Ek kyk nou weer diep hier in my sondige siel in, en bely weer hier voor die massas al my sondes. Ek het lankal al my Police Clearance sertifikaatjie by die Nambabwiese polisie gekry. Hulle sê my record is so wit soos sneeu. Maar ek het so bietjie van 'n kriminele agtergrond wat hulle nie van weet nie...
Ons het Duitse bure gehad waar ek groot geword het – ons het al die jare in een huis gebly, my ma-hulle sit nou nog daar. Die eenkant was heel beskaafde mense. Aan die anderkant het die Richter's gebly. Hulle was 'n goddelose klomp. Letterlik en figuurlik.
Daai oom het sy vrou gevloek sommer daar van onder af, dan is sy daar bo iewers by die huis. Later het die kinders net so lekker gevloek. Hulle vloek hulle eie ma soos ek nie eers 'n vyand van my se ma sal vloek nie. Ons het gereeld gehoor hoe skel hulle mekaar, en as hulle ma praat met hulle, dan skreeu hulle: "Fock dich, mutti!!"
Dan sê Oupa vir ons, ons moenie eers dink daaraan om sulke woorde te gebruik in hierdie huis nie – dis selfmoord. So is daar nie by ons huis gepraat nie.
Die klomp was partykeer nogal entertaining. (So op 'n SouthPark siek-humoristiese manier.) My broer het my vertel toe ek al eerstejaar op die Bos was, toe is daar een dag groot marrakkas. Die twee oudste broers het 'n fight opgetel, en die een het die geweer in die hande gekry. Ouboet het vir ma bietjie geklap – nes sy pa hom geleer het. Kleinboet raak toe heel bossies en kry daai geweer daar uit die kluis uit.
Hy gee daai man so bietjie voorsprong in die straat af, en trek daar los. Skote klap die wêreld vol, ouboet koes net en hol straat-af. My oupa wou tussenbeide tree, toe vloek daai mannetjie hom. Oupa het partykeer so kwaad geraak dat hy vries – gelukkig was hierdie een van daai kere. Hy het nie grootgeraak in 'n wêreld waar kinders oumense vloek nie – dit was taboe. My broer het hom gaan kalmeer en die klomp is later weer stil langsaan.
So was hulle gewees. Rof en onbeskof, en windgat. Het baie geld gehad, al die jare Mercedes'e gery, en die eerste TV in die buurt was hulle sin.
Ek het Duits gepraat in die huis toe ek klein was. Na my ma-hulle se egskeiding het ons al hoe meer net Afrikaans gepraat, en Afrikaanse skool toe gegaan. Ek kon egter nog goed Deutch praat met die bure se kinders. Oom Buurman sê toe eendag maar ek moet Afrikaans met die kinders praat, hulle moet die Taal aanleer. Nou vandag praat hulle Afrikaans en Duits, en my Duits het heel verlore gegaan.
Eendag in die laerskool, toe gaan ons winkel toe, en Thomas gaan saam met my. Daai Minimark naby Hidas, hy's vandag nog daar. Porra se winkel, tien-teen-een 'n Porra wat uit Angola gekom het. Ons loop daar in die winkel rond, ewe onskuldig. Thomas wys my later - toe ons by die winkel uit is saam met my ma – hyt klomp sweets daar in sy sak gedruk en by die winkel uitgekom sonder om te betaal.
Dis 'n nuwe wereld wat vir my oopgaan.
Ek weet dis verkeerd, maar daai adrenalien en testosteroon begin praat, en hierdie klein mannetjie wil nou ook bietjie steel. Die volgende keer toe my ma minimark toe gaan, is ek weer saam, met slim planne in my kop. Ek kyk daai plek uit, niemand sien my nie, ek pocket daai sweets. By die till betaal ek net vir so 30 sent se goed – dit moet net lyk asof jy eerlik is en betaal vir jou goed. Die res is mos bonus.
Toe ek daai plastieksakkie so wil vat om te loop, toe kom daai Porra en staan so by my langs die till. My ma is al uit by die winkel uit, gelukkig. Hy vra: "wat van daai goed in jou sak?" Ek is heel omgeboul, ek stotter en vertel hom ek het skoon vergeet, ja, ek moet die ook betaal. Ek plak toe maar die geld daar neer op die till met 'n bewerige hand. Daai Porra het my net so skewe grynslag gegee.
Tot vandag toe weet my ma nie wat gebeur het nie. Hoe ek my vrees en bewing weggesteek het vir haar, weet ek nie. Maande lank het ek nooit saamgegaan Minimark toe nie.
En tot vandag toe is ek te bang om iets te steel.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment