Destyds, toe ek 'n jong snuiter was moes ek eendag begin werrek (na ek lank gesukkel het om 'n "education before liberation" te kry). Ek het daar by 'n kantoor ingestap en een van die eerste dinge wat ek geleer het was dat ek dadelik moet betaal om deel van die koffieklub te word.
Ons het vreeslik baie geld betaal - R10 per maand, vir regte egte filter koffie. Elke oggend het Windolene my koffie op my tafel kom neersit. Sy het hom presies reg gedokter - die regte hoeveelheid suiker en melk. Tienuur was teetyd, dan kry ons weer van Windolene se koffie - die keer staan die pot daar en jy help jouself. En dan wraggies waar, kwart oor drie in die middag dan is dit weer tee tyd. Dan staan daar weer 'n pot koffie.
Ek het gewoond geraak daaraan dat daar altyd skoon bekers ook was. Windolene se job was ook om die skottelgoed te was. 'n Mens kan mos nie met vuil bekers werrek nie man? Die dag wat Windolene op AWOL was dan vrek ons almal, want niemand weet hoe die koffiemasjien werk nie, en niemand is dapper genoeg om skottelgoed te was nie. Dit was die belangrikste pos in ons hele afdeling.
Dis mos 'n lekka ou plek daai Afrika - die Windolene's maak alles vir jou skoon en jy kan maar net lekka koffie suip en die beker daar op die tafel los - dis mos hoe 'n Baas die dinge doen.
En toe kom land ek mos hier Doer Onner. Hier is nie même -goed wat 'n ou se koppies vir jou was nie. Hier kry jy nie eens iemand wat in die oggend vir jou koffietjies aandra nie - jy moet vir jouself sorg in hierdie geweste. Hierdie ou dom biltongboer moet nou self van die sleg instant koffie aanmaak daar in ons fancy kombuis.
Daar staan sulke hope koppietjies wat skoon is aan die een kant, en klomp vuiles aan die ander kant. Een keer per dag stap 'n antie daar in en sy ruil die vuiles om vir skones, en sit skoon watertjies in die warm water masjien. Partykeer vee sy nogal die tafel blad ook af met 'n lap wat ruik asof hy in 'n ammoniak advertensie was. Jy kan skaars asemhaal in die kombuis van die dampe wat uit daai lap uit kom. Daar lewe nie 'n kiem binne 'n 50m radius van daai plek nie.
Party dae is die skoonmaak-antie so mooi jong blonde pop, ander dae is dit net 'n gewone ou antie. Hoe mooier en jonger die pop, hoe swakker die diens, het ek agtergekom.
Die simpel ou wit koppietjies lyk soos die goed wat hulle destyds op die trein vir jou gegee het - ewe met 'n piering en al. Die simpel ding is so klein jy kan nie eens spoeg in hom nie, dan loop hy oor. Die gevolg is dat baie mense eerder hulle eie bekers gebruik. Elke ou het sy eie beker. Ek het ook ene.
Sien jy nou waantoe gaan die storie?
As jy jou eie beker gebruik, dan is daar nie même wat hom vir jou was nie. Jy moet self na die ander kombuisie toe stap waar die wasbak is en hom dan was. Ek het nie 'n probleem daarmee nie, ek was hom self dan weet ek hy is skoon.
Maar mensig jy moet die affêre aanskou. Hierdie Aussies darem - hulle het nooit bediendes gehad in hulle huise nie, nou het hulle nooit geleer dat jy eintlik veronderstel is om 'n ding skoon te maak as jy klaar gemors het nie. Ons word elke dag vertel van safety - jy moet amper met daai krieket-bokse in jou broek rondloop so erg is dit. Alles wat lyk asof dit kan gevaarlik wees, word teen gewaarsku. Jy kan skaars uit die gebou uit gaan sonder 'n helmet en faktor 50 sonroom.
Maar mensig, die basiese higiëne bly maar 'n probleem. Van hierdie perde kom sit daar in 'n vergadering en drink uit sy beker uit. Daar sit tien jaar se vuil bruin ringe aan die binnekant van daai beker. Ek kan nie help om die goed raak te sien nie - ek probeer my oge toemaak maar my natuurlike instink skop elke keer in. Dis vreeslik man - daai mense sit en drink uit daai beker wat nou al 750-duisend nuwe kiem-variasies ontwikkel het waarvan die geleerdes in die hospitale nog nie eens gehoor het nie. Hoe enige beskaafde mens met so beker kan rondloop sonder om skaam te voel, weet ek nie. Dis plein grillerig man.
Elke keer as ek so beker sien, dan gaan was ek sommer weer my beker, net om seker te maak ek oorleef nog 'n dag in hierdie woeste wêreld.
Dis 'n harde lewe hier Doer Onner.
No comments:
Post a Comment