Elke oggend groet ek al my kinders voor ek werk toe ry. Een van daai tradisies wat vir my belangrik is.
Toe sy nog kleiner was, het my jongste altyd by die sitkamer venster gaan staan as ek by die deur uitgaan. Sy kruip agter die gordyne in sodat sy die pad kan sien, en sy waai totdat sy nie meer die kar kan sien nie. Sy waai en spring op en af soos ‘n honger kind in Afrika, met ‘n groot glimlag op haar gesig.
Party oggende het ek om een of ander rede vergeet om terug te waai, en sy sal my die aand vra hoekom ek nie gewaai het nie.
Elke aand as ek by die huis kom, kry ek ‘n “Hallo, Pappa!” uitbundige groet wat na my toe aanhardloop met oop arms.
Sy is nou al 5 jaar oud, en gaan ewe “pre-primary” skool toe. Sy raak nou te groot vir die venster. Ek word nog elke dag gegroet, maar die handjie is nie meer in die venster as ek wegry nie.
Ek mis die handjie in die venster.