Monday, May 2, 2011

Outward Bound – Deel 2

Die volgende oggend het ons kamp opgepak en gestap na die bote se parkeerplekkie toe.  Al drie bote moes eers opgeblaas word, en toe kry ons vreeslike ingewikkelde lesse oor hoe om die roei-spane vas te hou. 

PTDC0056

Die ding het drie dele – ‘n “shaft”, ‘n “paddle” en ‘n “T-grip”.  Jy moet dit kan onthou en ons moes omtrent ‘n halfuur spandeer om die les te leer.

Die vorige aand het hulle al gesê ons moet ons thermal underwear aantrek en dan ons swembroeke bo-oor dit aantrek. Ek het sommer so gaan slaap met die oupa onderbroek. Ons het almal soos Vader Krismis gelyk met ons long johns wat onder ons swembroeke uitsteek.

PTDC0055

Toe word daar aangekondig dat ons moet kom vir die “swim test”. Hierts, watse ding is dit dan nou? Hulle sê ons moet in die rivier spring sodat hulle kan seker maak ons kan regtig swem, net vir ingeval ons uit die boot uit val. Skoene en al, want daar is vreeslike skerp klippe daar onder.

Mensig ek was nie baie bly om die ding te doen nie, maar ten minste kon ek ‘n slag my lyf skoonkry en my hare was.

PTDC0060

Die vorige dag het hulle ons ook geleer hoe om ons slaapsakke te “waterproof”. Jy druk twee heavy duty asdromsakke in jou slaapsak se sakkie, en dan druk jy die slaapsak in en knoop altwee sakke toe aan die bokant. Alles moet ge-waterproof word, en ek het begin dink ons gaan teen watervalle en rapids afvoeter teen die spoed van wit lig. Dit klink mos nou lekker. Ek het jare gelede op die Oranje rivier geroei in ‘n kano en het dit baie geniet.

PTDC0064

Die bote beweeg egter nie veel nie - ons almal wag vir iets om te gebeur. Later besluit ek en my mede-bootryer dat ons die boot nou gaan bestyg en begin beweeg. Die rondsittery werk nie vir ons nie. Nie lank nie, toe is almal se bote skielik in die water en ons is oppad met die Deep river langs.

PTDC0071

Dit was egter ‘n baie stiller vaart as wat ek verwag het. Tot ‘n mate eintlik bietjie vervelig. Die ander bote kry nie spoed nie, en elke keer as ek ordentlik begin roei dan verdwyn die ander bote agter ons.

PTDC0066In die een boot sit so dik meisiekind. Sy het so twee keer na die water toe ge-paddle, en toe moed opgegee. Sy sit en slaap met haar hoed op haar kop en die ander drie op die swaar boot moet maar lekker roei, nes hier bo in die foto – check daai een wat regs voor sit en slaap.

Mensig, as sy my kind was het ek haar sommer van die boot afgegooi dat sy kan wakker word. So lui mens het ek nog nie in my lewe gesien nie. Sy doen absoluut niks, en sy probeer nie eens soos ‘n ordentlike mens wegsteek hoe lui sy is nie.

Ons roei vreeslik op die wilde Deep river

Die rivier loop deur ‘n baie mooi area, en ons het teen middagete by Newdegate island afgeklim. Nat skoene en al. Ek was nie te gelukkig met die nat skoen storie nie, maar mens moet maar doen wat almal in die groep moet doen.  ‘n Man se boude begin ook bietjie seer raak van al die gesittery op die boot se rand.  Dit het begin voel asof ek ‘n pakslae gekry het.

image
View Outward Bound journey in a larger map

PTDC0077

Van hier af het ons geroei na die vasteland waar ons die bote moes vasmeer.  (Rooi paadjie op die kaart hier onder)

image

Ons het ons rugsakke gegryp, en in die bosse gaan loop nadat ek eers weer my ander skoene aangetrek het.

PTDC0089

Ons het kamp opgeslaan in die middel van ‘n area wat my vreeslik aan die Kaap se suidkus laat dink – fynbos en al.  Die staproete is in wit gemerk hier onder:

image

PTDC0094

PTDC0096

Ons het twee kangaroos by hierdie watergat gesien.  Die watergat is duidelik sigbaar op Google maps se satelliet foto.

PTDC0107

image

Daar is ‘n pragtige strand net so ent Suid van die kampeerplek af, en ons het eers soontoe gegaan voor ons die kos begin maak het. ‘n Lieflike plekkie.

PTDC0111

PTDC0129PTDC0135

 

PTDC0115

Na 'n paar span-aktiwiteite het ons teruggegaan kamp toe.

PTDC0110

Ons het ‘n groot dubbel-bivvy opgeslaan, en tydens hierdie lieflike reënerige nag het my slaapsak lekker nat geword. Op een of ander manier het ek self redelik droog gebly, maar my slaapsak was ‘n modderige storie toe ek die oggend wakkerword. Omdat ons die twee bivvies gelas het in die middel, het die water daar by die saamflans-punt lekker ingestroom – reg waar ek gelê het natuurlik.  Gelukkig het ek geweet ons gaan in elk geval die hele dag lank nat wees want ons gaan weer roei.

Toe ek die volgende oggend wakker word, kry ek daardie bekende gevoel wat vir my sê dat ek die bombie gaan nodig kry. Baie dringend ook. Ek soek verward in ‘n paniek-aanval na my geliefde wit goud, en uiteindelik spoor ek my toiletrol op. Ten minste is hy nog droog. Ek hol toe uit na Doug toe, en ek was vreeslik bly om te sien Doug staan nog daar – niemand anders beset die bombie op die oomblik nie!

PTDC0103

Ek hol soos Zola Budd teen die berg uit, en stop net so nou en dan vir die aaklige maagkrampe wat my bestorm. Tyd is min. Die nood is groot. Die pad na die bombie toe is vreeeeeslik lank, dit voel asof ek ‘n 12 km hike deur die bos doen.

Toe ek bo by die bombie-site uitkom, toe staan die Aap-man van Afrika daar met sy broek op sy knieë. Hy vra vreeslik om verskoning want hy het vergeet om vir Doug saam te vat toe hy bombie toe gehol het. Hy was gelukkig klaar, en oppad weg, en ek was net te bly ek hoef nie vir hom te gewag het voor ek vir Doug in die hande kon kry nie – daar sou ‘n vreeslike ding gebeur het. Ek bestyg die bombie met mening en voel sommer baie beter.

Van hier af is ons terug na die bote toe vir ons laaste stukkie roeiwerk oor die Nornalup inlet en op met die Franklin rivier.

PTDC0151Hierdie area was bietjie rowwer met winde wat golwe op die inlet veroorsaak. Ons het egter die wind van agter gehad nadat ons die Franklin rivier bereik het, en kon basies amper heelpad seil sonder om veel te roei. Dit het sekere mense natuurlik goed gepas ook:

PTDC0150

Ek was bietjie verveeld en het met my fancy waterproof kamera rondgespeel en hierdie pragtige selfportret geneem:

PTDC0152

image

Ons het die bote vasgemeer op ‘n plek naby die south coast highway, waar die mini-bussie ons kom oplaai het. Eers moes ons natuurlik die bote skoonmaak, opdra teen ‘n heuwel, afblaas, en op die sleepwa laai saam met ons ander bagasie.

Die bussie het ons gaan aflaai aan die ander kant van Walpole, wes van waar ons oorspronklik die vorige dag begin roei het.

PTDC0153

Ons het weer kamp opgeslaan vir die nag, en het die volgende oggend vroeg opgestaan om ‘n ANZAC day gedenkdiens te hou. Dit was nogal iets besonders – in hierdie land word die soldate wat vir hulle land gesterf het, selfs vanaf die eerste wêreld oorlog, nog steeds ge-eer. Hulle word nie rassiste of baby killers of imperialiste genoem nie, maar helde. Soos dit hoort in enige beskaafde samelewing. 

Dit het natuurlik ook later gelei tot lang army stories tussen my en die Aapman van Denmark.

Ons het nogal ewe ‘n vlag gehad en die diens is beëindig met die woorde “lest we forget”.

Hierna was dit tyd om bietjie die kompasse uit te haal en ‘n roete te volg. Ons moes ‘n koppie vind met die naam “breast hill”. Die naam is baie selfverduidelikend as jy eers die koppie gesien het:

PTDC0209

PTDC0191

By hierdie koppie het ons uitmekaar gegaan en die 24 hour duo aangepak.  Hierdie is ‘n 24 uur tydperk waar jy en jou kind alleen saam tyd spandeer sonder enige ander mense wat naby jou kom.

PTDC0171

Dit was by verre die beste item van die hele kursus.

Ek en Michael het ‘n wonderlike tyd gehad.  Ons het ons bivvy opgeslaan, en probeer om die kos te eet wat hulle vir ons gegee het:  couscous met baked beans, met geen manier om dit warm te maak nie.

PTDC0188

PTDC0182PTDC0180

Ek het vir hom army stories vertel en hy het vrae gevra totdat ons aan die slaap geraak het.

PTDC0175

Ons moes ewe ‘n posbus bou sodat die instrukteurs vir ons boodskappe kon los as dit sou nodig wees:

 

 

 

Die volgende dag het ons opgestaan toe die son opkom, en omdat dit die eerste sonnige dag was vandat ons begin roei het, het ons al ons nat klere in die bome opgehang. 

PTDC0210

Dit was ‘n heerlike dag, en ons het diep gesprekke gehad.

PTDC0177

Toe die instrukteurs vir ons kom sê dat ons moet oppak en teruggaan, was ek eintlik so half teleurgesteld. In die eerste plek wou ek nog tyd met my seun spandeer, en in die tweede plek was ek nie eintlik nou lus vir die ander mense nie.

Maar die tyd het aangestap en daar was nog baie dinge om te doen.

Van hier af het ons gestap na die volgende kampplek met die naam van “Little long point”, ‘n pragtige stukkie natuur reg op die see.  image

PTDC0227

PTDC0255

PTDC0247

Hier het die instrukteurs ook vir ons klomp oumanne gesê dat ons die kinders die volgende dag in charge moes sit. Hulle moet alles reel en ons moet net helpende hande wees wanneer hulle vra.

Dit was ‘n moeilike dag, om die minste te se…

Ons het van hier af ‘n 8 km hike gedoen terug na die oorspronklike stuk grond waar die Base camp is.  Die kinders het navigasie gedoen en het ons reg deur die middel van ‘n moeras gelei – in plaas van om om die ding te gaan, moes ons reg deur hom gaan.

Daardie aand het ons hout gaan soek en ‘n groot “bush cook” gehad.  Dis nou ‘n fancy ete in die bos, waar ons lekker groot hompe vleis gekry het om in ysterpotte te roast.  Ons het selfs koek gebak in die potte.  Dit was ‘n heerlike aand.

PTDC0265

Die volgende dag het ons “track maintenance” gedoen op die Bibbulman Track, ‘n ou bospaadjie wat destyds deur die Aboriginals gebruik is en wat reg deur die hele WA loop.  Baie mense gebruik hierdie roete vir staptoere.

PTDC0285

Hierna het ons die high ladder gedoen – dis nou so affêre waar jy en jou kind mekaar moet ophelp teen ‘n touleer op. 

PTDC0309

Laat die aand moes ons die rugsakke skoonmaak voor ons kon eet, en die volgende oggend was dit tyd om terug te gaan. Die tyd het so vinnig verby gevlieg – byna 9 dae is blitsvinnig verby.

PTDC0314

PTDC0321Ons het ons grondseile ook geskrop en het vandaar na die rivier toe gegaan waar die bussie ons weer opgetel het. ‘n Heerlike gekookte ontbyt was reg vir ons by base camp, en warm storte het ook gewag – vir die eerste keer in 9 dae kon ek stort.

PTDC0329PTDC0333

Ons was ‘n baie lekker groep mense bymekaar, en het al amper soos familie begin voel – op ‘n goeie manier bedoel ek. Dit was weer tyd om almal te groet en ons eie lewens aan te pak.

En nou is ek terug in die beton oerwoud, al tikkende hier agter my computertjie.

Daar was tye wanneer ek gewonder het wat my besiel het om Outward Bound te gaan doen. Daar was tye waar my lyf in ernstige fisiese pyn verkeer het. Daar was tye waar ek swaargekry het as gevolg van my fisiese omstandighede. Maar nou wonder ek hoekom ek teruggekom het beskawing toe.

Die bos doen net iets aan ‘n mens.

Sunday, May 1, 2011

Outward Bound: Deel 1

Jare gelede op skool het ons ‘n ding gehad wat hulle “Veldskool” genoem het. Ons het dit een keer gedoen in die laer skool, en weer in die hoërskool in standerd 7. Dit was amper soos Army, net erger.

Ons moes nagmarse stap met vreeslike groot swaar rugsakke, en moes slange doodmaak in die middel van die woestyn daar naby Lüderitz iewers. Ons moes kaarte lees en kompasse stel, en moes ons blikkieskos in die woestyn opspoor deur te navigeer na die gegewe posisie toe.

Dit was nie ‘n baie lekker ervaring vir my nie – ‘n week weg van die huis af met ‘n klomp onderwysers wat heeldag op jou skreeu asof jy in die army is. Maar dit het my karakter gebou en my ‘n sterker mens gemaak in die lang termyn.

Vandag se kinders ervaar stress as die krag afgaan vir ‘n halfuur. Ek dink Veldskool kan dalk net die ding wees om hulle bietjie reg te ruk.

En toe kom die geleentheid. Ons maatskappy borg mense om die Family course van Outward Bound te doen. Jy en jou kind gaan vir 9 dae bos toe en oorleef in die buitelug. Hoe lekker is dit dan nie nou nie? Die maatskappy gee my spesiale verlof om dit in werkstyd te gaan doen, en hulle betaal nog ons kostes ook. What a bargain.

Die literatuur wat hulle vooraf vir jou gee, vertel nie baie detail nie – hulle vertel net hoe goed dit is en hoe wonderlik almal dit ervaar. Ek dog toe dit klink na ‘n lekker week van kamp in ‘n tent en vuurmaak en groot-oog kampstories vir die kinders vertel. Ek doen gretig aansoek vir die kursus, en ‘n week later kry ek die brief wat sê dat ek ewe gekeur is en ek en my 13-jarige seun kan gaan.

Ek was vreeslik bly oor die lekker free lunch wat ek score – ‘n lekker gekampery op die werk se onkostes.

En toe kom die papiere.

Dit begin lyk al hoe meer soos Vasbyt of Veldskool. Hulle noem al die items wat jy moet he – thermal underwear, ordentlike hiking-boots, nog ‘n paar skoene, reënjasse, nog goed om jou droog en warm te hou, en vreeslike goeters wat jy vir blase kan gebruik.

En omdat ek nou net-net so oorkant 40 is, moet ek ewe die dokter se toestemming kry om die kursus te doen. Nogal ne. O ja, en hulle praat van ‘n uur lank se fiksheids-oefeninge elke dag vir die 6 weke voor ek gaan, en die laaste 10 dae sommer “strength exercises” ook. En natuurlik moet jou hiking boots al ingeloop wees teen die tyd dat jy by Camp Auschwitz opdaag.

Teen hierdie tyd het ek al bietjie benoud begin raak, maar as ek gesê het ek wil iets doen, dan doen ek dit. Gaan nie nou omdraai nie.

Die tyd het verbygeloop en ek het vreeslike lekker skoene gekoop en ‘n fancy Gore-Tex reënjas en twee stelle oumens-onderklere. Ek is reg vir aksie.

Die groot oomblik het aangebreek en ons is weg na Walpole, in die suidweste van Wes-Australië.

Daar aangekom, ontmoet ons die ander deelnemers. Ons is 5 pa’s, waarvan 2 van ons seuns saamgebring het, en die ander drie het dogters.

Ons ry toe van Walpole af na die “Base camp”, waar ons die karre los, en van daar af ry ons in ‘n fancy mini-bus tot in die middel van nerens.

Die een man kom daar van ‘n klein dorpie met die naam van Denmark af. Hy antwoord op alles, “jaah, man”, en ek weet sommer die perd kom van Suidelike Afrika af. Hy is ‘n Rooinek Suid-Afrikaner, maar gebruik meer Afrikaanse woorde in sy sinne as enige ander Boer wat ek al hier raakgeloop het.

Hy het al hierdie regte boere-sêgoed soos “Man, this is lekkeh man”, of “put it sommer there my china”. Hy praat van “those outjies work well hey”, en so gaan dit aan. Hy was ‘n natuurbewaarder in Suid Afrika, en hy lyk soos ‘n regte boswagter. Hy kon nie hier werk kry by natuurverwarring nie, toe begin hy sy eie boomkappery besigheid. Hy is nou ‘n “arborist”. Die ou was vrek snaaks, en ek en hy het jare se army stories vertel en vir alles gelag. Ons het Koos van der merwe grappies vertel en sommer net simpel Afrikaanse woorde gegooi in die middel van gesprekke. Ons sing “ou tante Koba”, en sulke simpel goed wat ek jare laas gehoor het.

Hulle laai ons daar af met twee instructors en ‘n klomp blou rugsakke, en die twee sê ons moet ons tasse uitpak en net die nodige goed in ons rugsakke pak. Hulle loer heeltyd oor jou skouer en helfte van die goed wat jy wou saam smokkel word sommer net uitgehaal. Jy kan een langbroek en een hemp inpak, en twee stelle “thermals”, en onderbroeke en sokkies, en so paar ander items soos hoede en reënjasse.

Daai ou Vasbyt-gevoel begin my weer beetkry – lyk my ons het in ‘n gulag beland of iets. Jy word heeltyd aangejaag en moet net laat waai met die pakkery. Jy kan een tweede stel klere eenkant sit, en dit bring hulle vir jou op dag 5 en dan kan jy ‘n swop doen met jou vuil klere. Ons moet almal sommer net daar ‘n bos vind en ons klere aantrek wat ons vir die volgende 5 dae gaan dra.

Ons rugsakke is gelaai en daar gaat ons na ons nuwe fancy kamp toe. By die kamp sien ek daar is niks fancy tente nie, niks toilette nie, niks storte nie – hierdie is ‘n regte kamp die. Ons woon in bivvies – ‘n plastiek seil wat met 6 toue en 4 tentpenne aan die lewe gehou word.

PTDC0007

Ons maak hout bymekaar en slaan ‘n vuur aan. Hulle leer ons hoe die higiëne werk op die kamp. Daar is ‘n rooi bakkie waar jy jou hande was met ‘n borseltjie, en daar is ‘n swart bakkie waar jy jou skottelgoed was.

PTDC0005

Die toilet is ‘n emmer met ‘n plastieksak in. Hulle verduidelik mooi dat die emmer slegs daar is vir “nommer 2”, nie vir “nommer 1” nie – geen vloeistowwe moet in die sak beland nie. As jy klaar jou ding gedoen het sit jy weer die dekseltjie op en dan is dit die volgende ou se beurt. Daar is ‘n lang paadjie deur die bos na die “bombie” toe. Die paadjie word gemerk met wit toiletpapier in die bome.

PTDC0302

By die ingang na die paadjie staan ‘n klein grafie. As jy die bombie moet beset, gryp jy vir “Doug” (die grafie), en laat waai in die paadjie af. As jy klaar is sit jy vir Doug terug op sy plek en was jou hande. As iemand sien Doug is weg, dan weet hulle die bombie is beset. Maklik ne? Ek bid toe al klaar dat ek nooit sal nodig he om te bomb in die bombie nie – die storie lyk sleg man.

(Terloops, ek het ‘n ander foto van die bombie sonder sy deksel op, maar ons gaan ‘n vreeslike klomp beswaarde lesers he as ek dit hier publiseer…)

Ons het redelik vroeg gaan slaap, en die algemene roetine was maar altyd so. Sesuur staan jy op, en dan teen 9 uur snags voel dit al vreeslik laat, en dan gaan slaap jy maar liewer.

Ons ete was reeds voorberei deur die instrukteurs, maar dis die laaste ete wat hulle vir ons gemaak het. Van hier af moet ons self al ons kos saamdra en dit self kook. Hulle kom staan net met hulle borde en vreet saam as ons klaar gewerk het.

Jy kry ‘n blou grondseil en ‘n klein dun pap matrassie wat niks beteken nie. My ou lyf het maar swaar gekry, maar dis alles vir ‘n goeie doel. Ek is mos nou nie meer die goed gewoond nie man.

Die volgende dag het hulle vir ons gewys hoe om die bivvies self te bou – ewe vir ons knope geleer en gewys hoe om “veggie balls’ te maak. ‘n Veggie ball is ‘n klomp gras en goed wat jy in ‘n bolletjie saamdruk en dan maak jy ‘n bolletjie aan die kant van die seil sodat jy ‘n tou daarom kan knoop. Baie eenvoudig maar baie effektief. Ek kan nou ook ‘n fancy sliding hitch knoop maak met my oë toe en op een been terwyl ek Waltzing Matilda sing.

Ons het ook ‘n tafel gehad. Die tafel was ‘n groen grondseil wat op die grond le. As iemand op die seil trap moet hulle ‘n vreeslike ding doen – hulle moet die teapot dance doen, met ‘n teapot song wat ek nie in my kinderdae geleer het nie.

PTDC0097

Die volgende dag het vinnig aangebreek en ons is gemarsjeer daar na die low ropes course toe.  Dis ‘n plek waar jy klim en klouter op allerhande toue wat jou kop deurmekaarknoop en jou spiere lam maak. My seun het natuurlik dit in ‘n rekordtyd deurgedraf en het dadelik gevra of hy dit weer kan doen. Min weet hy wat nog voor lê vir ons…

Ek het die Denmark-ou so laat lag met my manewales dat hy sy ogies moes uitwas na die tyd – blykbaar lyk ek vreeslik snaaks as ek onderstebo aan ‘n tou hang en probeer konsentreer.

Die volgende kursussie was wat hulle noem die “high ropes course”. Hierdie keer kry jy sommer ‘n helmet en ‘n harnas want ons gaat nou bome klim en soos Tarzan daar rondswaai en kyk of ons uit die boom uit kan val.

PTDC0048

As jy jou helmet afhaal en nie reg-om op die grond neersit nie, moet jy die “unhappy turtle dance” doen. Jy le op jou rug en sê “I’m an unhappy turtle”, en skop jou bene in die lug soos ‘n skilpad wat in ‘n bollemakiesie was.

Dis egter die minste van ons probleme. Die res van die storie is dat jy teen daai boom moet opklim en dan soos ‘n wafferse aap-man in die lug moet toertjies doen. Op hierdie oomblik is ek toe ook al op my tweede dag sonder koffie en die detox-hoofpyn slaan vir my dubbel en dwars. My kop pyn so, ek kan nie eens in die lug opkyk nie. Ek bedel toe maar ‘n pilletjie by een van die instructors, maar hy vat te lank om my hoofpyn te blus.

PTDC0021

Jy moet eers tot bo klim en dan oor die tou loop tot by die volgende platform, terwyl jy jou balanseer met toue wat van die boonste tou afhang.

PTDC0022

Dan spring jy van een platform na die ander ene – 12m bo die grond. Dit lyk maklik as jy hier van onder af kyk, maar wag tot jy self daar bo staan en jou broek begin bewe.

Daarna doen jy die “flying fox’ af grond toe. Dis nou waar jy alles laat los en van ‘n plankie af spring en hoop die harnas red jou.

Dis al.

My seun het tot bo geklim en toe hy afkyk gee sy moed in – hy wil niks weet nie.  Na so tydjie het hy weer moed gekry en dit klaargemaak.  Ek is baie trots op die mannetjie – dis een ding om bang te wees, dis ‘n ander om jou vrese in die gesig te staar en deur te druk ten spyte daarvan.  Hy is die jongste outjie wat nog ooit die high ropes course klaargemaak het.

Na hy dit oorleef het kon ek mos nou nie weghol nie. Daai spronge tussen die planke het my broek bietjie laat bewe, maar as jy net jou brein laat werk in plaas van jou gevoelens, dan doen jy dit maklik.

Toe ons hier klaar is het ons weer teruggegaan kamp toe en reggemaak vir die volgende groot dag – rafting on the river. Dis nou hierdie deel waarna ek die meeste uitgesien het.

Word vervolg…

Monday, April 11, 2011

Booger eyes and guttersnipes

Last night it rained for the first time in 600 years. Or something like that – it’s a record, apparently. Nothing new to me, because growing up in Namibia, which is considered to be one of the driest countries in the world, a few decades without rain never really surprised anyone. We were used to describing a yearly rainfall of 300mm as an exceptionally good year.

Anyway, that’s not what this is about.

The sound of the rain coming down is a pleasant one for desert rats like me – I was raised to always appreciate free water falling from heaven.

But the other noises that go with it – that’s what this story is about.

When I started writing this post, I recalled a funny word from memory – “guttersnipe”. I wasn’t exactly sure what it meant, but it sounded applicable to my situation. According to the World Wide Library, however, a guttersnipe is “a child who spends most of his time in the streets especially in slum areas…”, which isn’t exactly what I had in mind.

image

What I had in mind was something more like a combination between a sniper and a gutter, with the two connecting in a violent confrontation with each other.

The gutter next to our bedroom window has this awful way of making a dripping noise when it rains. Not a constant rhythm that you can get used to, but an annoying disoriented pattern of drips and bangs that makes you go nuts.

We had a similar problem back in Namibia, but there my solution was simple – place a flat rock or a sponge in the bottom of the gutter where it bends out, and the problem is solved. But this stupid gutter has no access point – it feeds into the ground and the water is being fed into some unknown abyss where no unauthorised members of the public have access to it.

IMG_0352

This house also does not belong to me – I’m renting, so I can’t just start sawing and hacking off parts that I don’t like.

This does not have a soothing effect on my friendly character at 00:30 in the morning. In fact, it drives me insane. I have tried all sorts of nasty ways to get this ghastly guttersnipe to stop guttersniping. (Sounds like something the old seadog in the Tintin books would say…)

The best solution for the moment is to stick a little piece of plastic in there, so it stops the water drops from falling all the way to the bottom of the gutter. The fancy tool was hastily handcrafted from old ice cream containers. I might have added a little colourful language in the recipe too.

IMG_0353

Every time this happens, I promise myself that I’m going to get out my electrical drill and drill out all the rivets so that I can remove (or is it snipe?) the bottom part of the gutter in order to reduce the noise pollution levels in my neighbourhood.

To top it off, once I finally got into bed, I felt my eye hurting like crazy. Went to have a look in the mirror, and it looked like I was just returning from a bar fight in a western movie. My left eye was puffed up like a watermelon.

For a brief moment I thought a spitting cobra had attacked me while I was hitting a hammer against its nest in the gutter, but then I realised that this may be a bit far-fetched. Although, at that time in the morning nothing really seems far-fetched, except the idea of getting some freaking sleep.

When I finally woke up this morning, the old lazy eye was still huffing and puffing, and this gave me enough reason to make use of one of my sick-days at work. I rang up the old doctor’s waiting room as soon as possible, but of course there is nothing available until tomorrow.

I later even tried to find a vet that would have a spot open for me. No one would make room for me and my booger-eye.

So, here I am, sitting lazily at home trying to fix up the booger-eye. Later I realised that we have a chemist within 10 minutes’ walk from our house, so I took the time and walked over to get some over-the-counter eye drops.

I’m busy preparing that drill. Today will be the day of reckoning.  Booger-eye or not, your time has come my little noisy friend!

Wednesday, March 30, 2011

‘n Handjie in die venster

Elke oggend groet ek al my kinders voor ek werk toe ry. Een van daai tradisies wat vir my belangrik is.

Toe sy nog kleiner was, het my jongste altyd by die sitkamer venster gaan staan as ek by die deur uitgaan. Sy kruip agter die gordyne in sodat sy die pad kan sien, en sy waai totdat sy nie meer die kar kan sien nie. Sy waai en spring op en af soos ‘n honger kind in Afrika, met ‘n groot glimlag op haar gesig.

Party oggende het ek om een of ander rede vergeet om terug te waai, en sy sal my die aand vra hoekom ek nie gewaai het nie.

Elke aand as ek by die huis kom, kry ek ‘n “Hallo, Pappa!” uitbundige groet wat na my toe aanhardloop met oop arms.

Sy is nou al 5 jaar oud, en gaan ewe “pre-primary” skool toe. Sy raak nou te groot vir die venster. Ek word nog elke dag gegroet, maar die handjie is nie meer in die venster as ek wegry nie.

Ek mis die handjie in die venster.

Anica Drawing March 2011