Tuesday, January 18, 2011

‘n Nuwe kar

Ek was al ‘n hele 12 jaar oud voordat ons vir die eerste keer ‘n nuwe kar gekoop het. My ma se Volkswagen Variant was ouer as ek, en ons het al gewoond geraak daaraan om skaam te wees oor ons outydse ou stasiewa wat lyk soos ‘n uitgerekte Volla.

Variant

Dit was een van die min karre wat ‘n lugverkoelde enjin gehad het – geen radiator nie, geen water nodig nie.

Nog ‘n snaakse ding was dat sy enjin nie voor in die bonnet gesit het nie. Net soos die ou kombi’s en Vollas, het sy enjin agter-in gesit. As jy agter in die dog-box gesit het, het jou agterent lekker gerook as jy uitklim. As jy die voorste bonnet oopmaak, dan kan jy 12 tasse en 3 haelgewere inlaai, en sommer ‘n bees ook as jy lus het. As jy mense wou lekker deurmekaarmaak, dan gaan staan jy met hom langs die pad, maak die bonnet oop, en sê vir mense jou enjin is gesteel.

In standerd een het die bure oorkant die pad se kind ook saam met ons skool toe gery. (Sy naam was Johan, en hy het later aangetroude familie geraak toe my oupa met sy ouma getrou het.) Hy het agterin die dogbox gesit, en die agterdeur het so na boontoe oopgemaak. Een oggend toe ons daar by die skool uitklim, toe hou hy met sy hand vas aan die deur se skarnier, hier bo teen die dak, en toe my ma die deur oopmaak, toe skreeu daai mannetjie dat die biesies bewe. Sy hand is vasgeknyp daar in die deur se skarnier, en dit het baie pyn en lyding geneem om hom weer daar uit te kry. Ons het nooit weer ons hande naby daardie ding gebring nie. Ek onthou nou nog hoe die bloed daar op die ding gesit het later.

Daai tyd het ons almal so los in die kar gesit – geen seatbelts nie. Die seatbelts wat voor-in was, is nooit een keer gebruik in daardie kar se leeftyd nie. Hulle was ook nog van daai tipe wat nie kan rek en terugspring nie – dis net so stuk tou wat jou aan jou keel wurg voor jy deur die ruit gaan.

Die kar het 4 ratte gehad, en sy speedo het nog in myl per uur gemeet.  My ma het geweier dat enige iemand anders as Herr Zimmermann aan die kar werk.  Hy was ‘n bekende ou Duitser daar in Windhoek, en was bekend daarvoor dat hy net na ‘n enjin hoef te luister dan weet hy wats fout.  Die Zimmermann garage bestaan nog, maar ek dink nie die oorspronklike Herr Zimmermann is meer daar nie.

Ek onthou ons het gereeld dorp toe gery saam met my ma. Sy stop iewers in Windhoek se hoofstraat om Pep Stores of JET toe te gaan, en dan los sy ons kinders sommer daar in die kar. Al die ruite is oop - al veiligheid wat ons ken is die handbriek wat aan is. Ons sit en speel lekker in die kar totdat sy terugkom. Nooit was ons bang iemand gaan ons vermoor, verkrag of verwurg nie – ook nie dat iemand die kar sou steel nie. Sulke goed het nie in Windhoek se hoofstraat gebeur nie. Ek het baie keer daar voor in die kar gaan sit en gespeel met die ratte. Ek het geweet ek moet die handbriek uitlos, maar kon nie die ratte weerstaan nie. Hulle was baie stram en wou nie lekker saamwerk nie. Ek het nog nie van clutch geweet nie – nou nie dat my voete die clutch kon bykom toe ek 10 was nie. (Ek was bietjie aan die kort kant, soos ‘n dunner weergawe van Danny de Vito.)

Op die stuurwiel was daar so embleem wat soos ‘n kasteel lyk. Ek dink nie mens sien dit nie sommer meer op ‘n Volkswagen vandag nie. Ek kon my ure lank sit en vergaap aan die ding terwyl my ma shop.

image

Ons het half gewoond geraak aan die feit dat ons vir die res van ons lewe net een kar sal ken. Daar was ‘n tweede Variant op die werf, maar die was my Oupa sin, en niemand het dit durf waag naby sy kar nie. Dit was die nuwer model, baie meer fancy, en hy het die kar gery tot hy nie meer mag bestuur het nie. Hy het amper soos die ene gelyk, maar beslis sonder die surfboard oppie dak:

image

En toe gebeur die rare ding. My ma is ‘n onderwyseres, en hulle bied spesiale offers vir die onnies wat wil karre koop. Ons koop ‘n blink nuwe wa, een wat soos nuut ruik en wat uit die boks uit kom. ‘n Regte, egte Mazda tree-to-tree, soos ons hulle genoem het.

29426690002_large

Ek en my boetie was in totale verdwasing vir weke lank. Ons het baie grand gevoel oor die kar, en ons het gehou van die fancy seatbelts wat vanself terugspring in hulle plekke in. Ons begin dra toe sommer seatbelts want ons dink dis cool. Daar was nie power-steering nie, geen air conditioner nie, niks ABS of lugsakke of fuel injection-goete nie – sommer net ‘n goeie ou 80’s tipe kar met ‘n sleutel wat hom start. Alarms en central locking was nie nodig in daai dae nie, en die ruite het met ‘n slinger op en afgedraai. Nie dat ons nodig gehad het om die ruite toe te maak nie – dit reën mos amper nooit man!

Die kar het ‘n 5-spoed ratkas gehad, iets wat so belangrik was dat hulle dit in elke advertensie genoem het.

Die kar het vir baie lank nog in ons gesin gebly. My pa het later ‘n Chevrolet Nomad gekoop, waarmee ons die karavaan deur die hele suidelike halfrond gesleep het teen 80km/h. Ek het al daaroor geskryf, sal die storie weer soek en hier pos. Nog jare later het hy ‘n Peugeot stasiewa gekoop, wat tot nou die dag nog daar in die erf gestaan en roes het. Maar intussen het my ma daai Mazda gery dat hy tjank.

Ek het hom een aand uitgevat daar op die Okahandja pad en hom gery dat sy speedo vasslaan by die maksimum 140km/h.  Ek was baie trots op myself.

My broer het later die kar by my ma gekoop en nog so goeie paar jaar se studentelewe met hom beleef. Ek het eendag vir ‘n girlfriend in Mosselbaai gaan kuier met daai einste geel Mazda 323.

Dit was ons nuwe kar in 1981 – ‘n groot gebeurtenis vir ons.

No comments: