – ‘n week weg van die huis af met ‘n klomp onderwysers wat heeldag op jou skreeu asof jy in die army is. Maar dit het my karakter gebou en my ‘n sterker mens gemaak in die lang termyn.

Vandag se kinders ervaar stress as die krag afgaan vir ‘n halfuur. Ek dink Veldskool kan dalk net die ding wees om hulle bietjie reg te ruk.

En toe kom die geleentheid. Ons maatskappy borg mense om die Family course van Outward Bound te doen. Jy en jou kind gaan vir 9 dae bos toe en oorleef in die buitelug. Hoe lekker is dit dan nie nou nie? Die maatskappy gee my spesiale verlof om dit in werkstyd te gaan doen, en hulle betaal nog ons kostes ook. What a bargain.

Die literatuur wat hulle vooraf vir jou gee, vertel nie baie detail nie – hulle vertel net hoe goed dit is en hoe wonderlik almal dit ervaar. Ek dog toe dit klink na ‘n lekker week van kamp in ‘n tent en vuurmaak en groot-oog kampstories vir die kinders vertel. Ek doen gretig aansoek vir die kursus, en ‘n week later kry ek die brief wat sê dat ek ewe gekeur is en ek en my 13-jarige seun kan gaan.

Ek was vreeslik bly oor die lekker free lunch wat ek score – ‘n lekker gekampery op die werk se onkostes.

En toe kom die papiere.

Dit begin lyk al hoe meer soos Vasbyt of Veldskool. Hulle noem al die items wat jy moet he – thermal underwear, ordentlike hiking-boots, nog ‘n paar skoene, reënjasse, nog goed om jou droog en warm te hou, en vreeslike goeters wat jy vir blase kan gebruik.

En omdat ek nou net-net so oorkant 40 is, moet ek ewe die dokter se toestemming kry om die kursus te doen. Nogal ne. O ja, en hulle praat van ‘n uur lank se fiksheids-oefeninge elke dag vir die 6 weke voor ek gaan, en die laaste 10 dae sommer “strength exercises” ook. En natuurlik moet jou hiking boots al ingeloop wees teen die tyd dat jy by Camp Auschwitz opdaag.

Teen hierdie tyd het ek al bietjie benoud begin raak, maar as ek gesê het ek wil iets doen, dan doen ek dit. Gaan nie nou omdraai nie.

Die tyd het verbygeloop en ek het vreeslike lekker skoene gekoop en ‘n fancy Gore-Tex reënjas en twee stelle oumens-onderklere. Ek is reg vir aksie.

Die groot oomblik het aangebreek en ons is weg na Walpole, in die suidweste van Wes-Australië.

Daar aangekom, ontmoet ons die ander deelnemers. Ons is 5 pa’s, waarvan 2 van ons seuns saamgebring het, en die ander drie het dogters.

Ons ry toe van Walpole af na die “Base camp”, waar ons die karre los, en van daar af ry ons in ‘n fancy mini-bus tot in die middel van nerens.

Die een man kom daar van ‘n klein dorpie met die naam van Denmark af. Hy antwoord op alles, “jaah, man”, en ek weet sommer die perd kom van Suidelike Afrika af. Hy is ‘n Rooinek Suid-Afrikaner, maar gebruik meer Afrikaanse woorde in sy sinne as enige ander Boer wat ek al hier raakgeloop het.

Hy het al hierdie regte boere-sêgoed soos “Man, this is lekkeh man”, of “put it sommer there my china”. Hy praat van “those outjies work well hey”, en so gaan dit aan. Hy was ‘n natuurbewaarder in Suid Afrika, en hy lyk soos ‘n regte boswagter. Hy kon nie hier werk kry by natuurverwarring nie, toe begin hy sy eie boomkappery besigheid. Hy is nou ‘n “arborist”. Die ou was vrek snaaks, en ek en hy het jare se army stories vertel en vir alles gelag. Ons het Koos van der merwe grappies vertel en sommer net simpel Afrikaanse woorde gegooi in die middel van gesprekke. Ons sing “ou tante Koba”, en sulke simpel goed wat ek jare laas gehoor het.

Hulle laai ons daar af met twee instructors en ‘n klomp blou rugsakke, en die twee sê ons moet ons tasse uitpak en net die nodige goed in ons rugsakke pak. Hulle loer heeltyd oor jou skouer en helfte van die goed wat jy wou saam smokkel word sommer net uitgehaal. Jy kan een langbroek en een hemp inpak, en twee stelle “thermals”, en onderbroeke en sokkies, en so paar ander items soos hoede en reënjasse.

Daai ou Vasbyt-gevoel begin my weer beetkry – lyk my ons het in ‘n gulag beland of iets. Jy word heeltyd aangejaag en moet net laat waai met die pakkery. Jy kan een tweede stel klere eenkant sit, en dit bring hulle vir jou op dag 5 en dan kan jy ‘n swop doen met jou vuil klere. Ons moet almal sommer net daar ‘n bos vind en ons klere aantrek wat ons vir die volgende 5 dae gaan dra.

Ons rugsakke is gelaai en daar gaat ons na ons nuwe fancy kamp toe. By die kamp sien ek daar is niks fancy tente nie, niks toilette nie, niks storte nie – hierdie is ‘n regte kamp die. Ons woon in bivvies – ‘n plastiek seil wat met 6 toue en 4 tentpenne aan die lewe gehou word.

PTDC0007

Ons maak hout bymekaar en slaan ‘n vuur aan. Hulle leer ons hoe die higiëne werk op die kamp. Daar is ‘n rooi bakkie waar jy jou hande was met ‘n borseltjie, en daar is ‘n swart bakkie waar jy jou skottelgoed was.

PTDC0005

Die toilet is ‘n emmer met ‘n plastieksak in. Hulle verduidelik mooi dat die emmer slegs daar is vir “nommer 2”, nie vir “nommer 1” nie – geen vloeistowwe moet in die sak beland nie. As jy klaar jou ding gedoen het sit jy weer die dekseltjie op en dan is dit die volgende ou se beurt. Daar is ‘n lang paadjie deur die bos na die “bombie” toe. Die paadjie word gemerk met wit toiletpapier in die bome.

PTDC0302

By die ingang na die paadjie staan ‘n klein grafie. As jy die bombie moet beset, gryp jy vir “Doug” (die grafie), en laat waai in die paadjie af. As jy klaar is sit jy vir Doug terug op sy plek en was jou hande. As iemand sien Doug is weg, dan weet hulle die bombie is beset. Maklik ne? Ek bid toe al klaar dat ek nooit sal nodig he om te bomb in die bombie nie – die storie lyk sleg man.

(Terloops, ek het ‘n ander foto van die bombie sonder sy deksel op, maar ons gaan ‘n vreeslike klomp beswaarde lesers he as ek dit hier publiseer…)

Ons het redelik vroeg gaan slaap, en die algemene roetine was maar altyd so. Sesuur staan jy op, en dan teen 9 uur snags voel dit al vreeslik laat, en dan gaan slaap jy maar liewer.

Ons ete was reeds voorberei deur die instrukteurs, maar dis die laaste ete wat hulle vir ons gemaak het. Van hier af moet ons self al ons kos saamdra en dit self kook. Hulle kom staan net met hulle borde en vreet saam as ons klaar gewerk het.

Jy kry ‘n blou grondseil en ‘n klein dun pap matrassie wat niks beteken nie. My ou lyf het maar swaar gekry, maar dis alles vir ‘n goeie doel. Ek is mos nou nie meer die goed gewoond nie man.

Die volgende dag het hulle vir ons gewys hoe om die bivvies self te bou – ewe vir ons knope geleer en gewys hoe om “veggie balls’ te maak. ‘n Veggie ball is ‘n klomp gras en goed wat jy in ‘n bolletjie saamdruk en dan maak jy ‘n bolletjie aan die kant van die seil sodat jy ‘n tou daarom kan knoop. Baie eenvoudig maar baie effektief. Ek kan nou ook ‘n fancy sliding hitch knoop maak met my oë toe en op een been terwyl ek Waltzing Matilda sing.

Ons het ook ‘n tafel gehad. Die tafel was ‘n groen grondseil wat op die grond le. As iemand op die seil trap moet hulle ‘n vreeslike ding doen – hulle moet die teapot dance doen, met ‘n teapot song wat ek nie in my kinderdae geleer het nie.

PTDC0097

Die volgende dag het vinnig aangebreek en ons is gemarsjeer daar na die low ropes course toe.  Dis ‘n plek waar jy klim en klouter op allerhande toue wat jou kop deurmekaarknoop en jou spiere lam maak. My seun het natuurlik dit in ‘n rekordtyd deurgedraf en het dadelik gevra of hy dit weer kan doen. Min weet hy wat nog voor lê vir ons…

Ek het die Denmark-ou so laat lag met my manewales dat hy sy ogies moes uitwas na die tyd – blykbaar lyk ek vreeslik snaaks as ek onderstebo aan ‘n tou hang en probeer konsentreer.

Die volgende kursussie was wat hulle noem die “high ropes course”. Hierdie keer kry jy sommer ‘n helmet en ‘n harnas want ons gaat nou bome klim en soos Tarzan daar rondswaai en kyk of ons uit die boom uit kan val.

PTDC0048

As jy jou helmet afhaal en nie reg-om op die grond neersit nie, moet jy die “unhappy turtle dance” doen. Jy le op jou rug en sê “I’m an unhappy turtle”, en skop jou bene in die lug soos ‘n skilpad wat in ‘n bollemakiesie was.

Dis egter die minste van ons probleme. Die res van die storie is dat jy teen daai boom moet opklim en dan soos ‘n wafferse aap-man in die lug moet toertjies doen. Op hierdie oomblik is ek toe ook al op my tweede dag sonder koffie en die detox-hoofpyn slaan vir my dubbel en dwars. My kop pyn so, ek kan nie eens in die lug opkyk nie. Ek bedel toe maar ‘n pilletjie by een van die instructors, maar hy vat te lank om my hoofpyn te blus.

PTDC0021

Jy moet eers tot bo klim en dan oor die tou loop tot by die volgende platform, terwyl jy jou balanseer met toue wat van die boonste tou afhang.

PTDC0022

Dan spring jy van een platform na die ander ene – 12m bo die grond. Dit lyk maklik as jy hier van onder af kyk, maar wag tot jy self daar bo staan en jou broek begin bewe.

Daarna doen jy die “flying fox’ af grond toe. Dis nou waar jy alles laat los en van ‘n plankie af spring en hoop die harnas red jou.

Dis al.

My seun het tot bo geklim en toe hy afkyk gee sy moed in – hy wil niks weet nie.  Na so tydjie het hy weer moed gekry en dit klaargemaak.  Ek is baie trots op die mannetjie – dis een ding om bang te wees, dis ‘n ander om jou vrese in die gesig te staar en deur te druk ten spyte daarvan.  Hy is die jongste outjie wat nog ooit die high ropes course klaargemaak het.

Na hy dit oorleef het kon ek mos nou nie weghol nie. Daai spronge tussen die planke het my broek bietjie laat bewe, maar as jy net jou brein laat werk in plaas van jou gevoelens, dan doen jy dit maklik.

Toe ons hier klaar is het ons weer teruggegaan kamp toe en reggemaak vir die volgende groot dag – rafting on the river. Dis nou hierdie deel waarna ek die meeste uitgesien het.

Word vervolg…

No comments: