Monday, August 8, 2011

Grensstories - Deel 2

Hier oppie grens was ook interresante karakters gewees. Daar was ‘n kleurling luitenant, hy was ‘n PF, en was ‘n vol luitenant gewees. Ons was mos eintlik “tweede luitenante” – een diamant/ster. Dan kry jy ‘n vol luitenant, wat twee sterre/diamante het, en dan kaptein, met drie diamante.

In elk geval, die ou was so skeef soos ‘n blerrie Marsmannetjie op steroids. Hyt al daai Nataniel-moves gehad. So oulike stemmetjie ook gehad. Ek hoor later hys nou ‘n koffie-moffie op Air Namibia se vliegtuie – trek sulke lekka leerbroekies aan en dan karjakker hy daar in Londen se onderwêreld rond as hulle daar land. Hy was ons personeel offisier.

Ek kry die titel van Militêre regsoffisier, 102Battaljon. MRO. Met al my jare se regskennis en ervaring is ek op 19-jarige ouderdom net die regte ou vir die job. Ek sit in ‘n kantoor heeldag en kla ouens aan wat AWOL. Daar was baie sulke ouens. 102 Bn was hoofsaaklik uit VHD troepe saamgestel – Votlydse HulpDiens Eenheid. Dis locals. Himbas wat uit die bos uit gekom het en hulle gatlappies ingeruil het vir ‘n boshoed, ‘n geweer en ‘n stel boots.

Ek moes al die papierwerk doen. Die Kaptein van die betrokke eenheid was altyd die Regter in enige saak, en ek was soos ‘n staatsaanklaer gewees. Al probleem met die stelsel was dat die Kaptein ook die ou was wat die ou by my kom aangee het, en dan gesê het ek moet hom aankla. Dan doen hy die verhoor. Die man is skuldig nog voor ek boe of ba gesê het. Partykeer het die troepe ook iemand probeer aankla. Die Korporaal het hom gevloek, en so aan. Daai sake het redelik na een kant toe gegaan.

Ons is opgecheck deur regsmanne in Oshakati en in Windhoek. Hulle het al die dokumentasie na die tyd deur gegaan, en 90% van die kere het hulle besluit dat die verhoor nie reg verloop het nie. Die klomp was sulke regte liberale studente-tipe wat die army heeltyd probeer ondermyn het. Maar jy kan sien hoekom, nê…

Eendag kom Kaptein oWarra-warra in my kantoor aan. Niemand met wie ek nog kontak het kan sy regte naam onthou nie, al die troepe en offisiere het hom so genoem. “Warra-warra” in Herero beteken iets soos “lekka deurmekoekies”. Hy bring daar ‘n troep aan – die ou het gedrink, of ge-AWOL of iets dergliks. Hy maak die deur toe agter ons. Dis nou net ons drie in die kantoor. Die ou moet sy confession teken daar voor my. Die man weier. Warra-warra begin neuk daai ou dat die velle waai. Hy slaat vir hom bo-oor my tafel, daai man huil later. Hy teken sy confession – terwyl die bloed by sy bek uitloop.

So het die regstelsel in die Army gewerk. As ek hierdie Amerikaanse flieks kyk van regsake in die weermag, dan kan ek net lag. By ons was daar so namaaksel van ‘n regstelsel, maar dit was maar net om die wetlike aspekte te bevredig.

Die offiserslewe is lekker, maar selfs ‘n offisier het werk om te doen. Elke ou kry sy beurt om Offisier aan diens te wees. Dan loer jy deur die nag of die wagte wakker bly, en gaan kyk wat maak die seiners daar in die radiokamer. Een van jou baie gedetaileerde instruksies was dat jy moet ogie hou oor die troepe wat eet in die menasie. Dis nou daai VHD troepe. Een van jou duidelike instruksies was dat jy moet sorg dat die mense nie met hulle hande eet nie. Hy moet ‘n mes en ‘n vurk gebruik. Dit klink dalk snaaks, maar ons moes wragtag dit doen, en elke keer het jy manne gekry wat kanse vat.

Ek het later hierdie seiner-stories uitgekyk. Hulle sit daar by die hopper-radios en wag vir iets om te gebeur. As daar nerens kontakte is nie, dan gaan dit maar vaal in die radiokamer. Ek kry ‘n blink plan. Een van my pelle is op 101 Battaljon, in Ondangwa. Ek roep daar vir Lima Tango Balt, en 5 minute later is hy op die lug. Ons praat land en sand hier op die hoogs geheime hopper radios – te lekker.

Die hoppers het heeltyd frekwensie verander sodat die vyand nie die boodskappe kon luister nie. Dit was daai dae high-tech. Jyt so kode gehad wat jy instel, en elke dag het die kode verander. Die kode bepaal die hops wat gemaak word.

Ons het ons eie swembad gehad by die offisiere se kwartiere. Dan maak die kombuis vir ons sulke groot trommels vol vleis reg, dan braai ons die hele naweek langs daai swembad.

Ons het so mal Majoor gehad – hy was in charge van al die offisiere. Hy het so nou en dan daar deurgestap en inspeksie gehou in ons kamers. Ons badkamer het sulke aaklige torre in die nag gelok as die ligte aan was. Die goed vrek, en dan stink hulle verskriklik. Dan moet ons eers weer badkamer skoonmaak.

Ons het pelle met die logistieke offisier geword, en hyt gereeld goed uit die kombuis uit aangedra. Aanmaak milk-shake, en boksies melk het in hope onder ons beddens gestaan. As die majoor kom inspeksie hou, moet jy daai goed wegsteek, anders is dit nag vir jou.



Ons Gim in ons kamer.

Hier staan ek met my mooi leerbelt wat die offisiere gedra het.


Otto - ek dink sy van was Otto - kyk die lekka snorretjie

Ons kamer het klomp voorraad gehou

Ou-Kersaand was ek gelukkig genoeg om offisier aan diens te wees. Te lekker. Daai aand is die Koevoete in die dorp, hulle suip lekker en tel girls op, en jag met ‘n CASPIR in ‘n elektriese paal vas. Die paal se kabels sny die een girl se kop mors af tydens die ongeluk. Hulle reël medics en goed, en tot vandag toe het niemand hulle aangekla of die saak verder ondersoek nie. Met koevoet het jy nie gesukkel nie.

Hulle het eendag daar in die dorp links en regs geskiet, toe lê die dowwerts die plek vol. (Dis nou ‘n ploftoestel wat nie afgegaan het nie.) Toe gaan ek saam met die Genie-manne om die ding onskadelik te maak. Die kinders speel in die dorp, dan tel hulle ‘n snotneus se kop sommer op en speel met hom. Ons het selfs tydens opleiding al geleer jy moet baie versigtig met daai ding se punt werk – hy is sensitief en jy “speel” nie met hom nie.

Hierdie was toe ook ‘n snotneus se punt wat daar in die grond lê. Daar was so engelse stormpionier wat die ding moes onskadelik stel. Die mal ding plak sommer PE4 so op die ding, hardhandig en druk die detonator in – die res van ons sien wat hy doen en slaan dekking. Blerrie mal ding, hyt ons amper almal weggestuur moerlandspan toe. Party ouens was net plein wild.

Een van die jobs wat ek gehad het was om pos te sensor. Ek het so stempeltjie gehad waarop staan SENSORED/GESENSOR, en dan moet ek teken daar. Al die troepe se pos wat uitgaan, moet gelees word en gecheck word. Hier mag nie geheime uitlek hier van die Grens af nie.

Ek het later ‘n reëling gehad met die Genie Korporaal dat sy troepe se goed nie gelees sal word nie. Hulle belowe hulle sal net mooi goedjies skryf, en dan sal ek nie hulle love letters oopmaak nie – ek stempel net en stuur aan vir die Dek om weg te vat Windhoek toe.

So nou en dan doen ek spot-checks – my rang is op die lyn hierso, as ek uitgevang word dat ek nie regtig sensor nie, is ek die ou wat aangekla word en deur Warra-Warra ge-oortuig word om confessions te teken. Ek maak eenkeer ‘n brief oop. Dis so baster troep wat vir sy girlfriend daar in Rehoboth skryf. Hy vertel haar eers dat die stories wat sy hoor nie waar is nie, sy moenie alles glo wat almal vertel oor hom nie. So nou en dan gebruik hy die woord “bitch” en “slet” en so aan teenoor haar, maar wies ek nou om te sê hoe hy moet praat met sy vroumens?

Dis later af in die brief wat ek sien hiers moeilikheid. Hy skryf: “Moenie worry nie, ek sal nie dat die vark-goed my briewe lees nie” Dit was die laaste wat ek nie briewe oopmaak nie – niemand praat so en kom daarmee weg nie. Ek wonder waars daai sleg troep vandag?

Ons het altyd sulke lekker bakke vleis gekry oor naweke. Ons kan nie helfte van die vleis opeet nie, dan braai ons die hele week lank, elke aand. En ons het ‘n swembad ook gehad. Lekker in die Army, sê ek jou.

Nuwejaar 1988-89. Sal hom nooit vergeet nie. Die oggend was ons skietbaan toe, ons skiet dat die biesies bewe. Die mal stormpionier skiet hier langs my, reg by my kop verby. Hy was blerrie mal. My ore suis daai dag so dat ek absoluut niks kan hoor nie. Alles suis net so. Ek skreeu op almal, want ek kan niks hoor nie. Tot vandag toe het ek ‘n suising in my ore, ek het omtrent 12% gehoorverlies in my regteroor, en my linkeroor is nie veel beter nie. Oor stupid wees en nie oorpluisies dra nie. Dis een dag in my lewe wat ek graag sal wil oorhê en anders doen.

Toe ons terugkom by die basis, toes dit tyd om Plato toe te gaan. Ons klim op Warra-warra se bakkie, en neuk daar teen die passe op. Ons het bottels vol sjampanje, en blikkies Coke. Ek drink die blikkie Coke uit, en van daar af vul ek hom met sjampanje. Ek het later uitgewerk, ek het omtrent 2 bottels sjampanje op ‘n leë maag uitgesuip daai dag.

Ek kan redelik onthou tot op ‘n stadium, en van daar af is alles ‘n waas. Ek onthou ons het begin jolig raak daarbo, en toes dit later tyd om terug te ry. Ek sit agter op WarraWarra se bakkie en klap met my hand na die wiel hier onder. Iewers oppad onder toe het ek afgeneuk van die bakkie af, en weer teruggeklim. Toe ons onder kom, is ek so dronk soos ‘n tor. Ek het op ‘n stadium in die swembad geval, en amper versuip, en toe die Kommandant vra of ek oraait is, toe vloek ek hom lekker. Ek is mos nou doof ook nog, en skreeu op hom want ek kan nie hoor nie.

Dit hoor ek alles die volgende dag – kan niks onthou van dit nie. Onthou net die swembad. Ek het gekots dat die biesies bewe. Volgende oggend toe ek wakker word, het ek myself belowe ek word nooit weer so dronk nie.

Die manne op die plato - ek sit onder regs.
(Dis bottels sjampanje wat daai manne so in hulle monde druk...)

Lees verder

Grensstories - Deel 1

Dit was tyd om grens toe te gaan. Ons moes by Osona opdaag na die pasnaweek, en van daar is ons op 'n Kwêvoël gelaai wat Grootfontein toe gery het.

Toe ons in Grootfontein aankom, word ons in die deurgangskamp ingeboek. Die plek is sif, man. Die toilette se uitlaat loop in so kanaal uit. As jy daar sit en jou ding doen, dan sien jy hoe dryf jou buurman se "goeters" hier in die kanaal onder jou verby.

Niemand weet wie ons is, en hoekom ons hier is nie. Oral waar ons rapporteer, weet niemand van ons nie. Ons moet maar wag tot iemand iets besluit. In "hindsight" was dit eintlik die ideale tyd om te AWOL – hulle sou my nooit gekry het nie, sou nie eens geweet het ek is weg nie.

Baie van ons het van Osona af tot hier bymekaar gebly. Van hier af moes ons verdeel, Rundu toe, Opuwo toe, Oshakati/Ondangwa toe. Dit was die sentrale punt vanwaar ons in die Operasionele gebied ingevat is.

Ons hang in die dorp rond, vreeslik grootmeneer met ons range. Ons het die Gebiedsmag se rangkentekens gedra, diamante op die skouer, nie sterre soos die Suid Afrikaners nie. Daar was so vliek iewers in die dorp, ons het daar gaan movies kyk, en probeer kyk hoe lyk Grootfontein se meisies.

Ons loop met uniform aan in die dorp rond, niks om te doen nie. Die MP's kom op ons af, en vra klomp snaakse vrae. (Militêre Polisie) Hulle is Suid-Afrikaners - onderkorporaals, en wil ons sommer arresteer. Hulle ken nie ons rangkentekens nie, en raak sommer harregat met ons. Die MP vra rangnommers, ons gee die nommers. Al ons nommers het ge-eindig met SCE, terwyl die Suid Afrikaners se nommers met BG ge-eindig het, vir die blankes. Die ou wil weet hoekom eindig ons nommers dan nou met SCE, en nie met BG nie. Die een suidwester sê vir hom "lyk ek vir jou soos 'n baster, of wat?" - by ons was die B vir "Baster", nie vir "Blanke" nie.

Ek dink die C was by ons vir Caucasian of iets. Nie dat dit vandag in die reënboognasie 'n verskil maak nie – behalwe as jy job soek of 'n tender invul of SASOL aandele wil koop.

Sommer dadelik kom ek agter daar is "ons" en "hulle" tussen die Suidwesters en die Suid-Afrikaners.

Dit was tipies van die mentaliteit waarmee Suid-Afrikaanse soldate partykeer hier aangekom het. Alles uit hulle eie perspektief, met geen agtergrondkennis van wie in die land bly, en wat hulle doen nie. Ons is sommer second-hand, want ons dra diamante, en nie sterre nie.

Na 'n week se ge-rondsittery en bakleiery met die MP's, kry ek 'n vlug na Ondangwa saam met my comrades. 'n Flossie – eerste keer in my lewe dat ek vlieg.

Ons kom in Ondangwa aan – nog meer chaos. Ons sit en wag vir die vlug na Opuwo. Ek sien hoe 'n bloeiende ou vol verbande en druppe op 'n stretcher verbykom en op 'n vliegtuig gelaai word – gewond net hier buite iewers in die bos. Nous die Army nie meer sports nie.

Ons word op 'n Dek gelaai Opuwo toe. Dek is die afkorting vir Dekota – daai ou vliegtuie wat al van die 2de wereldoorlog af saam met die lugmag kom.

Hy vlieg heeltyd boomtophoogte – stamp soos 'n kar op 'n grondpad. Hier rondom my word net katte geskiet. Ek land in Opuwo op 'n Saterdag. Ek word voorgestel aan so paar manne – dis tyd vir toebroodjies. Hier op die plek is daar nie middagete nie, daar is "brunch" en aandete. En middagtyd word daar siesta gehou. Ek word ingeboek in die offisiere kwartiere saam met my Genie pel, Alewyn.

My ou skoolpel, Roelof, en hy was saam op Genieskool, en nou is ek en hy groot pelle, mens sou sweer ons ken mekaar jare lank, of is familie of iets. Ons loer daar in die kaste rond – sien 'n botteltjie wat gemerk is "min dae smarties". Loer daar in. Dis Malaria pille.

Ons moes daai sleg bitter pille drink of ons wou of nie. Malaria is geen grap nie, en jy SAL daai goed drink. Een outjie het later malaria gekry – hy was lekker siek. Toe verduidelik hulle eers vir ons: die pille keer nie dat jy malaria kry nie, hy onderdruk net die simptome sodat jy nie heeltemal vrek nie.

Lees verder

Sunday, July 10, 2011

Die biltong fabriek

Ek het uiteindelik so ver gekom om my eie biltong te maak. Ek het ‘n “dehydrator” gekoop wat die biltong uitdroog.

Al fout wat ek met my eerste sarsie gemaak het, was om “corned silverside” te koop. Corned meat is vleis wat klaar ingesout is – met die gevolg dat my biltong verskriklik sout uitgedraai het. Ek sal nie daai fout weer maak nie!

Andersinds het die masjien lekker gewerk – binne 2 dae was al die vleis droog, en eintlik was die dunner stukkies al te droog. Nou het ons hope sout om op te eet. 

Sewe sakke sout gaan nou vinnig opgeëet word…

IMG_0859

Hier bo is die vleis nadat dit asyn en speserye gekry het.  Basiese speserye is baie eenvoudig: koljander, peper, sout (behalwe as jy corned beef gekoop het…) Los in die yskas vir so paar uur, en haal dan uit.

IMG_0861

So lyk die dehydrator met die vleis in – die 5 rakke is almal vol:

IMG_0863

So lyk die biltong na ‘n halwe dag in die dehydrator:

IMG_0867

Finale produk, twee dae later:

IMG_0909

Jummy biltongIMG_0911IMG_0912

Friday, May 27, 2011

Een van my fans

James O Connor het vanoggend hier op die Brittannia velde kom rondloop, waar my seun sy rugby wedstryde speel elke Saterdag.

Hy het heeltyd agter my aangeloop en wou my handtekening he, maar ek was bietjie te besig.  Ek het gesê ek sal toelaat dat hy 'n foto saam met my seun neem as hy hom goed gedra.  Ek het hom ook later so paar tricks geleer en tips gegee vir sy volgende wedstryd vir die Force.


Wednesday, May 25, 2011

Farewell

A while ago I had a deep conversation with my son while we spent 24 hours camping alone in the bush of south-western Australia. I told my son how much it hurt me that my own father chose not to love me. Ever since my son was born, it was even more difficult for me to comprehend how anyone could choose not to love their children. Was I so unlovable that my own father wouldn’t want me?

When I was 10 years old, however, another man chose to love me and call me his son. For this I will always be grateful. He changed my life, and gave me one of the greatest things I was longing for. I was a small little boy who needed a strong man to shape my life. A hero, a big strong man who was not afraid of anything.

He taught me that real strength was not just in physical appearance or status, but in how you treated those who were weaker than you.

He always loved children, and seemed to prefer the company of laughing children to that of adults. I’ve never seen children who didn’t love Oom George.

I remember walking down the street with him. He would greet complete strangers as if they should know him, and would make jokes wherever he went. He never considered the possibility that anyone he walked into would not know who he was, and enthusiastically greeted them and asked about their welfare.

My dad would interrupt the middle of any conversation and point us to the nice sound of the clarinet or trombone in the song that was playing in the background.

Music was his life.

This was the language of my dad – scales and notes and melodies. He spoke this universal language and understood it well.

It is a great honour when someone is chosen to be the son of a hero. I was chosen – and I honour you as my father. May you rest in peace.

I salute you, Sammajoor.

Sunday, May 15, 2011

Narrogin mannekamp

IMG_0550

Ek en my seun was die naweek naby Narrogin op ‘n plaas waar ons ‘n men’s camp bygewoon het.  Ons het ‘n boer se huis help klaarbou, en Saterdagaand so bietjie gaan jag vir Kangaroos en ander pestilensies.

IMG_0619

Ons het ‘n bonfire aangesteek wat uit ten minste tien groot bome bestaan het – lieflik.

IMG_0637

IMG_0740IMG_0800IMG_0803

Die jaggery was maar ‘n gesukkel, want die plek is droog en daar is nie veel dierasies wat rondloop nie.  Die ou wat die dubbelloop haelgeweer die meeste van die tyd  beetgehad het, kon ook nie ‘n kangaroo op 10m raakskiet nie, en wou aanmekaar weer en weer probeer.

Ek het later een kansie gekry om ‘n jakkals te skiet, maar kon net een skoot inkry toe hy onder die draad deur hardloop.

Dit was vet pret  - seker die eerste keer wat ek op iets lewendigs skiet in meer as 4 jaar.  Die bakkie stop vir niks, jy moet jou skoot sommer so in die ry inkry – nou nie heeltemal dieselfde as spingbokke in die Kalahari jag nie, maar steeds groot pret.

Ons het ook so bietjie “skeet shooting” gedoen met die haelgeweer.

IMG_0588

IMG_0663IMG_0651

IMG_0806IMG_0679IMG_0698

IMG_0714

IMG_0795

My job was om te help insulasie insit in die dakke, en ek het een van hierdie oranje pakkies aangehad die heel dag lank, en met my hande heeldag bo my kop gestaan werk en lere op en af geklim.  Nie ‘n job wat ek vir ‘n lewe sal wil doen nie:

IMG_0694

Wednesday, May 11, 2011

Die vuil koffiebeker brigade

Destyds, toe ek 'n jong snuiter was moes ek eendag begin werrek (na ek lank gesukkel het om 'n "education before liberation" te kry). Ek het daar by 'n kantoor ingestap en een van die eerste dinge wat ek geleer het was dat ek dadelik moet betaal om deel van die koffieklub te word.

Ons het vreeslik baie geld betaal - R10 per maand, vir regte egte filter koffie. Elke oggend het Windolene my koffie op my tafel kom neersit. Sy het hom presies reg gedokter - die regte hoeveelheid suiker en melk. Tienuur was teetyd, dan kry ons weer van Windolene se koffie - die keer staan die pot daar en jy help jouself. En dan wraggies waar, kwart oor drie in die middag dan is dit weer tee tyd. Dan staan daar weer 'n pot koffie.

Ek het gewoond geraak daaraan dat daar altyd skoon bekers ook was. Windolene se job was ook om die skottelgoed te was. 'n Mens kan mos nie met vuil bekers werrek nie man? Die dag wat Windolene op AWOL was dan vrek ons almal, want niemand weet hoe die koffiemasjien werk nie, en niemand is dapper genoeg om skottelgoed te was nie. Dit was die belangrikste pos in ons hele afdeling.

Dis mos 'n lekka ou plek daai Afrika - die Windolene's maak alles vir jou skoon en jy kan maar net lekka koffie suip en die beker daar op die tafel los - dis mos hoe 'n Baas die dinge doen.

En toe kom land ek mos hier Doer Onner. Hier is nie même -goed wat 'n ou se koppies vir jou was nie. Hier kry jy nie eens iemand wat in die oggend vir jou koffietjies aandra nie - jy moet vir jouself sorg in hierdie geweste. Hierdie ou dom biltongboer moet nou self van die sleg instant koffie aanmaak daar in ons fancy kombuis.

Daar staan sulke hope koppietjies wat skoon is aan die een kant, en klomp vuiles aan die ander kant. Een keer per dag stap 'n antie daar in en sy ruil die vuiles om vir skones, en sit skoon watertjies in die warm water masjien. Partykeer vee sy nogal die tafel blad ook af met 'n lap wat ruik asof hy in 'n ammoniak advertensie was. Jy kan skaars asemhaal in die kombuis van die dampe wat uit daai lap uit kom. Daar lewe nie 'n kiem binne 'n 50m radius van daai plek nie.

Party dae is die skoonmaak-antie so mooi jong blonde pop, ander dae is dit net 'n gewone ou antie. Hoe mooier en jonger die pop, hoe swakker die diens, het ek agtergekom.

Die simpel ou wit koppietjies lyk soos die goed wat hulle destyds op die trein vir jou gegee het - ewe met 'n piering en al. Die simpel ding is so klein jy kan nie eens spoeg in hom nie, dan loop hy oor. Die gevolg is dat baie mense eerder hulle eie bekers gebruik. Elke ou het sy eie beker. Ek het ook ene.

Sien jy nou waantoe gaan die storie?

As jy jou eie beker gebruik, dan is daar nie même wat hom vir jou was nie. Jy moet self na die ander kombuisie toe stap waar die wasbak is en hom dan was. Ek het nie 'n probleem daarmee nie, ek was hom self dan weet ek hy is skoon.

Maar mensig jy moet die affêre aanskou. Hierdie Aussies darem - hulle het nooit bediendes gehad in hulle huise nie, nou het hulle nooit geleer dat jy eintlik veronderstel is om 'n ding skoon te maak as jy klaar gemors het nie. Ons word elke dag vertel van safety - jy moet amper met daai krieket-bokse in jou broek rondloop so erg is dit. Alles wat lyk asof dit kan gevaarlik wees, word teen gewaarsku. Jy kan skaars uit die gebou uit gaan sonder 'n helmet en faktor 50 sonroom.

Maar mensig, die basiese higiëne bly maar 'n probleem. Van hierdie perde kom sit daar in 'n vergadering en drink uit sy beker uit. Daar sit tien jaar se vuil bruin ringe aan die binnekant van daai beker. Ek kan nie help om die goed raak te sien nie - ek probeer my oge toemaak maar my natuurlike instink skop elke keer in. Dis vreeslik man - daai mense sit en drink uit daai beker wat nou al 750-duisend nuwe kiem-variasies ontwikkel het waarvan die geleerdes in die hospitale nog nie eens gehoor het nie. Hoe enige beskaafde mens met so beker kan rondloop sonder om skaam te voel, weet ek nie. Dis plein grillerig man.

Elke keer as ek so beker sien, dan gaan was ek sommer weer my beker, net om seker te maak ek oorleef nog 'n dag in hierdie woeste wêreld.

Dis 'n harde lewe hier Doer Onner.