Saturday, December 4, 2010

AKTUR en die olifante

Ek was 6 jaar oud, en groot genoeg om skool toe te gaan. Ek het 'n koffer gehad wat amper so groot soos ek was. Ek het groot-oog daar op die skoolgronde aangekom, en maatjies begin maak.

Ek kan nie onthou watter jaar presies dit was nie – party geskiedenis-boeke praat van 1977, ander noem 1978. In 1977 was ek in Sub B, en dit kon moontlik daai jaar gewees het. Wat ek wel kan onthou, is dat daar groot politiek aan die gang was. Volgens die maatjies op die speelgrond was daar slegte mense wat DTA's was – hulle is kafferboeties en hulle is kommuniste en wie weet wat nog. As jy iemand kry wat 'n DTA is, dan vorm almal so kringetjie om hom en hy word uitgestort.

Blykbaar is almal AKTUR, jy sien. AKTUR was die goeie ouens. Hulle het 'n olifant gehad vir 'n simbool. Baie belangrike olifant.

Dit was omtrent die somtotaal van my kennis van die politiek in 1977. Toe ek later uitvind my ma stem DTA, toe is ek vreeslik geskok. Solank niemand weet nie, dan is ek oraait. Miskien was dit anders op ander skole in Suidwes, maar in Dr van Rhijn laerskool in 1977, was AKTUR beslis die in-ding.

Ek het geen idee gehad wie of wat AKTUR was nie. Dit staan blykbaar vir "Aksiefront vir die behoud van die Turnhalle-beginsels". Ek is net vertel dat Dirk Mudge ons nasie uitverkoop en dat ons nie moet toelaat dat die swart satans ons land afvat nie.

Snaaks genoeg wys die statistieke dat hierdie tipiese houding onder die Afrikaner vir baie jare al voorkom. AKTUR het slegs 11.9% van die stemme gewen in 1978, volgens hierdie webblad. Meer as 82% van blanke suidwesters het vir die DTA gestem. Praat nou vandag met mense in die land, en hulle sê vir jou dis alles die mense wat DTA gestem het se skuld. Niemand het kamstig DTA gestem daai tyd nie. Almal is deel van daai 11.9% AKTUR mense. Skokkend ne.

Dis dieselfde met daai klomp wat "Stop FW" gestem het. Blykbaar is almal vandag deel van die minderheid wat vir hulle gestem het…

Ons het gereeld speletjies gespeel. Jy weet, daai speletjies waar iemand die kroek is en die ander ouens is die cowboys. Al verskil was dat die kroeks DTA's was, en die goeie ouens was die AKTURS. Enige ou wat in sy broek gepiepie het in die klas, of dalk 'n vuil kol agter op sy broek gehad het, was outomaties as DTA gemerk.

Al hierdie goed gaan aan op die speelgrond terwyl ou Hendrik van Rhyn vir ons staan en kyk terwyl ons so speel. Hy was 'n ou swartman wat jare lank by die skool gewerk het. Hy het geweet hoe om daai blou wasvelle op die afrolmasjien te sit en dan sommer 'n hele 100 afdrukke te kan maak – hy was 'n slim ou man. Mens kan maar net wonder wat in Hendrik se kop aangegaan het as hy hoor hoe die wit kinders politiek speel.

Daar was so outjie wat altyd na piepie geruik het. Wonder wat van ou Loekas geword het. (Ja, dis hoe hy sy naam gespel het.)

Klomp van die kinders in hierdie skool was in die koshuis. Plaaskinders. Hulle was bietjie snaaks, van hulle. Hulle het rog gevreet pouses, en altyd oor die koshuiskos gekla. Hulle pa's en ma's het hulle op die ouderdom van ses hier kom aflaai, en dan sien hulle vir pa en ma net as dit langnaweek is of vakansies – en dan moet hulle werk op die plaas. Meeste van hulle kon al bestuur en het al 'n koedoe of twee platgetrek voor hulle tien geword het.

Twee van die koshuisbrakke het elke pouse gesit en kar-kar speel. Ek kon die ding nooit verstaan nie. Hulle het op die stoep gesit met hulle rue teen die muur, en hulle voete so voor hulle uitgestrek, en dan kar gery. Wroem wroem, hulle start daai ou Ford en die rook trek en die biesies bewe. Hulle gaan om draaie en deur slote, en sit die voet oppie petrol en dan briek hulle verwoed.

Elke liewe pouse vir 'n hele jaar lank het Ian en Smittie hierdie speletjie gespeel. In die klas sit die man met 'n liniaal, en dan gebruik hy die liniaal as 'n speedo – jy weet mos, daai ou simpel speedos wat so in 'n reguit lyn geloop het met die wyser wat so van links na regs beweeg hoe vinniger jy ry. Dan slaat die onnie daai mannetjie met die liniaal dat die hare waai. More doen hy dit weer.

Die plaaskinders was nie altyd so lekker nie. Maar daar was ander wat erger was.

Baie van die kinders in die skool se ouers het by die spoorweë gewerk. Windhoek Wes was daai tyd 'n wit buurt naby die spoorweg stasie. Daar was 'n paar snaakse karakters in daai skool. Party van my maatjies het in standerd vier nog nie eens 'n telefoon by hulle huis gehad nie. As ek vir ou Danie wou bel, moes ek die bure bel, en dan roep hulle hom, en hulle is nie baie gelukkig oor daai ding nie. Dan hoor ek hoe skreeu hulle daar iewers in die pad af om vir Danie te kry. Die mannetjie was later onderhoofseun – kan jy dit glo. Ons hoofseun was een van die twee wat kar-kar gespeel het op die stoep. Hy het later onderhoofseun by Windhoek Hoër Skool geword ook.

Ek wonder vir wie stem hulle nou? (Wat se verskil maak dit in elk geval?)


 

No comments: