Saturday, December 4, 2010

Sonde met die bure

Die storie het eintlik niks met my bure uit te waai nie, en ek weet nie of ek veel sonde het om oor te gesels nie. Ek is sommer net lus vir nonsens praat, en die titel laat dit klink asof daar iets is om oor te praat.

Ek het gister weer bietjie vooruit gegaan met die tegnologie in my huis. Ons het op die oomblik drie rekenaars (of neukenaars, soos my oudste dogter die ding genoem het toe sy nog klein was). Ons het egter net een printer, en die kinders van vandag ken mos nie meer van pen en papier en kryte en potlode nie. Nee-eee, hulle moet mos Powerpoint presentations doen en technicolour plakkate in 3D produseer. Nie dat dit 'n verskil maak nie, want deesdae kan niemand mos meer 'n standerd pluk nie, hulle gee jou net so algemene punt wat sê jy is net so dom soos allie ander kinders, of dalk bietjie bo-gemiddeld, of effe useless in vergelyking met die gemiddeldes. Maar niemand kan tog in die 22 ste eeu so gemeen wees om te waag noem dat 'n kind te dom is om deur te kom nie. Dis 'n vreeslike skending van menseregte, en dis klaar nie meer sonde om gay uit te draai nie, dus moedig jy nie kinders in daai rigting aan deur te sê hulle onderpresteer nie.

In elk geval. Drie rekenaars. Ek het 'n fancy draadlose netwerk ook hier in die huis. Dit beteken natuurlik dat hier vreeslike brain-waves oral om ons koppe vlieg – daai radio seine is die hele plek vol. Ek het 'n stewige stukkie internet ADSL2+ konneksie wat ek by Telstra kry. Elke maand mag ek 25G se data aflaai. Ek weet nie wat maak mens met 25G se data nie – ek kon nog nooit by die limiet uitkom nie. Ek sal daai hele Wikileak-affêre se geheime tien keer kan aflaai en nog steeds 24G oorhe.

Die een printer is nou egter 'n krisis. Die ou rekenaar wat die kinders moet gebruik, se Wi-Fi ding werk nie altyd lekker nie. En elke keer as ek die printer uit daai masjien se USB port uithaal dan vou sy wireless konneksie ook. Dit gaan nou al vir 'n lang tyd so aan, en gister toe maak ek 'n plan.

Ek sien 'n advertensie vir hierdie wireless printer – die ding kan enige plek in die huis staan, en as jy kliek op die "print" knoppie, dan spoeg hy technicolour papier uit al is sy drade nie in jou masjien in gedruk nie.

Volgens die ou by die winkel is dit peanuts om die ding te installeer – jy druk 'n knop of twee, en binne 10 minute print jy Mickey Mouse prentjies in 3D en full colour. Ek is mos darem 'n ingenieur en ek weet dit behoort vir my nog makliker wees as vir die gewone ou leek om die ding aan die gang te kry.

Ek kom by die huis met my fancy HP boks en ruk hom uitmekaar totdat net 'n printer oorbly. Die dingetjie lyk sommer heel wild, pikswart met knoppies en liggies en 'n skermpie wat praat met jou. Dit alles vir slegs $48 – dink jou dit in.

Ek lees ewe die instruksies – wil nie tyd mors en sukkel nie. Hulle vertel my ek moet die CD in die neukenaar in druk en dan die installasie doen voordat ek die USB kabel indruk. Ek doen alles ewe geduldig, maar na 'n halfuur se gesukkel vertel die installasie program vir my dat die printer nie met hom wil praat nie. Ek lees op die internet, loer oral, soek, maar niks werk nie. Ek stel aan my virus program maar niks wil werk nie.

Ek sit natuurlik ook met drie neukenaars wat elkeen 'n verskillende operating system het. Die oudste een – die ene wat die kinders moet gebruik – hardloop nog op XP. Die ouer laptop hardloop op die gehate ou Vista, en my nuwe nommertjie gebruik Windows 7. (Mens sal wonder of Windows7 beter kan wees as Windows95 – die nommer is dan kleiner?)

Elkeen van hulle doen ander goed as jy die printer probeer installeer. Nou is daar al ongeveer 2 ure verby en hierdie man is boos.

Ek sien later die IP adres van die printer op sy screen is heel verkeerd – hoe het dit dan nou gebeur? Die ding se blou liggie brand, wat beteken hy is op die wireless netwerk, maar volgens sy IP adres is dit nie op hierdie netwerk nie. Ek kon net sowel gepraat het met daai maankarretjie wat op Mars sit – die ding se posbus werk nie reg nie. Ek vind later uit ek moet die wireless router ook so bietjie skok-terapie gee. Sit hom af en sit hom weer aan en siedaar – printer het nou nuwe IP adres.

Nou sien ek al die printer op die netwerk maar die ding willie werk nie. Die neukenaar sê later vir my dat hy en die printer dieselfde IP adres het. O gonna, wat maak ek nou? Ek kry toe 'n manier om in die printer se brein in te klim deur die IP adres in my web browser in te tik. Skielik gaan 'n nuwe wêreld oop – jy kan al die printer se binnegoed hier verander. Ek verander sy IP adres, en siedaar – alles werk.

Uiteindelik werk my slim $48 plan. Maar tien minute se dinges man – jyt 'n ingenieursgraad nodig om die ding aan die gang te kry, en selfs dan sukkel jy. My vrou wil he ek moet haar leer hoe om iets in te scan op die printer – ek sien nie kans nie. Dis een ding om self te weet wat jy doen, dis 'n ander om dit vir mense te leer. Veral mense wat nou nog nie verstaan hoe om files te copy en paste na 'n memory stick toe nie.

Wel, die ding is nou gedoen – my netwerk laat loop teen 'n gevaarlike 52 Mbps, terwyl my internet konneksie getoets is op 7Mbps – eintlik veronderstel om 20Mbps te wees volgens Telstra. Selfs my WII masjien is sommer met die wireless gekoppel – jy kan ewe nogal op Joutjoep gaan via jou WII console. As jy wil.

Eendag gaan Julia Gillard vir my 'n optiese vesel na my huis toe aanlê, dan is my internet spoed sommer iewers tussen 100Mbps en 1Gbps volgens die regering se beloftes. Dit beteken my wireless router sal useless wees want hy loop teen maksimum van 52Mbps.

Teen daai tyd sal daar seker in elk geval baie ander speelgoed in my huis wees wat daai bandwydte wil gebruik. Blykbaar maak die Japsnese alreeds yskaste wat vir jou emails en SMS'e stuur as die melk opraak. Of nog beter, die yskas bestel sommer melk van die local IGA af via die internet, en as jy weer kyk is die melk by jou voordeur nog voor jy agtergekom het die melk is op. (Of dalk vind jy uit jy het nooit die melk in die yskas teruggesit nie – dit gebeur elke dag in my huis…)

No comments: