Ouma was 'n tawwe Ouma wat nie nonsens gevat het nie. Ek kan onthou sy het op 'n stadium by die kommandos geleer skiet. Sy het nie tyd gehad vir Kommuniste en duiwelse mense nie. Sy het goeie Duitse bloed in haar are gehad. Sy het vir my 'n army boshoed gegee – 'n camo ene, wat ek tot vandag toe nog kan onthou.
Ek onthou eintlik bitter min van Ouma.
Ek onthou wel die hospitaal se gange. Daai reuk van die hospitaal wat ek nou nog nie kan verdra nie. Die reuk van mense wat doodgaan.
Toe ek in Sub A was het ons gereeld gaan stap saam met Ouma, daar in die straat af. Maar later was sy meer gereeld in die hospitaal. Kanker. Ons het baie daar gaan kuier, en dit was nie vir my lekker nie.
Op 7 Desember 1977 het my tannie by ons huis aangekom. My ma was nog nie terug nie. "Ouma is hemel toe", het sy vir my en my boetie kom sê, met trane in haar oë.
My boetie het my gevra: "wat bedoel sy?", en ek het geantwoord dat ek dink Ouma is dalk dood.
Oupa was nooit weer heeltemal dieselfde nie. Hy het 9 jaar lank geld gespaar sodat hy 'n huis kan koop voor hy sy vrou vra om met hom te trou. Hy was toegewyd in sy liefde vir haar. Daai tipe lewenslange band wat mens nie meer deesdae baie sien nie.
Elke jaar onthou my ma die datum – 7 Desember. Daar was blykbaar altyd sewes in haar lewe.
Nog 'n jaar verby, nog 'n seisoen langer terug – en mens onthou net sulke stukkies van alles. Hoe verder terug jy dink, hoe minder kan jy duidelik onthou.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
1 comment:
Gee maar kans, ons word ouer en onthou kom dan duideliker terug - nie dat ons altyd wil nie, dit doen net.
Maar om so toegewyd te wees - dis belangrik.
Post a Comment